2 minute read

Boer proaktief met nuttige tegnologie

Next Article
Blueberry bud mite

Blueberry bud mite

Henning Retief

Akkurate werk met masjinerie en die aanwending van chemikalieë voorkom latere probleme en dra tot kostevermindering by. Henning Retief, wingerdboukundige van Kleine Zalze buite Stellenbosch, glo daaraan om tegnologie in te span sodat proaktief geboer kan word.

Retief werk reeds 15 jaar by Kleine Zalze met sy fokus op die groter wingerdbestuur van Kleine Zalze, waarby hulle eie wingerde en wingerde van ander wyndruifprodusente bestuur word.

Een van sy hulpmiddels om doeltreffend te kan werk is met FarmTrack se sagteware waarmee akkuraatheid voortdurend gemonitor kan word. “FarmTrack help ons om te sien hoe ons die boerdery kan verfyn. Soos ek altyd sê: as jy nie meet nie kan jy nie weet nie”.

Hulle gebruik die sagteware veral in die spuitseisoen sodat hulle betyds kan optree indien sommige van die wingerde nie reg gespuit word nie. “’n Mens kan baie vinnig op die sagteware sien wanneer ‘n trekkeroperateur ‘n wingerdry of twee gemis het.”

Retief sê die sukses van die toestel is daarin dat dit hulle in staat stel om proaktief te wees. Wanneer ‘n wingerdry oorgeslaan is kan die fout dadelik reggestel word. Daarmee word voorkom dat wingerdrye se oes tot niet gaan as gevolg van parasiete.

“Met die gebruik van FarmTrack word trekkeroperateurs aangemoedig om meer aandag te gee aan wát hulle doen en om versigtig te ry.” Henning noem dat die aanwending van chemikalieë ‘n baie fyn en duur proses is, daarom is dit uiters belangrik om die proses van die begin af goed te monitor.

Net soos die aanmaakproses by chemikalieë is die aanwending ook baie belangrik. Indien die chemikalieë nie reg aangewend word nie, kan swamsiektes baie vinning posvat en is die hele oes in gevaar.

“Ons doel is om ‘n goeie, gesonde druiweoes aan die wynkelder te gee wat uiteindelik ‘n produk van goeie gehalte aan die mark gaan lewer.”

Die sagteware help hulle om te sien dat die spoed waarmee die swamspuite aangewend word, korrek is. Dit monitor dat die regte spoed gery word, met die bykomende voordeel dat voertuie en implemente beter opgepas word.

“Daar is baie beter rekordhouding vir wanneer ons die voertuie of implemente moet laat diens. Dit help beslis met implemente se onderhoud en leeftyd.”

By Kleine Zalze is siektebeheer ‘n strategie wat noukeurig toegepas moet word. “In hierdie proses wend ons die sagteware met groot sukses aan. Ons kan teruggaan en monitor of rye oorgeslaan is en die korrekte spoed gehandhaaf is. Daarmee word voorkom dat ons na die tyd hoef terug te gaan boorde toe om nóg chemikalieë te spuit en ‘n swamprobleem reg te stel.”

Benewens hierdie voordele met FarmTrack se sagteware, help dit die boerdery ook met hulle tydsbestuur en produktiwiteit. Die sagteware wys hoe lank dit vat om diesel in te gooi of om die tenks met chemikalieë vol te maak.

“By Kleine Zalze fokus ons die laaste jare meer op ‘n presisieboerdery, en dit strek van aanplantings tot satellietbeelde. FarmTrack help ons om meer verfynd te werk en ons oes beter te beskerm sodat ‘n beter produk gelewer kan word.”

This article is from: