BETWISTE ORDES EN DIE MAN IN DIE ARENA: DIE
VAN DIE NONGQAI-ARGIEF
Dr. Heinrich Matthee, ere-leerstoel in veiligheidstudies, Akademia, 26 Maart 2024
Vriende en kollegas van Akademia, goeiedag! Dit is ’n pragtige lentetyd in Nederland. Oral staan die bome met bloeisels. Ek hoop dat die herfs in Suid-Afrika baie mooi en aangenaam is.
Vanaand is ons bevoorreg om byeen te kom. Ek is baie bly dat ek saam met dr. Willem Steenkamp, brig. Hennie Heymans en mnr. Jan de Klerk kan gesels oor die Nongqai-argief.
My praatjie handel oor die veiligheidsmagte se geskiedenis en hoe dit in die Nongqai-argief na vore kom. Die veiligheidsmagte hier sluit in die Unie-Verdedigingsmag (1912-1957) en die SuidAfrikaanse Weermag (1957-1994). Dit sluit die Suid-Afrikaanse Polisie in, wat van 1913 af bestaan. Dit sluit ook die politieke intelligensiedienste in hierdie tydperk in.
My praatjie raak vier temas aan:
1. Die veiligheidsmagte en ’n betwiste politieke orde, ‘n betwiste Suid-Afrika
2. Die veiligheidsmagte en Afrika-politiek
3. Die veiligheidsmagte en die internasionale orde en wisselwerking
4. Die man en die vrou in die arena, die mense van die veiligheidsmagte
• Die veiligheidsmagte en ’n betwiste Suid-Afrika
Ons weet dat oorlog een van die ergste maniere is om te oorleef. Van die begin van die mensdom af is oorlog deel van daardie stryd om oorlewing. Oorlog is ook een van die ergste vorms van politieke mededinging. As oorlog een van die ergste vorms van oorlewing en politieke mededinging is, dan is interne oorlog waarskynlik die ergste vorm van oorlog.
Interne oorlog, oorlog tussen die mense van ’n bevolking, die groepe van ’n bevolking, is ’n baie intieme, dikwels wrede vorm van oorlog. Alle oorlog is wreed, maar die intimiteit van interne oorlog maak dit besonders. Dit is bure wat mekaar verklik, wat mekaar skiet, wat mekaar verjaag. Dit is buurgemeenskappe wat die ekostelsel wat ontstaan het uitmekaar skeur.
Interne oorlog is besonders omdat dit byna onvermydelik smerige kante het. Dit is ’n oorlog vol morele dilemmas, ook vir mense wat andersins werklik ’n beginselkode volg. Dit is ’n tipe oorlog wat ’n pynlike en baie emosionele erfenis nalaat.
Die nageslagte daarna vind dit ontsettend moeilik om gebalanseerd met hierdie erfenis om te gaan. Kies jy nou jou eie kamp? Erken jy die waarhede van die ander kamp? Is dit, soos Van Wyk Louw sê, nie ’n geval van reg teen onreg nie, maar van reg teen reg?
Interne oorlog bring hierdie komplekse dilemmas mee. Dit beteken ’n navorser word uitgedaag. Sy of haar integriteit word uitgedaag. Skakel hy maar net in by die meesterverhaal van die tyd, vir sy beroepsbelange of om rus en vrede te hê? Kyk hy ook na alternatiewe interpretasies? En as hy dit doen, loop hy risiko’s omdat hy skud aan die pilare van die magte wat bestaan en hulle meesterverhale?
Dit is so dat navorsers soms daarin slaag om hierdie uitdaging te oorbrug. Dit help natuurlik as die stryd lank gelede of in ’n veraf gebied plaasgevind het. As mense skryf oor die antieke Grieke of Romeine se burgeroorloë, is dit meestal gebalanseerd.
As mense skryf oor die bevrydingstryde van Pole en Italië in die 19de eeu, is dit gebalanseerd. Shaka Zulu se veldtogte was werklik verdelgingsveldtogte, heel imperiaal. Tog is ons vandag in staat om gebalanseerd daaroor te skryf.
Die argief se swaartepunt is egter die veiligheidsmagte in die twintigste eeu. Dit handel oor die veiligheidsmagte in ’n baie spesifieke politieke orde.
Ons wat in Suid-Afrika leef of geleef het, dink dit het altyd bestaan. Maar natuurlik het Westerlinge in 1652 in die suidelike deel van Afrika aangekom. Dit is nie asof Suid-Afrika toe as ’n eenheid bestaan nie. Vir ongeveer 250 jaar daarna was daar kleiner politieke ordes wat ontwikkel het en met mekaar geskakel het en soms weer uitmekaar gegaan het.
Die Suid-Afrika wat ons ken is ’n jong staat; dit is maar so 114 jaar oud. Die Unie van Suid-Afrika is in 1910 opgerig. Dit is opgerig na ’n politieke skikking.
Daardie skikking het berus op vorige Britse imperiale geweld. Dit het berus op uitgebrande ruïnes en vernietigde plase. Dit het berus op die lyke van honderde duisende vroue, mans en kinders deur die eeue heen, want die Britse Ryk het ook elders sy tol geëis
Sulke politieke ordes se skikkings en bronne van legitimiteit word dikwels betwis. Suid-Afrika is vanaf sy begin gebou op diep politieke verdeeldhede.
Daardie verdeeldheid raak veral ‘n polisiemag. ‘n Polisiemag staan meestal nader as die weermag aan burgers se daaglikse lewe.
Die polisieman of polisievrou word reeds gekonfronteer met vele uiteenlopende en soms komplekse situasies wat hy moet ondersoek of oplos. Dit kan wissel van bendegevegte tot die chirurg wie se kind met dwelms betrap is en die gesinssituasie daaromheen. Dit kan wissel van ’n reeksmoordenaar waar van die getuienis weggeraak het tot berigte van ’n oplaaiende oproer.
Telkens word hy ingeroep as probleemoplosser in ’n gemeenskap. Dit verg ’n wye reeks vaardighede. Daarvoor het hy maar beperkte opleiding en toerusting gekry, dwarsdeur ons geskiedenis.
Selfs in Westerse lande soos die VSA struikel die polisiemagte hieroor. As ’n mens dan ook die aard van die politieke orde in Suid-Afrika byvoeg, is dit nog meer kompleks vir die polisie.
Die Unie se polisiemag is baie beïnvloed deur Brits-koloniale praktyke. Daardie praktyke en prosesse is ook gegrond op die ervarings van teeninsurgensiestryde in Kenia, Indië of Palestina. Soms het dit berus op die intieme en wrede stryd tussen die Britse magte en Ierse republikeine.
