3 minute read

Sersant Anel Geyser

Ekself en een van die manne op die stasie of twee ander lede sou normaalweg so teen sesuur die oggend vanaf Katima Mulilo na Rundu in die pad val om seker te maak dat jy teen vieruur die middag aldaar kon aankom. Soms het die plaaslike Landdros, meneer Phil la Grange my vergesel. Jy het nooit alleen gery nie. Voor in die Landcruiser was daar ook ‘n houer met koeldrank en bier om die stof in jou keel mee af te was. Dit het soms gebeur dat die Distrikskommandant my laat weet het dat hy my voor vieruur die middag op Rundu wou sien en moes ek dan inderhaas in die pad val. Daar was ook minstens elke maand ‘n Stasiebevelvoerderskonferensie op Rundu. Ek het dié pad dus baie goed leer ken. Net binne die Wes-Caprivi in die Okavangorivier was ‘n plekkie bekend as Poppavalle wat miskien niks meer as ‘n stroomversnelling was nie. Ek en die Landdros kon op een hetige warm dag nie die versoeking weerstaan om vinnig in die water af te koel nie. My eggenote wat op dié rit saamgery het, het nog ‘n foto van ons geneem. Op daardie stadium wou ons afkoel van die versengende hitte en het ons nie juis aan krokodille gedink nie. Ek het darem heen-en-weer geloer en geen krokodil gewaar nie. My teorie was dat daar nie ‘n krokodil by die valle sou wees nie. Daarbenewens het die water vinnig gevloei maar was redelik vlak. As ek so daaraan terug dink was dit maar onverantwoordelik en dom om in die Okavangorivier te spring al was dit net vir ‘n vinnige lafenis. Dit is net genade dat ek die storie kan vertel.

Op een bepaalde rit na Rundu saam met die Landdros het die Landcruiser probleme begin gee en het ons al stotterend en ruk-ruk voortbeweeg. Radiokommunikasie was swak en ons kon dus nie eintlik hulp vanaf Rundu, Bagani of my eie stasie aanvra nie. Ons was nog so 250 kilometer vanaf Rundu so tussen êrens en nêrens met min verwagting dat enige iemand binne afsienbare tyd daar verby sou kom. Wonder bo wonder het ‘n flenterbakkie wat gelyk het of dit net met ‘n tang en draad aanmekaar gehou word, kort daarna vanaf Omega se kant aangery gekom met ‘n man waarvan die klere ook al baie beter dae gesien het en hy duidelik die harde kant van die lewe geken het. Ek het afgelei dat hy ’n ex- Angolees was. Ek het ook vermoed dat hy ‘n vlugteling uit Angola was en saam met die Boesmans wat uit Angola gevlug het, by die Omegabasis tuis was. Hoe hy met sy bakkie wat nie ‘n 4x4 was nie enigsins deur die Wes-Caprivi se los sand kon voortbeweeg was vir my ‘n raaisel. Hy was nie Engels magtig nie maar hy kon darem verstaan dat ons ’n probleem met die voertuig gehad het. Sy meganiese kennis was egter goed en het hy nadat hy hier en daar gekrap het, die brandstoffilter afgehaal en skoon gemaak en was ons weer op pad. Die probleem was nie heeltemal opgelos nie maar ons het op Rundu aangekom. Op Rundu moes ons onverwags 3 dae langer vertoef sodat die S.A. Polisie-hulpmotorhawe die voertuig kon herstel. Omdat ek nie vir 3 ekstra dae se klere voorsiening gemaak het nie, moes ek noodgedwonge rondsoek na ‘n winkeltjie waar ek 2 bykomende hemde kon koop. Ek het later reggekom by so obskure Cuca- winkeltjie wat van alles en wat nog verkoop.

Advertisement

Al ons voertuie was met dubbele brandstoftenks toegerus om vir lang ritte soos dié na Rundu voorsiening te maak en nie sonder brandstof te gaan staan as jy diep in die bos was en op jou eie sonder radiokontak aangewese was nie. Van die voertuie was later ook met kragtige langafstandradioantennas toegerus om ons probleem met radiokommuniksie in die Caprivi te probeer verbeter. As jy 100 kilometer vanaf die Polisiestasie was, was radiokontak feitlik onmoontlik. Die langafstandantennas het ook nie juis gehelp nie. Al wat dit meegebring het was dat ek uit die Caprivibos baie duidelik met SAP Radiobeheer - Kaapstad kon kontak maak maar nog steeds nie met my eie stasie nie. In sulke gevalle het Kaapstad dan maar boodskappe vir ons herlei. Dit was die dae voor rekenaars, e-posse en selfone wat ver in die toekoms was en kommunikasie was beperk tot dit wat destyds beskikbaar was, die gewone Motorola radio, radiotelefoon of teleks. In die reënseisoen en wanneer die wolke laag gelê het, was kommunikasie van enige aard feitlik onmoontlik.

Sersant Barries Barnard het my vertel dat hy op ‘n keer in die reënseisoen op ‘n rit na Ngoma, op die Caprivi-Botswana grens, ‘n afstand van 88 kilometer met die S.A. Polisievoertuig van die 52

This article is from: