Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
2304-A-AHT-FG01
Leselemente
LEERDOELWITTE
Wat die leerder aan die einde van die les moet weet. Geneem uit die KABV.
AKTIWITEIT
Bevat die kerninhoud en vrae om die leerder se kennis te toets.
WOORDESKAT
Betekenis van moeiliker woorde in tekste.
KERNINHOUD
Die inhoud wat verstaan moet word; verduideliking van begrippe
DEFINIEER
Definisies van sommige begrippe.
BELANGRIK
Belangrike aspekte om van kennis te neem.
WENKE
Om die begrippe beter te verstaan; om in die leerproses te help.
VIR DIE NUUSKIERIGES
SAMPLE
Aansporing om die inhoud na te vors of navorsing om algemene kennis uit te brei. Brei die aktiwiteit tot só ’n mate uit dat die leerder aangemoedig word om te verken.
Voorwoord
Die handleiding en fasiliteerdersgids dek al die werk van graad 4 Afrikaans Huistaal (AHT). Die boeke is saamgestel in lyn met die KABV-riglyne wat die Departement van Basiese Onderwys vereis.
Die KABV gee ’n uiteensetting van die minimum werk wat gedek moet word. Die handleiding en fasiliteerdersgids bevat soms meer inligting as wat die KABV vereis. (Meer inligting hieroor onder die bespreking van die afdelings in die boek en onder die opskrif “beplanning”.)
Die boeke is in vier eenhede en 18 lesse verdeel. Elke les word oor ’n tydperk van twee weke behandel (12 uur), en elke eenheid strek oor ’n kwartaal. Eenheid 1 en 2 is in fasiliteerdersgids 1/2, en eenheid 3 en 4 is in fasiliteerdersgids 2/2. (Die handleiding is in vier boeke verdeel, elke eenheid op sy eie.)
Eenheid 1 bestaan uit vyf lesse.
• Les 1: Tussen die boekrakke
• Les 2: Drup, drup ... droog
• Les 3: Stories van ouds
• Les 4: Van spens tot pens
• Les 5: Wilde wonders
Eenheid 3 bestaan uit vyf lesse.
• Les 10: Op die sportveld
• Les 11: Boomloos, dakloos, weerloos
• Les 12: Ogies deur die blare
• Les 13: As die weer dreun ...
• Les 14: Op die planke Eenheid 2 bestaan uit vier lesse.
• Les 6: Feite van die verlede
• Les 7: Toor met jou dade
• Les 8: Haastige hond verbrand sy mond
• Les 9: Deur die teleskoop se lens
1. Luister en praat
Eenheid 4 bestaan uit vier lesse.
• Les 15: Staan op teen boelies en bullebakke
• Les 16: Jou tuiste, jou trots!
• Les 17: Vertel om te verkoop
• Les 18: Droom groot
Die lesse is in aktiwiteite opgedeel, wat die leerinhoud en vrae daaroor bevat. Elke les bestaan uit vier afdelings:
3. Skryf en aanbied
2. Lees en kyk 4. Taalstrukture en -konvensies
SAMPLE
Die boeke is geskryf as ’n volledige hulpbron vir al die werk wat die KABV vereis binne die voorgeskrewe tydstoekennings. Jy het ’n keuse om die inhoud volledig te dek, of om self te besluit watter inhoud en aktiwiteite om te dek. Gebruik jou eie oordeel oor die vlak waarop die leerders is, en pas die inhoud en tydstoekenning daarvolgens aan.
Afdeling 1: Luister en praat
Luister en praat is integraal in alle tale. Hoe meer ’n taal gehoor en gepraat word, hoe makliker word sinskonstruksie en grammatika aangeleer. Elke les begin met die bespreking van ’n onderwerp, wat die les inlei. Dit is belangrik dat leerders spontaan gesels. Hul selfvertroue sal verbeter hoe meer hulle praat, wat hulle ook sal help om gemakliker met toesprake te wees.
Dit is belangrik om woorde duidelik en korrek uit te spreek wanneer tekste hardop gelees word. Help leerders ook reg as hulle sinskonstruksie of woordgebruik verkeerd is wanneer hulle praat. Moedig leerders aan om een keer ’n week ’n Afrikaanse televisieprogram te kyk of na ’n Afrikaanse radioprogram te luister.
G04 ~ Afrikaans Huistaal
Dit is ook belangrik om kennis van die luisterproses te neem, wat veral in hoër grade tydens luistertoetse toegepas word. Die luisterproses word in aktiwiteit 2 uiteengesit.
• Luisterproses: Volg die luisterproses vir die eerste paar weke, en kyk hoe die leerders vorder. Indien dit nie vir hulle nodig is om drie keer na die teks te luister nie, hoef die teks nie ’n derde keer gelees te word nie. Dit is goed as die leerders tydens die eerste lees op al die belangrike inligting let. Die luisterproses moet egter in take/eksamens gevolg word.
• Lees hardop: Nie al die “lees hardop”-aktiwiteite hoef gedoen te word nie, maar leerders moet oefen om voorbereid én onvoorbereid hardop te lees. Assesseer hulle informeel met die rubriek in die aktiwiteite, of gebruik die rubriek in die bylae hiervoor. Leerders kan mekaar ook soms assesseer. Leerders wat minder gevorderd is, sal dalk nie die hele teks kan lees nie –neem altyd elke leerder se leesvaardighede in ag. Die doel van die informele assessering is om leerders se leesvaardighede te verbeter, nie om hulle af te skrik nie.
Pas die aktiwiteite toe na aanleiding van leerders se vaardighede. As hulle oë byvoorbeeld te stadig oor die bladsy beweeg, kan die aktiwiteit vervang word met ’n teks waar hul oogbeweging geoefen word, byvoorbeeld:
Dit is hoe ons lees. Ek oefen om my oë van links na regs te beweeg.
• Transkribering: Indien daar tyd is, lees ’n paar sinne van die les se luisterteks stadig, en die leerders skryf neer wat jy sê (transkribering). (Dit word nie regdeur die lesse genoem nie, maar hou dit in gedagte tydens beplanning van die aanbieding van die lesse.)
SAMPLE
Soos later onder “beplanning” genoem word, moet die aktiwiteite in die afdelings oor die twee weke van die les strek, en daar moet elke week aandag aan al vier afdelings gegee word. Daar moet dus in week 1 en week 2 aktiwiteite uit “luister en praat” gedoen word.
Afdeling 2: Lees en kyk Hoe meer leerders met Afrikaanse tekste te doen kry, hoe makliker gaan hulle die taalgebruik verstaan en dinge soos spelpatrone optel. Hulle woordeskat sal ook uitbrei hoe meer hulle lees.
Leerders kry in graad 4 met langer tekste te doen, waaraan party leerders dalk nie gewoond is nie. Staan die leerders veral in kwartaal 1 by met die lees van tekste deur die tekste hardop te lees voordat hulle dit op hul eie lees. Dit is wel goed as leerders die tekste op hul eie kan lees en kan verstaan wat daar staan.
Die tekste in die boeke begin by die minimum vereiste van die KABV (150 tot 200 woorde) en neem toe soos die jaar vorder. ’n Groot probleem onder leerders is dat hulle sukkel om met begrip te lees, juis omdat hulle te min lees. Die boeke probeer die leerders aanmoedig om ’n bietjie meer te lees en om hulself uit te daag. As die tekste te lank vir hulle is, laat hulle byvoorbeeld net die helfte van die teks op hul eie lees. (Die vrae oor die dele wat hulle nie lees nie, kan dan uitgelaat word.)
G04 ~ Afrikaans Huistaal
Dit is belangrik dat leerders selfstandig lees. Verleen altyd hulp met die uitspraak of betekenis van woorde wanneer leerders selfstandig lees. Daar word ’n halfuur per les vir selfstandige lees toegeken. Moedig die leerders aan om elke kwartaal ’n boek op hul eie te lees. Dit word aanbeveel om dit ’n instelling in die klas te maak dat leerders selfstandig moet lees as hulle klaar is met hulle werk. (Meer inligting hieroor by les 1 se “selfstandige lees”-aktiwiteit.)
Dit is baie waardevol as ouers by die huis saam met hul kinders lees. Moedig ouers aan om ’n paar dae ’n week saam met hul kinders te sit en lees, al is dit net 15 minute.
Die verduideliking van taalbegrippe en vrae daaroor is meestal in afdeling 2 vervat. (Meer daaroor onder “Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies”.)
Afdeling 3: Skryf en aanbied
Hoe meer die leerders in Afrikaans skryf, hoe beter. Wanneer ’n mens skryf, is jy meer geneig om grammatika beter te verstaan en spelling te oefen. Let op die skryfproses, wat in afdeling 3 van les 1 uiteengesit word. Moedig leerders aan om soveel as moontlik in Afrikaans te skryf. Hulle kan byvoorbeeld elke dag, buiten die aktiwiteite in die handleiding, ’n paragraaf skryf oor dit wat hulle die vorige dag ná skool gedoen het, of dit kan met die aktiwiteite van die dag skakel.
Die leerders word aan ’n verskeidenheid tekssoorte blootgestel (byvoorbeeld stories, dialoë, artikels, plakkate en gedigte). In hierdie boeke word meer skryfaktiwiteite en tekssoorte gegee as wat die KABV vir elke les vereis. Tekste wat die KABV vir elke les vereis, word so in die fasiliteerdersgids aangedui. Die leerders hoef nie die ander skryfaktiwiteite ook te doen nie, maar verskeie tekssoorte kan in die eksamen voorkom. Daar word ook in die KABV genoem dat alle tekssoorte deel van onderrig moet vorm, al word dit nie by die onderrigplan ingesluit nie. As leerders nou al die formaat van die tekssoorte leer, sal die skryf van tekste in ander grade makliker wees, veral in die Senior- en VOO-fase. Die ekstra skryfaktiwiteite word veral gegee vir leerders wat meer wil oefen of op hul eie wil skryf. Moedig dit aan en help leerders om hul skryfvaardighede te verbeter.
Die lengte van die tekste is volgens die KABV se vereistes, maar dit kan party leerders se kreatiwiteit inperk, veral by die skryf van ’n storie. Gebruik eie oordeel oor of hulle by die vereiste aantal woorde moet bly en of hulle langer tekste mag skryf. Die KABV se vereistes is as volg:
SAMPLE
Paragraaf 50 – 60 woorde
Opstel 100 – 120 woorde
Kortverhaal en storie 120 – 140 woorde
Brief 60 – 80 woorde
Dagboekinskrywing 60 – 80 woorde
Dialoog 60 – 80 woorde
Instruksies 30 – 40 woorde
Boodskappe 30 – 40 woorde
Opsomming 40 – 50 woorde
Onthou ook dat die afdelings deur die loop van die twee weke vermeng moet word. Party skryfaktiwiteite moet dus in week 1 van die les al gedoen word (al handig die leerders hul finale skryfstuk dalk eers oor ’n week of twee in).
Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies
Die grondslag vir grammatika word gelê deur Afrikaans te hoor en te lees. Die KABV vereis slegs een uur per les (per twee weke) se formele onderrig in taalbegrippe. Dit is egter nie noodwendig voldoende om taalbegrippe en grammatika vas te lê en in te oefen nie. Dit is goed om ’n beter grondslag van taalbegrippe in graad 4 tot 6 te lê, wat ook beteken dat die leerders grammatika en taalreëls in hoër grade beter sal verstaan en kan toepas. Party taalbegrippe, veral in eenheid 1,
Fasiliteerdersgids 1/2
G04 ~ Afrikaans Huistaal
is hersiening van taalbegrippe wat in die Grondslagfase geleer is. Hoe meer leerders die toepassing van taalbegrippe oefen, hoe beter.
Die verduideliking van taalbegrippe kom meestal in afdeling 2 voor, maar onthou om die aktiwiteite oor die volle twee weke te strek. (In hierdie boeke is daar net ’n hersieningsoefening onder “afdeling 4”, en die verduideliking van begrippe is meestal in afdeling 2.)
Dit is nie nodig om al die verduidelikings by taalbegrippe te volg of dat leerders dit leer nie. In baie gevalle is die verduidelikings in die fasiliteerdersgids meer omvattend as in die handleiding. Dit is sodat die fasiliteerder ’n goeie begrip van die konsepte het om dit vir die leerders te kan verduidelik. Die doel van die verduidelikings is om te help om begrippe beter te verstaan, veral as leerders dalk by die huis nie kan onthou hoe om byvoorbeeld die meervoud van woorde te maak wat op -tuig eindig nie – dan is die verduideliking daar om die leerder te help (of die leerder se ouers kan help as hy/sy huiswerk doen).
Al die taalwerk wat die KABV se onderrigplan vir elke les aanbeveel, word in die boeke gedek. Dit is nie nodig om al die taalaktiwiteite in elke les te doen nie. Daar is meer omvattende oefeninge oor taalbegrippe om dit vir die fasiliteerder makliker te maak (sodat dit nie nodig is om ekstra oefeninge op te stel of te soek nie). Gebruik jou eie oordeel oor die vlak waarop die leerders is en hoeveel taaloefeninge hulle moet doen. Hulle kan byvoorbeeld slegs een vraag per oefening doen, of meer gevorderde leerders kan al die vrae beantwoord terwyl meer gemiddelde leerders slegs een vraag beantwoord. Die ekstra oefening kan as huiswerk gegee word of meer gevorderde leerders kan ektra oefening kry. Aktiwiteite oor die meeste taalbegrippe word deur die jaar gegee, juis om begrippe goed onder die knie te kry.
In kwartaal 1 is daar plek om party aktiwiteite in die handleiding te beantwoord. Dit word egter aanbeveel dat die leerders die vrae in hul werkboek oorskryf om sinskonstruksie en spelling te oefen. Besluit self of die vrae in die handleiding of werkboek beantwoord moet word.
Dit is uiters belangrik dat taalbegrippe goed vasgelê word – dit vorm die basis vir taalwerk tot in graad 12 (die werk word in elke graad net moeiliker). Hoe meer leerders met die verskeie taalbegrippe in aanraking kom, hoe beter word dit vasgelê. Let ook op dat leerders meer selfstandig begin werk soos die jaar vorder. Verleen hulp waar nodig.
SAMPLE
Let wel: Daar is baie wisselvorme en maniere van skryf, byvoorbeeld getalle wat los, vas of met ’n koppelteken geskryf kan word. Party maniere van skryf word aanbeveel om vir die leerders te leer, maar as hulle dit op ’n ander manier skryf wat ook taalkundig korrek is, kan dit nie verkeerd gemerk word nie. Daar is soms notas hieroor in die lesse. Raadpleeg die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls om seker te maak leerders word nie gepenaliseer nie.
TYDSTOEKENNING
Die KABV veries dat leerders 6 uur per week in Afrikaans Huistaal onderrig word, dus 12 uur per les (wat oor twee weke strek). Dit beteken dat huiswerk nie by hierdie tyd ingesluit is nie. Indien leerders dus die aktiwiteite nie tydens onderrigtyd klaarkry nie, moet hulle dit as huiswerk voltooi. (Weer eens, kies aktiwiteite en vrae na gelang van die leerders se vaardighede.)
Daar moet 2 uur aan luister en praat bestee word, 5 uur aan lees en kyk, 4 uur aan skryf en aanbied en 1 uur aan taalstrukture en -konvensies. Soos genoem, vereis die KABV dat taalstrukture en -konvensies binne konteks aangeleer word, dus is die tyd hiervoor ingesluit in die KABV se voorgestelde tye vir die verskillende afdelings.
G04 ~ Afrikaans Huistaal
Let wel dat die tydstoekenning by die aktiwiteite nie tot 12 uur per tweeweeksiklus optel nie. Dit is omdat die tyd wat aan ’n aktiwiteit afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word. Party aktiwiteite vat ook langer, waar die fasiliteerder die leerders se lees assesseer, die voordra van ’n gedig, toesprake, ensovoorts. Hier kan die aktiwiteit oor ’n paar dae strek sodat alle leerders kans kry om die aktiwiteit te voltooi. Neem ook kennis dat die tydstoekenning slegs riglyne is.
Gebruik eie oordeel om seker te maak die leerders doen ’n paar aktiwiteite oor ’n begrip of ’n vaardigheid deur die jaar. In sommige gevalle strek ’n aktiwiteit oor meer as een periode – wees oordeelkundig in hoe om die lesse aan te pak.
BEPLANNING
Die boeke is só saamgestel om die fasiliteerder soveel as moontlik by te staan. Dit is steeds nodig om lesbeplanning te doen aangesien verskeie vaardighede en afdelings deur die loop van elke week aangeraak moet word en die boeke volgens afdelings opgestel is (luister en praat, lees en kyk, skryf en aanbied en taalvaardighede en -konvensies). Byvoorbeeld, in les 2 moet die leerders ’n toespraak skryf en lewer. Hulle leer op dag 1 of 2 van die week oor die toespraak en hoe om ’n toespraak te skryf, en moet dus in week 1 al hul eie toespraak skryf wat in week 2 van die les gelewer moet word. Die aktiwiteit “skryf ’n voorbereide toespraak” is in afdeling 3 van die les, maar hulle moet dit in week 1 al doen. Leerders moet skryfaktiwiteite in week 1 al begin doen, al handig hulle die finale weergawe eers die volgende week of oor drie weke in. Onthou om aktiwiteite van al die afdelings deur die loop van die twee weke te doen.
Die aanbieding van die lesse moet dus noukeurig beplan word. Party aktiwiteite vereis ook meer voorbereiding. (Weer eens, dit is nie nodig om al die aktiwiteite in die boek te doen nie. As jy die taalspeletjie wil uitlos of ’n aktiwiteit met iets anders wil vervang, is dit reg.)
Gaan deur die les en kyk wat om voor te berei (soos om die hardop lees van ’n teks te oefen, die klas te versier om by die die tema van die les te pas, die nodige voorbereiding vir taalspeletjies en ander aktiwiteite te doen, om vir die leerders te sê dat hulle volgende week items klas toe moet bring, ensovoorts). Beplan ook watter aktiwiteite jy op watter dag van die tweeweeksiklus gaan behandel (dag 1 tot 10). (Dit sal ook afhang van die leerders se skedule in ander vakke.)
SAMPLE
Soos reeds genoem, is dit nie nodig dat leerders al die aktiwiteite doen nie (of leerders hoef nie al die vrae te beantwoord nie, of dit kan geheel uitgelos word), veral as hulle die taalbegrippe reeds bemeester het. As leerders byvoorbeeld verstaan hoe afkortings werk, kan hulle die aktiwiteit oor afkortings as hersiening by die huis doen (wat dan in die klas gemerk word), of dit kan heeltemal uitgelos word.
WOORDESKAT EN SPELLING
Leerders maak ’n woordeboek in les 1. Hulle kan enige woorde wat vir hulle nuut of moeilik is in die woordeboek skryf. (Maak seker dat die woorde reg gespel is.) Hulle verduidelik dan die betekenis van die woorde met ’n sin of ’n prentjie (meer besonderhede in les 1).
Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van elke les. (In plaas hiervan kan hulle elke dag of aan die einde van elke week ’n speltoets skryf.) (Die lys spelwoorde is aan die einde van elke les.) Soos aan die begin van elke les genoem, moet die leerders genoeg tyd kry om die spelling van die woorde te leer. (Dit is woorde waarmee hulle deur die loop van die les te doen kry of woorde wat leerders oor die algemeen sukkel om te spel, maar dit kan met ander woorde vervang word.)
Fasiliteerdersgids 1/2
G04 ~ Afrikaans Huistaal
Nadat lettergrepe behandel is, word aangeraai dat leerders die woorde in elke speltoets in lettergrepe verdeel en met ’n glimpen (highlighter) uitlig waar hulle moontlik verkeerd kan spel. Dit help hulle om vir lokvalle uit te kyk en ook om die spelling beter te onthou. Moedig die leerders aan om die spelling van die woorde elke dag skriftelik te oefen.
WOORDELYSTE
Die woordelyste in die bylae is vir verwysing. Daar is lyste met trappe van vergelyking, sinonieme en antonieme, geslagsvorme, vergelykings, ensovoorts. (Die lyste is nie allesomvattend nie.) Die leerders kan van die inligting in die bylae leer nadat die werk in die handleiding behandel is. Dit vergroot hul woordeskat en dit is kennis wat hulle tot in graad 12 gaan gebruik, asook in die alledaagse lewe. Hulle kan af en toe ’n kort, informele toetsie daaroor skryf. (Gee hulle byvoorbeeld vyf idiome of homofone om te leer, nie al die woorde in die lyste nie.)
OOR DIE TEKSTE
• Die nodige toestemming is verkry om die gedigte, stories en spotprente in die boeke te gebruik.
• Waar daar nie erkenning gegee word nie, het die skrywer van die boek die tekste self geskryf. (Dit sluit gedigte in.)
• Alle ander tekste, soos koerant- en tydskrifartikels, instruksies en plakkate, is deur die skrywer van die boek uit verskeie bronne geskryf/saamgestel. By alle koerant- en tydskrifartikels is die joernaliste se name fiktief
• Soos onder “afdeling 2: lees en kyk” genoem, is van die tekste in die boeke langer as wat die KABV vereis. Leerders behoort in staat te wees om die hele teks te lees, maar indien hulle nie kan nie, hoef hulle nie die hele teks te lees nie.
ANDER ASPEKTE OM VAN KENNIS TE NEEM
• Zak die taalmonster verskyn regdeur die handleiding. Hy gee vir leerders wenke en gaan saam met hulle op die reis deur graad 4 Afrikaans Huistaal.
• Elke les het ’n tema. Probeer om die tema so lewendig as moontlik te maak – die klas/vertrek kan byvoorbeeld volgens die tema versier word. Leerders kan ook prentjies oor die tema inkleur (indien daar tyd ná onderrigtyd is), en dit kan in die klas opgesit word.
SAMPLE
• Die boeke het ook ten doel om die leerders se algemene kennis uit te brei en hulle aan nuwe onderwerpe bloot te stel. Die leerders moet nie net taalbegrippe bemeester nie, hulle moet ook leer om selfstandig te dink en te redeneer. Daar word ook gepoog om goeie waardes aan die leerders oor te dra, soos om behulpsaam te wees en vir die omgewing om te gee.
• Dit is belangrik om leerders se vaardighede aan die begin van die jaar te bepaal om te sien op watter vlak hulle is en watter werk van die Grondslagfase hulle dalk nog nie bemeester het nie.
• Daar is ’n tabel aan die begin van elke les in die fasiliteerdersgids. Hierdie tabel bevat die aktiwiteite waarin die begrippe hoofsaaklik behandel word, saam met die tydstoekenning. Hierdie begrippe (byvoorbeeld sinonieme en antonieme) kan ook in ander aktiwiteite in die les voorkom (soos in die leesbegripvrae). Waar verskillende begrippe in een aktiwiteit voorkom, word die tydstoekenning slegs die eerste keer gegee waar die aktiwiteitnommer voorkom.
• Baie aktiwiteite vereis dat leerders in pare, groepe of as ’n klas werk. Indien daar slegs een leerder is, moet die fasiliteerder instaan.
G04 ~ Afrikaans Huistaal
• Daar word by sommige aktiwiteite ’n rubriek vir informele assessering gegee. Die rubrieke vir formele assessering is in die bylae. Dit is jou keuse oor watter rubriek om te gebruik –leerders moet gewoond raak aan die rubrieke waarvolgens hulle geassesseer word, maar dit hoef nie vir elke aktiwiteit gebruik te word nie.
• Soos genoem, moet die leerders vir sommige aktiwiteite items klas toe bring – lees en beplan vooruit en gee die leerders genoeg tyd om die items te kry. Hulle moet byvoorbeeld soms tydskrifte/koerante klas toe bring of ’n rekwisiet om rolspel mee te doen. Gee hulle byvoorbeeld ’n week of twee om die items te kry. Daar kan natuurlik ook tydskrifte/koerante en rekwisiete in die klas vir sulke aktiwiteite gehou word.
• In die “woordeskat”-blokkies word definisies van party woorde in die tekste gegee. Die woorde waarvan die definisie gegee word, is in vetdruk in die teks. Dit word ook binne konteks van die teks gegee.
• By sommige tekste word die uitspraak van moeiliker woorde gegee, byvoorbeeld: Duidelik word uitgespreek as “dui-dlik”. (E’s wat as i uitgespreek word, word so aangedui, byvoorbeeld “sommige” se uitspraak word as “so-mi-gi” gegee.)
• Leerders kan kort, informele toetse oor taalbegrippe skryf, byvoorbeeld oor geslagsvorme, intensiewe vorme, vergelykings, ensovoorts.
• Waar die leerders sukkel om die antwoord op ’n vraag te kry, moenie die antwoord weggee nie Vra vrae wat hulle sal help om die antwoord te bepaal.
• Die opskrifte in die boeke is sover moontlik volgens die KABV se opskrifte.
• Meer gevorderde leerders kan deur die jaar navorsing doen, ’n plakkaat oor die les se tema maak en vir die klas daarvan vertel. (Voorstelle word in “vir die nuuskieriges”-blokkies gegee.)
SAMPLE
• Leerders moet met iets soos klaspunte gemotiveer word. (Daar word deurgaans na klaspunte in aktiwiteite verwys, veral by speletjies.) Gebruik eie oordeel oor hoe om dit aan te wend. Aan die einde van elke week of les kan die leerders met die meeste klaspunte ’n beloning kry, selfs al is dit ’n sertifikaat. Die klaspunte moet nie net vir akademiese prestasie gegee word nie, maar ook vir dinge soos hulpvaardigheid en vriendelikheid.
• Kleurvolle plakkate oor taalbegrippe en dinge soos die skryfproses kan in die klas opgesit word.
WERKBOEK
Elke leerder moet ’n lyntjiesboek (’n skrif) met 72 bladsye of ’n swart hardebandboek hê om die aktiwiteite in te doen. (Hulle mag dalk later die jaar nóg ’n werkboek benodig.)
Daar word aanbeveel dat leerders belangrike inligting in hul werkboek oorskryf en nie net die vrae in die aktiwiteite beantwoord nie. Laat hulle byvoorbeeld neerskryf wat ’n sinoniem is of hoe ’n selfstandige naamwoord uitgeken word. Hulle kan ook die antwoorde van elke bespreking in hul werkboek skryf ná die bespreking afgehandel is.
Leerders moet ook ’n A5-lyntjiesboek (of ’n A4-boek) vir hul eie woordeboek hê (meer inligting onder “Woordeskat en spelling”).
Fasiliteerdersgids 1/2
G04 ~ Afrikaans Huistaal
VOORGESKREWE
EN AANBEVOLE BOEKE
Daar word geen addisionele boeke vir Afrikaans Huistaal voorgeskryf nie.
Leerders moet toegang tot ’n goeie, verklarende woordeboek (soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal – HAT) hê. ’n Woordeboek is dalk duur, maar dit is ’n bron van onskatbare waarde wat leerders tot in graad 12 gaan gebruik. ’n Tesourus is ook voordelig.
Soos genoem, word leerders aangemoedig om minstens een boek per kwartaal te lees. Dit kan enige toepaslike boek van die leerder se keuse (en op sy/haar leesvlak) wees. Hoe meer daar gelees word, hoe makliker en beter word grammatika, spelling en taalbegrippe aangeleer.
Aanbevole boeke
• Z is vir Zackie-reeks – Jaco Jacobs
• Haasdas se nuuskas-reeks – Louise Smit
• Flippie word ’n vlieg – Fanie Viljoen
• Vakansiepret-reeks – Theresa van Baalen
• Zinzi en Saffraan-reeks – Asia Citro
• Liewe Heksie-reeks – Verna Vels
• Die groot koelte – Leon de Villiers
• Die tandeterroris – David Walliams
• Hoe om jou draak te tem-reeks – Cressida Cowell
• Speurder Kwaaikofski-reeks – Jürgen Banscherus
• Pieksel – Fanie Viljoen
• Ouma is ’n kroek! – David Walliams
Gaan snuffel rond tussen die boekrakke van die biblioteek of die naaste boekwinkel.
FORMELE ASSESSERING
Geen aktiwiteit in die handleiding word as formele assessering gedoen nie. Raadpleeg die portefeuljeboek vir alle formele assessering.
Eksamens
Daar is twee eksamens in graad 4, in Junie en November. ’n Voorbeeld van eksamenvraestelle word in die bylae gegee. Laat leerders dit ter voorbereiding op eksamens skryf sodat hulle die formaat kan sien en gewoond kan raak aan die manier waarop vrae gevra word. Soek addisionele vraestelle op die internet.
SAMPLE
Die samestelling van vraestelle is as volg, maar dit is onderhewig aan verandering Verwys altyd na die portefeuljeboek en assesseringsplan vir die jongste inligting oor die samestelling van eksamens.
• Vraestel 1 (word deur die loop van die kwartaal geassesseer): Mondeling (lees hardop / luisterbegrip / toespraak / rolspel, ens.)
• Vraestel 2: Leesbegrip en taal (leesbegrip van ’n teks, leesbegrip van ’n visuele teks, opsomming, taalstrukture en -konvensies)
• Vraestel 3: Skryf (opstel en transaksionele teks, soos ’n dialoog, dagboekinskrywing, boodskap, ens.)
Jaarplan
Werk volgens die jaarplan om seker te maak dat al die werk betyds behandel word sodat leerders gereed is vir die eksamens.
Eenheid Les
1 LES 1: Tussen die boekrakke
LES 2: Drup, drup ... droog
LES 3: Stories van ouds
LES 4: Van spens tot pens
LES 5: Wilde wonders
LES 6: Feite van die verlede
LES 7: Toor met jou dade
2
– 2
– 4
– 10
– 4
LES 8: Haastige hond verbrand sy mond 5 – 6
LES 9: Deur die teleskoop se lens
– 8
3
LES 10: Op die sportveld
LES 11: Boomloos, dakloos, weerloos
LES 12: Ogies deur die blare
LES 13: As die weer dreun ...
– 4
– 6
– 8
LES 14: Op die planke 9 – 10
LES 16: Jou tuiste, jou trots! 3 – 4
LES 17: Vertel om te verkoop
LES 18: Droom groot
Novembereksamen
– 6
4 LES 15: Staan op teen boelies en bullebakke 1 – 2
EENHEID 1: Week 1 – 2 Les 1:
Tussen die boekrakke
Vaardighede
Luister en praat
Gesels met ander
Luister na ’n storie
Beantwoord vrae
Aktiwiteit Tydstoekenning
Aktiwiteit 1 15 minute
Aktiwiteit 2 20 minute
Aktiwiteit 3 25 minute
Vertel die storie oor Aktiwiteit 4 15 minute
Speel ’n taalspeletjie
Lees en kyk
Lees ’n storie
Beantwoord vrae
Lees ’n dialoog
Selfstandige lees
Skryf en aanbied
Skryf ’n paragraaf
Skryf ’n storie
Aktiwiteit 6 20 minute
Aktiwiteit 9 40 minute
Aktiwiteit 10 20 minute
Vertel die storie oor Aktiwiteit 11 20 minute
Aktiwiteit 16 20 minute
Aktiwiteit 22 30 minute
Aktiwiteit 23 40 minute
Aktiwiteit 24 1 uur 30 minute
Skryf ’n dialoog Aktiwiteit 25 1 uur
Skryf ’n eenvoudige vertelling Aktiwiteit 26 1 uur
Taalstrukture en -konvensies
Werk met woorde
Alfabetiese rangskikking
SAMPLE
Gebruik ’n woordeboek
Maak jou eie woordeboek
Aktiwiteit 5 10 minute
Aktiwiteit 7 15 minute
Aktiwiteit 8 15 minute
Sinonieme en antonieme Aktiwiteit 17 20 minute
Werk met sinne
Woordsoorte
Werkwoorde
Aktiwiteit 12 15 minute
Aktiwiteit 13 10 minute
Tydsvorme Aktiwiteit 14 20 minute
Sinsoorte Aktiwiteit 15 20 minute
Spelling en punktuasie
Woorde wat op d/t eindig
Woorde met f/v
Hoofletters
Leestekens
Aktiwiteit 18 15 minute
Aktiwiteit 19 15 minute
Aktiwiteit 20 10 minute
Aktiwiteit 21 15 minute
Speltoets Aktiwiteit 28 5 minute
Hersiening
Aktiwiteit 27 30 minute
Persoonlike woordeboek
Skryf in jou eie woordeboek
Aktiwiteit 29
Let wel: Die KABV se onderrigplan stel voor dat die kappie in hierdie les behandel word, maar die kappie word eers in die volgende les behandel.
AFDELING 1 LUISTER EN PRAAT
Aktiwiteit 1: Gesels met ander
15 minute
Elke les begin met ’n interessante feit om die leerders nuuskierig oor die les en tema te maak. Lees dit saam met hulle en, as die tyd dit toelaat, lei ’n gesprek deur vrae te vra. Dit is belangrik dat die leerders oor feite nadink.
Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van die les. Hulle moet die spelling van die woorde leer. Verwys na die tweede laaste aktiwiteit in die les vir die spelwoorde.
Interessante feit: Die grootste biblioteek in die wêreld het 164 miljoen items, en die boekrakke is altesaam 1 350 kilometer lank! Dit is so lank soos die pad van Kaapstad tot in Vereeniging! Dit is die Library of Congress in Washington D.C. in Amerika, wat in 1800 gestig is. Enige iemand mag die biblioteek besoek en die boeke daar lees, maar net spesiale mense mag boeke uitneem. In 2019 het 3 210 mense in die biblioteek gewerk.
SAMPLE
Kyk hoe die biblioteek lyk, wat van marmer en graniet gemaak is: https://bit.ly/3wtkbe3. Beweeg jou muis oor die video, en klik om rond te loer – dit is ’n 360°-kykie na die gebou.
Indien moontlik, wys die video vir die leerders. Wat dink hulle is in die biblioteek, buiten boeke? (Elektroniese materiaal, koerante, oudiomateriaal soos CD’s en kassette, manuskripte, kaarte, bewegende beelde, bladmusiek, visuele materiaal soos foto’s, plakkate, drukwerk, sketse, ens.)
Die tema van die les is stories, en die eerste storie in die les gaan oor Masego, ’n lees- en leergierige meisie wat graag tyd in die biblioteek spandeer. Sy woon saam met haar ouma, saam met wie sy ook gereeld reis en nuwe plekke ontdek.
Aangesien dit die eerste aktiwiteit van die jaar is, vra die leerders om hulself voor te stel en iets oor hulself te vertel, byvoorbeeld wat hul gunstelingstorie (boek of fliek) is.
Bring ’n paar storieboeke klas toe om die leerders se belangstelling te prikkel. Vra die leerders of hulle graag lees of daarvan hou om na stories te luister.
Leerders gesels saam.
• Watter storie is jou gunsteling?
• Kan jy kortliks vertel waaroor die storie gaan?
• Van watter soort stories hou jy? (Byvoorbeeld fantasie, wetenskapsfiksie, lewensverhale, ensovoorts.)
• Waarom hou jy daarvan om te lees (of nie)?
Die leerders kan in pare werk en oor hul gunstelingstories (boeke of flieks) gesels. Hulle kan vertel waaroor die storie gaan, die karakters beskryf en vertel waarom hulle van die storie hou. Hulle kan notas maak om later in afdeling 3 te gebruik, wanneer hulle ’n paragraaf moet skryf.
Aktiwiteit 23 in afdeling 3 kan nou gedoen word, veral om die leerders se luistervaardighede te toets en om hul skryfvaardighede te bepaal. Andersins kan die aktiwiteit later die week gedoen word, as jy ook die leerders se geheue wil toets.
Die leerders gee dan terugvoer oor hul maat se gunstelingstorie om te bepaal hoe goed hulle geluister het en om hul praatvaardighede te bepaal.
Aktiwiteit 2: Luister na ’n storie
20 minute
SAMPLE
“Gunsteling” is nie ’n byvoeglike naamwoord nie, dit is ’n selfstandige naamwoord + -e Dit word vas aan die opvolgende selfstandige naamwoord geskryf, dus “gunstelingstorie”, as ’n samestelling. Dieselfde reël geld vir “reus(e)” en “standaard”.
Verduidelik vir die leerders wat “verbeelding” beteken – jy dink aan iets wat nie werklik voor jou is nie. Terwyl jy ’n storie lees (of na ’n storie luister), verbeel jy jou (in jou kop) hoe die karakters in die storie lyk en hoe die gebeure afspeel, amper asof daar ’n fliek in jou kop speel. Hierdie “wêreld” in jou kop is jou verbeelding.
Indien die leerders nie verstaan nie, doen ’n paar oefeninge waar hulle hul oë toemaak, na ’n beskrywing luister en hul die toneel verbeel. Beskryf byvoorbeeld ’n dag op die strand, in die winkel, op die bus – situasies waarmee die leerders bekend is. Wees baie beskrywend, byvoorbeeld: Jy is in ’n groot winkel. Daar is baie mense om jou. Daar speel musiek in die winkel (kan jy dit hoor?). Die rakke is hoog, en jy staan voor die lekkergoedrak. Wat sien jy alles? Watter lekkergoed sal jy wil koop?
Die leerders kan terugvoer gee oor wat hulle in hul verbeelding gesien het.
Lees dan die volgende paragraaf hardop. Dit is ’n inleiding tot die storie waarna die leerders gaan luister. Soos in die vorige aktiwiteit genoem, is Masego baie lief daarvoor om te lees, en sy hou daarvan om te reis.
Omring deur stapels boeke, sit Masego by ’n tafel in die biblioteek. Die boeke om haar vertel stories van avonture in die woud, vreemde wesens in die buitenste ruim, diere wat kan praat en ’n speurder wat agter die kap van ’n nare byl kom. Hierdie stories vat Masego na ’n verbeeldingswêreld. Daar veg sy teen aaklige monsters, sy is die speurder wat die waarheid ontbloot, sy is die kaptein van ’n seerowerskip ... In hiérdie wêreld is Masego aan die stuur (Masego is in beheer van haar verbeelding).
Vra die leerders wat hulle dink die paragraaf sê wat jy gelees het –die paragraaf vertel van stories wat jou verbeelding inspan en jou figuurlik na ander wêrelde neem, m.a.w. as jy lees, gebruik jy jou verbeelding, en jy skep ’n wêreld van jou eie in jou kop.
Moedig leerders aan om spontaan te gesels. Hulle moes in die vorige aktiwiteit gesê het waarom hulle daarvan hou om te lees (of waarom nie). Stem hulle antwoorde ooreen met wat in die boonste paragraaf staan?
Verduidelik die luisterproses. Dit gaan elke keer gebruik word as luisterbegrip getoets word (tot in graad 12). Let wel: Volgens die KABV moet die leerders in hoër grade drie keer na die teks luister –een keer om ’n geheelbeeld te kry, en tydens die tweede en derde lees kan hulle notas neem. Dit is wel nie noodwendig voordelig nie. Leerders moet leer om die eerste keer met volle aandag te luister. Besluit self hoeveel keer om die teks te lees, na gelang van die leerders se luistervaardighede en hoe goed hulle kan onthou.
Die luisterproses
• Lees die teks drie keer voor. Leerders mag die eerste keer net luister.
Grade op skool word met ’n kleinletter geskryf, tensy dit aan die begin van ’n sin is. Dit is nie ’n eienaam nie.
• Hulle moet na die uitspraak van woorde luister – praat duidelik en hard genoeg en spreek woorde met die regte ronding uit (byvoorbeeld “deur” en nie “deer” nie).
• Verduidelik moeilike woorde ná die eerste lees.
SAMPLE
• Daar is gewoonlik vrae, wat die leerders nou mag lees (lees dit vir hulle).
• Lees die teks ’n tweede en derde keer voor, waartydens die leerders notas mag maak.
• Leerders kan die notas in hul werkboek maak, byvoorbeeld:
15 Januarie 2023 Aktiwiteit 2
Notas
Masego in die biblioteek. Wie het die eerste boek geskryf?
... Vrae 1.
• ’n Volledige gids wat alle tekste vir begripstoetse, asook luister- en leesvaardighede bevat.
• Omvattende verduidelikings van taalbegrippe wat maklik is om te verstaan.
• Stap-vir-stap-riglyne om lesse aan te bied.
• ’n Verskeidenheid prettige en praktiese aktiwiteite wat leerders betrek en help om taalbegrippe vas te lê en in te oefen.
• Interessante temas wat op graad 4’s se algemene kennis fokus en hulle nuuskierigheid oor die wêreld aanwakker.
• Moedig onafhanklike denke aan en ontwikkel redeneervermoë.