Dit beteken dat die polisie in Suid-Afrika vanaf die begin ’n paramilitêre aard gehad het. Daarmee moes hy in ’n polities diep verdeelde orde polisieer.
Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) was ook ‘n tyd van diep politieke verdeeldheid. Ons weet dat baie Afrikaner-nasionaliste, net soos die Ierse Republikeine, nie wou deelneem aan ‘n oorlog van die Britse Ryk nie. Hulle het gesê: “Die Britte het ons land ingeval en groot dele vernietig. Waarom sal ons nou ‘n paar dekades later vir die Britse Ryk ‘n oorlog gaan veg?”
‘n Deel van daardie Afrikaners het ‘n ondergrondse beweging teen die oorlog georganiseer. ‘n Deel van daardie beweging was die Stormjaers van Steve Hofmeyr in die 1940s.
Hoewel Afrikaners ‘n aansienlike deel van die polisiemag uitgemaak het, moes die polisie teen die Stormjaers en ander optree. Soms was dit teen mense met wie hulle selfs politieke simpatieë kon gedeel het.
Die argief bevat dan gevallestudies van senior offisiere soos Bul Coetzee en Hendrik du Plooy. Hoe het hulle in die polities diep verdeelde samelewing tydens die Tweede Wêreldoorlog opgetree? Het hulle professioneel gebly?
As jy die kaart van navorsing het waarmee jy in die bos van die Nongqai-argief gaan stap, is dit een van die vrae, een van die bome waarna jy kan soek: Wat is die uitdagings van veiligheidsmagte in ‘n polities verdeelde bevolking en hoe hanteer hulle dit?
Dit is ook vandag relevant. Dit is relevant vir mense wat in beveiligingsorganisasies in die privaatsektor of in gemeenskappe optree.
Die Tweede Wêreldoorlog het in 1945 geëindig. Na 1948 se Nasionale Party-oorwinning het die Britse invloed in Suid-Afrika gedaal. Die ontstrengeling van Brittanje het versnel. Dit het ook simbolies gebeur. Die verafrikaansing van die polisie en die weermag kom in die argief na vore.
Dit was die tyd van die Koue Oorlog. Die Britse owerhede het die polisie in Suid-Afrika gehelp met anti-Kommunistiese kundigheid. Hulle het dit egter versigtig gedoen, net ten dele. Hulle het nie van die Afrikaner-nasionaliste gehou nie. Hulle het hulle nie heeltemal vertrou nie. Soms was dit op persoonlike vlak so, soms was dit sistemies.
• Veiligheidsmagte en Afrika-politiek
Die argief se swaartepunt is in die twintigste eeu. Heelwat publikasies het reeds verskyn oor die Unie-Verdedigingsmag en Suid-Afrikaanse Weermag. Nog navorsing is definitief nodig. Die Nongqai se publikasies en argief vul egter veral die gapings oor die Suid-Afrikaanse Polisie en die politieke intelligensiedienste.
Binne die SA Polisie, gee dit veral aandag aan die Veiligheidstak in die Republiek van Suid-Afrika, 1961-1994. Die publiek het destyds dikwels daarna verwys as die veiligheidspolisie.
Die Veiligheidstak het natuurlik allerlei voorgangers gehad. Dit is een van my navorsingsbelangstellings: die Spesiale Staf in Suid-Afrika, die sogenaamde politieke polisie, en die Britte se wisselwerking daarmee. As ‘n staatsaanklaer, het ek destyds ‘n onderhoud gevoer met maj. Gabriel Diedericks, die bevelvoerder daarvan tydens die oorlog, en met andere.
Die Veiligheidstak is baie vernuwe deur lt.-genl. Hendrik van den Bergh as hoof vanaf 1963. Die argief gaan in op die rol van hierdie man en gee baie unieke materiaal oor sy rol in vele domeine.
Daar is materiaal oor senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisie, Republikeinse Intelligensie wat onder dr. Verwoerd gestig is, die Buro vir Staatsveiligheid en die Nasionale Intelligensiediens.
Dit sluit persone soos Mike Geldenhuys en Frans Steenkamp, Mike Louw en Pieter Swanepoel, Johan Coetzee en Johan van der Merwe in. Senior amptenare van die Staatsveiligheidsraad, soos A.P. Stemmet, kom ook aan die woord. Soms is daar ook materiaal van gesprekke met MK- en PLAN-guerrillas.
Dit is alles baie waardevolle materiaal, want die veiligheidsmagte het bygedra tot staatsbou in ’n Afrika-konteks. Dit was eintlik maar ’n kortstondige Afrikaner-beheerde republiek, as jy daaraan dink.
Die veiligheidsmagte moes uit baie diverse elemente ontwikkel. In die proses het hulle heelwat funksies vervul. Beveiliging, maar ook ander funksies. Daar was grensbeheer, probleemoplossing in gemeenskappe, en die uitvoering van die politieke skikking van die dag. Deurgaans het ek in die argief gewonder: Het politici en veiligheidsmagte by staatsbou die bestaande kundigheid oor Afrikapolitiek inaggeneem?
Amptenare in die Buro vir Staatsveiligheid het soms gedink die Departement van Bantoesake saboteer deur sy aksies politieke oplossings. Senior offisiere binne die Veiligheidstak het riglyne vir beskaafde ondervraging uitgereik en byvoorbeeld Steve Biko se hantering verafsku. Dit is opmerklik dat dit mense van die veiligheidspolisie is wat gekeer het dat die Sowjet-spioen Dieter Gerhardt, na sy dekmantel ontbloot is, deur militêre offisiere gedood word.
Wat vir my getref het in die argief, is die rekord van senior weermag en polisie-offisiere wat reguit vir ministers gesê het: “Jou politieke beleid probeer hierdie doelwitte bereik, maar uit die reaksies is dit duidelik dat dit nie werk nie. Besef, jou strategiese opsies is besig om te krimp.”
Die boodskap was duidelik. Engelssprekendes verwys daarna as “speaking truth to power”. Jy moet die waarheid teenoor die magshebbers spreek.
Dit is ’n kernbeginsel in die professionele veld, maar dit is soms baie moeilik om in die praktyk na te kom. Dit is veral moeilik as jy weet dat die spesifieke politieke besluitnemer nie goed reageer op kritiek nie en jou loopbaan kan benadeel. Tog is dit wel gedoen en het dit wel plaasgevind.
