Leer en Doen: Kwartaal 1

Page 1


Leer en Doen: Kwartaal 1

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Leer en Doen

Fasiliteerdersgids

Kwartaal 1

Graad R

Dr N Scheepers A Venter R Venter

Aangepas vir KABV

Inhoudsopgawe

Inleiding vir die fasiliteerder

Beste fasiliteerder

Welkom as reisgenoot van die leerder se ontwikkeling en groei sodat hulle ’n gebalanseerde volwassene kan word. Hierdie reis is ’n aangename ervaring wat beide jy en die leerder sal geniet en waaruit almal sal leer.

Hierdie gids dien as inleiding tot die Optimi-kurrikulum. In die eerste afdeling word ’n oorsig van Optimi se benadering tot onderrig, fasilitering en leer verskaf en word die wyse waarop die deursnee graad R-leerder leer en ontwikkel, bespreek. Dit verskaf ook ’n raamwerk van wat die graad R-leerder teen die einde van die jaar behoort te kan doen.

Die fokus van die graad R-jaar is om kinders te groei om lewenslange onafhanklike leerders te word. Gevolglik is die kurrikulum gestruktureer om leerders se selfvertroue te groei en om hulle aan te moedig om die wêreld om hulle te verken. Optimi wil jong leerders ontwikkel wat aanpasbaar en veerkragtig is en wat hulle eie vermoëns ken en in staat is om onafhanklik te dink en te funksioneer. Hierdie program is ontwerp om beginner lees-, skryf- en wiskundige vaardighede en persoonlike waardes en sosiale vaardighede te ontwikkel sodat leerders die uitdagings en eise van hul leerervarings sal kan hanteer.

Optimi se benadering tot onderrig, fasilitering en leer in graad R

Doeltreffende onderrig en leer in graad R vereis die ontwerp van leergeleenthede en interaksies wat kinders se ondersoekende denke en begrip, asook kennis van konsepte sal stimuleer. Die kurrikulum is gevolglik op grond van vier basiese beginsels ontwerp:

• Jong kinders is van nature nuuskierig en wil die wêreld verken.

• Leerders wat aktief betrokke is, doen kennis op en reguleer hulle eie leerproses.

• Leer vind doeltreffend plaas deur konkrete ervarings en die gebruik van sintuie.

• Onderrig en fasilitering behoort in balans te geskied.

Die bogenoemde beteken dat kinders op hul beste leer wanneer hulle uitgedaag word om hulle omgewing te verken en hulle eie kennis te konstrueer. Hoe meer ervarings hulle aan blootgestel word, hoe meer is hulle in staat om te leer, aangesien nuwe konsepte aangeleer en geïnternaliseer word namate hulle die nuwe kennis en vaardighede met hulle bestaande kennis en vaardighede integreer. Kinders gebruik dít wat hulle reeds weet om nuwe begrippe te verstaan, probleme op te los en in verwante situasies weer te kan toepas.

Sample

Kinders in graad R is aktiewe leerders. Hulle hou daarvan om vaardighede deur probeer-entref te bemeester, wat beteken dat hulle leer deur begrippe te integreer, kuns te beoefen en te speel. Hulle gee dan uitdrukking aan wat hulle geleer het deur taal en so reflekteer hulle op hulle leerproses. Soos hulle stelselmatig vaardighede bemeester en die wêreld om hulle verstaan, raak hulle meer gefokus op ander mense en die wyer wêreld om hulle. Hulle hou daarvan om dinge op hulle eie uit te vind deur waarneming en bewuswording van die vaardighede waaroor hulle nie beskik nie, soos lees, skryf, tel en die gebruik van getalle, maar wat hulle graag wil aanleer. Wanneer hulle aangemoedig word om hierdie nuwe vaardighede op hulle vlak uit te probeer, raak hulle entoesiasties en by hulle eie leerproses betrokke.

