8 minute read
Nongqai Vol 14 No 1
POLISIEGESKIEDENIS | POLICE HISTORY
Genl JV van der Merwe
Advertisement
OP 23 Junie 1985 het lede van die Witwatersrandse veiligheidstak Klaas de Jonge, ʼn Nederlandse burger, en Helena Pastoors, ʼn Belgiese burger, ingevolge die bepalings van Art. 29 van die Wet op Binnelandse Veiligheid aangehou. Hulle het voertuie met vals bodems gebruik om wapens, ploftoestelle en springstof van buurstate na Suid-Afrika in te smokkel en dit na wapenopslagplekke vervoer en versteek.
Albei het tydens hul aanhouding verskeie wapenopslagplekke aan die polisie uitgewys. Pastoors het tydens ondervraging erken dat sy die voertuig met springstof wat vir die Kerkstraatbom gebruik is, die land ingebring het. Sy het volgens opdrag die voertuig by die Mamelodi-spoorwegstasie gelaat en die sleutels onder die mat versteek. Sy het De Jonge later daarvan vertel, maar laasgenoemde was nie self by die voorval betrokke nie. Sy het later tydens haar aansoek om amnestie die feit dat sy die voertuig by die Mamelodi-stasie gelaat het, verswyg. Die amnestiekomitee het, soos in baie ander gevalle waar ANC-lede betrokke was, geen moeite gedoen om die volle waarheid bloot te lê nie.
Helena Pastoors is in Mei 1986 tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis weens oortredings van die Wet op Binnelandse Veiligheid. Sy is in 1989 op parool vrygelaat en het later amnestie vir haar aandeel in die Kerkstraatbom ontvang.
Op 9 Julie 1985 het Klaas de Jonge laat blyk dat daar ook in Pretoria wapenopslagplekke is. Onbewus daarvan dat dit ʼn slenter is, het die ondersoekbeampte gereël dat twee lede van die Johannesburgse speurafdeling hom na Pretoria bring om die uitwysings te doen. Uit ʼn bewysregtelike oogpunt was dit raadsaam dat lede van die veiligheidstak wat by De Jonge se ondervraging betrokke was, nie by die uitwysings betrokke is nie.
In Pretoria aangekom, het De Jonge onder die voorwendsel dat hy nie meer heeltemal seker is waar die opslagplekke is nie, die speurders na die Nedbankgebou in Andriesstraat gelei, waar die Nederlandse ambassade kantore gehad het. Die speurders het Pretoria glad nie geken nie. In die gebou het De Jonge die speurders na die verdieping gelei waar die ambassade was en meteens een van die kantore binnegestorm met die speurders kort op sy hakke. Die speurders het hom gegryp, na buite gesleep en is met hom terug na die veiligheidstak in Johannesburg.
’n Amptenaar van die ambassade wat De Jonge herken het, het dadelik die ambassadeur oor die voorval ingelig. Laasgenoemde het met sy regering in verbinding getree, wat dadelik ernstige protes by die Suid-Afrikaanse regering aangeteken het. Diplomatieke onskendbaarheid bepaal dat die SA Polisie geen bevoegdheid het om enige handeling binne ʼn buitelandse ambassade te verrig nie. Volgens die protesnota het die Nederlandse amptenaar beweer dat hy in sy kantoor gesit het toe ʼn man, wat hy as Klaas de Jonge herken het, daar inbars met waarskynlik ʼn polisieman al vloekende agterna. Twee mans in burgerdrag, wat hy aanvaar het polisiemanne is, het De Jonge gegryp en weggesleep.
Die veiligheidstak het alle moontlike regsargumente geopper waarom De Jonge nie toegelaat moet word om na die ambassade terug te keer nie. Op sy beurt het die Nederlandse regering laat blyk dat hy dit oorweeg om diplomatieke bande met Suid-Afrika te verbreek as De Jonge nie aan hulle oorgelewer word nie. Die Suid-Afrikaanse regering wou nie in daardie stadium diplomatieke bande met Nederland verbreek nie en het opdrag gegee dat De Jonge na die ambassade teruggebring word. Lede van die veiligheidstak het die opdrag op 19 Julie 1985 met ʼn swaar gemoed uitgevoer. Dit was vir sowel die Suid-Afrikaanse Polisie as die Nederlandse regering ʼn ongerieflike reëling. Die polisie moes die ambassade dag en nag dophou om te keer dat De Jonge ontsnap en die Nederlandse ambassade moes hom in een van hul kantore huisves, waar daar geen woongeriewe was nie.
In Oktober 1985 het die Nederlandse ambassade na ander kantore getrek en hulle wou De Jonge saamneem. Op aandrang van die Polisie het die Suid-Afrikaanse regering botweg geweier om dit toe te laat. Die Nederlandse regering moes gevolglik voortgaan om die kantore in die Nedbankgebou te huur bloot om De Jonge te huisves.