In Afrika, dit weet u self, het die aantal staatsgrepe die afgelope paar jaar weer toegeneem. Dit is waar die veiligheidsmagte ’n politieke bewind omverwerp, vreedsaam of gewelddadig. Dit is ’n ou probleem in die politieke ordes van Afrika. Dit was ook so in die Midde-Ooste, maar die probleem daar is kleiner deesdae.
Politieke toesig oor veiligheidsmagte is dus ‘n netelige kwessie. Die argief bevat fassinerende inligting oor die verskillende benaderings van Hendrik Verwoerd, John Vorster en P.W. Botha hieroor.
Dit is duidelik dat tydens die bewind van dr. Verwoerd die veiligheidsmagte nie die primaat van die politiek kon verswak of ondermyn nie. Tydens die bewind van adv. John Vorster het die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid baie na aan die premier beweeg. Was daar sprake van te veel invloed in die politieke domein, sonder direkte aanspreeklikheid teenoor die publiek?
Tydens die bewind van mnr. P.W. Botha is dit duidelik dat die SA Weermag ‘n kernrol in die politieke orde gespeel het, nie altyd op ‘n aanspreeklike wyse nie. Wat was die effek daarvan?
Die argief belig ook die opbou van die veiligheidsbestuurstelsel, hoe die veiligheidsmagte met sleuteldepartmente saamgesit het. Hulle wou só die rewolusionêre aanslag van destyds, soos dit beskou is, meer gekoördineerd bekamp.
’n Mens merk dan ook die interne gebiedsgevegte. Daardie interne gebiedstryde kom wêreldwyd voor, byvoorbeeld tussen die CIA, die FBI, die federale deelstate se polisie. Die gebiedstryde daar was ‘n mededinging vir hulpbronne, vir aandag, vir status, ook tydens operasies. Dit op sigself is ’n navorsingstema werd.
Daar is ontledings van mense in die Staatsveiligheidsraad wat aan politici gesê het die strategiese opsies verminder, dit word nou tyd om te onderhandel. Daar is ook ontledings wat sê dat daardie onderhandelinge, toe dit begin het, nie goed hanteer is deur mnr. F.W. de Klerk en sy span nie.
Kobie Coetsee as minister het byvoorbeeld grof misgetas deur nie ’n algemene amnestie vir alle lede van die veiligheidsmagte en guerillamagte te beding nie. Daar is ook ontledings wat sê dat mnr. F.W.de Klerk nie die veiligheidsmagte só as drukmiddel gebruik het soos wat mens dit gewoonlik tydens onderhandelinge sou doen nie.
’n Mens sal moet agterkom of die liefdesgeskiedenis van mnr. F.W. de Klerk ’n hefboom gegee het aan verskillende magte tydens die onderhandelinge. Daar is aanknooppunte in die argief vir al hierdie kwessies.
Die orde van 1994 is ‘n post-republikeinse orde. Let wel, ek noem dit post-republikeins, nie postkoloniaal nie. Die Republiek is gestig en dit is internasionaal so deur state aanvaar.
Die post-republikeinse orde in ’n nuwe orde lewer sy eie prestasies. Deesdae is dit helaas veral, om dit sagkens te stel, beurtprestasies. Een van die groot swakhede van die huidige orde is dat dit nie die mees basiese taak van ’n owerheid nakom nie, naamlik om die bevolking te beskerm.
Tydens een van my besoeke aan Suid-Afrika het ek op Kaapstad-lughawe gesels met ’n baie intelligente Xhosa-man, ’n sangoma. Hy het vir my verduidelik hoe mense in die gemeenskappe in die swart woonbuurte om Kaapstad in die omstandighede verplig voel om deur vigilante-groepe en howe orde te handhaaf.
Dit gebeur op ‘n baie brutale manier. Die rede daarvoor is onder meer dat die polisie van buite die Wes-Kaap ingebring word en dikwels nie die gebied ken nie. Baie is korrup of is nie goed opgelei nie, of het soms bande met bendes.
Daar is tragiese vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika, wat alle burgers en groepe tref, wat in soveel gesinne en familie hartseer veroorsaak. Ek dink ’n mens is op die punt dat dit reg is vir navorsers om te vergelyk: Hoe kon die verskillende ordes in Suid-Afrika die veiligheid van burgers en verskillende groepe verseker? Waar was daar ’n selektiewe sosiale kontrak? Waar het ‘n bewind begin om veral na homself te kyk?
Is dit nie tyd om af te stap van die ou model van nasionale polisiëring nie? Dit kom uit die Britse tyd en berus op allerlei aannames. Is dit nie tyd om te kyk na ander modelle van polisiëring, soos plurale polisiëring nie? Daar speel privaatbeveiligers en gemeenskapsbeveiligers, in samewerking met die nasionale polisie, ’n groter rol.
Is dit nodig om in plaas van nasionale polisiëring bevoegdhede af te wentel, sodat die polisie nader aan die gemeenskap staan en meer plaaslik is? Dit kan wees dat gebeure en die geskiedenis van polisiëring in Suid-Afrika daartoe ’n bydrae lewer.
• Die veiligheidsmagte en die internasionale orde
In die argief is ’n belangrike studiestuk van Dr. Steenkamp en brig. Heymans. Die titel daarvan is “Die gevaar van een enkele verhaal”. “The danger of a single story” beskryf die SA Polisie se Veiligheidstak.
Die Veiligheidstak is deur ander polisiemense beskou as ‘n keurkorps binne die polisie. Byna alle kommissarisse van die SA Polisie het ‘n agtergrond in die Veiligheidstak gehad.
Die studiestuk beskryf die Veiligheidstak met al sy gebreke en suksesse. Die skrywers kom egter tot ‘n opmerklike gevolgtrekking:
Die beskrywing van Suid-Afrika se veiligheidsmagte, ook die navorsing oor die Veiligheidstak, word erg gekleur daardeur dat navorsers dikwels spesifiek uit die Anglo-Amerikaanse domein kom. Dit is ’n domein met sy eie belange, waar mense op ’n spesifieke manier opgevoed word en waar ‘n sekere spektrum perspektiewe geld en ander nie.
Sulke skrywers en navorsers gebruik sekere bronne uit Suid-Afrika. Nou weet ons daar is heelwat plaaslike rolspelers, ook rolspelers wat nie die Afrikaners se republikeinse tradisie ’n regmatige plek gun nie. Daar is rolspelers wat dit selfs met wrewel bekyk dat Afrikaners hoegenaamd die staat vir ’n tyd beheer het. Hierdie twee faktore het navorsers se perspektief verwring, is die skrywers se oordeel.
Is dit dalk ’n tema vir navorsers? Daar is twee redes waarom ek dink dis ’n vrugbare hipotese. Dit beteken ’n mens hoef dit nie as ’n finale oordeel te aanvaar nie. Dit gee egter ’n aanknooppunt om nuwe navorsing ook vanuit daardie hoek te bekyk, miskien dimensies by te bring, en te kyk hoe lyk die totale beeld.
Die twee redes is: Ek het self ’n paar jaar gelede navorsing gedoen by die National Archives in Londen. Die vergeelde dossiere van Britse amptenare wat in Suid-Afrika aktief was en van amptenare wat in Brittanje gesit het, is beskikbaar. Dit is interessante leesstof, veral in die laat1940s, 1950s en 1960s. Ek dink daar is voldoende tekens in die dossiere dat ’n mens hierdie hipotese minstens kan gebruik.
Ek was self by ’n konferensie vroeg in Maart 1995 by die Britse militêre Staff College in Camberley. Ek het toe in Brittanje studeer. Die konferensie was kort na die magsoordrag in Suid-Afrika. Dit is bygewoon deur Britse kenners van Afrika-beleid en veiligheidsbeleid.
Op die verhoog destyds was ’n ANC-verteenwoordiger en mnr. Somerset Morkel, ’n Afrikanerdiplomaat in Londen. Ek onthou nog die ANC-man het ’n baie neerbuigende houding en opmerkings teenoor mnr. Morkel getoon. As ’n jong man het ek gedink dit is nie aanvaarbaar nie en ek het hom ’n baie moeilike vraag gevra. Hy het daaroor gestruikel. Toe het ek gevoel die balans is herstel. Maar daar was ’n ander balans in die vertrek. Onder hierdie groep kenners van Afrika en militêre sake was prof. William Gutteridge, ‘n voorste kenner, toe al bejaard, ’n baie gerespekteerde figuur. Prof. Gutteridge het opgestaan en gesê: “In 1948 het die Afrikaners die staatsdiens in Suid-Afrika oorgeneem. Toe het hulle van die Engelssprekendes se invloed verminder. Sommige mense is aan die kant geskuif, sommige is nie bevorder nie, sommige moes die staatsdiens verlaat.” En byna kollektief het dit uit daardie groep opgeklink, met verwysing na die Afrikaners: “And now, it is their turn.” Nou is dit die Afrikaners se beurt.
Dit is ’n baie menslike reaksie. Maar dit beteken, as jy ’n navorser is, moet jy gaan kyk: Is daar wrewel, teësin, vergeldingsdrang merkbaar in die manier hoe mense skryf oor die veiligheidsmagte? Kan dit wees dat daar magte is met ’n sekere benadering: “Ons eie rol in die voorgeskiedenis moet ons maar minimaliseer. Kom ons fokus liewer op die Afrikaners. Dit dien ons belange beter.”
Nou, magte doen wat hulle moet. As ’n navorser is dit egter dan handig om te kyk na die ander gevalle van interne oorlog internasionaal. As jy dit doen, beveel ek aan dat jy kyk na die baie goeie studies oor die Britse optrede in Kenia en in Ierland en die Franse optrede in Algerië. Dit sou ’n interessante vergelykingsbasis oor hierdie tydperk kon gee.
Daar was natuurlik ander gevalle van internasionale wisselwerking. ’n Mens sien in die argief dat die veiligheidsmagte gerespekteer is deur hulle professionele eweknieë. Die meerderheid mense in daardie magte het volgens hulle opleiding of hulle eie interne beginselkode professioneel opgetree.
In 1962 het ‘n Amerikaanse CIA-offisier Nelson Mandela as ondergrondse guerilla aan die SA Polisie verklap. Dit was tydens die Koue Oorlog. Daar is ander weergawes hieroor, maar dit lyk vir my na ’n geloofwaardige verklaring waarom mnr. Mandela destyds gearresteer kon word.
In die 1970s het ‘n tegniese kenner by die Duitse Bundesnachrichtendienst (BND) volgens ’n verhaal van Dr. Steenkamp nog genoem hy verstaan nie waarom die Nasionale Intelligensiediens se mense hulle besoek nie. Die BND kan tegnies iets by hulle leer eerder as andersom. Teen die 1990s se magsoordrag, is die kernwapens onder die VSA se druk of aansporing vernietig. Dit kan wees dat van daardie tegnologiese uitvindings gedwonge gestop, vernietig of verhandel is.
Dit is nie iets wat uitsonderlik is na oorloë nie. Dit kom gereeld voor na ’n oorlog dat die oorwinnaar – in hierdie geval die politieke oorwinnaar, nie die militêre oorwinnaar nie – die party wat verloor het se tegnologiese en wetenskaplike skatkis en kenners probeer oorneem. In Suid-Afrika se geval lyk dit asof die Westerse grootmagte ingetree het om dit te verhoed, uiteraard tot eie voordeel. Dit is ’n relevante tema vir navorsing.
Wanneer ’n mens dan die internasionale konteks bekyk, gee dit jou ’n goeie vergelykingsbasis. Daardie vergelykingsbasis gee vir jou balans. Jy het daardie balans nodig. Komplekse interne oorlog, die politieke en morele dimensies, geskiedskrywing daaroor, die goeie en billike hantering van alle kampe, dit verg so ‘n vergelykingsbasis.
Dit kan ook wees dat navorsers besluit om na hedendaagse stryde te kyk by daardie vergelyking. Dink maar aan die verskil in reaksies, morele verontwaardiging, en propaganda tussen destyds en vandag oor ’n absoluut vernietigende oorlog in Oekraïne.
In Israel was daar op 7 Oktober verlede jaar ’n brutale slagting van burgerlikes. Verskriklik. Dit het die Israeliese bevolking getraumatiseer.
Hulle sit egter ook met waarskynlik die mees ultranasionalistiese, ultrakonserwatiewe regering as koalisieregering in jare. Die veldtogte wat tans in Gaza uitgevoer word - bombardemente ensovoorts - die vernietigingsvlakke van gesinne, families, burgerlikes, is ongekend hoog.
Wat is die reaksies daarop? Hoe sterk is die morele verontwaardiging? Hoe vergelyk dit met die geskiedenis van Suid-Afrika in die twintigste eeu, en waarom?
’n Mens kan ook kyk na die onlangse oorlog in Ethiopië, in Tigray. Absolute uitdelging van die teenstander het plaasgevind. Daar was wydverspreide uithongering, verkragtings, moorde. Hoe vergelyk die reaksies daarop, en waarom?
• Die man en vrou in die arena
Suid-Afrika, as jy dit histories bekyk, is eintlik ’n versameling van voëlneste. Die versameling se grense wissel. Soms verlaat klein republieke of Lesotho en Swaziland hierdie versameling van neste. Soms keer Transkei en Ciskei weer terug.
Diverse swerms probeer in hierdie versameling neste naas mekaar bestaan. Sommige vlieg weer weg, ander probeer weer op verskillende maniere terugkom.
Dit is die historiese Suid-Afrika, ’n versameling van neste. Die politieke orde in Suid-Afrika berus weer op ’n reeks skikkings. Daardie skikkings is tydelike skikkings.
Die Unie in 1910 was ’n tydelike skikking. Is die 1994-orde ’n tydsgebonde skikking? My antwoord sal wees, volgens die geskiedenis “ja”.
As jy so ’n politieke orde het – jonk en met polities diep verdeelde samelewings, tydelike skikkings, interne oorloë, tans baie geweldsmisdaad - dan stel dit baie uitdagings aan die man en die vrou in die arena, die mense wat in die veiligheidsmagte dien.
Die Amerikaanse president Theodore Roosevelt was ’n man wat wyd blootgestel was. Hy het grootwildjag geken, het die gebruik van oorlog geken, hy was ‘n politikus.
Roosevelt het in 1910 by die Sorbonne-universiteit in Frankryk ’n lesing gegee. Daarin is ’n stuk oor die man in die arena. Dit is werklik ’n stuk om weer te lees vir mense wat in die onderwerp belangstel.
Roosevelt sê: Dit kan wees dat jy as buitestaander al die foute kan sien van die man in die arena, dat hy struikel. Dit is egter die man in die arena, die man met die sweet en bloed op sy gesig, die man wat baie toegewyd, met moed, die risiko’s neem, die offers bring, die werk verrig, dít is die man wat die eer verdien.
Roosevelt voeg daarby. Dit kan wees dat jy behoort aan die kamp wat verloor het. Maar dit wat jy gedoen het, jou kode toe jy dit gedoen het, die manier hoe jy dit gedoen het, dit mag steeds eer verdien. As jy gewen het, sal jy natuurlik die triomf ook beleef.
Hierdie woorde van Roosevelt gee egter iets belangrik weer van die gees, die selfbeeld en emosies onder mense wat wel gedien het.
Dit is iets wat belangrik is vir navorsers om in ag te neem: Ek het my beperkinge as burgerlike wanneer ek die stryders se gedrag ontleed, wanneer ek dit bekritiseer, wanneer ek dit beoordeel. Die uitdagings is om alle stemme eerlik aan te hoor, om alle stemme eerlik kans te gee om gehoor te word.
Ook in jou eie kamp. Dit is baie moeilik, veral na ’n interne oorlog wanneer die politieke kampe en belange nog teenoor mekaar staan. Dit is veral moeilik onder Afrikaners, ’n klein groep wat makliker bedreig voel.
Wanneer sê ons daar?: Daardie aannames was verkeerd. Dáár was alternatiewe verklarings moontlik. Wat is die swakhede in ons oordeel vandag? Of gaan ons die foute herhaal? Hoe vermy ons die politieke moerasse? Hoe vermy ons die morele doodloopstrate?
Jy kan as navorser besluit om dit nie te doen nie. Dit beteken jou advies vir jou besluitnemers gaan vol foute wees.
Soos die lewe nou maar is, dit kan wees dat jy die gevolge daarvan dan terugkry. Die besluitnemers kan dan foute maak, sodat jý later in ’n arena beland. Dalk as jy dan daarin beland, sal jy dán nadink: O ja, hoe sou ek in daardie vorige arena opgetree het?
Ek sluit af: Baie geskiedkundiges sal vir jou noem dit is so moeilik om die geskiedenis van veiligheidsmagte goed op te stel. Van die rekords is nie goed bygehou nie. Die manne was uit op operasies en het ander prioriteite gehad. Van die rekords is weens nalatigheid of ander redes vernietig. Sommige rekords is doelbewus opgeskeur of verbrand. Sommige deelnemers wil nie praat nie, kan nie meer presies onthou nie, of is oorlede.
Daarby word die argiefstelsel in Suid-Afrika deur die korrupsie en onvermoë om hom beskadig.
Die Nongqai-argief is ’n skatkis vir navorsers internasionaal. Dit is ’n skatkis vir navorsers plaaslik. Dit is nie geskep deur betaalde werk nie. Dit is die resultaat van jarelange harde, daaglikse, stille werk deur mense soos brig. Hennie Heymans en dr. Willem Steenkamp.
Dit is vrywilligerswerk. Dit is eintlik liefdeswerk: werk weens die liefde vir die geskiedenis, ‘n passie dat die rekord daargestel word, ‘n vasberadenheid dat die stemme dat die manne en die vroue in die arena wel gehoor word.
Die argief laat hierdie stemme van manne en vroue in die arena weer opklink. Dit bied ons die kans om beter te begryp wat met ons gebeur het as ons in daardie tydperk geleef het, of wat met ons ouers of grootouers gebeur het as ons in ’n later tydperk opgegroei het.
Dit is ’n aansporing om baie gebalanseerd oor ons geskiedenis te dink en te besin. Maar as ons dit gedoen het, dan kan dit wees dat ons by ’n punt uitkom waaroor Dirk Opperman, die digter, geskryf het.
Dirk Opperman is soos dr. Steenkamp en brig. Heymans ’n man wat uit Natal gekom het. Dirk Opperman skryf voor die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het onder al sy gedigte die gedig “Negester en stedelig”:
Watter kaart of watter ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem, van Christus, en die tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd, aan jou dade grens ’n ewigheid; gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen, besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen; en mag die Suiderkruis en Negesterre witter as die stedeligte in jou siel bly skitter.
Dit is ’n besondere gedig van Opperman. Ek dink almal van ons wat te doen gehad het met die manne en vroue in die arena, dra dit aan hulle op.
Vriende, beste wense vir u elkeen. Ons sal mekaar weer sien.
https://www.youtube.com/watch?v=RlD7wbZmXO0
TOESPRAAK DEUR JAN DE KLERK WAT GEBEELDSEND WAS Goeiemiddag dames en here.
Baie dankie vir die geleentheid om die Nongqai.org se webtuiste aan u voor te stel.
My naam is Jan de Klerk. Ek is in die voormalige Port Elizabeth, waar hier ‘n heerlike koel briese teen bykans 15meter per sekonde van die seekant af instoot.
Ek vra verskoning vir die feit dat ek nie hierdie geleentheid persoonlik met u kan deel nie.
Net soos almal wat hierby betrokke is, is ek ‘n vrywilliger in die Nongqaiprojek en het ek ander verpligtinge wat my weerhou om by u aan te sluit. Ek is tans ‘n argivaris van die Nongqai web tuiste.
Met hierdie praatjie wil ek u graag op hoogte bring van
1. Die aard en omvang van die inligting waaruit Nongqai saamgestel is.
2. Hoe ons die inligting hanteer
3. En hoe die inligting bewaar word vir die nageslag.
Tydens my eerste kennismaking met die Nongqai publikasies, was ek verras en beïndruk deur die oorweldigende hoeveelheid inligting wat oor meer as ‘n dekade hoofsaaklik deur ‘n individu, brigadier Hennie Heymans, gedokumenteer is. As eenmansaak was dit onmoontlik vir hom die inligting te versamel, dit te dokumenteer, dan te klassifiseer en verder, te indekseer. Ons moet ook in gedagte hou dat tegnologie blitssnel verander en dat dit op sigself ‘n uitdaging is om by veranderinge by te hou.
Persoonlik het ek hoe ‘n navorser die inligting logies kan opvolg, aanwend en oordra. Verder ook hoe hierdie inligting vir die nageslag bewaar kan word.
Vir antwoorde hierop het brigadier Heymans my aan doktor Willem Steenkamp voorgestel wie reeds besig was om oplossings te vind vir die uitdagings. Die doktor se oplossing was om die Nongqai publikasies op ‘n web tuiste en web blog aan te bied om die probleem van indeksering en klassifisering te oorbrug.
Nadat die basiese sagteware besluite, uitleg en grafika van die web tuiste deur doktor Willem Steenkamp gedoen is, is ek sedert Oktober 2023 getaak met die ontwikkeling, uitbou en versorging van die vele fasette van die web tuiste. Uit die aard van die omvang word ek dikwels bygestaan deur dr Steenkamp en David Blyth.
Oor die tydperk van 14 jaar sedert sy ontstaan, het Nongqai bykans 400 uitgawes gehad. Die tydskrifte is opgedeel in standaard uitgawes, spesiale uitgawes en dames uitgawes.
Hierby word ‘n spoorweg tydskrif, Uloliwe, wat onder andere belangrike magte geskiedenis bevat asook die Generaalsklub se Nuusbrief ingesluit. Laasgenoemde is nie ‘n Nongqai produk nie, maar is tog belangrik vir toekomstige navorsing binne die konteks van Suid-Afrikaanse Magte.
Die gemiddelde Nongqai tydskrif beslaan dikwels meer as 150 bladsye en soms meer as 200 bladsye. Elke uitgawe is gelaai met historiese artikels, joernale, brokkies en foto’s, hetsy geskiedkundig, kontemporêr of anekdoties.
Al die genoemde publikasies is digitaal in Portable Document Format of te welPDF gratis beskikbaar gestel. Die PDF formaat was tydens Nongqai se ontstaan in 2010 die toonaangewende standaard digitale formaat, maar het sedertdien ‘n omslagtige ondoeltreffende beslommernis vir navorsingsdoeleindes geword.
Gedurende die middel tot laat 1990’s het die wêreld feitlik oornag van analoog fotobeelde na digitale beelde oorgeslaan. Die nuwe tegnologie was in sy kinderskoene en het nie naastenby die kwaliteit gelewer wat analoog kon vasvang nie. Die gevolg is dat ons vandag met swak beeldmateriaal sit wat digitaal gemanipuleer moet word om ‘n aanvaarbare kwaliteit te lewer en geen analoogmateriaal het waarop teruggeval kan word nie.
Met Nongqai web tuiste poog ons om die inhoudsmateriaal meer toeganklik en beskikbaar te maak vir veral navorsing van die belangrike geskiedkundige inligting wat dit bevat.
Die inhoudsopgawes beslaan sowat 26000 inskrywings, gelukkig het die meeste publikasies ‘n inhoudsopgawe.
Die onderwerp van die web tuiste is “Die geskiedenis van die Suid Afrikaanse Magte”. U sal begryp dat so ‘n wye onderwerp sy eie uitdagings het betreffende kategorisering en indeksering. Blote indeling van die verskillende magte met hul unieke verspreide onderafdelings as sekondêre kategorieë, is ‘n feitlik onbegonne taak.
‘n Onlangse oefening deur brigadier Heymans oor die kategorieë in die SA Polisie alleen het sowat 270 inskrywings opgelewer. Gedagte aan die verskillende magte wat sedert die stigting van die Kaapse verversingspos in Suid Afrika ontplooi is, kan u die omvang van die kategorisering- en klassifikasie probleem indink.
Wat ons dus vandag aan u voorlê is die seekoei se ore. Heelwat werk lê nog voor om die inligting behoorlik in te deel vir sinvolle empiriese navorsing. Die webtuiste wat u hier sien is dus die produk van ses maande se opstel, samestelling en uitbou maar is as sodanige nie die totale argief wat beskikbaar is in Nongqai publikasies nie. Soos in alle argiewe is die materiaal wat nog nie vertoon word nie, heelwat meer as dit wat uitgestal word.
Met ‘n groot internasionale belangstelling moes ons noodgedwonge ons Engelse lesers tegemoet kom. Waar artikels in Afrikaans op die blog verskyn, voorsien ons, waar moontlik, ‘n Engelse abstrak sodat die internasionale gemeenskap ‘n idee kan vorm van die inhoud wat geplaas is. Gevorderde vertalingstegnologie wat geredelik op die internet beskikbaar is, kan sodanige lesers behulpsaam wees met toepaslike vertaling waar nodig.
Dit bring ons by die uitleg van die Nongqai.org web tuiste en blog.
** Oorsig
Vergun my ‘n minuut of twee om die uitleg van die web tuiste te verduidelik om die verskillende opsies met hul keuses makliker te verstaan.
Hier is ‘n grafiese voorstelling van die web tuiste Nongqai.org in sy geheel. Die primêre keuses bestaan uit die Tuisblad, gevolg deur Nuut, dan die Argief, YouTube, Omtrent, Privaatheid en Kontak. Al die primêre en sekondêre skakels is in blou, wat aandui dat hierdie op die web tuiste bedryf word. Die skakels met hul hoofde binne die oranje area is inligting wat uit die Sharepoint databank oproep word.
In die agtergrond sien u ‘n blok wat oranje gekleur is. Dit is ons Sharepoint data bank. In hierdie databank stoor ons hoofsaaklik die 400 plus Nongqai’s en verwante publikasies. Ons webtuiste het ‘n beperkte stoorspasie waar ons materiaal met groot oordeel ten toon stel.
Alle groot lêers bv foto’s en grafika wat onnodige spasie gaan opneem, berg ons in die Sharepoint data bank vanwaar dit opgeroep word, soos en wanneer benodig.
U sal merk dat die oranje databank hoofsaaklik twee primêre kiesskakels bedien, naamlik die Argief en YouTube skakels. Dit is skakels wat na die grootste lêers met ‘n magdom inligting wat oor veertien jaar gedokumenteer is, lei.
Dit bevat ook die PDF lêers wat in hierdie stadium nog ‘n beperkte kategorisering en indeksering het en gevolglik ‘n beperkte soekfunksie het.
Brigadier Heymans se gevestigde ISSUU rekening word ook nou uit hierdie databank bedien.
Met hierdie oorsig voor die geestesoog, kan ons dan oorgaan na die werklike web tuiste en blog.
** Sharepoint
Hier is ‘n voorbeeld van die Sharepoint databasis met sy verskillende primêre en sekondêre lêers waar die meeste van die inligting tans gestoor word.
Ek vra verskoning vir die kwaliteit van die skyfie wat deur die afwesigheid van konstante internetverbindings veroorsaak is.
** Tuisblad
Die soekenjin neem die gebruiker na die Tuisblad wat die titel van die webtuiste “Suid Afrikaanse Magte Geskiedenis” Hier sien u die Nongqai logo en kopstuk wat deur doktor Steenkamp ontwerp is.
**
Die blad gee ‘n vlugtige beskrywing oor die werking van die verkillende kiesopsies. Die huidige uitleg is dinamies en kan deurentyd aangepas word na gelang van behoefte en omstandighede.
**
U sal merk dat hier en op sommige ander blaaie ook een of twee advertensies geplaas word. Ons doel is dat die webtuiste mettertyd selfonderhoudend kan word sodat lisensies, sagteware en gasheer fondse uit advertensies befonds kan word. Tans word kostes deur skenkings en die vrywilligers gedra.
**
Van die tuisblad wil ek eers die klassieke administratiewe blaaie met u deel voordat ons aandag gee aan die belangrike inhoudelike afdelings.
Kontak
Hier, heel regs is die Kontak afdeling waar gebruikers interaksie met die Nongqai trustees, die redaksie of die webadministrasie kan bewerkstellig.
Ons gebruik eenvoudige kontak kassies sodat gebruikers gemaklik sal wees om met die Nongqai span te kommunikeer.
** Privaatheid
Net links van die Kontak skakel is die vereiste Privaatheid verklaring waarin die gebruik en bewaring van persoonlike inligting uiteengesit word.
** Omtrent
Die volgende skakel is die “Omtrent ons” verduideliking.
**
Hier gee ons ‘n uiteensetting van die Nongqai publikasies se doelstellings, die missie en die geskiedenis van die tydskrif in sy huidige formaat.
**
Die regspersona van Nongqai Trust word hierna uiteengesit wat die regsvereistes uitspel en die raad van trustees met kontakbesonderhede van die instansie.
**
Hierna volg ‘n samevatting van die vrywilligers wat betrokke is by die produksie van die Nongqai en sy affiliaal tydskrifte.
U sal begrip hê vir die toewyding wat hierdie individue as vrywilligers aan die dag lê om die geskiedenis van die Suid Afrikaanse magte te dokumenteer, beskikbaar te stele n vir die nageslag te bewaar
**
Onder hierdie bekendstelling vind ons die regsdokumente wat die totstandkoming van die Nongqai Trust reguleer asook
** Relevante dokumente wat Nongqai se affiliasies en erkennings bevat.
**
Met die administrasie afgehandel, kan ons oorgaan na die afdelings wat die bestaan van Nongqai regverdig.
Eerstens is ons YouTube kanaal. Hier bêre ons video materiaal van algemene aard. U sal vind dat dit beide kontemporêr en geskiedkundig is.
**
Tans is hier opnames wat oor die jare deur doktor Steenkamp gemaak is en wat handel oor geskiedenis in die algemeen, ‘n opname oor die polisie ontspanningsoord by Port Edward en selfs ‘n opname van die gewilde radio program Squad Cars.
Daar word beoog om hierdie afdeling uit te brei om besprekings oor die geskiedenis en die konteks van die magte in daardie milieu in te sluit. Ons voorsien ook besprekings wat die huidige toestande sal verklaar en onafhanklike insette deur kenners van die Suid Afrikaanse Magte se geskiedenis.
Hierdie insette word tans deur beide die YouTube kanaal en die Sharepoint databank gehuisves.
** Argief
Links van die YouTube kanaal het ons die Argief. Dit bevat alle materiaal wat die afgelope veertien jaar hoofsaaklik deur brig Heymans maar ook deur Sarie van Niekerk, doktor Steenkamp, Henning van Aswegen, kol Logan Govender en ‘n aantal gereelde medewerkers gedokumenteer is.
**
Soos reeds genoem is dit ‘n versameling van ongeveer 400 publikasies, wat almal in PDF formaat hoofsaaklik chronologies gerangskik is.
**
Die primêre Argief is verdeel in sewe sekondêre skakels wat lei na:
Nongqai Standaard uitgawes, Nongqai Spesiale uitgawes, Nongqai Dames uitgawes, Verwante publikasies, Foto Argief, Film en Video argief en die Dokument argief.
Elkeen van hierdie sekondêre skakels het hul eie onderafdelings wat ons vlugtig sal behandel.
** Nongqai standaard
Die Nongqai standaard uitgawes is chronologies in hul Volumes (en ook hul datums) van verskyning verdeel.
**
Ten einde spasie op die webtuiste te spaar, verskyn slegs die voorblaaie van hierdie uitgawes op die bladsy.
**
Wanneer die besoeker daarop kliek, word die volledige publikasie uit die Sharepoint databank opgeroep en word dit volledig vertoon.
**
Die PDF dokument kan dan nageslaan en gelees word.
** Nongqai spesiale uitgawes
**
** Dames uitgawes
Die Nongqai Spesiale uitgawes en Nongqai Dames uitgawes word op dieselfde wyse as die Standaard uitgawe geklassifiseer.
**
** Verwante publikasies
Onder Verwante publikasies vind u die SAP Generaalsklub se Nuusbrief en Uloliwe Magazine.
**
Die Generaalsklub se Nuusbrief is tans slegs op een webblad chronologies gerangskik en dis slegs die voorblad wat op die webblad verskyn. Die inhoud word uit die databank onttrek vir naslaan en lees.
**
Die inhoud hiervan gee ‘n unieke blik oor die wel en wee en ook die gedagtegang van die topbestuur van die voormalige SA Polisie se topleierskap.
Uloliwe Magazine is van belang, nie net die inligting oor die gebruik van spoorvervoer deur voormalige Suid Afrikaanse magte nie maar ook die inligting oor die Suid Afrikaanse Spoorwegpolisie se rol in die beveiliging van hierdie belangrike infrastruktuur. Weereens, berg ons hierdie publikasies in die databank.
** Film en video argief
In hierdie argief bêre ons video beelde wat van historiese belang is of kan word.
**
Ons is tans besig om die argief van Genl Fivaz te finaliseer.
** Die Foto argief
Bevat ‘n wye verskeidenheid van unieke foto’s uit die geskiedenis van die magte.
**
Hier word foto’s van individue, groepe, tonele en gebeure geberg.
**
Ons voorsien dat hierdie afdeling nog baie gaan ontwikkel en plaas dus meeste van die foto’s in die databank om sodoende spasie op die web tuiste te spaar maar tog beskikbaar te hou vir die besoekers.
** Dokumente
In die dokumente argief beoog ons om historiese dokumente, soos dit beskikbaar word, te huisves.
**
Hierdie blad word, soos ‘n paar ander nog ontwikkel en sal binnekort waarde tot die webtuiste toevoeg.
** Argief Soekfunksie
Inligting wat nie geklassifiseer is nie, is nutteloos. Ons grootste taak in die strukturering van die webtuiste is om die gedokumenteerde inligting bruikbaar te maak deur dit in soekbare kategorieë te indekseer.
Uit die aard van die tegnologie is dit moeilik, duur en tydrowend om Meta data van PDF publikasies te kategoriseer en te indekseer vir gerieflike naslaan.
Ons het die opsie om die 400 publikasies om te skakel in Word. Met die metadata wat dan meer geredelik identifiseerbaar is sal akkurate kategorisering en indeksering vergemaklik word.
Die nadeel is dat die oorspronklike karakter van die tydskrifte in die proses verlore mag gaan. ‘n Groter nadeel is egter die tydsverloop wat die omskakeling sal neem voordat die inligting enigsins soekbaar sal wees.
**
Soekbaarheid van inligting sal nog vir ‘n geruime tyd problematies wees met die publikasies wat in PDF formaat gepubliseer is. Gelukkig het die meeste tydskrifte ‘n inhoudsopgawe wat ons voorlopig kan gebruik om basiese inligting op te spoor.
Voorheen was dit moeilik om ‘n onderwerp in een of meer publikasies op te spoor. Met behulp van die inhoudsopgawe het ons nou ‘n databasis van die verskillende inhoudsopgawes saamgestel wat ons in staat stel om onderwerpe in hul uitgawes en bladsynommers kan opspoor.
**
Die databasis is omvattend met meer as ses en twintigduisend reëls wat deursoek kan word vir jaargang, uitgawe nommer en dikwels ook die bladsynommer. Die funksie is nog in kinderskoene en ietwat omslagtig, maar word deurgaans verfyn om meer akkuraat en met minder moeite gebruik te word.
In hierdie verband sal ons die spesialis kennis van Akademia deelnemers verwelkom. Ons aanvaar graag hulp met katalogisering en kategorisering.
**
U sal merk dat ‘n groot aantal reëls van die inhoudsopgawe reeds in blou verskyn met onderstreping. Dit is inhoud wat reeds met skakels na die korrekte uitgawes verbind is. In hierdie gevalle is dit nodig dat slegs die bladsynommer onthou word om by die onderwerp uit te kom.
Die skakel verbindings met al die uitgawes behoort binne die afsienbare toekoms afgehandel te wees.
**
Intussen moet die gebruiker ongelukkig waar die skakel nog uitstaande is, steeds die tipe uitgawe, die volume nommer en bladsynommer neerpen om by die onderwerp uit te kom.
Die uiteindelike doel is om alle toepaslike inligting uiteindelik soekbaar te maak met sagteware wat die gebruiker tot by die korrekte bladsy sal lei.
** Blog
Laastens kom ons by die blog afdeling.
Hierdie afdeling bevat artikels wat hoofsaaklik sedert Desember 2023 verskyn het.
**
Die laaste sewe artikels wat gepubliseer is verskyn op die blad vir gebruikers wat nie die blog daagliks besoek nie en graag op hoogte wil bly van die nuutste materiaal.
U sal vind dat die tydskrifte in die argief ‘n wye verskeidenheid artikels bevat. Items van historiese belang, kontemporêre geskiedenis, aktuele berigte en annekdotes word daarin vervat.
**
Artikels word individueel geredigeer, voorsien van sleutelwoorde en abstrakte (laasgenoemde in die alternatiewe taal om alle gebruikers van hulp te wees.
Die blog se soekfunksie word deur Wordpress se soekfunksie verwerk en is onderhewig aan Wordpress se kategorieë en sleutelwoorde. Hier gebruik ons ook ondergeskikte verwante woorde om die soekfunksie te verfyn.
Binnekort word die Nongqai uitgawes weer volledig met alle artikels in PDF formaat gepubliseer en in die argief gebêre. Voor liassering sal die historiese artikels onttrek word en op die blog geplaas word. Dit word gedoen om konsekwentheid van die historiese konteks te verseker.
Hierdie uitverkose artikels sal dan met die effektiewe Wordpress soekenjin verwerk word vir deeglike, doelgerigte ernstige navorsing. Die res van die inhoud sal behandel word soos na hierbo verwys.
**
Afsluiting
Dit dan ‘n kort, skematiese uitleg van die Nongqai.net webtuiste.
Ons is deurgaans besig om Nongqai.net se inhoud relevant te hou sodat dit uiteindelik ‘n primêre bron van inligting vir navorsers sal word.
Die webtuiste proses is dinamies van aard en word ook voortdurend verbeter en aangepas sodat navorsers en die gewone publiek die inherente waarde wat hierdie bron het kan verstaan en benut. Dit is egter ‘n langtermyn projek wat by die nuanses van die virtuele wêreld aangepas moet word.
Baie dankie vir die voorreg om die uitleg van Nongqai webtuiste aan u uit te lê en voor te stel. U is baie welkom om myself of enige van die vrywilligers te kontak met vrae of voorstelle.
Ons sien uit na ‘n lang en vrugbare verbinding met Akademia en glo dat hierdie versameling waarde sal toevoeg tot die Akademia biblioteek.
U belangstelling en aanvaarding van hierdie produk stel ons gerus dat die inligting vir die nageslag bewaar sal bly.
Baie dankie
Akademia