Jong leerders leer die beste deur konkrete ervarings, want hulle is besonder sensories ingestel. Dit beteken dat doeltreffende leer sensoriese belewenisse soos voel, proe, hoor en beweging moet insluit. Speel is nodig om hulle persoonlike ervarings te versterk en daarom maak spel ’n belangrike komponent van kinders se leerprosesse uit. Of kinders realiteite naboots en of hulle denkbeeldige wêrelde skep, kreatiewe spel ontwikkel hulle denk-, taal-, verbeeldings-, spraaken luistervaardighede. Hierdie vaardighede berei hulle voor om met ander te kommunikeer en sosiaal met ander om te gaan.

Die sleutel is om die kind te stimuleer om te leer deur middel van fasilitering, en nie onderrig nie. Jong kinders het baie leiding en voorbeelde nodig en daarom is geleenthede waardeur hulle die onbekende kan verken en probleme self sal kan oplos uiters belangrik. Die grondslagfase vereis dus ’n fyn balans tussen die leiding van ’n fasiliteerder en die proses van selfontdekking.

Doelwitte van die graad R-kurrikulum

Optimi se graad R-kurrikulum is ontwerp om ’n geïntegreerde spel-gebaseerde leerervaring te verskaf wat die holistiese ontwikkeling van die jong leerder sal bevorder. Die kurrikulum bestaan uit ’n jaarlange program wat stap-vir-stap riglyne vir die fasilitering van die leerproses verskaf. Hierdie program gee aan leerders geleenthede om waar te neem, te ontdek en hulle ervarings te verwoord wat bydra tot hul kognitiewe, sosiale, emosionele en fisiese ontwikkeling.

Teen die einde van die graad R-jaar moet leerders in staat wees om:

• te luister en op kommunikasie te reageer

• duidelik op ’n mondelingse, kunstige, geskrewe of nie-verbale wyse te kan kommunikeer

• gepaste woorde te gebruik om gebeure, voorwerpe, mense, idees en emosies te beskryf

• fonologiese en fonemiese bewustheid te demonstreer

• voorwerpe waar te neem, te sorteer en te klassifiseer

• voorwerpe te tel en ’n getalsbewustheid tot 10 te kan demonstreer

• wiskundige konsepte te gebruik om idees oor te dra

• beredenerings- en ordeningsvaardighede te demonstreer

• nuuskierigheid en die wil om te leer te demonstreer

• te kan deel en beurtelings te kan funksioneer

• om voortdurend fyn en groot motoriese vaardighede te ontwikkel.

Organisering van die leerprogram

Sample

Die graad R-program is gebaseer op 20 leereenhede wat oor die 40 weke van die akademiese jaar strek. Elke leereenheid is gekoppel aan ’n tema waarvolgens die leerders aan stories, rympies en besprekingspunte blootgestel sal word en nuwe konsepte sal bemeester. (Verwys na die Inhoudsopgawe vir die lys van temas).

Leereenhede en temas ’n Leereenheid strek oor twee weke en bestaan uit 10 gedetailleerde lesplanne. ’n Subtema word aan elke dag van die leereenheid gekoppel en is genommer om maklik deur die leerprogram te beweeg. Byvoorbeeld: Die tema van Leereenheid 1 is “Wie is ek?”. Die 10 dae van die leereenheid is genommer vanaf Dag 1 tot Dag 10 en elkeen het ’n subtema, soos Leer jouself ken (Dag 1), My liggaam (Dag 2), My sintuie (Dag 3), ensovoorts. (Die inhoudsopgawe bevat die volledige lys.).

Aan die begin van elke leereenheid sal jy ’n uiteensetting vind van wat deur die loop van daardie 10 dae hanteer gaan word, asook die kennis en vaardighede wat die leerder tydens daardie eenheid behoort te bemeester. Die fasiliteerder sal dan in staat wees om die fokusareas van die leereenheid te bepaal en om elke dag se aktiwiteite aan die leerdoelwitte van die volledige eenheid te bind.

Elke leereenheid sluit ook Rympies, resepte en wenke in, wat met die tema verband hou en wat deurlopend deel van die daaglikse aktiwiteite uitmaak. Die daaglikse lesplanne dui duidelik aan waar elk van die rympies, resepte of wenke gebruik kan word. Sien die daaglikse lesplanne vir voorbeelde.