Die Staatspresident, mnr. P.W. Botha, het op versoek van die Polisie die Nederlandse regering in kennis gestel dat aangesien die ambassade nie langer die kantore in die Nedbankgebou gebruik nie, die diplomatieke onskendbaarheid van die kantore opgehef word. Dit sou die veiligheidstak in staat stel om De Jonge weer in hegtenis te neem. ’n Verteenwoordiger van die Nederlandse regering, mnr. Henry Wijnaendts, het egter ʼn blitsbesoek aan Suid-Afrika gebring en pres. Botha oorreed om die diplomatieke onskendbaarheid van die kantore in die Nedbankgebou te handhaaf.
Die Nederlandse regering het ʼn senior lid van die Nederlandse polisie, lt. Ger Sevink, gestuur om ʼn oog oor De Jonge se veiligheid te hou. Nadat lt. Sevink na Nederland teruggekeer het, het SuidAfrikaanse polisiemanne tydens besoeke aan Nederland met hom bevriend geraak en daar is baie oor De Jonge gesels en gelag. In ’n briefwisseling tussen my en lt. Sevink het hy vertel hoe hy met die karige geriewe gesukkel het. Daar was geen warm water nie en hy en De Jonge moes self hul maaltye voorberei. De Jonge was ʼn goeie kok en het al die kookwerk gedoen. Die polisie wat die gebou bewaak het, het hulle op elke denkbare manier probeer treiter. Hulle het snags harde musiek gespeel en een keer selfs in die plafon van die kantore rondgekruip om De Jonge te ontstig.
In September 1987, nadat De Jonge amper twee jaar lank in die ou kantore van die Nederlandse ambassade geskuil het, is die saak uiteindelik opgelos. Daar is ná intensiewe internasionale onderhandelinge besluit om De Jonge, 133 Angolese gevangenes en ’n Fransman, Pierre-André Albertini, te ruil vir kapt. Wynand du Toit, ʼn Weermaglid wat in Angola gevange gehou is.
Albertini is in Oktober 1986 weens terrorisme tot vier jaar gevangenisstraf in Ciskei gevonnis en sy uitruiling is deur Ciskei gehanteer. Die Angolese gevangenes is deur die Gebiedsmag van Suidwes-Afrika (Namibië) in Suidwes gevange gehou en hul uitruiling is deur die Weermag in samewerking met die Gebiedsmag van SWA gehanteer.
Die veiligheidstak het met die Departement van Buitelandse Sake gereël dat ek en kol. André Beukes (later generaal) De Jonge per vliegtuig na Maputo in Mosambiek sou neem, waar hy vir kapt. Du Toit uitgeruil sou word. Volgens ooreenkoms sou ons op die lugmagbasis Waterkloof wag
totdat bevestiging ontvang is dat kapt. Du Toit in Mosambiek se lugruim is voor ons na Maputo vertrek
Kort ná 8 vm. op 7 September 1987 het ek en kol. Beukes De Jonge by die Nedbankgebou in Andriesstraat gaan oplaai en by die lugmagbasis Waterkloof gaan wag. Volgens ooreenkoms sou die uitruiling in die voormiddag plaasvind.
Soos gebruiklik in Afrika waar tyd weinig beteken, het ons eers ná 1 nm. bevestiging ontvang dat Wynand du Toit in Mosambiek se lugruim is. Ons het het dadelik met ʼn King Air van die Lugmag na Maputo vertrek, vergesel van ʼn verteenwoordiger van Buitelandse Sake. ʼn Chaos het op die lughawe in Maputo geheers. Daar was honderde vliegtuie op die aanloopbaan soos verslaggewers uit alle oorde op Maputo toegesak het. Die vlieënier van ons vliegtuig kon nie land waar die lugbeheerbeampte aangedui het nie en moes ʼn alternatiewe landingstrook op die lughawe soek. Dit was al ná 3 nm. toe ons vliegtuig op die aangewese plek op die Maputolughawe tot stilstand kom.
Ons is ná die landing ingelig dat al die dokumente oor die uitruilooreenkoms nog nie in orde is nie en dat sekere stukke nog vertaal moes word. Ons het geen ander keuse gehad as om in ons vliegtuig te wag nie. Verslaggewers het op ons vliegtuig toegesak en De Jonge wou met alle geweld uitklim, maar ons het hom teëgehou. Uiteindelik was alles gereed en De Jonge en kapt. Du Toit kon hul onderskeie vliegtuie verlaat.
Mnr. Pik Botha, Minister van Buitelandse Sake, was self op die Maputo-lughawe om Wynand du Toit te ontvang en die pers toe te spreek. Du Toit het later saam met mnr. Botha na Suid-Afrika teruggevlieg. Mnr. Botha was ergerlik omdat ons nie vroeër gekom het nie. Ek het hom saaklik meegedeel dat ons stiptelik volgens ooreenkoms gehandel het. Ek sou dit beslis nie ná al die moleste gewaag het om De Jonge na Maputo te bring voor ek nie eers seker was dat die uitruiling wel sou plaasvind nie. Sodra ons in Mosambiek se lugruim was, het alle wetlike bevoegdheid om De Jonge aan te hou, verval. As iets sou skeefloop, sou Buitelandse Sake bloot hul skouers ophaal en die Polisie sou die gelag moes betaal.
TROU TOT DIE DOOD TOE: KLAAS DE JONGE KRUIP IN DIE