2 minute read
Plaagbeheer vorm belangrike deel van gewasbeskerming in sitrus
Plaagbeheer vorm belangrike deel Plaagbeheer vorm belangrike deel van gewasbeskerming in sitrus van gewasbeskerming in sitrus
NEXUS
Sitrus se jaarlikse groeisiklus sluit nie net goeie besproeiing en plantvoeding in nie, maar benodig ook maatpas gewasbeskerming. Die gewasbeskermingprogram fokus vooroes veral op vrugtevlieg- en valskodlingmot (VKM) -beheer en siektes soos bruinvrot, wat ook kan kop uitsteek.
VRUGTEVLIEG EN VKM
Vrugtevlieg-beheermaatreëls is meestal op proteïen lok-envrek metodes gegrond. Hierdie metodes is baie doeltreffend en het ’n lae uitwerking op voordelige insekte, mits dit volgens die aanwysings op die etiket toegedien word. Toediening se tussenposes en herhaling hang van die gekose produk én lokvalvangste af.
Die False Codling Moth Management System (FMS) en Fruit Fly Management System (FFMS), ontwikkel deur Citrus Research International en bestuur deur die Citrus Growers Association (CGA), bied ’n wetenskaplike en doeltreffende valskodlingmot- en vrugtevlieg-beheerstelsel. Die stelsels vorm die basis vir monitering, drumpelwaardes en beheermaatreëls. VKM-beheer word ondersteun deur ’n lang lys geregistreerde en doeltreffende paringsontwrigting, biologiese en konvensionele plaagbeheermiddels. Praktyke soos boordsanitasie vorm die basis van ‘n doeltreffende VKM-beheerstrategie.
Boorde moet gereeld gemonitor word om vrugtevlieg en VKM te beheer, boordsanitasie moet minstens een keer per week toegepas word en geregistreerde plaagbeheermiddels moet gebruik word.
Lokvalle en vrugbesmetting by vrugtevlieg en VKM moet weekliks nagegaan word. Verskeie lokmiddels en lokvalle is vir hierdie doel geregistreer. Vrugbesmetting word weekliks by voorafbepaalde databome gemeet.
Beide peste het ’n larwale stadium in die vrug, wat daartoe lei dat die sitrus aan die boom verkleur en die vrugte afval. Dit vergemaklik die identifisering en verwydering van besmette vrugte in die boord.
Enige verwyderde vrugte moet 30 cm diep begrawe óf buite die boord vernietig word. Boordsanitasie vorm die grondslag van vrugtevlieg- en VKM-beheer en indien dit nie korrek toegepas word nie, sal die res van die plaagbeheerprogram minder doeltreffend wees.
BRUINVROT
Bruinvrot word deur die oomyseet Phytophthora nicotianae en P. citrophthora veroorsaak, wat in die grond voorkom. P. nicotianae veroorsaak ook wortel- en kraagvrot op die wortels en die boom se stam. Die plant se wortels is veral tydens nat grondtoestande vatbaar.
Wortels wat tydens reënseisoene beskerm word, vind groot baat hierby. Oorbesproeiing moet vermy word, goeie dreinering moet toegepas word en minder vatbare onderstamme kan oorweeg word.
Bruinvrot op vrugte kan verder vermy word deur bome te snoei sodat die vrugte nie nader as 30 cm van die grond hang nie. Enige vrugte wat op die grond lê of tekens van grond bevat, moenie geoes word nie. Boordsanitasie van besmette en laaghangende vrugte is belangrik vir die vermindering van die innokulum.
GEREGISTREERDE PLAAGBEHEERPRODUKTE
Indien konvensionele siektebeheermiddels oorweeg word, is geregistreerde plaagbeheerprodukte beskikbaar. Fosfonate is een groep van hierdie produkte en is baie doeltreffend indien dit as ’n blaarbespuiting toegedien word vir bruin- en wortelvrotbeheer.
Fosfonate is hoogs sistemiese produkte en benodig laer watervolumes. Dit neem gewoonlik 2-3 weke ná blaartoediening om in werking te tree en die sistemiese beskerming is dus nie dadelik deur die hele plant teenwoordig nie.
Fosfonate kan tot fitotoksisiteit lei, indien dit in uiterste temperature en versuiptoestande toegedien word. Fosfonate kan ook lei tot fitotoksisiteit op sekere mandaryn-kultivars soos Nadorcotts, veral ná kleurbreek.
Verwys altyd eers na aktiewe bestanddele se intervalle vooroes vir die vrugte se spesifieke mark en hou noukeurig by die etiketaanwysings vir die produk se hantering en toediening.
Kontak NexusAG by 021 860 8040 of besoek die webtuiste by www.nexusag.net vir meer inligting oor geïntegreerde gewasbestuursprogramme.