Graad R Fasiliteerdersgids Leer en Doen: Kwartaal 3
Leer en Doen: Kwartaal 3
Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
Leer en Doen
Fasiliteerdersgids
Kwartaal 3
Graad R
Dr N Scheepers A Venter R Venter
Aangepas vir KABV
Inhoudsopgawe
Tuinbewoners
LeereenheidSample
1. Wie woon in ons tuin?
2. Families met vere 3. Kloue, snawels en skerp oë 4. Neste en eiers 5. Goggas in ons tuin 6. Hoe lyk ’n insek?
Goggas kan vlieg en loop 8. Wurms wat wriemel 9. Slymerige slakke en paddas wat kwaak
10. Spinnekoppe
Fokus van leereenheid 11
Luister en praat:
• Luister na instruksies en voer dit uit
• Dra gediggies voor
• Luister na stories vir genot
• Gebruik taal om begrippe te vorm
Ontluikende skryf:
• Fyn motoriese beheer
• Versterk handspiere en fyn motoriese koördinasie met speelklei/deeg
• Herhaal patrone
• Gebruik skryfgereedskap bv. kryte en verfkwaste
• Ontwikkeling van rigtingsin
• Skryf klanke: ‘b’, ‘r’ en ‘w’
Ontluikende lees:
• Rigtingaktiwiteite – lees die pyltjiekaart
• Herken sy/haar eie naam en die beginletter van sy/haar eie naam
• Teken prente om gedagtes oor te dra
• Fonemiese bewustheid: herken die beginklank van woorde
• Lees hoëfrekwensiewoorde
Skeppende kuns:
• Teken en interpreteer prente
• Fyn motoriese koördinasie
• Kleurherkenning
• Ruimtelike bewustheid
• 3D ontwerpe met speeldeeg/klei
Sample
Aanvangskennis en persoonlike en sosiale welsyn:
• Watter diere woon in ons tuin
• Lewensiklus van ’n padda
• Lewensiklus van ’n skoenlappe
• Kennis oor voëls
• Kennis oor insekte
• Kennis oor spinnekoppe
• Diere wat onder die grond woon
• Dieregeluide
Tuinbewoners
Liggaamsopvoeding:
• Balans
• Groot motoriese ontwikkeling
• Ruimtelike oriëntering
• Bewustheid van die twee kante van die liggaam: lateraliteit
• Gebruik sintuie om waar te neem
• Visuele waarneming
• Ouditiewe waarneming
Wiskunde:
• Tel konkrete voorwerpe
• Ritmiese tel
• Aantel, terugtel en aftel
• Getalbegripsontwikkeling
• Probleemoplossings met konkrete apparaat
• Kopieer meetkundige patrone
• Posisie in die ruimte.
• Kleurherkenning
• Vormherkenning
• Informele meting: langer, korter
• Groter, kleiner
• Minder, meer, ewe veel
• Woordsomme
Rympies, resepte en wenke
Dae van die week (Liedjie op die wysie van Ba-ba-black sheep)
Anne-Marie Venter
Maandag, Dinsdag, Woensdag, gou… Donderdag, Vrydag, wag ek nou. Altwee voete spring ek gou
Saterdag, Sondag Kom tog gou!
Sewe dae het ek gesing, Ek het baie mooi gespring!
Kiepie, Kiepie
Tradisionele rympie uit Kleuterverseboek (DJ Opperman)
Kiepie, Kiepie, kom tog gou, hier is lekker kos vir jou.
Maar dan moet jy my eers sê, waar jy tog jou eiers lê.
Kleine Langbeenspinnekop
(Liedjie op die wysie van Incy Wincy Spider)
Kleine Langbeenspinnekop.
Klim nou op die geut, Uit kom die reën en spoel hom voor hy weet, Uit kom die son en weg is al die reën,
Kleine Langbeenspinnekop, Klim nou op die geut.
Telrympie
Een, twee, agge nee!
Drie, vier, bang vir ’n mier. Vyf, ses, waar’s die nes?
Sewe, agt, lekker lag.
Nege, tien, alles gesien!
Sample
Die groot rooi appel
Anne-Marie Venter
’n Groot rooi appel om lekker te hap
O Goeiste, O Aarde, O Liewe tyd
Arme klein wurmpie se koppie is morsaf gebyt!
Spinnekop
Anne-Marie Venter
Spinnekop jou grillerige ding
Niemand moet jou naby my bring
Ek gril en ek skrik, en skree “agge nee”
En wil jou net met my een hand wegvee tot in die see.
