25 minute read
HANDLEIDINGS VAN DIE NVBS & NKM
Johan Mostert
Advertisement
Die Intelligensiegemeenskap (IG) het ‘n sleutelrol gespeel in die bestendiging van Suid-Afrika gedurende die onstuimige tagtigerjare van die vorige eeu toe die aanslag teen die destydse staatkundige bestel op sy felste was. Die kabinet en die veiligheidsgemeenskap is deurlopend en omvattend op die hoogte gehou van die veiligheidsituasie in die binne- sowel as buiteland.
Gedurende die 1980s het die voorsiening van interdepartementele intelligensie onder die sambreel van die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) geskied. Die KIK het bestaan uit die hoofde van die Nasionale Intelligensiediens (NI), die Veiligheidstak (VT) van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) en die Afdeling Militêre Inligting (MI) van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Die Departement van Buitelandse Sake (BS) is op ‘n vaste grondslag gekoöpteer. Die direkteur-generaal van NI, dr. Niel Barnard, was die permanente voorsitter.
Die KIK was verantwoordelik vir die koördinering van verskeie aspekte van die intelligensiebedryf in Suid-Afrika, waaronder teen-spioenasie, sekerheid, skakeling met buitelandse dienste, ens. Die voorbereiding en verspreiding van interdepartementele intelligensieprodukte was een daarvan. Dit is hierdie aspek wat vervolgens aan die orde gestel word.
AGTERGROND
Gedurende die sestigerjare van die vorige eeu was die Veiligheidspolisie en die Weermag verantwoordelik vir die bedryf van intelligensie. Elke departement het intelligensie egter vanuit sy eie lynfunksionele perspektief vertolk en onnodige duplisering het ook voorgekom. Daar was duidelik ‘n behoefte aan ‘n sentrale inligtingsorganisasie om inligting te koördineer. Om die leemte te vul is ‘n Staatsveiligheidskomitee met ‘n werkkomitee in 1963 die lewe geroep. Na twee jaar is bevind dat hierdie organisasie nie doeltreffend funksioneer nie en is dit vervang deur ‘n Inligtingskoördineringskomitee. Aan die einde van 1966 is die inligtingsopset weereens in hersiening geneem en is die Koördineringskomitee op sy beurt vervang deur die Staatsveiligheidsadviesraad (SVAR) met ‘n vaste sekretariaat, die Afdeling Inligtingskoördinasie (AIK).
Dit was duidelik dat ook die SVAR en die AIK nie kon voldoen aan die eise van ‘n doeltreffende inligtingsdiens nie en teen die helfte van 1968 het dit duidelik geword dat die aangewese oplossing geleë is in die skepping van ‘n sentrale inligtingsorgaan. Dit het daartoe gelei dat die eerste minister, mnr John Vorster, sy goedkeuring geheg het aan die totstandkoming van ‘n volwaardige staatsdepartement om as sentrale inligtingsorgaan te dien, die Buro Vir Staatsveiligheid (BvS). Die Buro het op 1 Mei 1969 by wyse van proklamasie tot stand gekom met genl. HJ (Lang Hendrik) van den Bergh aan die stuur.
Steeds het die onenigheid in die IG voortgeduur. Dit was veral die Weermag en die Buro wat koppe gestamp het. Dit het die eerste minister genoop om in 1969 ‘n Kommissie van Ondersoek na aangeleenthede betreffende die Veiligheid van die Staat, algemeen bekend as die Potgieterkommissie, in te stel. Na aanleiding van regter Potgieter se verslag waarin hy bevind het
dat die Buro ‘n sentrale rol te vervul het, is die Wet op Veiligheidsinligting en die Staatsveiligheidsraad No. 64 van 1972 deur die Parlement aanvaar. Wat die bedryf van inligting betref, het die wet soos volg bepaal:
2. Werksaamhede en pligte van die Buro met betrekking tot veiligheidsinligting.- Dit is die funksie en plig van die Buro, behoudens die bepalings van artikel 3 (a) om nasionale veiligheidsinligting in te samel, te evalueer, te korreleer en te vertolk ten einde(i) ‘n bedreiging of potensiële bedreiging vir die veiligheid van die Republiek op te spoor en te identifiseer; (ii) die Minister oor so ‘n bedreiging in te lig; (b) (c) om ter oorweging van die Raad ‘n nasionale inligtingswaardering betreffende enige bedreiging vir die veiligheid van die Republiek op te stel en te vertolk, en in hierdie verband om die Raad van enige ander inligting in kennis te stel wat tot sy beskikking is en wat staatsbeleid betreffende bekamping van so ‘n bedreiging kan beïnvloed; (d) om ‘n beleid betreffende nasionale veiligheidsinligting vir goedkeuring aan die Raad te formuleer, en om, na ooreg met die staatsdepartemente aan wie enige aspek van die handhawing van die veiligheid van die republiek toevertrou is, die vloei van veiligheidsinligting tussen daardie departemente te koördineer; (e) om aanbevelings aan die Raad oor inligtingsprioriteite te doen.
Ook dié wetgewing kon nie daarin slaag om vrede in die intelligensiegemeenskap te bewerkstellig nie. Steeds was dit veral die Weermag wat geskop het teen die sentrale rol van die Buro. Die wedywering en wrywing het so ‘n omvang aangeneem dat president PW Botha gelas het dat die intelligensiedienste byeen moet kom om hulle onderlinge verskille uit te stryk. ‘n Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) word geskep met die doel om die intelligensiegemeenskap te koördineer, maar op sy eerste vergadering op 28 Januarie 1980 het dit geblyk dat onversoenbare verskille steeds bestaan.
DIE SIMONSTAD BYEENKOMS
Na aanleiding van die onenigheid het pres. Botha nogeens opdrag gegee dat die verskille uitgestryk moet word. Na aanleiding van sy opdrag is ‘n byeenkoms van ‘n vergrote KIK van 14 tot 19 Januarie 1981 in die Admiraliteitshuis van die SA Vloot in Simonstad gehou. Teenwoordig was die hoofde van die Nasionale Intelligensiediens, die SA Weermag se Afdeling Militêre Inligting (AMI), die Veiligheidstak (VT) van die SA Polisie en ‘n verteenwoordiger van die Departement van Buitelandse Sake. Die direkteur-generaal van NI, dr. Niel Barnard, die mees senior lid, het as voorsitter opgetree. Lt. genl. André Van Deventer, wat later Sekretaris van die Staatsveiligheidsraad sou word, was as waarnemer van die kantoor van die eerste minister teenwoordig. Die departementshoofde was ook vergesel van ondersteuningspersoneel.
Die rol van NI as sentrale intelligensie-organisasie was op die spel. Dr. Barnard, wat slegs enkele maande voor die byeenkoms direkteur-generaal van NI geword het, was op die verdediging. NI het op daardie stadium nie die aansien gehad wat hy later verwerf het nie. Die ander twee hooffigure, lt. genl. PW van der Westhuizen (SAW) en lt. Genl. Johan Coetzee (SAP), was ervare operateurs in die intelligensiebedryf. Die uiteinde was dat hy onvermydelik enkele toegewings moes maak. Oor die agtergrond en dinamiek van die byeenkoms skryf dr. Barnard meer uitvoerig in die hoofstuk Die Slag van Simonstad in sy boek Geheime Revolusie – Memoires van ‘n Spioenbaas.
Een van die kernsake by die bespreking, was die produksie van nasionaal strategiese intelligensie. Die Weermag het, nieteenstaande wetgewing, steeds beswaar geopper omdat hierdie kardinale funksie aan NI opgedra is. Uiteindelik het NI onder groot druk van die res van die vergadering ingestem dat ‘n interdepartementele paneel, verantwoordelik aan die KIK, en nie aan NI nie, geskep kon word om nasionaal strategiese intelligensie te bedryf.
So het die Tak Nasionale Vertolking (TNV) as ‘n tak van die Sekretariaat van Staatsveiligheidsraad (SSVR), sy beslag gekry. Die skepping van die TNV het NI egter in sy wese aangetas. Sy statutêre lynfunksie as sentrale intelligensie-orgaan is hom by wyse van ‘n besluit deur amptenare ontneem. Die wet soos hierbo aangehaal, is omseil. Die unieke funksies wat in artikel 2 van die wet aan NI toegeken is, is sonder enige wetswysiging of proklamasie oorgedra aan die TNV.
Aan die einde van 1981 is ‘n interdepartementele werkgroep onder voorsitterskap van mnr. Cor Bekker, hoofdirekteur navorsing van NI, deur die KIK opdrag gegee om met ‘n praktiese voorstel vorendag te kom vir die implementering van die TNV. Deelnemers was onder andere mnre. Mike Louw en George Grewar van NI, brig. Neels van Tonder en kol. Jan Erasmus van Militêre Inligting, brig. Jan du Preez van die Veiligheidstak en mnr. Dawie du Plessis van Buitelandse Sake en Inligting. Na vele toutrek-sessies is die voorstelle aan die KIK voorgelê en goedgekeur. Op 4 Januarie 1982 het die TNV met sy werk begin.
