Intermediêre Fase Graad 5 • Fasiliteerdersgids 1/2 Afrikaans Huistaal

Page 1


Afrikaans Huistaal

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Afrikaans Huistaal

Leselemente

LEERDOELWITTE

Wat die leerder aan die einde van die les moet weet. Geneem uit die KABV.

AKTIWITEIT

Bevat die kerninhoud en vrae om die leerder se kennis te toets.

WOORDESKAT

Die betekenis van moeiliker woorde in tekste.

KERNINHOUD

Die inhoud wat verstaan moet word; verduideliking van begrippe

DEFINIEER

Definisies van sommige begrippe.

BELANGRIK

Belangrike aspekte om van kennis te neem.

WENKE

Om die begrippe beter te verstaan; om in die leerproses te help.

V IR DIE NUUSKIERIGES

SAMPLE

Aansporing om die inhoud na te vors of navorsing om algemene kennis uit te brei. Brei die aktiwiteit tot só ’n mate uit dat die leerder aangemoedig word om te verken.

G05 ~ Afrikaans Huistaal

Voorwoord

Die handleiding en fasiliteerdersgids dek al die werk van graad 5 Afrikaans Huistaal (AHT). Die boeke is saamgestel in lyn met die KABV-riglyne wat die Departement van Basiese Onderwys vereis.

Die KABV gee ’n uiteensetting van die minimum werk wat gedek moet word. Die handleiding en fasiliteerdersgids bevat soms meer inligting as wat die KABV vereis. (Meer inligting hieroor onder die bespreking van die afdelings in die boek en onder die opskrif “Beplanning”.)

Die boeke is in vier eenhede en 18 lesse verdeel. Elke les word oor ’n tydperk van twee weke behandel (12 uur), en elke eenheid strek oor ’n kwartaal. Eenheid 1 en 2 is in fasiliteerdersgids 1/2, en eenheid 3 en 4 is in fasiliteerdersgids 2/2. (Die handleiding is in vier boeke verdeel, elke eenheid op sy eie.)

Eenheid 1 bestaan uit vyf lesse.

• Les 1: Soos die stukke van ’n legkaart

• Les 2: Van tjoekie tot tjoema

• Les 3: Gesonde liggaam, gesonde gees

• Les 4: ’n Vriend in nood

• Les 5: In Sprokiesland

Eenheid 3 bestaan uit vyf lesse.

• Les 10: Op die spoor

• Les 11: Advertensies: oorreed of vergeet

• Les 12: As jou oë groter as jou maag is ...

• Les 13: Vandag vermorsing, môre verknorsing

• Les 14: In die kollig Eenheid 2 bestaan uit vier lesse.

• Les 6: Wat die oog nie sien nie ...

• Les 7: Blokkiesoë

• Les 8: Goggas en goeters onder die grond

• Les 9: Rillings en grillings

Eenheid 4 bestaan uit vier lesse.

• Les 15: Abrakadabra!

• Les 16: Die plaag van plastiek

• Les 17: Reënboogpotte wat prut

• Les 18: Dwergies in die tuin

Die lesse is in aktiwiteite opgedeel, wat die leerinhoud en vrae daaroor bevat. Elke les bestaan uit vier afdelings:

1. Luister en praat 3. Skryf en aanbied

2. Lees en kyk

SAMPLE

4. Taalstrukture en -konvensies

Die boeke is geskryf as ’n volledige hulpbron vir al die werk wat die KABV vereis binne die voorgeskrewe tydstoekennings met ekstra aktiwiteite om begrippe in te oefen. Al die inhoud kan gedek word volgens die aktiwiteite in die boeke, of slegs sekere aktiwiteite kan gedoen word. Gebruik jou eie oordeel oor die vlak waarop die leerders is, en pas die inhoud en tydstoekenning daarvolgens aan.

Afdeling 1: Luister en praat Luister en praat is integraal in alle tale. Hoe meer ’n taal gehoor en gepraat word, hoe makliker word sinskonstruksie en grammatika aangeleer. Elke les begin met die bespreking van ’n onderwerp, wat die les inlei. Dit is belangrik dat leerders spontaan gesels. Hul selfvertroue sal verbeter hoe meer hulle praat, wat hulle ook sal help om gemakliker met toesprake te wees.

Dit is belangrik om woorde duidelik en korrek uit te spreek wanneer tekste hardop gelees word. Help leerders ook reg as hulle sinskonstruksie of woordgebruik verkeerd is wanneer hulle praat. Moedig leerders aan om minstens een keer ’n week ’n Afrikaanse televisieprogram te kyk of na ’n Afrikaanse radioprogram te luister.

G05 ~ Afrikaans Huistaal

Dit is ook belangrik om kennis van die luisterproses te neem, wat veral in hoër grade tydens luistertoetse toegepas word. Die luisterproses word in aktiwiteit 2 uiteengesit.

• Luisterproses: Volg die luisterproses vir die eerste paar weke, en kyk hoe die leerders vorder. Indien dit nie vir hulle nodig is om drie keer na die teks te luister nie, hoef die teks nie ’n derde keer gelees te word nie. Dit is goed as die leerders tydens die eerste lees op al die belangrike inligting let. Die luisterproses moet egter in take/eksamens gevolg word.

• Lees hardop: Nie al die “lees hardop”-aktiwiteite hoef gedoen te word nie, maar leerders moet oefen om voorbereid én onvoorbereid hardop te lees. Assesseer hulle informeel met die rubriek in die aktiwiteite, of gebruik die rubriek in die bylae hiervoor. Leerders kan mekaar ook soms assesseer. Leerders wat minder gevorderd is, sal dalk nie die hele teks kan lees nie –neem altyd elke leerder se leesvaardighede in ag. Die doel van die informele assessering is om leerders se leesvaardighede te verbeter, nie om hulle af te skrik nie.

Pas die aktiwiteite toe na aanleiding van leerders se vaardighede. As hulle oë byvoorbeeld te stadig oor die bladsy beweeg, kan die aktiwiteit vervang word met ’n teks waar hul oogbeweging geoefen word, byvoorbeeld:

Dit is hoe ons lees. Ek beweeg my oë van links na regs.

• Transkribering: Indien daar tyd is, lees ’n paar sinne van die les se luisterteks stadig, en die leerders skryf neer wat jy sê (transkribering). (Dit word nie regdeur die lesse genoem nie, maar hou dit in gedagte tydens beplanning van die aanbieding van die lesse.)

Soos later onder “Beplanning” genoem word, moet die aktiwiteite in die afdelings oor die twee weke van die les strek, en daar moet elke week aandag aan al vier afdelings gegee word. Daar moet dus in week 1 en week 2 aktiwiteite uit “luister en praat” gedoen word.

SAMPLE

Afdeling 2: Lees en kyk

Hoe meer leerders met Afrikaanse tekste te doen kry, hoe makliker gaan hulle die taalgebruik verstaan en dinge soos spelpatrone optel. Hulle woordeskat sal ook uitbrei hoe meer hulle lees.

Leerders kry in graad 5 met langer tekste te doen. Staan die leerders veral in kwartaal 1 by met die lees van tekste deur die tekste hardop te lees voordat hulle dit op hul eie lees. Dit is wel goed as leerders die tekste op hul eie kan lees en kan verstaan wat daar staan.

Die tekste in die boeke begin by die minimum vereiste van die KABV (200 tot 250 woorde) en neem toe soos die jaar vorder. ’n Groot probleem onder leerders is dat hulle sukkel om met begrip te lees, juis omdat hulle te min lees. Die boeke probeer die leerders aanmoedig om ’n bietjie meer te lees en om hulself uit te daag. As die tekste te lank vir hulle is, laat hulle byvoorbeeld net die helfte van die teks op hul eie lees. (Die vrae oor die dele wat hulle nie lees nie, kan dan uitgelaat word.)

Dit is belangrik dat leerders selfstandig lees. Verleen altyd hulp met die uitspraak of betekenis van woorde. Daar word ’n halfuur per les vir selfstandige lees toegeken. Moedig die leerders aan om

G05 ~ Afrikaans Huistaal

elke kwartaal ’n boek op hul eie te lees. Dit word aanbeveel om dit ’n instelling in die klas te maak dat leerders selfstandig moet lees as hulle klaar is met hulle werk. (Meer inligting hieroor by les 1 se “selfstandige lees”-aktiwiteit.)

Dit is baie waardevol as ouers by die huis saam met hul kinders lees. Moedig ouers aan om ’n paar dae ’n week saam met hul kinders te sit en lees, al is dit net 15 minute.

Die verduideliking van taalbegrippe en vrae daaroor is meestal in afdeling 2 vervat. (Meer daaroor onder “Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies”.)

Afdeling 3: Skryf en aanbied

Hoe meer die leerders in Afrikaans skryf, hoe beter. Wanneer ’n mens skryf, is jy meer geneig om grammatika beter te verstaan en spelling te oefen. Let op die skryfproses, wat in afdeling 3 van les 1 uiteengesit word. Moedig leerders aan om soveel as moontlik in Afrikaans te skryf. Hulle kan byvoorbeeld elke dag, buiten die aktiwiteite in die handleiding, ’n paragraaf skryf oor dit wat hulle die vorige dag ná skool gedoen het, of dit kan met die aktiwiteite van die dag skakel.

Die leerders word aan ’n verskeidenheid tekssoorte blootgestel, byvoorbeeld stories, dialoë, artikels, plakkate en gedigte. In hierdie boeke word meer skryfaktiwiteite en tekssoorte gegee as wat die KABV vir elke les vereis. Tekste wat die KABV vir elke les vereis, word so in die fasiliteerdersgids aangedui met “verplig” in ’n blokkie langs die aktiwiteit se opskrif. Die leerders hoef nie die ander skryfaktiwiteite ook te doen nie, maar verskeie tekssoorte kan in die eksamen voorkom. Die meeste tekssoorte wat in graad 5 voorkom, is in graad 4 behandel en is dus hersiening. Daar word ook in die KABV genoem dat alle tekssoorte deel van onderrig moet vorm, al word dit nie by die onderrigplan ingesluit nie. As leerders nou al die formaat van die tekssoorte leer, sal die skryf van tekste in ander grade makliker wees, veral in die Senior- en VOO-fase. Die ekstra skryfaktiwiteite word veral gegee vir leerders wat meer wil oefen of op hul eie wil skryf. Moedig dit aan, en help leerders om hul skryfvaardighede te verbeter.

Die lengte van die tekste is volgens die KABV se vereistes, maar dit kan party leerders se kreatiwiteit inperk, veral by die skryf van ’n opstel of ’n storie. Gebruik eie oordeel om te bepaal of hulle by die vereiste aantal woorde moet bly en of hulle langer tekste mag skryf. Die KABV se vereistes is as volg:

SAMPLE

Paragraaf 60 – 80 woorde

Opstel 120 – 140 woorde

Kortverhaal en storie 140 – 160 woorde

Brief 80 – 100 woorde

Dagboekinskrywing 80 – 100 woorde

Dialoog

Instruksies

80 – 100 woorde

40 – 60 woorde

Boodskappe 40 – 60 woorde

Opsomming

50 – 60 woorde

Onthou ook dat die afdelings deur die loop van die twee weke vermeng moet word. Party skryfaktiwiteite moet dus in week 1 van die les al gedoen word (al handig die leerders hul finale skryfstuk dalk eers oor ’n week of twee in).

Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies

Die grondslag vir grammatika word gelê deur Afrikaans te hoor en te lees. Die KABV vereis slegs een uur per les (per twee weke) se formele onderrig in taalbegrippe. Dit is egter nie noodwendig voldoende om taalbegrippe en grammatika vas te lê en in te oefen nie. Dit is goed om ’n beter grondslag van taalbegrippe in graad 4 tot 6 te lê, wat ook beteken dat die leerders grammatika en taalreëls in hoër grade beter sal verstaan en kan toepas. Die meeste taalbegrippe is hersiening

Fasiliteerdersgids 1/2

G05 ~ Afrikaans Huistaal

van taalbegrippe wat in vorige grade geleer is. Hoe meer leerders die toepassing van taalbegrippe oefen, hoe beter, daarom word ekstra aktiwiteite oor taalbegrippe gegee.

Die verduideliking van taalbegrippe kom meestal in afdeling 2 voor, maar onthou om die aktiwiteite oor die volle twee weke te strek. In hierdie boeke is daar net ’n hersieningsoefening in afdeling 4. Hierdie aktiwiteit kan gebruik word as ’n informele toets om te kyk of leerders die begrippe al bemeester het. In party hersieningsaktiwiteite word vrae gegee oor begrippe wat in vorige lesse gedek is om leerders se geheue te verfris.

Dit is nie nodig om al die verduidelikings by taalbegrippe te volg of dat leerders dit leer nie. In baie gevalle is die verduidelikings in die fasiliteerdersgids meer omvattend as in die handleiding. Dit is sodat die fasiliteerder ’n goeie begrip van die konsepte het om dit vir die leerders te kan verduidelik. Die doel van die verduidelikings is om te help om begrippe beter te verstaan, veral as leerders dalk nie kan onthou hoe om ’n begrip toe te pas as hulle op hul eie werk nie – dan is die verduideliking daar om die leerder te help.

Al die taalwerk wat die KABV se onderrigplan vir elke les aanbeveel, word in die boeke gedek. Dit is nie nodig om al die taalaktiwiteite in elke les te doen nie. Daar is ekstra aktiwiteite oor taalbegrippe om dit vir die fasiliteerder makliker te maak, sodat dit nie nodig is om ekstra oefeninge op te stel of te soek nie. Gebruik jou eie oordeel oor die vlak waarop die leerders is en hoeveel taaloefeninge hulle moet doen. Kies ook begrippe waarmee leerders meer oefening benodig. Hulle kan byvoorbeeld slegs een vraag per aktiwiteit doen, of meer gevorderde leerders kan al die vrae beantwoord. Die ekstra vrae kan as huiswerk gegee word. Ekstra aktiwiteite oor die meeste taalbegrippe word deur die jaar gegee, juis om begrippe goed onder die knie te kry.

Daar is spasie om party aktiwiteite in die handleiding te beantwoord. Dit word wel aanbeveel dat leerders die antwoorde in hul werkboek oorskryf om sinskonstruksie en spelling te oefen. Besluit self of die vrae in die handleiding of werkboek beantwoord moet word. As daar in die vraag genoem word dat leerders die sinne moet oorskryf, hoef dit nie in alle gevalle oorgeskryf te word nie. Dit is wel voordelig om sinskonstruksie só te oefen.

SAMPLE

Dit is uiters belangrik dat taalbegrippe goed vasgelê word – dit vorm die basis vir taalwerk tot in graad 12. Hoe meer leerders met die verskeie taalbegrippe in aanraking kom, hoe beter word dit vasgelê. Let ook op dat leerders meer selfstandig begin werk soos die jaar vorder. Verleen hulp waar nodig.

Let wel: Daar is baie wisselvorme en maniere van skryf, byvoorbeeld getalle wat los, vas of met ’n koppelteken geskryf kan word. Party maniere van skryf word aanbeveel, maar as leerders dit op ’n ander manier skryf wat ook taalkundig korrek is, kan dit nie verkeerd gemerk word nie. Daar is soms notas hieroor deur die fasiliteerdersgids, maar nie in alle gevalle nie. Raadpleeg die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls om seker te maak leerders word nie gepenaliseer nie.

TYDSTOEKENNING

Die KABV veries dat leerders 6 uur per week in Afrikaans Huistaal onderrig word, dus 12 uur per les (wat oor twee weke strek). Dit beteken dat huiswerk nie by hierdie tyd ingesluit is nie. Indien leerders dus die aktiwiteite nie tydens onderrigtyd klaarkry nie, moet hulle dit as huiswerk voltooi. Kies aktiwiteite en vrae na gelang van die leerders se vaardighede.

In elke les (twee weke) moet daar 2 uur aan luister en praat bestee word, 5 uur aan lees en kyk, 4 uur aan skryf en aanbied en 1 uur aan taalstrukture en -konvensies. Soos genoem, vereis die

G05 ~ Afrikaans Huistaal

KABV dat taalstrukture en -konvensies binne konteks aangeleer word, dus is die tyd hiervoor ingesluit in die KABV se voorgestelde tye vir die verskillende afdelings.

Let wel dat die tydstoekenning by die aktiwiteite nie tot 12 uur per tweeweeksiklus optel nie. Dit is omdat die tyd wat aan ’n aktiwiteit afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word en deur hoe vinnig leerders werk. Party aktiwiteite vat ook langer, waar die fasiliteerder die leerders se lees assesseer, die voordra van ’n gedig, toesprake, ensovoorts. Hier kan die aktiwiteit oor ’n paar dae strek sodat alle leerders kans kry om die aktiwiteit te voltooi. Neem ook kennis dat die tydstoekenning slegs riglyne is.

Gebruik eie oordeel om seker te maak die leerders doen ’n paar aktiwiteite oor ’n begrip of ’n vaardigheid deur die jaar. In sommige gevalle strek ’n aktiwiteit oor meer as een periode – wees oordeelkundig in die benadering van die lesse.

BEPLANNING

Die boeke is só saamgestel om die fasiliteerder soveel as moontlik by te staan. Dit is steeds nodig om lesbeplanning te doen aangesien verskeie vaardighede en afdelings deur die loop van elke week aangeraak moet word en die boeke volgens afdelings opgestel is (luister en praat, lees en kyk, skryf en aanbied en taalvaardighede en -konvensies). Byvoorbeeld, in les 2 moet die leerders ’n toespraak skryf en lewer. Hulle leer op dag 1 of 2 van die week oor die toespraak en hoe om ’n toespraak te skryf, en moet dus in week 1 al hul eie toespraak skryf wat in week 2 van die les gelewer word. Die aktiwiteit “skryf ’n toespraak” is in afdeling 3 van die les, maar hulle moet dit in week 1 al doen. Leerders moet skryfaktiwiteite in week 1 al begin doen, al handig hulle die finale weergawe eers die volgende week of oor drie weke in. Onthou om aktiwiteite van al die afdelings deur die loop van die twee weke te doen.

Die aanbied van die lesse moet dus noukeurig beplan word. Party aktiwiteite vereis ook meer voorbereiding. Weer eens, dit is nie nodig om al die aktiwiteite in die boek te doen nie. Enige aktiwiteit kan aangepas, vervang of uitgelos word.

SAMPLE

Gaan deur die les, en kyk wat om voor te berei (soos om die hardop lees van ’n teks te oefen, die klas te versier om by die die tema van die les te pas, die nodige voorbereiding vir taalspeletjies en ander aktiwiteite te doen, om vir die leerders te sê dat hulle volgende week items klas toe moet bring, ensovoorts). Beplan ook watter aktiwiteite op watter dag van die tweeweeksiklus behandel gaan word (dag 1 tot 10). (Dit sal ook afhang van die leerders se skedule in ander vakke.)

Soos reeds genoem, is dit nie nodig dat leerders al die aktiwiteite doen nie, en leerders hoef nie al die vrae te beantwoord nie, of dit kan geheel uitgelos word, veral as leerders ’n taalbegrip reeds bemeester het. As leerders byvoorbeeld verstaan hoe afkortings werk, kan hulle die aktiwiteit oor afkortings as hersiening by die huis doen (wat dan in die klas gemerk word), of dit kan heeltemal uitgelos word.

WOORDESKAT EN SPELLING

Leerders maak ’n woordeboek in les 1. Hulle kan enige woorde wat vir hulle nuut of moeilik is in die woordeboek skryf. (Maak seker hulle spel die woorde reg.) Hulle verduidelik dan die betekenis van die woorde met ’n sin of ’n prentjie (meer besonderhede in les 1).

Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van elke les. (In plaas hiervan kan hulle elke dag of aan die einde van elke week ’n speltoets skryf.) Die lys spelwoorde is aan die einde van elke les. Dit is woorde waarmee hulle deur die loop van die les te doen kry of woorde wat leerders oor die

Fasiliteerdersgids 1/2

G05 ~ Afrikaans Huistaal

algemeen sukkel om te spel, maar dit kan met ander woorde vervang word. Soos aan die begin van elke les genoem, moet die leerders genoeg tyd kry om die spelling van die woorde te leer.

Nadat lettergrepe behandel is, word aangeraai dat leerders die woorde in elke speltoets in lettergrepe verdeel en met ’n glimpen (highlighter) uitlig waar hulle moontlik verkeerd kan spel. Dit help hulle om vir lokvalle uit te kyk en ook om die spelling beter te onthou. Moedig die leerders aan om die spelling van die woorde elke dag skriftelik te oefen.

WOORDELYSTE

Die woordelyste in die bylae is vir verwysing. Daar is lyste met trappe van vergelyking, sinonieme en antonieme, geslag, vergelykings, ensovoorts. (Die lyste is nie allesomvattend nie.) Leerders kan van die inligting in die bylae leer nadat die begrippe in die handleiding behandel is. Dit vergroot hul woordeskat, en dit is kennis wat hulle tot in graad 12 gaan gebruik, asook in die alledaagse lewe. Hulle kan af en toe ’n kort, informele toetsie daaroor skryf. Gee hulle byvoorbeeld vyf idiome of homofone om te leer, nie al die woorde in die lyste nie.

OOR DIE TEKSTE

• Die nodige toestemming is verkry om die gedigte, stories en spotprente in die boeke te gebruik.

• Waar daar nie erkenning gegee word nie, het die skrywer van die boek self die tekste geskryf. (Dit sluit gedigte in.)

• Alle ander tekste, soos koerant- en tydskrifartikels, instruksies en plakkate is uit verskeie bronne geskryf/saamgestel. By alle koerant- en tydskrifartikels is die joernaliste se name fiktief.

• Soos onder “Afdeling 2: lees en kyk” genoem, is van die tekste in die boeke langer as wat die KABV aanbeveel. Leerders behoort in staat te wees om die hele teks te lees, maar indien hulle nie kan nie, hoef hulle nie die hele teks te lees nie.

ANDER ASPEKTE OM VAN KENNIS TE NEEM

• Regdeur die handleiding verskyn Zak die taalmonster. Hy gee vir leerders wenke en gaan saam met hulle op die reis deur graad 5 Afrikaans Huistaal.

• Elke les het ’n tema. Probeer om die tema so lewendig as moontlik te maak – die klas/vertrek kan byvoorbeeld volgens die tema van die les versier word. Leerders kan ook prentjies oor die tema inkleur (indien daar tyd ná onderrigtyd oor is), en dit kan in die klas opgesit word.

SAMPLE

• Die boeke het ook ten doel om die leerders se algemene kennis uit te brei en hulle aan nuwe onderwerpe bloot te stel. Die leerders moet ook nie net taalbegrippe bemeester nie, hulle moet leer om selfstandig te dink en te redeneer. Die aktiwiteite probeer ook om hulle goeie waardes te leer, soos om behulpsaam te wees en vir die omgewing om te gee.

• Dit is belangrik om leerders se vaardighede aan die begin van die jaar te bepaal om te sien op watter vlak hulle is en watter werk van vorige grade hulle dalk nog nie bemeester het nie.

• Daar is ’n tabel aan die begin van elke les in die fasiliteerdersgids. Hierdie tabel bevat die aktiwiteite waarin die begrippe hoofsaaklik behandel word, saam met die tydstoekenning. Hierdie begrippe (byvoorbeeld sinonieme en antonieme) kan ook in ander aktiwiteite in die les voorkom (soos in die leesbegripvrae).

• Baie aktiwiteite vereis dat leerders in pare, groepe of as ’n klas werk. Indien daar slegs een leerder is, moet die fasiliteerder instaan.

G05 ~ Afrikaans Huistaal

• Daar word by sommige aktiwiteite ’n rubriek vir informele assessering gegee. Die rubrieke vir formele assessering is in die bylae. Dit is jou keuse oor watter rubriek om te gebruik –leerders moet gewoond raak aan die rubrieke waarvolgens hulle geassesseer word, maar dit hoef nie vir elke aktiwiteit gebruik te word nie.

• Soos genoem, moet die leerders vir sommige aktiwiteite items klas toe bring – beplan vooruit en gee die leerders genoeg tyd om die items te kry. Hulle moet byvoorbeeld soms tydskrifte/koerante klas toe bring of ’n rekwisiet om rolspel mee te doen. Gee hulle byvoorbeeld ’n week of twee om die items te kry. Daar kan natuurlik ook tydskrifte/koerante en rekwisiete in die klas vir sulke aktiwiteite gehou word.

• In die “woordeskat”-blokkies word definisies van party woorde in die tekste gegee. Die woorde wat se definisie gegee word, is in vetdruk in die teks. Dit word ook binne konteks van die teks gegee.

• By sommige tekste word die uitspraak van moeiliker woorde gegee, byvoorbeeld: Duidelik word uitgespreek as “dui-dlik”. (E’s wat as i uitgespreek word, word so aangedui, byvoorbeeld “sommige” se uitspraak word as “so-mi-gi” gegee.)

• Leerders kan kort, informele toetse oor taalbegrippe skryf, byvoorbeeld oor geslagsvorme, intensiewe vorme, vergelykings, ensovoorts.

• Waar die leerders sukkel om die antwoord op ’n vraag te kry, moenie die antwoord weggee nie Vra vrae wat hulle sal help om die antwoord te bepaal.

• Die opskrifte in die boeke is sover moontlik volgens die KABV se opskrifte.

• Meer gevorderde leerders kan deur die jaar navorsing doen, ’n plakkaat oor die les se tema maak en vir die klas daarvan vertel. (Voorstelle word in “Vir die nuuskieriges”-blokkies gegee.)

SAMPLE

• Leerders moet met iets soos klaspunte gemotiveer word. (Daar word deurgaans na klaspunte in aktiwiteite verwys, veral by speletjies.) Gebruik eie oordeel oor hoe om dit aan te wend. Aan die einde van elke week of les kan die leerders met die meeste klaspunte ’n beloning kry, selfs al is dit ’n sertifikaat. Die klaspunte moet nie net vir akademiese prestasie gegee word nie, maar ook vir dinge soos hulpvaardigheid, vriendelikheid, ensovoorts.

• Kleurvolle plakkate oor taalbegrippe en dinge soos die skryfproses kan in die klas opgesit word.

WERKBOEK

Elke leerder moet ’n lyntjiesboek (’n skrif) met 72 bladsye of ’n swart hardebandboek hê om die aktiwiteite in te doen. (Hulle mag dalk later die jaar nóg ’n werkboek benodig.)

Daar word aanbeveel dat leerders belangrike inligting in hul werkboek oorskryf en nie net die opdragte in die aktiwiteite volg en die vrae beantwoord nie. Laat hulle byvoorbeeld neerskryf wat ’n sinoniem is of hoe ’n selfstandige naamwoord uitgeken word. Hulle kan ook die antwoorde van elke bespreking in hul werkboek skryf ná die bespreking afgehandel is.

Leerders moet ook ’n A5-lyntjiesboek (of ’n A4-boek) vir hul eie woordeboek hê (meer inligting onder “Woordeskat en spelling”).

Fasiliteerdersgids 1/2

G05 ~ Afrikaans Huistaal

VOORGESKREWE

EN AANBEVOLE BOEKE

Daar word geen addisionele boeke vir Afrikaans Huistaal voorgeskryf nie.

Leerders moet toegang tot ’n goeie, verklarende woordeboek (soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal – HAT) of ’n skoolwoordeboek hê. Woordeboeke is duur, maar ’n bron van onskatbare waarde wat hulle tot in graad 12 gaan gebruik. ’n Tesourus is ook voordelig.

Soos reeds genoem, word leerders aangemoedig om minstens een boek per kwartaal te lees. Dit kan enige toepaslike boek van die leerder se keuse (en op sy/haar leesvlak) wees. Hoe meer daar gelees word, hoe makliker en beter word grammatika, spelling en taalbegrippe aangeleer.

Aanbevole boeke

• Ouma Mollie en die mensvreter – Fanie Viljoen

• Ouma is ’n kroek! – David Walliams

• Oupa ontsnap – David Walliams

• Waldo en die vampier met die geel reënjas

– Jaco Jacobs

• Net aliens eet spinasie – Jaco Jacobs

• Speurhond Willem-reeks – Elizabeth Wasserman

• Sanri Steyn-reeks – Theresa van Baalen

• Aksieheld Austin-reeks – Fanie Viljoen

• Pieksel – Fanie Viljoen

• Kies-jou-avontuur-reeks – De Wet Hugo

• Die swart kat-reeks – Chris Sasner

Gaan snuffel rond tussen die boekrakke van die biblioteek of die naaste boekwinkel.

FORMELE ASSESSERING

Geen aktiwiteit in die handleiding word as formele assessering gedoen nie. Raadpleeg die portefeuljeboek vir alle formele assessering.

Eksamens

Daar is twee eksamens in graad 5, in Junie en November. ’n Voorbeeld van eksamenvraestelle word in die bylae gegee. Laat leerders dit ter voorbereiding op eksamens skryf sodat hulle die formaat kan sien en gewoond kan raak aan die manier waarop vrae gevra word. Soek addisionele vraestelle op die internet.

SAMPLE

Die samestelling van vraestelle is as volg, maar dit is onderhewig aan verandering. Verwys altyd na die portefeuljeboek en assesseringsplan vir die jongste inligting oor die samestelling van eksamens.

• Vraestel 1 (word deur die loop van die kwartaal geasseseer): Mondeling (lees hardop / luisterbegrip / toespraak / rolspel, ens.)

• Vraestel 2: Leesbegrip en taal (leesbegrip van ’n teks, leesbegrip van ’n visuele teks, opsomming, taalstrukture en -konvensies)

• Vraestel 3 (kan deur die loop van die kwartaal geasseseer word): Skryf (opstel en transaksionele teks, soos ’n dialoog, dagboekinskrywing, boodskap, ens.)

Jaarplan

Werk volgens die jaarplan om seker te maak dat al die werk betyds behandel word sodat leerders gereed is vir die eksamens.

Eenheid

1

LES 1: Soos die stukke van ’n legkaart

LES 2: Van tjoekie tot tjoema

LES 3: Gesonde liggaam, gesonde gees

LES 4: ’n Vriend in nood

LES 5: In Sprokiesland

LES 6: Wat die oog nie sien nie ...

LES 7: Blokkiesoë

2

– 4

– 6

– 8

– 10

– 2

3

LES 8: Goggas en goeters onder die grond 5 – 6

LES 9: Rillings en grillings

4

LES 10: Op die spoor

LES 11: Advertensies: oorreed of vergeet

– 4

LES 12: As jou oë groter as jou maag is ... 5 – 6

SAMPLE

LES 13: Vandag vermorsing, môre verknorsing 7 – 8

LES 14: In die kollig 9 – 10

LES 15: Abrakadabra! 1 – 2

LES 16: Die plaag van plastiek

LES 17: Reënboogpotte wat prut

LES 18: Dwergies in die tuin

EENHEID 1: Week 1 – 2

Les 1:

Soos die stukke van ’n legkaart

Luister en praat

Vaardighede Aktiwiteit Tydstoekenning

Neem deel aan ’n bespreking

Luister na ’n storie

Beantwoord vrae

Aktiwiteit 1 15 minute

Aktiwiteit 2 30 minute

Aktiwiteit 3 20 minute

Lees hardop Aktiwiteit 4 40 minute

Speel ’n taalspeletjie

Lees en kyk

Lees ’n storie

Beantwoord vrae

Vertel die storie oor

Selfstandige lees

Skryf en aanbied

Skryf ’n storie

Skryf ’n opsomming

Taalstrukture en -konvensies

Werk met woorde

Alfabetiese volgorde

Gebruik ’n woordeboek

Maak jou eie woordeboek

SAMPLE

Aktiwiteit 5 20 minute

Aktiwiteit 6 30 minute

Aktiwiteit 7 20 minute

Aktiwiteit 8 15 minute

Aktiwiteit 21 30 minute

Skryf ’n paragraaf Aktiwiteit 22 40 minute

Aktiwiteit 23 2 uur

Aktiwiteit 24 30 minute

Aktiwiteit 9 15 minute

Aktiwiteit 10 15 minute

Aktiwiteit 11 15 minute

Lettergrepe, klankgrepe en die afbreek van woorde

Werk met sinne

Sinsoorte

Tydsvorme

Ontkenning

Spelling en punktuasie

Hoofletters en leestekens

Die kappie

Die deelteken

Woorde wat op d/t eindig

Woorde met f/v

Speltoets

Hersiening

Persoonlike woordeboek

Skryf in jou eie woordeboek

Aktiwiteit 12 20 minute

Aktiwiteit 14 15 minute

Aktiwiteit 15 20 minute

Aktiwiteit 18 30 minute

Aktiwiteit 13 20 minute

Aktiwiteit 16 15 minute

Aktiwiteit 17 15 minute

Aktiwiteit 19 15 minute

Aktiwiteit 20 15 minute

Aktiwiteit 26 5 minute

Aktiwiteit 25 30 minute

Aktiwiteit 11, 27

Let wel: Die KABV se onderrigplan stel voor dat afkortings in hierdie les behandel word, maar dit word in les 2 behandel.

AFDELING 1 LUISTER EN PRAAT

Aktiwiteit 1: Neem deel aan ’n bespreking

15 minute

Elke les begin met ’n interessante feit om die leerders nuuskierig oor die les en tema te maak. Lees dit saam met hulle en, as die tyd dit toelaat, lei ’n gesprek deur vrae te vra. Dit is belangrik dat die leerders leer om selfstandig te redeneer en om oor feite na te dink.

Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van die les. Hulle moet die spelling van die woorde leer. Verwys na die tweede laaste aktiwiteit in die les vir die spelwoorde.

Interessante feit: As jy na ’n nuwe skool toe gaan, kan die eerste dag dalk vreesaanjaend wees en jou angstig laat voel. Jy is dalk bang dat niemand van jou gaan hou nie of dat jy nie gaan inpas nie. Wanneer jy angstig is, gebeur daar baie dinge in jou liggaam. Jou hart klop byvoorbeeld vinniger, jy sweet dalk, en dit voel of jou maag op ’n knop trek, of jy het dalk maagpyn. Haal diep asem, en glo in jouself. Ons almal is ’n unieke stukkie van ’n groot legkaart, en jy sal gou jou plekkie vind.

Omdat dit ’n nuwe skooljaar is, kan die leerders hulself voorstel en iets van hulself vertel, byvoorbeeld wat hulle graag in hul vrye tyd doen of wat hul gunstelingkos is.

SAMPLE

“Gunsteling” is nie ’n byvoeglike naamwoord nie, dit is ’n selfstandige naamwoord. Dit word vas aan die opvolgende selfstandige naamwoord geskryf, dus “gunstelingkos”, as ’n samestelling. Dieselfde reël geld vir “reus(e)” en “standaard”.

Hierdie les gaan oor ons almal wat uniek is en iewers inpas. Baie kinders vind dit vreesaanjaend om die nuwe kind in die skool, klas of buitemuurse klub (soos sport of ’n dansklas) te wees. Die leerders is nou in graad 5 en op ’n ouderdom waar hulle meer oor hulself ontdek en uitvind wie hulle is. Hulle is ook amper tieners, en om in te pas en aanvaar te word, is vir hulle van groot belang.

Grade op skool word met ’n kleinletter geskryf, tensy dit aan die begin van ’n sin is. Dit is nie ’n eienaam nie.

Gesels daaroor om jouself te wees en om aanvaar te word. Tydens besprekings moet die leerders hand opsteek voordat hulle praat en mekaar nie in die rede val nie. Dit is belangrik dat hulle leer om ander se opinies en idees te respekteer, al verskil dit van hul eie.

• Wat beteken dit om jouself te wees?

• Almal is uniek. Weet hulle wat “uniek” beteken? (“Uniek” beteken iets is enig in sy soort, met ander woorde, daar is nie nog ’n persoon wat presies soos jy is nie.)

• Almal het ook unieke eienskappe. Watter unieke eienskappe het die leerders? (Byvoorbeeld vriendelikheid, geduld, liefdevolheid, lojaliteit, deursettingsvermoë, versigtigheid, onselfsugtigheid, positiwiteit, selfsugtigheid, ongeduld, hardkoppigheid.)

• Wat is goeie eienskappe, en wat is slegte eienskappe? Is dit byvoorbeeld ’n slegte ding om hardkoppig of versigtig te wees?

• Dink die leerders dit is belangrik om deel van die groep te wees en in te pas?

• Dink hulle ’n mens moet jouself verander om in te pas? (Juis omdat almal uniek is, is dit nie nodig om te verander of iemand te wees wat jy nie werklik is net om in te pas nie. As jy jouself vir ander moet verander, is hulle dalk in elk geval nie die regte vriende vir jou nie.)

Die leerders werk in pare of groepe en gebruik die legkaart in die bylae om meer oor hulself en hul uniekheid te vertel. As daar net een leerder is, moet die leerder saam met die fasiliteerder werk.

Leerders kan die legkaart op karton plak voordat hulle die stukke uitknip. (Slegs een legkaart per paar/groep is nodig.) Hulle skommel die stukke en verdeel dit tussen hulle. Elkeen gebruik ’n spesifieke kleur om sy/haar karaktereienskappe of dinge waarvan hy/sy hou of nie hou nie op die legkaartstukke neer te skryf. (Of elkeen kan sy/haar stukke ’n spesifieke kleur inkleur.) As die leerders sukkel om aan eienskappe te dink, gee voorbeelde, of help hulle met die regte woord as hulle die eienskap beskryf.

Daarna bou die paar/groep die legkaart saam deur die stukke eers te pas en dan op ’n papier te plak.

Sien die leerders hoe almal se unieke eienskappe saam in ’n legkaart pas? Gesels oor hulle eienskappe en wat dit beteken. Wie het dieselfde eienskappe neergeskryf?

Aktiwiteit 22 in afdeling 3 kan nou gedoen word, veral om die leerders se skryfvaardighede te bepaal. Andersins kan die aktiwiteit later in die week gedoen word.

SAMPLE

Aktiwiteit 2: Luister na ’n storie

30 minute

Verduidelik wat “verbeelding” beteken – jy dink hoe iets lyk wat nie werklik voor jou is nie. Terwyl jy ’n storie lees (of na ’n storie luister), verbeel jy jou (in jou kop/gedagtes) hoe die karakters in die storie lyk, en hoe die gebeure afspeel, amper asof daar ’n fliek in jou kop speel. Hierdie “wêreld” in jou kop is jou verbeelding. Beskrywings in ’n storie is belangrik omdat dit jou help om duideliker in jou verbeelding te sien wat in die storie gebeur.

Indien die leerders nie verstaan nie, doen ’n paar oefeninge waar hulle hul oë toemaak, na ’n beskrywing luister en hul die toneel verbeel. Beskryf byvoorbeeld ’n dag op die strand, in die winkel, op die bus – situasies waarmee die leerders bekend is. Wees baie beskrywend, byvoorbeeld: Jy is in ’n groot winkel. Daar is baie mense om jou. Daar speel musiek in die winkel (kan jy dit hoor?). Die rakke is hoog, en jy staan voor die lekkergoedrak. Wat sien jy alles? Watter lekkergoed sal jy wil koop?

Die leerders kan terugvoer gee oor dit wat hulle in hul verbeelding gesien het.

Verduidelik die luisterproses. Leerders behoort dit van graad 4 te onthou. Die luisterproses word elke keer gebruik as luisterbegrip getoets word (tot in graad 12).

Volgens die KABV moet die leerders in hoër grade drie keer na die teks luister – een keer om ’n geheelbeeld te kry, en tydens die tweede en derde lees kan hulle notas neem. Dit is nie noodwendig voordelig nie. Leerders moet leer om die eerste keer met volle aandag te luister. Besluit hoeveel keer om die teks te lees na gelang van die leerders se luistervaardighede en hoe goed hulle kan onthou.

Die luisterproses

• Lees die teks drie keer voor. Leerders mag die eerste keer net luister.

• Hulle moet na die uitspraak van woorde luister – praat duidelik en hard genoeg, en spreek woorde met die regte ronding uit (byvoorbeeld “deur” en nie “deer” nie).

• Verduidelik moeilike woorde ná die eerste lees.

• Daar is gewoonlik vrae wat die leerders nou mag lees (lees dit vir hulle).

• Lees die teks ’n tweede en derde keer voor, waartydens die leerders notas mag maak.

• Leerders kan die notas in hul werkboek maak, byvoorbeeld:

15 Januarie Aktiwiteit 2

Notas

Nuwe kind in die graad 5-klas – Jaco. Juffrou Barnard, Masego, Hugo (boelie)

Vrae 1.

SAMPLE

Terwyl die leerders luister en notas neem, kan hulle die volgende vrae in gedagte hou:

• Wie is die karakters in die storie?

• Waar speel die storie af?

• In watter graad is die leerders in die storie?

• Waarom is die seun onseker/senuweeagtig?

• Met wie word die seun vriende?

Een van die karakters in die volgende storie is Masego. Kan die leerders haar van graad 4 se stories onthou?

Lees die storie met gevoel, en skep die regte atmosfeer – oefen eers om dit hardop te lees. Leerders moet na die gebeure en besonderhede oplet en notas maak, soos in die luisterproses verduidelik. Onthou om ná die eerste lees deur die woordeskat te gaan om seker te maak die leerders verstaan die storie.

• ’n Volledige gids wat alle tekste vir begripstoetse, asook luister- en leesvaardighede bevat.

• Omvattende verduidelikings van taalbegrippe wat maklik is om te verstaan.

• Stap-vir-stap-riglyne om lesse aan te bied.

• ’n Verskeidenheid prettige en praktiese aktiwiteite wat leerders betrek en help om taalbegrippe vas te lê en in te oefen.

• Interessante temas wat op graad 5’s se algemene kennis fokus en hulle nuuskierigheid oor die wêreld aanwakker.

• Moedig onafhanklike denke aan en ontwikkel redeneervermoë.

• Geskik vir leerders op alle vlakke.

• Gebruik in die klaskamer of tuis.

home classroom college workplace

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.