Week 21
Dag 1
Wie woon in ons tuin?
Sessie 1: Vryspel binne
Die leerders speel binne die huis/klas om perseptuele ontwikkeling te bevorder. Voorsien opvoedkundige speelgoed, bv. legkaarte, blokkies, inkleurboek en kryte. Verskaf boeke/prente oor diere en plante in die tuin. Verryk deur natuurlike materiaal uit te stal waaraan die leerders kan voel en ruik.
Sessie 2: Fokusarea: Lewensvaardighede
Kom ons gesels oor wie in ons tuine woon
Die fasiliteerder begin ’n gesprek oor tuinbewoners. Gebruik die prente en boeke wat tydens vryspel uitgesit is as aanknopingspunt.
• Het julle al buite in die tuin gestap en mooi gekyk watter diere alles in die tuin woon?
• Aan watter diere dink julle?
• Gee geleentheid vir die leerders om te gesels oor diere wat in die tuin woon, bv. voëltjies, akkedisse, skoenlappers, besies, wurms, en baie ander.
• Gesels oor al hierdie tuinbewoners se eetgewoontes sodat die leerders agterkom daar is ’n ekologiese balans. Die huiskat vang muise en voëls. ’n Molslang vang graag muise. Voëls en muise eet insekte, insekte eet mekaar. Krimpvarkies eet krieke.
Sample
• Wurms eet blare en erdwurms eet grond. Wys die mol se wegkruipplekkie!
• Verkleurmannetjies en akkedisse het skubbe soos slange.
• Die leerders maak kennis met die verskillende dierefamilies. bv. voëls het vere, insekte het almal ses pote en doppe om hulle lyfies te beskerm, slange en akkedisse hoort saam, ens.
• Gebruik die prent (Tuinbewoners) in die Leerhulpmiddel en gesels oor die diere wat die leerders in die prent identifiseer:
• Kyk na die prent en tel hoeveel diertjies in die tuin bly. Waar kruip hulle weg op hierdie prentjie?
• Hoekom kruip hulle so weg in die tuin? (Die diertjies in ons tuin kan hulleself uiters goed kamoefleer.)
• Waar dink julle woon muise?
• Hoe steek ’n verkleurmannetjie sy lyfie weg?
• Wie woon bo in die boom of sit op die telefoonpale?
• Wat eet voëls?
• Wat eet die huiskat?
• As ons in die klam grond tussen die plante ’n gat maak, watter insekte sou ons onder die grond kry?
• Watter diertjies woon ook onder die grond? (mol, muis, slang)
• Wat eet hulle?
• ’n Erdwurmboerdery is maklik om te begin, dit kan weer lei tot ’n komposhoop en ’n klein organiese groentetuintjie in ’n houtkrat.
Sessie 3: Fokusarea: Wiskunde
Telwerk:
• Tel ritmies: van 1 tot 10.
• Voorwerpe aftel: Tel 5 tellers uit en pak dit in ’n ry van links na regs. Sê dit is ‘5’.
• Sit nog een teller by. Sê + 1. Tel weer al die tellers saam. Sê dit is 6. Sê dan die som hardop: 5 + 1 = 6.
• Terugtel: van 6 tot 1.
Voltooi Aktiwiteit 131 in werkboek 1: Die leerders knip die blokkies met die muise uit.
• Pak die vier kaartjies ondermekaar.
• Die fasiliteerder voorsien Getalkaarte en getalname uit die Leerhulpmiddel.
• Pas die regte getalkaart by elke prentjie se ooreenstemmende aantal muise.
• Vergelyk die hoeveelhede met mekaar.
• Vrae die volgende vrae:
• Watter kaartjie het die meeste muise?
• Watter kaartjie het die minste muise?
• Watter kaartjie het een meer as een?
Sample
• Pak die woordkaarte een tot vier uit, soos dit by elke syfer pas.
• Watter kaart het die meeste muise?
• Watter getal is meer as 3?
Sessie 4: Bewegingspel en vryspel buite
Fisieke aksies:
Gaan op ’n uitstappie in die tuin. Neem ’n goggaboks saam en begin onder boomblare, klippe en struike na goggas soek. Indien daar ’n geskikte boom is, klim daarin, lê op jou rug onder die boom, kyk op na die boonste take. Gee die boom ’n drukkie en voel die skurwe bas. Seil soos ’n slang. Hardloop soos ’n muis. Vlieg soos ’n voël. Kruip soos ’n kriek. Spring soos ’n springkaan. Spring met een been op vier trapklippe en land aan die einde van die klippaadjie op albei voete met gebuigde knieë.
Vryspel buite vir ongeveer 40 minute.
Sessie 5: Spontaan skeppende aktiwiteit
Tekenaktiwiteit
Die leerders teken die boom waaronder hulle tydens buitespel gelê het. Hoe lyk die boom waaronder jy gelê het? Was daar voëls in die boom? Was daar dalk diertjies wat in die tuin rondgekruip het?
Jy kan dalk ook ’n muis in ’n tonnel onder die grond teken. (Verwys na die mol wat op die prent oor tuinbewoners wegkruip.) Die leerders kan self besluit self wat hulle wil teken en moet die hele bladsy met hulle mooi prente volmaak. Moedig die leerders aan deur te sê: “Onthou…bome is baie groter as huise.”
Sample
Gee die leerders gereeld ’n keuse om te teken net wat hulle wil. Leerders moet die gevoel van individuele keuse in hierdie opset ook ervaar. Dus: “Ek kan ook besluite neem!” Dit is belangrik om nie die leerders se kreatiwiteit in te perk nie.
Daar behoort genoeg geleentheid te wees vir vryskeppende, kreatiewe eie idees!
Sessie 6: Fokusarea: Taal
Die fasiliteerder sê die volgende sinne hardop. Die leerders luister en herhaal elke sin in die regte volgorde:
Oupa uil sê: Hoe-hoe, daar loop ’n muis. Hy is so groot soos my vuis.
Kyk na die slang. Die slang sis, dit is soos dit is. Wees versigtig, hy is giftig.
Voltooi Aktiwiteit 132 in werkboek 1:
• Weet julle hoe lyk ’n apie? Het julle al ’n apie aan ’n tak sien swaai?
• Vandag gaan ons die apieswaaipatroon maak.
• Die fasiliteerder demonstreer die patroon op die bord of skoon bladsy.
• Begin bo en trek ’n reguit strepie af. Net voor die apie op die grond val swaai hy weer boontoe. Herhaal die beweging.
Sessie 7: Storietyd
Notas:
2
Families met vere
Sessie 1: Vryspel binne
Die leerders speel binne die huis/klas om perseptuele ontwikkeling te bevorder. Voorsien opvoedkundige speelgoed, bv. legkaarte, blokkies, inkleurboek en kryte. Verskaf boeke/prente oor diere en plante in die tuin. Verryk deur natuurlike materiaal te voorsien waaraan die leerders kan voel en ruik.
Sessie 2: Fokusarea: Lewensvaardighede
Kom ons gesels oor families met vere
Die fasiliteerder lees die gediggie: Kiepie, Kiepie
Watter dier is ’n kiepie? (Dit is ’n hoender). Hoenders het vere en hulle lê eiers net soos die voëltjies in die tuin.
Verskaf boeke, prente en tydskrifte met inligting oor voëls. Die leerders kan daardeur blaai en na die prente kyk. Die boeke kan gebruik word vir die res van die leereenheid. Begin ’n uitstalling oor voëls wat oor die volgende drie dae aangevul word. Gebruik vere (penvere, donsvere, dekvere), eierdoppies, ’n leë nessie. Ons het ’n vel om ons lyfies te beskerm. Voëls het vere om hulle lyfies te beskerm en warm en droog te hou. Gebruik die prenteboeke en gesels met die leerders:
• Watter diere het vere? (Die besef dat slegs voëls vere het, moet ontdek word.)
Sample
• Watter diere lê eiers? (Voëls en reptiele) Beklemtoon die verskil tussen die twee groepe. Voëls het vere, hulle kan vlieg en het net twee bene. Hoe lyk reptiele? (Hulle het vier bene, hulle kan nie vlieg nie, hulle is gewoonlik met skubbe bedek.)
• Kan alle voëls vlieg? (Vertoon prente, en probeer identifiseer.)
• Kan die voël op hierdie prentjie vlieg? (Sien die volstruis in die Leerhulpmiddel. ’n Volstruis kan nie vlieg nie, al het hy vlerke.)
• Hoe lyk ’n kuiken se veertjies? Wat noem ’n mens daardie veertjies? (Donsies)
• Wat is voëls se vyande? (Slange en likkewane: Hulle eet die eiers in voëlnessies.)
Sessie 3: Fokusarea: Wiskunde
Tel ritmies: van 1 tot 10.
Voorwerpe aftel: Tel 5 tellers uit en pak dit in ’n ry van links na regs. Sê dit is 5.
• Sit nog een teller by. Sê hardop: + 1. Tel weer al die tellers saam. Sê dit is 6.
• Sê die som hardop: 5 + 1 = 6.
• Kyk of julle van 6 kan terugtel tot by 1. Kyk na die prent in Aktiwiteit 133 in werkboek 1.
• Tel die voëls op die takke. Hoeveel voëls is daar? (14) Skryf die getal langsaan neer.
• Hoeveel swart voëls kan julle sien? (3)
• Hoeveel eekhorings is daar in die boom? (3) Die fasiliteerder klap 5 keer hande.
• Hoeveel keer het ek geklap? Pak soveel tellers uit.
• Gebruik julle tellers om die volgende woordsom op te los.
• In die voëltjie se nessie is 5 eiers. 2 voëtjies broei uit. Hoeveel eiertjies is daar oor? (3)
Getalbehoud:
• Haal 5 rooi blokkies uit en pak dit in enige patroon. (Bv. in ’n ry langs mekaar.)
• Haal 5 groen blokkies uit en pak dit in ’n ander patroon. (Bv. 5 onder mekaar.)
• Haal 5 blou blokkies uit en pak dit in nog ’n ander patroon. (Bv. ’n dominopatroon.)
• Haal 5 wit blokkies uit en pak dit ook in ’n patroon.
• Die leerders moet ontdek dat vyf vyf bly maak nie saak hoe die tellers rangskik word nie.
• Kan julle nog onthou hoe ons die getal 5 skryf? Die fasiliteerder skryf 5 op die bord/papier.
• Gee geleentheid vir die leerders om 5 met speeldeeg te maak. Rol slangetjies met speeldeeg en vorm die getal 5.
• Rol vyf balletjies en pak dit langs jou 5.
Sample
Sessie 4: Bewegingspel en vryspel buite
Fisieke aksies:
Vryspel by swaaie en klimplek of oop ruimtes vir 20 minute.
Sing lekker liedjies, bv. Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê.
Kyk of die leerders die gediggie, Kiepie, Kiepie kan onthou. Laat hulle soos die hoender maak terwyl hulle dit opsê.
Middellynkruising (spesifieke armbewegings oorkruis voor die lyf):
• Klap hande, kruis arms oor bors en raak aan skouers, klap nou weer hande.
• Herhaal hierdie aksie ritmies en geleidelik vinniger.
• Dus: klap-skouers-klap. Klap-skouers-klap.
• Verleng die klappatroon met nog ’n aksie. Klap hande, raak aan jou skouers, klap hande en raak aan jou knieë met jou hande oorkruis.
• Herhaal ’n paar keer totdat die leerders dit ritmies kan saamdoen.
• Speel lekker buite vir nog 15 minute voordat ons opruim.
Sessie 5: Spontaan skeppende aktiwiteit
Die fasiliteerder voorsien ’n papierbord en afvalmateriaal. Die leerders kan nou elkeen ’n voëltjie maak. Verf die papierbord om die voëltjie se lyfie in te kleur. Onthou, ’n voëltjie het een snawel, twee ogies, twee vlerke en een stertjie.
Kyk of jy vir die voëltjie pote kan aansit. Tel stokkies in die tuin op en plak die voëltjie se pote vas.
Sample
Sessie 6: Fokusarea: Taal
Kyk of die leerders die gediggie Kiepie, Kiepie kan onthou.
• Die leerders sê die gediggie hardop.
• Watter woord klink soos gou? (jou)
• Hoekom moet die hoendertjie gou kom? (Daar is vir haar kos.)
• Wat noem mens ’n pappahoender? (Haan)
• Wat noem ons ’n mammahoender? (Hen) En die babahoendertjie? (Kuiken)
• Is die hoender in die gediggie ’n haan of ’n hen? (Dit is ’n hen.)
• Hoe weet ons dit? (Sy lê eiers.)
• Hoekom sou dit vir jou lekker wees as jy ’n voëltjie was? Gee geleentheid vir die leerders om te dink oor ’n voëltjie en hoekom dit lekker is om ’n voëltjie te wees.
• Het julle al na voëls en hoenders geluister? Watter geluide maak hulle?
• ’n Hoenderhaan kan hard kraai. Kan julle kraai?
• En hoe kekkel die hen as sy klaar haar eier gelê het?
• Hoe maak die mossies in die tuin? Hulle tjirp. Kan julle ’n tjirpgeluid maak?
• Wat van die duiwe? Hoe maak die duiwe in die tuin? Duiwe koer.
• Lag lekker saam en maak die voëlgeluide na.
• Watter voëls tjirp, piep, kraai. ens.?
• Die fasiliteerder sê die volgende ‘sinne’ hardop. Die leerders luister en herhaal die sinne:
• tjirp-tjirp; kekkel-kekkel-kekkel; kraai! (Herhaal ’n paar keer ritmies.)
• piep-piep-piep….kwaak sê die aap!
Sessie 7: Storietyd
Notas:
Kloue, snawels en skerp oë
Sessie 1: Vryspel binne
Die leerders speel binne die huis/klas om perseptuele ontwikkeling te bevorder. Voorsien opvoedkundige speelgoed, bv. legkaarte, blokkies, inkleurboek en kryte. Verskaf boeke/prente oor diere en plante in die tuin. Verryk deur natuurlike materiaal te voorsien waaraan die leerders kan voel en ruik.
Sessie 2: Fokusarea: Lewensvaardighede
Kom ons gesels oor hoe voëls lyk
Gister het ons oor voëls gesels. Kan julle nog onthou hoe lyk voëls? Almal het vere, vlerke, twee bene en hulle lê eiers.
• Gesels vandag verder oor voëls.
• Verwys na die prente in Leerhulpmiddel. Bespreek die snawels en pote van verskillende voëls.
• Voëls het kloue. Waar aan die voël se lyf kry ons die kloue? Hoe lyk die kloue en hoekom lyk dit so?
• Voëls gebruik hulle snawels om mee te pik. Wat pik hulle?
• Roofvoëls, bv. ’n arend, valk en uil, eet vleis. Hulle kloue is aangepas om te gryp en die skerp snawel kan vleis skeur.
• Watervoëls, bv. ’n eend, bleshoender, flamink, pikkewyn, se pote is geweb vir swem en hulle het meestal nie skerp snawels nie.
Sample
• Tuinvoëls, bv. die mossie, houtkapper en lyster, se pootjies kan teen boomtakke klou. Hulle snawels is skerp om insekte te vreet en sterk om sade te kraak.
• Het ’n voël ’n tong? (Ja. Die tong het beentjies in om saadetery te vergemaklik.)
• Kan julle onthou watter geluide voëls maak? (Verwys na gister se gesprek.)
Sessie 3: Fokusarea: Wiskunde
Telwerk:
Tel ritmies van 1 tot 10
• Voorwerpe aftel: Tel 6 tellers uit en pak dit in ’n ry van links na regs. Sê hardop dit is 6.
• Sit nog een teller by: Sê + 1. Tel weer al die tellers saam. Sê dit is 7. Sê dan die som hardop: 6 + 1 = 7
• Terugtel: van 7 tot 1.
Die fasiliteerder hersien die leerders se besonderhede:
• Kan jy onthou wat is mamma/pappe se telefoonnommer?
• Kom ons probeer om ander nommers te onthou. Die fasiliteerder sê die volgende nommers hardop. Die leerders moet dit probeer memoriseer en hardop terugsê.
• 436-720, 502-8641 en 56794.
Gebruik ’n tou vir die volgende metingsaktiwiteit.
• Sit die tou op die vloer neer. Meet voetjie vir voetjie hoe lank die tou is. Tel hoeveel voete die tou lank is.
• Die leerders meet die tou met hulle hande. Tel hoeveel van jou hande op die tou inpas.
• Gebruik die tou en meet die mat, tafel en deur in die vertrek.
• Tel elke keer hoeveel toue die mat, tafel en deur lank is.
• Pak die getalle met tellers uit. Die mat is twee toue lank. Pak twee tellers uit en sit die getalkaart 2 langsaan neer.
Sessie 4: Vryspel buite
Gebruik ’n dik tou, ongeveer 1,5 m lank. Die fasiliteerder steek die tou en bal weg. Gee instruksies vir die leerders om die bal en tou te vind, bv.: Gee drie treë links. Kruip oor die gras. Spring oor die tuinslang. Soek die bal.
• Sit die tou op die gras neer. Loop op die tou sonder om om te val. Loop agteruit op die tou.
Sample
• Bons en vang die bal. Speel ’n lekker balspeletjie in die tuin.