Hoewel die TNV in burokratiese omstredenheid gebore is, het hy vanaf sy totstandkoming tot met sy ontbinding in 1989, ‘n benydenswaardige tradisie van professionele uitnemendheid opgebou. Die verteenwoordigers van die onderskeie departemente wat in die produksie strukture gedien het, was professionele intelligensie operateurs en was nie gekniehalter deur die burokratiese omstredenheid elders in die IG nie.
DIE TAK NASIONALE VERTOLKING (TNV)
Die TNV het uit die volgende interdepartementele produksiestrukture bestaan: • ‘n Vertolkingspaneel wat nasionaal strategiese intelligensie aan die kabinet, die Staatsveiligheidsraad (SVR), strategiese beplanners in die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel (NVBS) en staatsdepartemente voorsien het; • ‘n Nasionale Gesamentlike Inligtingsentrum (NASGIS) wat gekoördineerde intelligensie vir operasionele beplanning en uitvoering geproduseer het. Die NASGIS was ‘n substruktuur van die TNV-vertolkingspaneel wat aanvanklik deur die SSVR bedryf is maar in 1987 by die TNV ingeskakel is; • ‘n Situasiekamer om die staatshoof, pres. PW Botha, deurlopend ingelig te hou oor die veiligheidsituasie gedurende die Nasionale Noodtoestand (NNT). Die situasiekamer is in 1986 geskep. Die TNV-vertolkingspaneel was oorhoofs verantwoordelik vir die bedryf van die situasiekamer; en • Spesiale werkgroepe volgens behoefte om inligting oor spesifieke sake te koördineer.
DIE VERTOLKINGSPANEEL
Die TNV-paneel het bestaan uit ervare intelligensie navorsers uit al die lede van die IG wat daagliks byeen gekom het om intelligensieprodukte pasklaar te maak vir besluitnemers op die hoogste vlakke in die regering. In sy handleiding is die doel van die TNV soos volg verwoord: “...om nasionaal
gekoördineerde veiligheidsinligting volgens behoefte aan goedgekeurde staatsinstellings te voorsien.” Die volgende funksies is geïdentifiseer: • Om as finale interdepartementele klaringsforum vir veiligheidsinligting in die RSA te dien; • Om doelmatige en tydige inligtingsprodukte ooreenkomstig die vereistes van die kliënt te voorsien; • Om te verseker dat al sy produkte sover moontlik in nasionale konteks geplaas word; en • Om die inligtingsprodukte aan goedgekeurde kliënte te versprei.
Die TNV het in sy werksaamhede deurlopend gestrewe na intellektuele integriteit. Groot klem is geplaas op eerlikheid, feitelike korrektheid en logika. Die primêre doel was om die kabinet en die regering ingelig te hou oor die aard van die bedreiging, die omvang daarvan sowel as die intensiteit. Die TNV handleiding het sy vertolkingstaak soos volg uitgespel: “’n Vertolking [wat] ten doel het om die gegewens ter hand in groter perspektief te plaas, maw ‘n besinning oor die betekenis van die saak wat onder aandag gebring word. Die bedreigingsrelevansie moet afsonderlik uitgespel word. ’n Vooruitskouing van dit wat moontlik of waarskynlik sal ontwikkel. Lg. aspek kan soms egter moeilik van voorgaande geskei word.”
Die gesamentlike vertolking het soms tot ernstige verskille gelei. Meeste van die verskille was die gevolg van verskillende lynfunksionele benaderings. Hierdie verskille en die heftige debatte wat daar rondom gevoer is, het egter wesenlik bygedra tot die verhoging in die gehalte van die vertolking.
PRODUKTE
Die TNV het ‘n reeks produkte ontwikkel en het bestaan uit die volgende:
Die Nasionale Inligtingswaardering (NIW). Die NIW was die vlagskip produk van die TNV. Dit is jaarliks gepubliseer en was ‘n omvattende evaluering van die stand van die bedreiging teen die status quo in Suid-Afrika, tesame met ‘n vooruitskouing. Dit was ‘n omvangryke projek. ‘n Spesiale werkgroep van senior intelligensie-analiste onder leiding van die TNV het daaraan gewerk.
Die projek het begin met die vasstelling van ‘n produksie-agenda. Volgens ‘n tydrooster moes departemente navorsingsinsette indien wat intens deur die projekspan bespreek is. Lede kon die hulp van die departemente inroep wanneer hulle nie self oor detail kennis van ‘n onderwerp beskik nie. Nadat konsensus deur die werkgroep bereik is, is die inset eers weer terug verwys na die departemente vir finale kommentaar voordat dit finaal as ‘n boublok van die NIW aanvaar is. Nadat al die boublokke voltooi is, wat ses weke en meer geduur het, was die groot taak om alles in ‘n saamhangende geheel saam te voeg. Prioriteite moes bepaal en tendense geïdentifiseer word. Vergelykings moes met vorige NIWs getref word om te probeer bepaal of die aanslag op elke terrein sowel as in die geheel toegeneem of afgeneem het. Daarna is dit eers deur die TNV-paneel en die KIK goedgekeur voordat dit aan die SVR voorgedra is. Daarna is dit aan goedgekeurde kliënte beskikbaar gestel.
Die eerste NIW is in 1974 deur NI (destyds die Buro vir Staatsveiligheid – BvS) geproduseer. Omdat dit die eerste projek van sy soort was, is gepoog om so volledig moontlik ‘n voorraadopname te maak van die totale veiligheidsituasie sodat dit as ‘n verwysingsraamwerk kan dien vir opvolgende
Situasierapporte (sitrappe). Hierin is bepaalde onderwerpe van veiligheidsbelang behandel en aan alle lede van die SVR en ander belanghebbendes versprei. Die sitrappe is dikwels gebruik vir voorligtings en inligtingsinsette vir strategieformulering.
Studiestukke. Hierdie dokumente was in-diepte studies oor spesifieke onderwerpe. Dit het ook as verwysingsraamwerke gedien vir opvolgende sitrappe.
Ad hoc dokumente. Hierdie was dokumente wat voorberei is vir spesifieke kliënte asook vir voorligtings en monitorverslae.
Die TNV se jaarverslag vir 1986 gee ‘n aanduiding van die volume wat gedurende die jaar gelewer is: Die NIW, 13 studiestukke, 60 spesiale situasierapporte, 138 situasierapporte, 22 SVR voorligtings en ‘n onbekende aantal SVR-Werkkomitee voorligtings. Daarbenewens het die situasiekamer van die president die daaglikse situasieskets vir die president opgestel. Die in-diepte studies het ingesluit onderwerpe soos waarderings van die situasies in die buurlande en die TBVC state, beplande revolusionêre aktiwiteite en versetaksies vir 1986, en die ANC se strategiese riglyne vir 1986. Die regering is dus voldoende ingelig en van vroeë waarskuwing voorsien.
Die primêre kliënt van die TNV was die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel (NVBS). Dit het ingesluit die president en die SVR, die Werkkomitee (WK) en Kernwerkkomitee (KWK) van die SVR, die SSVR en al sy vertakkinge, interdepartementele taakgroepe, en die Nasionale Gesamentlike Bestuursentrum (NGBS). Nie-veiligheidsdepartemente is ook van relevante inligting voorsien. Die WK het bestaan uit die direkteurs-generaal (DGs) van hierdie departemente en die KWK was ‘n dagbestuur bestaande uit die DGs van die veiligheidsdepartemente.
BEDREIGINGSPERSEPSIE
In die openbare media is die “sekurokrate” dikwels daarvan beskuldig dat hulle “‘n rooi gevaar agter elke bos sien”. Dit is ‘n wanopvatting. Oor die konsepte totale aanslag en kommunisme het die TNV deurlopend ‘n genuanseerde perspektief behou. Die staat is inderdaad op alle terreine van die samelewing uitgedaag deur self-verklaarde revolusionêre agente. Daar kan geen twyfel bestaan dat, vir sover dit die spektrum van die aanslag betref, dit ‘n totale aanslag was nie. Die TNV het dit deeglik gemotiveer en was nie van oordeel dat kommunisme die enigste dryfkrag was nie. ‘n Veelheid van rolspelers, ingesluit “welmenende” Westerse lande, met eie agendas en beskouinge oor die doel en wyse van verandering, was geïdentifiseer en oor gerapporteer.
Vanaf 1987 het die TNV met groter dringendheid begin waarsku dat die patroon van die aanslag teen die status quo begin verander. Die aandag van die SVR is daarop gevestig dat, aanvullend tot die revolusionêre aanslag, die pendulum al sterker in die rigting van ‘n onderhandelde skikking swaai. Aan die begin van 1988 is die regering reeds omvattend voorsien van die ANC se toe nog geheime besinning oor konstitusionele riglyne vir ‘n toekomstige bestel in Suid-Afrika.
As voorbeeld van wat die TNV onder die regering se aandag gebring het, dien die volgende transparant, voorsien deur NI, wat gedurende 1988 aan die SVR voorgehou is:
Die transparant toon onomwonde dat die IG wel deeglik bewus was van die geskakeerdheid van pogings om die status quo in Suid-Afrika omver te werp. NI was die dryfkrag agter hierdie komprehensiewe insig. Ruimte ontbreek om die kompleksiteit van die situasie te hanteer.
