3 minute read
LOOPDOP
MY VOORVADERS IS IN SOWETO
VERSKIL ONS DAN RÊRIG SO VEEL VAN MEKAAR IN DIE LAND VAN ONS? AMPER 30 JAAR GELEDE HET EK EN ’N KOLLEGA HANDE GEVAT, SOWETO TOE.
Advertisement
Address: Cnr Ennis & Oosthuise Streets, Ermelo Tel: 017 819 7519 Business Hours: TOPS at SPAR Mon-Fri: 07h00 - 19h00 Sat: 07h00 - 19h00 Sun: 08h00 - 14h00 TOPS Customer Care Tel: 086 031 3141
So hier kort voor Madiba vrygelaat is in 1990 werk ek vir ’n reklameagentskap in Johannesburg. Dié bedryf was nog altyd bekend as van die mees liberale spanne op die veld. By ons werk Paul Kubuwe en ek begin al hoe meer met hom te gesels.
Later begin ek besef dat, alhoewel ons baie vir mekaar te sê het en onophoudelik kan fi losofeer en redeneer, is dit omdat hy oorgestap het. Hy het homself bemagtig om my wêreld te verstaan. MBA gedoen op Wits et al. Ons kommunikeer en kuier soos ek gewoond is en ek weet niks van sy grootwordwêreld nie. Ek noem dit in ’n stadium aan hom en gebruik die metafoor van parallelle heelalle.
Koppies, bekers of glase kompeteer nie met ’n kalbas nie. Dis ’n konneksie wat oor die generasies strek.
“Jou voorvaders het op een spoor geloop en myne op die ander,” sê ek. “Ek wens ons kan daai spore laat kruis.”
“Maar kom ons maak ’n begin,” off er Paul. “Hoe?” “Ek nooi jou vir ’n izimbo – dis ’n tradisionele ontmoeting – Saterdagaand by ons shebeen in Soweto.” Ek sluk; hy lag. “Jy’s veilig. Ek en jy gaan umqombothi saam drink.” Ten minste weet ek dis tradisionele sorghumbier en goed vir mens. Maar ek weet nog niks van die ritueel daarvan nie. “Jy moet iets saambring as geskenk. Enige teken van waardering.”
Vroegaand Saterdag ry hy met my die diep Soweto in. Ek verwonder my; oral speel kinders, honde hardloop saam; mense wuif. Vuurtjies fl ikker. Smileys (skaapkoppe) braai. Groepe staan rond, quarts bier in die hand. Lag. Gesels. Geniet. Armoede, vreugde en lewe in gelyke dele. Ek vergeet om bang te wees.
By die shebeen gaan ons in die agterkamer in. ’n Groep mans sit in ’n kring om ’n ou tafel. Naby die deur staan ’n groot drom. En die enigste vrou in die vertrek. Sy het ’n uitgeholde kalbas in haar hand en skep daarmee van die ligbruin vloeistof op. Sy is die broumeester, of dan, brouvrou en moet voor die groep drink om te wys dis veilig. Dan gee sy die kalbas vir die gasheer en verlaat die vertrek. Hy drink. En hou die kalbas vir my.
Paul stamp aan my. Nou moet ek die geskenk gee voor ek die kalbas mag vat. Ek het besluit die kulture moet paaie kruis en haal ’n bottel Roodeberg uit. Die kalbas word aangegee. Ek sluk. Ek is deel van dié izimbo.
Nadat die kalbas die rondte voltooi het, verdaag ons na buite. ’n Vuur brand mooi. Nou kom die vrouens by. En die sang. Ek is in beswyming. Quarts bier kom uit. Glase word vol geskink. Ek het my nog nooit so deel van my land gevoel nie. Ons lag, ons gesels. Ons deel. Oorkant my sit Josie, Paul se ouer suster wat onderwys gee in Soweto. Sy verduidelik dat sy dit doen om die kinders van Soweto ’n kans te gee om hoër op in die lewe se leer te klim. Ek verwonder my aan die mense se ongeloofl ike balans tussen die tradisionele en die nuwe wêreld.
Op daardie oomblik tel ek my glas bier op om te drink en hy glip uit my hand uit. En val homself aan skerwe. Almal jil en skree. Ek boor grond toe in skaamte.
“Nee,” sê Josie en vat my stewig om die pols van my hand wat die glas laat val het. In haar ander hand hou sy haar eie glas vas. “Moenie sleg voel nie. Dit was bestem. As dit gebeur is dit ’n teken dat jou voorvaders jou eien.” Sy kyk my in my oë en laat val haar eie glas langs my skerwe. “Ons spore kruis ...”