2 minute read
HUISKOK
WINTERGENEESKUNDE
Emile Joubert is a PR practitioner by profession, but a food and wine enthusiast by desire.
Advertisement
Check out his blog: www.winegoggle.co.za
GRIEP, MAAGKWALE, VERKOUE EN NOG MEER GEBEUR OMTRENT ELKE JAAR AS DIE KOUE WINTERIGE WINDE WAAI. EN DAAR’S NIKS BETER VIR ’N MENS NIE AS ’N WONDERLIKE BORD VOL SOP, VERAL AS DIT MET LIEFDE GEMAAK WORD.
Of daar ’n wetenskaplike bewys is vir die helende krag van sop, weet ek nie. Maar as die winter sy kloue begin inslaan en die eerste snuifies deur die neusgate trek, laat ’n pot sop mens darem sommer net beter voel. Die sielsomhelsende warmte skep ’n gemoedsrus en gemaklikheid wat kop en lyf gereed maak om die boosste siektes te weerstaan.
Ek is nie te punteneurig oor my gekose wintersop nie, maar die Joodse hoendersop maak gereeld ’n opwagting as die grysheid van lyf en siel innerlike sterkte soek. Só ’n sop word nie verniet Joodse penisillien genoem nie, hoewel dit strate beter as enige medisyne lyk, ruik en proe.
VAT SO:
1 heel hoender van 1,5 tot 2 kilogram, vel aan (geen hoenderstukke!) 3 liter koue water 3 stewige wortels in dik skywe gesny 3 stukke seldery, in dun stukke gesny 1 groot ui, in vier stukke gesny 1 teelepel swartpeperkorrels 1 teelepel sout (maak dit kosjer om saam te speel) 2 of 3 naeltjies 2 lourierblare 1 bossie pietersielie, met steel en al
MAAK SO:
1 Sit die hoender in ’n groot pot en bedek met koue water – die hoender moet onder 2 sentimeter water bly. En die vel moet aan wees want hy is propvol geur. Plaas jou pot op ’n vinnige plaat, en sodra die water begin kook, draai die plaat af sodat die hoender prut. Daar gaan nou ’n skuimlagie verskyn wat jy aanhou afskep. As die water min raak, top op totdat kiep bedek is.
2 Na sowat 30 minute, voeg die wortels, seldery, ui, peper, sout, naeltjies, lourierblaar en pietersielie by. Nou prut als saam, stadig en salwend, vir twee ure. Haal van die plaat af. 3 Gebruik ’n tang om die heel gekookte hoender te verwyder. En ’n skeplepel om die seldery, en wortel uit te haal. Gooi dít wat in die pot oorbly deur ’n sif. Dit wat in die sif oorbly, is jy klaar mee. Die sop in die pot word nou teen kamertemperatuur of in die yskas gelaat totdat die lagie hoendervet bo-op die vloeistof dryf. Skraap hoendervet dan af. Hou eenkant vir gebruik as broodsmeersel, braaimedium of hondekos. Of gooi weg as jy nie weet wat lekker is nie. 4 Die vloeistof in die pot word nou teruggeplaas op die plaat en verhit. 5 Intussen, gaan terug na die heel gekookte hoender wat in die pot was. Trek die sagte vleis van die bene af en trek die vleis in repies. Gooi bene weg. Net vleis en vel bly oor. Sit die seldery en wortel terug in die pot warm vloeistof, asook jou hoender-repies. Roer deur tot als lekker warm is, en daar is jy.
Jy kan die sop net so bedien. Of, om ’n ekstra stuk voedingskrag by te sit, voeg twee koppies noedels of pasta by die sop en kook tot sag. Jy kan dit ook afrond met drie eetlepels suurroom vir ’n dikker, ryker geur.
Mazel tov!
“Of all the items on the menu, soup is that which exacts the most delicate perfection and the strictest attention.” — Auguste Escoffier