Hoewel die TNV as “tregter” vir die strategiese produksie van die IG gedien het, is nie alle intelligensie deur daardie kanaal aan die regering voorsien nie. Individuele departemente het steeds uiters delikate intelligensie direk aan hulle politieke hoofde besorg. In hierdie verband is NI se gesprekke met die latere president Mandela ‘n voorbeeld.
Deeglike navorsing het die TNV se produkte onderlê. Minder bekend, is dat die IG oor een van die grootste sosiaal-wetenskaplike navorsingsnetwerke in die destydse Suid-Afrika beskik het. Net die navorsingsvermoë van NI alleen het oor ‘n personeel van meer as ‘n honderd beskik. In die Veiligheidstak en Militêre Inligting was daar ook uitgebreide navorsingskomponente. Buitelandse Sake het grootliks staat gemaak op hulle lessenaarbeamptes en ambassadeursverslae.
VERSPREIDING
Die TNV het die geleentheid gehad om sy produkte direk aan die hoogste vlakke van besluitneming voor te dra. Die hoofde van die TNV, en na 1988 die HIIK, het bykans elke tweede Maandag van die jaar die geleentheid gehad om die SVR persoonlik voor te lig. Oor gespesialiseerde onderwerpe is ‘n kundige uit die departemente verkry om die voorligting te behartig. Ad hoc voorligtings deur ‘n
verskeidenheid kliënte is ook dikwels aangevra. In die afwesigheid van die hoofde wat voorligtings hanteer het, het die adjunk-hoofde ‘n belangrike rol gespeel as voorsitters van die produksievergaderings.
Die voordragte aan kliënte het hoë eise gestel aan die hoofde. Nadat die TNV-produkte gefinaliseer is, moes dit vir voorligtingsdoeleindes voorberei word sonder om die inligting te kompromitteer. Lang studies moes soms tot enkele bladsye verkort word en transparante moes ontwerp en voorberei word.
Die eerste hoof van die TNV was mnr. CJ (Cor) Bekker, hoofdirekteur navorsing van NI. Hy is opgevolg deur genl. maj. PF (Tienie) Groenewald van Militêre Inligting (MI) wat op sy beurt opgevolg is deur genl. maj. RPJ (Dolf) van Vuuren van die Veiligheidstak (VT) van die Polisie. Genl. Van Vuuren is opgevolg deur mnr. J (Johan) Mostert van NI en genl. maj. H (Hennie) Roux van die Weermag. In 1988 is mnr. Mostert deur die KIK aangestel as Hoof Interdepartementele Intelligensiekoördinering (HIIK) vir die oorhoofse bestuur van alle koördinerende interdepartementele bedryfstrukture onder die KIK se beheer. Dit het die TNV ingesluit.
DIE TNV IN AKSIE
Die daaglikse TNV paneel was ‘n intellektueel stimulerende ervaring. Die lede het elke oggend die inligtingsvergaderings van hulle departemente bygewoon en om tienuur het die paneel vergader. Vergaderings het begin met ‘n mondelinge uitruil van inligting wat die paneellede by hulle departemente bekom het. Daarna is navorsingsprodukte van die departemente ter tafel geneem. Hierdie produkte is sin-vir-sin, woord-vir-woord, onder die vergrootglas geplaas vir feitelike korrektheid en perspektief.
Daar is dikwels ure spandeer aan ‘n enkele produk om die verskille uit te stryk. Ten spyte van die verhoogde drif, was die debatvoering altyd op ‘n beskaafde toon en het die departementele verteenwoordigers om die tafel in ‘n eenheid ontwikkel wat net op een doel ingestel was: die daarstel van ‘n professionele produk.
Werkgroepe oor onderwerpe wat meer deeglike of deurlopende aandag geverg het, is na behoefte gevestig. Die verslae van die werkgroepe is aan die TNV voorgelê.
Die TNV was nie altyd gewild by die navorsers van departemente nie. Spesialiste van die departemente is dikwels uitgenooi om aan die debatte deel te neem en die robuustheid van debatvoering by die TNV het hulle egter ontstem.
Dit was veral in die werkgroepe oor Suidwes-Afrika waar soms harde woorde geval het. Reeds in 1982 is ‘n vaste werkgroep met NI as permanente voorsitter geskep om alle inligting oor die SWAkwessie te hanteer. ‘n Gesamentlike Inligtingsvertolkingsliggaam (SWAGIV), is ook in Windhoek onder voorsitterskap van die Veiligheidstak geskep. Die SWAGIV het aan die SWA-komitee in Pretoria verslag gedoen. Lg. het weer sy vertolkings deur die TNV gekanaliseer. Daarbenewens het NI ‘n situasiekamer aan die administrateur-generaal beskikbaar gestel.