Die daaglikse lesplan

Die daaglikse lesplan dien as ’n stap-vir-stap gids wat die inhoud en die aktiwiteite vir elke dag aandui. Die daaglikse program verskaf ’n geïntegreerde lesplan wat die ontwikkeling van numeriese, geletterdheids- en lewensvaardighede ondersteun deur die leerder te betrek by roetinetake, fisiese en kreatiewe aktiwiteite, vryspelsessies en fasiliteerdergerigte aktiwiteite.

Die onderstaande tabel verskaf ’n voorgestelde skedule vir die daaglikse program en lys ook die gepaste aktiwiteite vir elke dag. Die skedule dui ook aan hoeveel tyd aan elke aktiwiteit spandeer behoort te word, sowel as die moontlike volgorde van die aktiwiteite. Hoewel die skedule spesifieke tye aangedui, kan die fasiliteerder aanpassings maak na gelang van die leerder se behoeftes en die leeromstandighede.

Skedule: Voorgestelde graad R-dagprogram

08:00 – 08:30 Vryspel binne

08:30 – 08:45 Roetine-aktiwiteite, bv. kalender, weerkaart, verjaarsdae, leerders kan nuus vertel, ens.

08:45 – 09:15 Lewensvaardighede (’n Besprekingsessie waartydens die fasiliteerder ’n onderwerp aan die leerder voorstel)

09:15 – 09:45

Sample

Fokusarea: Wiskunde

09:45 – 09:55 Toiletroetine

09:55 – 10:10

10:10 – 10:55

Versnaperinge

Vryspel buite (Hierdie sessie kan ’n gestruktureerde bewegingsles insluit).

5 min tyd word toegelaat om op te ruim en speelgoed weg te pak.

10:55 – 11:40 Kreatiewe aktiwiteit

11:40 – 11:50 Roetine: Maak die werkspasie skoon en pak die materiaal weg

11:50 – 12:00 Toiletroetine

12:00 – 12:30

Fokusarea: Taal

12:30 – 13:00 Storie

Stiltyd/speeltyd tot aan die einde van die skooldag

Die toepaslikheid van die daaglikse program vir die ontwikkeling van perseptuele vaardighede

Die daaglikse lesplanne is geskoei op gestruktureerde aktiwiteite wat deur die fasiliteerder gerig sal word, soos roetine-aktiwiteite, vryspel, kreatiewe aktiwiteite en storietyd. Dit is belangrik om daarop te let dat ELKE sessie belangrik is vir die leerervaring van die kind.

Die ontwikkeling van perseptuele vaardighede in jong leerders is besonder belangrik en vorm die grondslag vir alle toekomstige ontwikkeling en leer, aangesien die gebruik van sintuie nodig is om inligting aangaande die omgewing en die situasie te bekom. Die daaglikse aktiwiteite in die graad R-program is gestruktureer om die jong kind se perseptuele vaardighede te ontwikkel.

Die volgende is die perseptuele kernvaardighede waaraan fasiliteerders aandag moet skenk:

• Visuele waarneming (verkryging en interpretasie van inligting deur die oog) – akkurate Visuele waarnemings stel die leerder in staat om te lees, te skryf en om wiskunde te doen.

• Visuele waarneming – die vermoë om ooreenkomste, verskille en die besonderhede van die voorwerpe akkuraat op te merk.

• Visuele geheue – die vermoë om te onthou wat die oog gesien het, asook die volgorde waarin dinge waargeneem is.

• Ouditiewe waarneming (verkryging en interpretasie van inligting deur gehoor) – akkurate Ouditiewe waarnemings stel die leerder in staat om betekenis te gee aan wat gehoor is.

• Ouditiewe waarneming – die vermoë om ooreenkomste en verskille in klanke te herken.

• Ouditiewe geheue – die vermoë om te onthou wat die oor gehoor het en om die korrekte volgorde van die klanke waar te neem.

