3 minute read

In Memoriam

In Memoriam: Japie Claassens

Elke onderwyser is kosbaar vir ons samelewing, want onderwysers is die ruggraat wat gemeenskappe regop hou. Mnr. Japie Claassens, gebore op 25 Maart 1975, was só ‘n merkwaardige onderwyser, ‘n ware Psalm 46-man. Hy is na ‘n dapper stryd teen Covid-19 van ons weggeneem en het ‘n groot leemte in ons harte gelaat.

Mnr. Japie was die ewige optimis, niks of niemand kon hom onderkry nie. Feeste reël, hoofkaskarorganiseerder, Covid19-offisier, noem maar op, niemand kon by hom kersvashou nie. Hy het ‘n onmisbare rol in baie projekte van Hoërskool Waterkloof gespeel. As daar ooit iemand was wat uitmuntende krisisbestuur kon toepas, dan was dit hy, want “kan nie” was nie deel van sy woordeskat nie.

Sy energieke lewenslus by Hoërskool Waterkloof was aansteeklik. ‘n Onderwyser wat ‘n Toerisme-les kon laat lewe met al die beskrywings van plekke waar hy besoek afgelê het. Sy humor, kwinkslae en gevatte manier waarop hy antwoorde gegee het, het hom ‘n unieke mens gemaak. Hy het die besondere vermoë gehad om objektief na leerders se stories te luister en dan het hy sy lewenswysheid met hulle gedeel.

Niks was ooit te veel moeite vir hom nie, entoesiasme was meer as volop en hy het so baie leerders aangespoor om in krieket, waarvoor hy so lief was, uit te blink.

Ons skool eer mnr. Japie se nalatenskap – ‘n voorbeeld in strewe en lewe. Ons sal al die praatjies en sy sin vir humor op Kloof se stoepe mis, maar vir seker nooit vergeet nie. Rus sag, mnr. Japie.

In Memoriam: Carin de Beer

Carin was sedert middel 1988 ‘n Fisiese Wetenskappe onderwyser by Hoërskool Waterkloof waar sy ‘n geliefde en fenomenale opvoeder, kollega en veral vriendin was. Vir probleme was daar altyd ‘n oplossing en daarom het sy selde gekla. Sy was ‘n uitgesproke Christen wat altyd ‘n oor en ‘n hart vir ‘n leerder, kollega en vriende gehad het. In ‘n neutedop: sy was ‘n ystervrou met ‘n groot hart en baie liefde vir haar medemens. Sy was ‘n familiemens wat alles vir haar moeder en drie seuns sou doen. Sy was lojaal, baie kreatief, innoverend, hope pret en het altyd die glas halfvol in plaas van halfleeg gesien.

Tydens die grendeltyd het sy haar in die besonder daarop toegespits om virtueel vir die graad 11- en 12-Fisiese Wetenskapleerders op ‘n daaglikse basis skool te hou met daaglikse kontrole en geleenthede vir leerders om aanlyn vrae te vra. Sy was ‘n voorloper in Suid-Afrikaanse onderwys wat die gebruik van tegnologie in die onderwys betref.

Carin was enig in haar soort en het die vermoë gehad om elke kind se talent raak te sien en te ontgin.

Sy was ‘n legende en ons eer haar groot nalatenskap.

In Memoriam: Deven de Beer

‘n Seun, ‘n vriend, ‘n Klofie – Deven de Beer sal vir altyd in Kloof se harte wees. Sommiges het hom verstaan, ander nie noodwendig nie, maar as Deven jou vriend was, was hy jou beste vriend. `n Lojale vriend wat die ekstra myl gestap het en wat elke uitdaging saam met sy vriende sou uitsorteer. `n Ware raadgewer en ondersteuner. Hy was min gepla deur wat ander van hom dink en het nooit toegelaat dat iemand anders se opinie sy menswees beïnvloed nie. Vir Deven was daar geen grysareas nie – jy het altyd geweet waar jy met hom staan. Hy was nooit bang om `n opinie te lug nie, maar nooit ongeskik nie. Vir sy vriende nie net ‘n vriend nie, maar ‘n broer.

Deven se tyd op aarde is voortydig kortgeknip en die pyn en hartseer wat sy dood gebring het, sal slegs met die tyd vervaag en beter word. Geen woorde kan die emosies wat ons as Kloof beleef sagter maak nie, maar ons weet dat hy nou by God is en ewige vreugde ervaar. Dit is ons grootste troos.

Kloof is dankbaar dat ons Deven kon leer ken en ons sal die mooi herinneringe van hom koester. Nooit sal ons hom vergeet nie. Rus in vrede.

This article is from: