
4 minute read
Uitdagings en geleenthede in die tamatiebedryf
Uitdagings en geleenthede in die tamatiebedr yf
‘n Tamatie-aanplanting waar die blare laatroes ontwikkel het as gevolg van bewolkte, nat toestande.
Met die La Nina- “Little Girl” verskynsel wat nou oor die land aanwesig is, het verbruikers en produsente uitgesien na ‘n goeie reënseisoen
Johan Stronkhorst
Die reënpatroon het egter reeds vroeg in die seisoen begin met intense storms wat wydverspreid oor die land waargeneem is. Produsente is egter negatief beïnvloed in gebiede waar die weerpatroon gepaard gegaan het met hael en sterk winde, wat gewasse beskadig het. Sommige produsente was genoodsaak om oor te plant, aangesien die skade net té erg was vir enige ekonomiese voordeel. Gewasse is verder aan grondvoorbereidings, uitplantings, oes- en spuitpraktyke blootgestel.
Die meeste verbruikers, veral in die stede, ervaar ongerief met slegs ‘n ligte reënbui – dit beteken die beplande grassny of piekniek word ontwrig. Vir produsente is reën egter ‘n saak van oorlewing. Indien dit te veel of te min reën, kan boere nie grond voorberei, beddings maak of gewasse uitplant nie. Dit beteken ook dat saailinge wat gereed is vir uitplant se aflewering uitge stel moet word, ouer plantjies word gevolglik uitgeplant en daar kan dus reeds oesverliese ter sprake wees. Wanneer gewasse uitgeplant is, moet bemesting, besproeiing en plaagbeheer gedoen word.
Indien produsente nie in die lande kan kom om te spuit nie, kan sekere siektes groot skade aanrig. Siektes soos laatroes of peste soos Tuta absoluta kan binne enkele dae ‘n algehele verlies aan blaaroppervlak veroorsaak, wat aanleiding kan gee tot lae opbrengste of ‘n oesverlies. Miljoene rand se verliese is in Desember 2021 deur tamatieprodusente gely.
In landboukringe is ‘n welbekende spreuk: “As ‘n tamatieoes jou in die moeilikheid bring, is die volgende tamatie-oes NA BLADSY 16

Vrugte met lae kwaliteit as gevolg van reën.
Verkeerde bemestingspraktyke lei tot tamatieplante met lang internodes en swak vrugset.

Uitdagings en geleenthede in die tamatiebedryf
VAN BLADSY 15
die enigste oplossing”. Hierdie stelling plaas die produsent egter net onder meer druk om suksesvolle oeste te produseer, veral met die groot styging in insetkoste.
Die beplanning van aanplantings is een van die produsent se belangrikste besluite. Met die huidige situasie in die landboubedryf word produsente genoodsaak om die boerdery te laat groei, maar dit is nóg belangriker om te identifiseer waar die groei vandaan sal kom.
Die maklikste manier om te kwantifiseer is om hektare te vermeerder, maar dit is nie altyd die beste finansiële besluit nie. Boerderye groei horisontaal, nie vertikaal nie. Indien die produsent gevolglik sy opbrengste kan verhoog, is dit meer doeltreffend as om slegs meer hektare by te voeg. Derduisende tonne tamaties is onbemarkbaar omdat die vrugte deur siektes of insekte beskadig word, of omdat die produsent nie op die korrekte tyd kon oes nie. Gewasse soos tamaties en rissies moet deurentyd geoes en bemark word, wat beplanning om op die korrekte tyd te oes krities maak.
Produsente moet terselfdertyd probeer om op hoogte te bly van omstandighede in die verskeie streke, pryse en tendense op verskeie markte en by die informele sektor, asook ander moontlike kanale waar die produk bemark kan word. Markte kan baie spesifieke voorskrifte hê indien ‘n produk in oorvloed is, maar sodra daar ‘n tekort is, is die spesifikasies en pryse meer vloeibaar.
As gevolg tamaties se verskeidenheid segmente is bemarkingsgeleenthede legio. Onderskeid word getref tussen ronde, ovaal en spesialiteitstamaties en daar bestaan ‘n aantal kleiner verdelings binne die segmente. Vruggrootte is ‘n subjektiewe maatstaf en dit wat vandag in die mark gewild is, is môre weer minder aanvaarbaar. Op sy beurt bepaal dit weer die verskeidenheid tamatieverpakkings.
Die een faktor wat vir die produsent baie moeilik kan wees is die keuse van ‘n variëteit. Daar bestaan ‘n groot verskeidenheid opsies en dit wat vir een produsent sukses verskaf, werk nie noodwendig vir ‘n ander nie. Oor die algemeen is die keuse van ‘n variëteit nie ‘n vinnige besluit nie. Dit is die moeite werd om eers proefnemings te doen om te sien of die spesifieke variëteit aangepas is vir die gebied en die produsent se bestuurspraktyke. Dit is baie seldsaam dat een variëteit onder alle omstandighede die beste sal wees. Variëteite wat die afgelope tyd goed presteer het, het as gevolg van die hoër reënval in ‘n gebied ook nie optimaal geproduseer nie.
Die ander faktor wat belangrik is met variëteitskeuse, is bemesting. Hoe moet ‘n produsent die spesifieke variëteit bestuur om sodoende die beste

Simptome van Phytophthora-laatroes op vrugte.
resultaat te verkry? Variëteite verskil baie van mekaar ten opsigte van die hoeveelheid en stadiums wanneer dit bemesting benodig. Baie groeikragtige plante, wat aan die begin oorbemes word, kan uit balans groei en slegs vegetatief groei. Die gevolg is baie lang internodes en laer vrugset. In die meeste gevalle moet plante bestuur word vir vroeë vrugset en kort internodes - dit kan vir die produsent baie besparing in arbeid meebring en die effektiwiteit van bespuitings vir siektes en peste verbeter.
Die huidige tamatieseisoen gaan nog baie uitdaging vir talle produsente meebring. Deur insetkoste te bestuur en praktyke te skep om opbrengste vir die huidige toestande te optimaliseer, kan hierdie seisoen ‘n suksesvolle een vir die tamatieprodusent maak.
VRYWARING: Hierdie inligting is op Sakata se waarnemings en/of inligting van ander bronne gebaseer. Aangesien gewasprestasie afhang van die interaksie tussen die genetiese saadpotensiaal, die fisiologiese eienskappe daarvan en die omgewing, insluitend bestuurspraktyke, gee Sakata geen uitdruklike of geïmpliseerde waarborg vir die prestasie van gewasse relatief tot die gegewe inligting nie. Sakata aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige verlies, direk of as gevolg daarvan, wat te wyte aan enige oorsaak mag ontstaan nie. Lees asseblief eers Sakata Seed Southern Africa (Pty) Ltd se verkoopsvoorwaardes voordat saad bestel word.