• Oog-hand-koördinasie – die hande en oë werk saam wanneer beweging plaasvind, bv. die gooi en vang van items.

• Liggaamsbeeld – ’n volledige bewustheid van jou eie liggaam, met ander woorde hoe dit beweeg en funksioneer, is nodig.

• Lateraliteit – die demonstrasie van die bewustheid van beide kante van die liggaam (links en regs), bv. watter hand waai.

• Dominansie – die voorkeur om ’n spesifieke kant van die liggaam te gebruik, met ander woorde linker- of regterdominansie.

• Middellynkruising – om in staat te wees om oor die vertikale middellyn van die liggaam te werk, bv. om ’n lyn van die een kant van die bladsy na die anderkant te trek, sonder om die skryfinstrument van die een hand na die ander te verplaas.

• Voorgrond- en agtergrondpersepsie – om in staat te wees om op ’n spesifieke voorwerp te fokus terwyl ander stimuli geïgnoreer word. Die voorwerp wat aandag kry, moet in die voorgrond van die perseptuele veld wees, terwyl die res in die agtergrond is, bv. om op die blom teen die agtergrond van die hele tuin te fokus of om op een woord in ’n sin te konsentreer.

Sample

• Vormpersepsie – die vermoë om vorms, fatsoene, simbole, letters, ens. te kan herken, omdat dit ’n unieke vorm het, bv. ’n sirkel tussen ’n aantal vierkante, ongeag die posisie, grootte of agtergrond.

• Ruimtelike oriëntering – die vermoë om die ruimte rondom die liggaam te verstaan of om die verband tussen ’n voorwerp en die liggaam te verstaan, bv. die hoed is OP my kop.

Vryspelaktiwiteite binne en buite

Vryspelaktiwiteite kan binne en/of buite plaasvind. Die tyd wat vir vryspel toegeken is, moet NIE vir rekenaarspeletjies of televisiekyk gebruik word NIE. Dit skep vir die kind die geleentheid om betrokke te raak by speelse aktiwiteite en het ’n opvoedkundige en ’n ontwikkelende doel.

Voorbeelde van vryspelaktiwiteite (binne en/of buite) sluit in:

• Vrye kuns (verf, teken, kleiwerk)

• Water-/modderspel

• Sandspel

• Lego’s of ander blokkies

• Fantasiespel of drama

• Fyn motoriese vaardighede (potloodgreep, die hantering van knyptangetjies, legkaarte, weef, rygoefeninge, vleg, kostumering, ens.)

• Groot motoriese spel (klim, swaai, balansering, ens.)

• Sandput

• Balspel

• Speelgoed met wiele

• Ontdekkingspel (soek die pasmaats/sorteer kaarte, sensoriese identifikasie, musiekinstrumente)

• Bou met konstruksiespeelgoed of natuurlike materiaal in die tuin en/of sandput

• Tuinmaak

• Diereversorging.

Skeppende kunswerk

Die hoofdoel van skeppende kunswerk is om leerders as skeppende en verbeeldingryke individue met ’n waardering vir die kunste te ontwikkel. Dit verskaf die basiese kennis en vaardighede om by skeppende aktiwiteite betrokke te raak. Grondslagfaseleerders is inherent skeppend en verbeeldingspel is vir hulle ’n natuurlike wyse om te leer. Leerders moet dus gelei word om hulle natuurlike verbeelding te gebruik, materiaal te gebruik en te manipuleer, asook om saam met musiek te beweeg en musiek te maak.

Leerders moet hulle eie ervarings kan gebruik om deur middel van hul sintuie en emosies uiting aan hulle kreatiwiteit te gee. Die fokus van die leerervarings moet steeds die ontwikkeling van vaardighede deur middel van genotvolle, eksperimentele prosesse wees, eerder as om elke kwartaal ’n perfekte produk te lewer. Die bekendstelling van hierdie skeppende vaardighede is noodsaaklik vir die beheer en verfyning van die fyn en groot motoriese vaardighede, asook om kreatiewe, kognitiewe, emosionele en sosiale ontwikkeling te bevorder.

Deur die manipulasie van materiaal en die bemeestering van ’n verskeidenheid kunsaktiwiteite, word die kind se lewe verryk en ervaar die kind die werklike lewe deur visuele en sensoriese stimulasie, bespreking en stimulerende vrae. LET WEL! Daar is geen “regte manier” om te teken nie en leerders moet aangemoedig word om hulself vrylik uit te druk sonder dat hulle gekritiseer word.

Sample

Driedimensionele werk (3D) ontwikkel die konsep van vorm in ’n ruimtelike formaat deur byvoorbeeld stukkies klei aanmekaar te sit, gomwerk, om papier op papier te plak, die uitknip van vorms, vou-, bind- en toedraai-aktiwiteite. Ander leeraktiwiteite moet met die skeppende werk geïntegreer word deur byvoorbeeld leerders aan te moedig om te praat oor lyne, vorms en kleure en dit dan gedurende ander aktiwiteite toe te pas.

Roetine-aktiwiteite

Roetine-aktiwiteite behoort daagliks geskeduleer te word. Optimi se daaglikse program maak voorstelle oor hoe tyd vir die spesifieke sessies ingeruim kan word.

Roetine-aktiwiteite sluit in:

• om te groet by aankoms en vertrek

• toiletroetine

• ’n verjaardagkaart

• ’n weerkaart

• ’n kalender (vandag se datum)

• voorbereiding vir kreatiewe kunswerk en fisiese aktiwiteite, soos om voorskote aan te trek of skoene uit te trek

• op te ruim na afloop van die aktiwiteite.

Die fasiliteerder moet die leeraktiwiteite integreer, soos byvoorbeeld om numeriese denke te stimuleer terwyl die weer en die dag en maand op die kalender hanteer word. So kan die weerkaart ook gebruik word om lewensvaardighede (soos koud en warm en hoe om daarvolgens aan te trek) en wetenskapsbeginsels (soos die wisseling van die seisoene en die veranderinge in die natuur) in te skerp.

Om op te ruim is baie belangrik en moenie verwaarloos word nie, want daardeur leer kinders lewensvaardighede soos verantwoordelikheid en die versorging van speelgoed en hulle omgewing.

Fisiese opvoeding en bewegingspel

Die ontwikkeling van die leerder se fyn en groot motoriese vaardighede en perseptuele ontwikkeling is fundamenteel in die Grondslagfase, aangesien dit nodig is vir die kind se holistiese ontwikkeling en bydra tot leerders se sosiale, persoonlike en emosionele ontwikkeling. Om te speel, te beweeg, en aan speletjies en sport deel te neem, leer kinders positiewe houdings en waardes. Hierdie area fokus op perseptuele en lokomotoriese (bewegings-) ontwikkeling, ritme, balans en lateraliteit. Dit is gevolglik belangrik om ook op speletjies en aktiwiteite te fokus wat die basis vir latere sportdeelname kan vorm, terwyl fisiese groei, ontwikkeling, ontspanning en die genot van spel ingeskerp word.

Geniet hierdie interessante en verrykende reis saam met die kind!

Hoe gebruik ek hierdie produk?

Die graad R-pakket bestaan uit die volgende produkte: vier fasiliteerdersgidse (een vir elke kwartaal) en ’n leerhulpmiddel vir die fasiliteerder, en een werkboek met aktiwiteite vir die leerder.

Die fasiliteerdersgidse

Elke kwartaal is in vyf leereenhede verdeel en elke leereenheid bevat 10 dae se volledige lesplanne. Elke dag se lesplan is op sy beurt in sewe tot agt sessies verdeel:

Sessie 1: Vryspel binne

Sessie 2: Fokusarea: Lewensvaardighede

Sessie 3: Fokusarea: Wiskunde

Sessie 4: Bewegingspel / Vryspel buite. Dit is baie belangrik om te onthou dat hierdie twee afsonderlike aktiwiteite is. Die leerders moet eers die bewegingspel voltooi en daarna vir ongeveer 40 minute buite speel.

Sessie 5: Spontaan skeppende aktiwiteit

Sessie 6: Fokusarea: Taal

Sessie 7: Storietyd

Elke leereenheid begin met ’n uiteensetting van aktiwiteite en vaardighede wat die eenheid gaan dek, gevolg deur Rympies, resepte en wenke waar hulpbronne vir die leereenheid aangetref word. Dit sluit in rympies, liedjies, stories, resepte en voorbeelde van aktiwiteite waarna in die lesse verwys word.

Vir elke sessie is daar, waar van toepassing, aan die regterkant van die bladsy twee inligtingsblokkies – “Konseptualisering” en “Hulpbronne”. Die konseptualisering-blokkie bevat ’n kort opsomming oor die konsepte wat vasgelê word, en die hulpbronne-blokkie bevat ’n lysie van artikels wat vir die sessie benodig word en/of verskaf word.

Let op die volgende:

Æ dui ’n hulpbron aan wat die fasiliteerder self moet verskaf.

і dui ’n hulpbron aan wat verskaf word. Hierdie hulpbron kan Rympies, resepte en wenke aan die begin van die leereenheid wees, ’n aktiwiteit in die leerder se werkboek, of ’n item in die leerhulpmiddel.

By elke sessie word daar van drie simbole gebruik gemaak:

Die uiltjie dui aan wat die fasiliteerder moet doen.

Die potlood dui aan wat Die leerders moet doen.

Handige wenke of bykomende inligting vir die fasiliteerder.

Die fasiliteerderhulpmiddel

Die fasiliteerderhulpmiddel bevat van klank- en getalkaarte tot prente vir prentbesprekings en verryking van die lesse. ’n Volledige inhoudsopgawe maak dit maklik om die hulpmiddels te vind. Daar is ook sover as moontlik gepoog om die hulpmiddels in die volgorde waarin dit in die fasiliteerdersgidse gebruik word, bymekaar te voeg.

Die werkboeke

Sample

Die leerder se werkboeke bevat aktiwiteit 1 tot 182, ’n nuusboekie en ’n weerkaart. Werkboek 1 bevat die aktiwiteite wat nie in kleur gedruk is nie, en Werkboek 2 bevat die aktiwiteite wat in kleur gedruk is. Die werkboeke word by die fasiliteerder gehou en slegs die betrokke aktiwiteit/e vir die dag word, soos benodig, aan die leerder verskaf. Die werkboeke is so gebind dat die individuele bladsye maklik afgeskeur kan word.

LeereenheidSample

1. Ken jouself

2. Ek leer my liggaam ken

3. Wat kan ek alles met my liggaam doen?

4. Ek ontdek my sintuie

5. Versorging van my liggaam

6. Ek leer meer oor die versorging van my liggaam

7. My emosies

8. My lyfie is my eie

9. Ek is veilig

10. Ek is uniek!

Fokus van leereenheid 1

Luister en praat:

• Luister na instruksies en voer dit uit

• Dra gediggies voor

• Luister na stories vir genot

• Gebruik taal om begrippe te vorm

• Identifiseer dele van ’n geheel, bv. bou ’n legkaart, dele van die liggaam

Ontluikende skryf:

• Fyn motoriese beheer

• Versterk handspiere en fyn motoriese koördinasie met speelklei/deeg

• Herhaal patrone (sigsag)

• Gebruik skryfgereedskap bv. kryte en verfkwaste

• Ontwikkeling van rigtingsin

Skeppende kuns:

• Teken en interpreteer prente

• Fyn motoriese koördinasie

• Kleurherkenning

• Ruimtelike bewustheid

• 3D ontwerpe met speeldeeg/klei

Sample

Ontluikende lees:

• Rigtingaktiwiteite: lees die pyltjiekaart

• Herken eie naam en die beginletter van eie naam

• Teken prente om gedagtes oor te dra

• Fonemiese bewustheid: herken die beginklank van woorde

• Luister na die ‘s’-, ‘o’- en ‘a’-klanke

Aanvangskennis en persoonlike en sosiale welsyn:

• Persoonlike besonderhede: naam, adres, telefoonnommer, ouderdom

• Verskille ten opsigte van geslag, liggaamsbou, voorkeure en afkeure

• Herken die dele van die liggaam

• Ontdek die sintuie

• Die gebruik van reuk, smaak, sig, gehoor en gevoel

• Wie mag aan jou liggaam raak?

• Hoe om jou lyfie te versorg en mooi op te pas

• Veiligheid

• Persoonlike higiëne

Wie is ek?

Liggaamsopvoeding:

• Balans

• Groot motoriese ontwikkeling

• Ruimtelike oriëntering

• Bewustheid van die twee kante van die liggaam: lateraliteit

• Gebruik sintuie om waar te neem

• Visuele waarneming

• Ouditiewe waarneming

Wiskunde:

• Tel konkrete voorwerpe

• Getalbegripsontwikkeling: getal 1 en 2

• Probleemoplossings met konkrete apparaat

• Kopieer meetkundige patrone

• Posisie in die ruimte

• Simmetrie van die liggaam

• Herken tweedimensionele vorms en prente, bv. naam, beginletter van eie naam, dele van die liggaam, ens.

• Kleurherkenning

• Informele meting: langer, korter

Rympies, resepte en wenke

Maak jou eie speeldeeg

2 koppies koekmeel

1 koppie sout

1 koppie water

2 eetlepels kookolie voedselkleursel

1. Meng die meel en sout.

2. Voeg die water, kleursel en olie by. Meng dit goed totdat die kleursel mooi ingemeng is.

3. Indien die mengsel te droog is, voeg water by en meng totdat die tekstuur reg is.

Wie is dit?

Helena Wasserman

Wie het twee handjies, en spierwitte tandjies?

Wie het twee beentjies, en ook twee hakskeentjies?

Wie het twee ogies, en vet elmbogies?

Is dit die hond? Is dit die katjie? Is dit die stoel? Of die deurmatjie?

Is dit lemoene? Is dit spanspekke?

Nee, julle almal, dit is mos ekke!

Tien klein vingertjies

Sandra Lombard

Daar is vyf van ons aan elke hand, saam speel ons lekker in die modder en sand.

Duimpie aan die kant is kort en dik.

As ek wys met sy maat, sê ma dis ongeskik. Langeraat is die langste van my vingertjies, Fielafooi hou van mooi blink ringetjies.

Pinkie is die maerste van die tien.

Al my vingertjies: dis wat jy sien.

Tradisionele vingerrympie

Duimpie het in die water geval, Lekkepot het hom uitgehaal, Langeraat het hom huis toe gedra, Fielafooi het hom neergelê, En Pinkie klein het vir Ma gaan sê!

Lyfierympie

Sample

Mart Meij

Met my voetjies kan ek stap,

Met my handjies kan ek klap. My koppie kan ek vinnig knik,

Met my lyfie vooroor buk.

Met my arms kan ek swaai.

Op my toontjies kan ek draai.

Tandeborselliedjie

Elizabeth van der Merwe

Ek borsel my tande, tarips, taraps.

Ek borsel my tande, tarou.

Ek borsel my tande, hierbo en hieronder, sodat hulle langer kan hou.

Rympies, resepte en wenke

Hartseer

Zanne Bosman

Verlang is seer, dit pyn en dit steek. As jy daaroor stilbly, sal niemand dit weet.

Begin liewer huil en vertel vir Ma of Pa. Die pyn word soveel minder as jy vir iemand sê wat pla.

My lyfie is my eie

Riana Scheepers

My lyfie is my eie, niemand mag ’n vinger op my lê. En as jy probeer om dit te doen, sal ek dadelik vir my mamma sê!