Terugskouend kan gekonstateer word dat die TNV, en daarmee saam die IG, trots kan wees op die uitstaande gehalte van die intelligensie wat aan die owerheid voorsien is.
SAMESTELLING VAN DIE PANEEL
Die TNV paneel het vroeg reeds ‘n eie karakter ontwikkel. ‘n Omvattende handleiding is opgestel en die langs dienende lid, die dekaan, het toegesien dat die kultuur van die TNV gehandhaaf en uitgebou word. Klein gebare soos die formele instelling van nuwe lede en die aanwys van die langsdienende lid as dekaan om om te sien na die TNV-kultuur het bygedra tot ‘n samehorigheidsgevoel onder lede ten spyte van skerp verskille.
Die paneel het bestaan uit: ‘n hoof en adjunk-hoof en senior kundiges vanuit die IG. Die hoof en adjunk-hoof het tweejaarliks roteer. Hulle was altyd van verskillende departemente. Die bedoeling was dat hulle onafhanklik sou wees en dus nie departementele belange verteenwoordig nie. Die ander lede van die paneel was die volgende: twee senior verteenwoordigers elk van die Nasionale Intelligensiediens (NI), Militêre Inligting (MI), en die Veiligheidstak (VT), en een verteenwoordiger van die Departement van Buitelandse Sake (BS). Aanvanklik was daar ook een van die Spoorwegpolisie voordat dit ingeskakel is by die SAP. Die paneellede is na die TNV gesekondeer vir ‘n periode van twee tot vier jaar.
Die hoof van die TNV (HTNV) was op hoofdirekteurs-/ genl. maj. vlak terwyl die departemente op direkteurs of adjunk-direkteursvlak, oftewel brigadier-generaals- of kolonelsvlak, verteenwoordig is. Soms het meer junior personeel met besondere kundighede ook departemente verteenwoordig.
‘n Professionele redaksionele span het die paneel bygestaan. Hulle het ‘n daadwerklike bydrae gelewer om die gehalte van die produkte te verhoog.
Aanvanklik is voorsien dat die TNV ‘n integrale komponent van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR) sou wees. Die hoof van die SSVR kon die TNV taak, maar oor die inhoud van die produkte het hy geen seggenskap gehad nie. Daarvoor het die TNV aan die KIK gerapporteer. Dit was dus ‘n matriks bestuursreëling.
Die TNV se eerste setel was in die Robert Koch-gebou in die middestad van Pretoria. Kort daarna het dit ‘n gesamentlike tuiste met die SSVR gevind in Byron Place, Schubartstraat 320, Pretoria. Die TNV is logisties ondersteun deur die Tak Bestuursdienste van die SSVR waarvan mnr. AP Stemmet die hoofdirekteur was.
ONTBINDING
Op 29 Februarie 1988 het ‘n nuwe hoofstuk vir die IG aangebreek toe pres. Botha NI se wetlike status vir die bedryf van nasionaal strategiese intelligensie skriftelik herbevestig het. Dit het die TNV effektief van die SSVR ontbondel. Op dié datum het die president die volgende opdrag uitgereik wat die rol van NI as sentrale intelligensie-orgaan herstel het:
“Die bedryf van nasionale veiligheidsinligting is, soos bepaal deur Wet 64 van 1972, die verantwoordelikheid van die Nasionale Intelligensiediens wat daarvoor verantwoording doen aan die Staatspresident.
“Die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) onder voorsitterskap van die Direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensiediens bepaal, na gelang van behoefte en doenlikheid, insette verlang van departementele inligtingsinstansies tot die bedryf van nasionale veiligheidsinligting sowel as die koördinering daarvan.
“Die KIK word gemagtig om in die uitvoering van sy taak, ‘n voltydse intelligensiekoördineerder aan te stel vir die oorhoofse bestuur van alle koördinerende interdepartementele bedryfstrukture onder sy beheer.
“Vir die doeleindes van die koördinering van departementele inligtingsinsette tot nasionale veiligheidsprodukte, en die nasionale vertolking daarvan, is die nasionale vertolkingsliggaam daargestel wat voortaan as staande subkomitee van die KIK funksioneer.”
Soos reeds genoem, is mnr. Mostert, ‘n NI-lid wat op daardie stadium hoof van die TNV was, aangestel as HIIK om die TNV en al sy sub-organe te koördineer. Genl. Roux het by hom oorgeneem as hoof van die TNV. Die aanstelling van ‘n NI-lid, wat oorhoofs die koördinering behartig, was in ooreenstemming met die president se opdrag dat NI se nasionale koördineringsfunksie herstel moes word. Die HIIK is opgedra om die TNV en sy ander sub-organe na buite te verteenwoordig terwyl die hoof van die TNV hom sou toespits op die bestuur van die TNV paneel. Die HIIK was verder ook ingespan om algemene ondersteuningsdienste aan die KIK te lewer. Hy was onder meer opgedra om ondersoek in te stel na die rasionalisasie van die IG.
