CITRUS
Fokus op hierdie aspekte vir gesonde sitrus-oes Herfs is ’n belangrike periode in die sitrus-produksieseisoen en vir ’n suksesvolle oes kan produsente op verskeie fokuspunte konsentreer. Met behulp van NexusAG se tegniese span en CropLife geakkrediteerde gewasadviseurs, is hierdie fokuspunte makliker herkenbaar en kan met die jongste tegnologie benut word.
D
ié spanne hou area-spesifieke historiese data en huidige seisoenale tendense dop. Hulle kombineer goeie praktyke van gewasproduksie om kundige advies vir sitrusprodusente te versamel en met produsente te deel. Belangrike fokuspunte wat nog in die komende weke vir produsente tersaaklik is, is dat die nuwe seisoenprogramme en boord-inspeksie om die snoeistrategie vir die winter te bepaal, afgehandel moet word, asook die nagaan en diens van snoeitoerusting. Onlangse swaar reën in sekere dele van Suid-Afrika het die ideale toestande geskep vir hoër vlakke van suurvrot- en bruinvrot-besmettings. Die volgende word deur CRI Snykant, Nr. 317 (Maart 2021), aanbeveel: Die betekenisvolle beheer van albei hierdie besmettings begin in die boord. Dit behels boord-sanitasie, soomsnoei, noukeurige oespraktyke, insekbeheer en bruinvrot-beheer. Alle vrugte wat geval het en/of beskadig is, moet uit die boord verwyder en vernietig word. Deur vrugte wat geval het te verwyder, word die bron van inokulum verlaag. Hierdie boordsanitasie is van kardinale belang. ’n Sanitasiespan moet vóór die oesspan beweeg om alle vrugte te verwyder wat nie na die pakhuis of naby uitvoervrugte mag gaan nie, byvoorbeeld besmette, bedorwe, beseerde en vuil vrugte en vrugte wat op die grond lê. Noukeurige soomsnoei waar laaghangende vrugte voortydig gesnoei word en nie eers in die paklyn verwyder word nie, verminder die risiko tot besmetting. Hierdie laaghangende vrugte of dit wat met modder bedek is, het ’n groter kans tot besmetting van suurvrot en bruinvrot. Indien bome nie gesoomsnoei word nie en baie laaghangende vrugte het, moet hierdie vrugte nie vir uitvoer oorweeg word nie. Noukeurige oespraktyke kan baie verliese voorkom. Bederf tree makliker in as vrugte beskadig word. Oesspanne moet deeglik opgelei word om die noodsaaklikheid van gesonde vrugte wat nie tydens die pluk beskadig word nie, te verstaan. Geen vrugte wat beskadig is of wat op die grond geval het, mag geoes word nie. Boorde met ’n hoë hoeveelheid besmette, beskadigde vrugte of vrugte wat geval het, is ’n hoë risiko. Vrugte uit hierdie boorde moet ook nie uitgevoer word nie. Oormatige vuil vrugte wat onder meer met modder bespat is, moet ook nie in plukkratte geplaas word nie. Lukrake kontrole moet deurentyd uitgevoer word, om seker te maak dat die oesspanne vrugte noukeurig oes.
12
Pieter Peacock, Tegniese Bestuurder Oos-Kaap, Plantgesondheid en Plantvoeding.
Suurvrot- en bruinvrotpatogene kom in die grond voor, daarom is laaghangende vrugte ’n risiko. In jare van hoë bederf kan vrugtevlieë en asynvlieë wat op besmette/bedorwe vrugte voed, die siekte hoër in die boom versprei. Doeltreffende insekbeheer is dus noodsaaklik. Geregistreerde voor-oeschemikalieë is beskikbaar om bruinvrot te beheer. Sistemiese fosfonaatprodukte en kontakswamdoders, soos koper en mankoseb, kan baie suksesvol vir die bestryding van bruinvrot gebruik kan word. Aanwending van die kontakswamdoders moet herhaal word, as dit binne ’n week ná bespuiting reën. Raadpleeg die NexusAG gewasadviseur vir opsies en die spesifieke produk-etikette vir dosisse en toepassings. Neem ook markvereistes en maksimum residuvlakke (MRL’s) in ag, wanneer produkte gekies word.
Alternaria Bruinvlek en mandaryne Die huidige seisoen word, as gevolg van natter omstandighede, ook gekenmerk deur Alternaria Bruinvlek op sekere vatbare mandaryn-tipes. CRI Snykant Nr.335 (Februarie 2022), gee aanbevelings hieroor: Vir boorde wat deur Alternaria Bruinvlek in die huidige seisoen geaffekteer is, moet bestuurspraktyke op die volgende gerig word: Verminder inokulum deur die besmette vrugte uit die boorde te verwyder en te vernietig of te begrawe. Indien verdere snoei in die huidige seisoen uitgevoer gaan word, moet die snoeiafval uit die boorde verwyder word. Die verwydering van besmette materiaal sal ook die hoeveelheid inokulum wat vir die volgende seisoen beskikbaar is, verminder. Beskerm die onbesmette vrugte. Geregistreerde kontakswamdoders wat vir die res van die seisoen gebruik kan word, kan deur die plaaslike NexusAG gewasadviseur aanbeveel word. Dit sluit koper-hidroksied, koper-oksichloried en mankoseb in, indien markvereistes en voor-oes-intervalle dit toelaat. NexusAG se gewasadviseurs is die produsent se vennoot met volhoubare gewasbestuursprogramme. Hulle vorm deel van ’n omvattende span gewasspesialiste en spesialiste van bedryfsliggame en internasionale en plaaslike verskaffers, wat op die voorpunt van nuwe tegnologiese ontwikkeling bly. Kontak NexusAG by 021 860 8040 of besoek www.nexusag. net.
VEGETABLES & FRUIT | MAY • JUNE 2022