Sample

Voorbeeld: Aktiwiteit 1

Week 1

Dag 1

Ken jouself

Sessie 1: Vryspel binne

Die fasiliteerder pak speelgoed uit wat perseptuele ontwikkeling bevorder, bv. ’n legkaart, blokke/ Lego’s, inkleurboek en kryte, of enige aktiwiteit wat perseptuele ontwikkeling bevorder. Gebruik legkaarte en prente wat verband hou met die tema van die leereenheid: ‘Wie is ek?’. Bv. ’n prent van die liggaam, liggaamslegkaart, inkleurprente van die liggaam, klere, persoonlike higiëne, ens.

Sessie 2: Fokusarea: Lewensvaardighede

Kom ons gesels: Wie is jy?

Fasiliteer ’n gesprek waar die leerders meer oor hulleself ontdek: Elkeen van ons is gebore en daarom het jy ’n geboortedatum. Daardie geboortedatum is die dag waarop jy elke jaar verjaar.

Jou geboortedatum word op ’n geboortesertifikaat en jou identiteitsdokument of -kaart aangedui. Pappa en Mamma kies vir jou ’n naam. Soms kry jy oupa of ouma se naam, of pappa en mamma kies ’n naam wat by jou gaan pas. Elkeen van ons het sy eie vingerafdruk. Niemand se vingerafdruk lyk soos joune nie.

Lei ’n gesprek sodat die leerders hulleself beskryf en ontdek. Bv.

• Wat is jou naam?

• Weet jy waar en wanneer jy gebore is?

• Weet jy waar jou naam vandaan kom?

• Kan jy al jou naam skryf?

Sample

Die leerders hoef nie op hierdie stadium al hulle naam te kan skryf nie. Hou dus ’n bladsy/flitskaart met die leerder se naam daarop gereed om dit vir hulle te wys. Onthou: om te leer skryf is ’n geleidelike proses

Skryf elke leerder se naam op ’n flitskaart of skoon bladsy. Vra nou vir elke leerder om spesifieke eienskappe van sy naam te herken.

• Met watter letter begin jou naam? Kom ons kyk of ons die letter in die alfabet teen die muur kan herken.

• Hoeveel letters is daar in jou naam?

• Beklemtoon die uniekheid van elke mens, maar ook dat mense in sommige opsigte dieselfde is.

• Ek is ’n seuntjie. Het jy ’n maatjie wat ook ’n seuntjie is?

• Het jy ’n maatjie wat ’n dogtertjie is? Wat is haar naam?

• Hoe oud is jy? Ken jy nog ’n maatjie wat net so oud soos jy is?

• Lei die gesprek na inligting wat elke kind oor homself moet weet. Wat is jou pappa en mamma se name?

• Ken jy hulle telefoonnommer(s)?

• Waar woon julle? Weet jy wat jou adres is?

Die leerders hoef nie op hierdie stadium die inligting te onthou of te kan skryf nie. Alle leerders gaan nie hulle adres en telefoonnommers ken nie. Die lesbeplanning maak dus voorsiening hiervoor en verwys op ’n latere stadium weer na hierdie inligting.

Sessie 3: Fokusarea: Wiskunde

Fasiliteer ’n telaktiwiteit: Tel saam met die leerders tot by 5 en klap julle hande vyf keer – een klap vir elke getalnaam wat genoem word.

Bv. 1 – klap, 2 – klap, 3 – klap, ens. Kom ons gee 5 treë vorentoe en 5 treë terug.

Gebruik weer die leerders se name as verwysing vir die wiskundesessie. Skryf elke leerder se naam op ’n bladsy/flitskaart. Vra dat elke leerder ’n maatjie se naam noem.

• Wat is jou maatjie se naam? Skryf nou die maatjie se naam ook neer. Sorg dat die letters van elke naam ewe groot geskryf word.

Sample

Gebruik die twee name om ’n wiskunde-aktiwiteit te fasiliteer.

• Hoeveel letters het jou naam?

• Gebruik ’n getalkaart: Laat die leerder op die getalkaart die getal prentjies uitwys wat ooreenstem met die aantal letters in sy naam. As toevallige getalherkenning, wys na die syfer op die getalkaart.

Pieter PIETER

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.