Met die ontbinding van die TNV aan die einde van 1989, het NI sy wetlike verantwoordelikheid aanvaar vir die bedryf van nasionaal strategiese intelligensie. Om koördinering egter nie skade te laat ly nie, is ‘n Inligtingskoördineringsforum (IKF) onder voorsitterskap van NI as ‘n subkomitee van die KIK geskep. Dit het bestaan uit hoofdirekteure uit die IG. Die IKF het op sy beurt weer verdere subkomitees vir buite- en binnelandse veiligheidsaangeleenthede geskep waarvan NI die permanente voorsitterskap beklee het. Die substrukture van die IKF het die TNV vervang. Die finale verantwoordelikheid vir nasionaal strategiese intelligensie het egter, soos die wet dit vereis, voortaan by NI berus. Die DG van NI is opgedra “om tot ‘n aanvaarbare vergelyk te kom met ander inligtingsbedrywende departemente oor die wyse waarop hulle met die Diens kan saamwerk ter uitvoering van sy wetlike opdrag. Hieroor en oor die stand van inligtingstrukture moet die DG van NI jaarliks aan die SVR verslag doen.”
Dat nasionaal strategiese intelligensie na 1990 steeds effektief bedryf is, blyk uit ‘n toespraak van die direkteur-generaal van NI, dr. Niel Barnard, aan senior NI-lede op 26 April 1991: ”In terme van die insette by die hoogste raadsale van Suid-Afrika, wil ek my vanmiddag aanmatig om te sê dat daar sekerlik in hierdie tydperk in 1991 in die hele wêreld min, indien enige, intelligensiedienste is wat die inspraak het in beleidsformulering wat lede van hierdie Diens [NI] tans op verskillende forums het. Dit word nie net gedoen by verskillende forums waar voorligtings gedoen word nie, dit word ook gegee in terme van direkte kontak met ministeries en mense wat besluite in dié verband moet neem. Dis eintlik die hoogste doelwit wat ‘n intelligensiediens kan nastreef, om inligting te hê en om toegang te hê sodat veiligheidsinligting sentraal kan staan in die uiteindelike besluitneming oor die land se toekoms.”
Die verandering het nie deel gevorm van die ontbondeling van die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel (NVBS) deur pres. FW de Klerk nie. Dit is deur ‘n sameloop van omstandighede dat die prosesse aan die einde van 1989 gelyktydig plaasgevind het. Die TNV was reeds gedurende pres. Botha se tyd geoormerk om aan die einde van die TNV-voorsitter se termyn te ontbind.
DIE NASGIS
Die NASGIS-stelsel het ‘n onontbeerlike rol gespeel om daagliks ‘n omvattende inligtingsoorsig te verskaf van die ontvouende onrussituasie in die land. Hierdie landwye dekking het die veiligheidsmagte in staat gestel om hulle vingers deurlopend op die pols van die veiligheidsituasie op die grond te hou. Sodoende kon tendense betyds geïdentifiseer en teenmaatreëls beplan word. Daarmee saam is waardevolle intelligensie vir operasionele doeleindes op nasionale-, streeks- en plaaslike vlak beskikbaar gestel.
Om die rol van die NASGIS na behore te verstaan, moet daar eers kortliks gekyk word na die landwye ontplooiing van die NVBS. Vir die doel van die bekamping van die revolusionêre aanslag, is Suid-Afrika in 11 streke, Walvisbaai ingesluit, verdeel volgens die grense van die SAW se kommandemente. In elke streek was ‘n Gesamentlike Bestuursentrum (GBS) om departementele koördinasie te bewerkstellig. Streke het dit nodig gevind om sub-GBSe en mini-GBSe te stig, en in dorpe en stede is Plaaslike Bestuursentra (PBSe) geskep. Daar was altesaam 309 PBSe in SuidAfrika.
Die NASGIS was ‘n integrale deel van die NVBS. Sy doel was om veiligheidsinligting vir operasionele doeleindes op al die vlakke - nasionaal, streek en plaaslik - van die NVBS te verskaf. Die NASGIS-strukture het bestaan uit koördineringskomitees “om lopende inligting binne die verwysingsraamwerk van die rewolusionêre aanslag te bedryf”.
In ‘n memorandum van die NVBS is die rol van die NASGIS soos volg beskryf: “Die bedryf van nasionale veiligheid op streekvlak is onmoontlik sonder tydige en akkurate inligting tov staatkundige, ekonomiese en maatskaplike knelpunte met veiligheidsimplikasies asook tov van vyandelike optrede, vermoë, voornemens edm. Die GIS is die orgaan wat hierdie inligting aan al die komponente van die GBS verskaf.”
Hieronder word die strukturering van die NASGIS uiteengesit:
Die NASGIS. NASGIS was ‘n paneel bestaande uit verteenwoordigers van die VT, MI en NI. Kol. JP (Piet) Steyn van die VT was die voorsitter. Dit was by die operasionele sentrum van die SAP se onlusbeheereenheid in Wachthuis gesetel. Gereelde verslae is daagliks aan uitvoerende instansies op nasionale vlak voorsien.
Die GIS. In die elf streke was daar Gesamentlike Inligtingsentra (GISe) wat die provinsiale Gebiedsbestuursentra (GBSe) van inligting voorsien het. Hulle rol was om gesamentlike vertolking te doen van die veiligheidsituasie in ‘n bepaalde provinsie of streek. Hierdie GISe op streeksvlak het gereelde streeksinligtingsprente aan die provinsiale GBS sowel as die NASGIS beskikbaar gestel.
Die GIK. Die GIK’e het gefokus op taktiese inligting. In landdrosdistrikte is Inligtingskomitees (GIKe) geskep wat na behoefte byeen gekom het om die veiligheidsituasie in stede of dorpe in oënskou te neem. Hulle primêre kliënt was die PBS en die GBS.
In brandpuntgebiede, het die GIK’e daagliks byeengekom. Hulle is van ‘n deeglike handleiding voorsien oor watter inligting ingesamel moes word. Dit het onder meer ingesluit: die aktivering en werksaamhede van geheime ondergrondse strukture; radikale groepe se pogings tot intimidasie
van die veiligheidsmagte; pogings om die burgery tot verset te mobiliseer; ontwrigtende aksies soos bv. intimidasie van raadslede van swart woongebiede en verbruikersboikotte; ontwrigting van die regstelsel deur bv. die instelling van “people’s courts”; optrede op ekonomiese terrein, bv. stakings, winkelboikotte, wegblyaksies en industriële sabotasie; optrede op onderwysterrein bv. boikotte van skole, intimidasie van onderwysers, beskadiging en vernietiging van skooleiendom; ontwrigting van gesondheid en welsynsdienste, bv. intimidasie van personeel, sabotasie van dienste wat deur die owerheid gelewer word, en die sabotering van gemeenskapsontwikkelingsaksies; die voorkoms, beplanning en aktiwiteite van radikale organisasies; en propaganda en die effek daarvan op die bevolking.
Die GIK’e, het hoofsaaklik bestaan uit die VT en MI. Waar die VT nie ‘n teenwoordigheid gehad het nie, is die rapportering deur die uniformtak gedoen. NI het nie so ‘n wye geografiese dekking gehad dat hy al die vergaderings kon bywoon nie, maar was wel in die groter sentra verteenwoordig. By die GIK’e het die departemente inligting uitgeruil en besluit waaroor onmiddellik gerapporteer moet word.
Die rapportering het vinnig geskied. Teen die helfte van die oggend het die NASGIS ‘n landwye prent breedweg kon saamstel van die landwye onrussituasie. Die inligtingsprent wat op hierdie manier saamgestel is, was uiteraard nie volkome korrek nie, maar het nogtans die doel gedien om operasionele beplanners betyds te waarsku van die breë tendense sodat tydig beplan of opgetree kon word. Landwyd het die hele stelsel van die NASGIS doeltreffend gewerk. Die stelsel kon daarin slaag om sy kliënte met ‘n hoë mate van tevredenheid te bedien.
TEN SLOTTE
Die IG van Suid-Afrika het gedurende die 1980s ‘n deurslaggewende bydrae gelewer om die land stabiel te help hou. Die IG en die TNV het voldoen aan sy doel om strategiese en operasionele intelligensie tydig en akkuraat aan die owerheid te voorsien. Alle personeel wat deel was van die IG van Suid-Afrika kan trots wees op wat hulle vermag het. 14/06/2021
Laai ons spesiale uitgawe af met nog nooit voorheen gepubliseerde oorspronklike handleidings wat die werking van die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel en sy opvolger onder President FW de Klerk, die Nasionale Koördineringsmeganisme, eerstehands verduidelik: klik op die skakel hieronder.
ORIGINAL NSMS & NCM MANUALS
To download our special edition of never-before-published original manuals of the National Security Management System and its successor under President De Klerk, the National Coordinating Mechanism, click on the link below.
https://issuu.com/hennieheymans/docs/nongqai_vol_12_no_12a