Intermediêre Fase Graad 5 • Fasiliteerdersgids 2/2 Afrikaans Huistaal
Afrikaans Huistaal
Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
Afrikaans Huistaal
2305-A-AHT-FG02
L van Niekerk 9781990948664
Leselemente
LEERDOELWITTE
Wat die leerder aan die einde van die les moet weet. Geneem uit die KABV.
AKTIWITEIT
Bevat die kerninhoud en vrae om die leerder se kennis te toets.
WOORDESKAT
Die betekenis van moeiliker woorde in tekste.
KERNINHOUD
Die inhoud wat verstaan moet word; verduideliking van begrippe
DEFINIEER
Definisies van sommige begrippe.
BELANGRIK
Belangrike aspekte om van kennis te neem.
WENKE
Om die begrippe beter te verstaan; om in die leerproses te help.
VIR DIE NUUSKIERIGES
SAMPLE
Aansporing om die inhoud na te vors of navorsing om algemene kennis uit te brei. Brei die aktiwiteit tot só ’n mate uit dat die leerder aangemoedig word om te verken.
Voorwoord
Verwys na fasiliteerdersgids 1/2 vir die voorwoord.
SAMPLE
G05 ~ Afrikaans Huistaal
Jaarplan
Werk volgens die jaarplan om seker te maak dat al die werk betyds behandel word sodat leerders gereed is vir die eksamens.
Direkte en indirekte rede Aktiwiteit 235 20 minute
Sinsoorte
Spelling en punktuasie
Speltoets
Hersiening
Persoonlike woordeboek
Skryf in jou eie woordeboek
Aktiwiteit 236 20 minute
Aktiwiteit 244 5 minute
Aktiwiteit 243 30 minute
Aktiwiteit 245
Ander begrippe wat die KABV vir hierdie les aanbeveel, soos sinonieme, antonieme en telwoorde, is in die aktiwiteite vervat.
AFDELING
1
LUISTER EN PRAAT
Aktiwiteit 223: Neem deel aan rolspel
30 minute
Herinner die leerders om die kwartaal ’n nuwe boek te lees. Hulle kan ’n mondelingse boekverslag in les 14 lewer.
Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van die les. Hulle moet die spelling van die woorde leer. Verwys na die tweede laaste aktiwiteit in die les vir die spelwoorde.
Advertensies word in die volgende les behandel. Leerders kan solank gedrukte advertensies soek om die volgende les saam te bring. Hulle kan ook ’n advertensie oor die radio of op televisie opneem. Dit moet verkieslik in Afrikaans wees.
Interessante feit: Elke mens se vingerafdrukke is uniek. Daar is drie hoofsoorte: die boogpatroon, die kolkpatroon en die luspatroon.
SAMPLE
Waarom dink jy is vingerafdrukke so belangrik in speurwerk om kriminele te vang? boogpatroon kolkpatroon luspatroon
Het jy geweet al die vingerafdrukke op elk van jou vingers is ook uniek? Al kry jou liggaam nuwe selle regdeur jou lewe, bly die groefies van jou vingerafdrukke dieselfde. Hoe lyk jou vingerafdrukke? Verf die boonste lit van jou vingers liggies met verf, of druk dit in ink, en druk dan jou vingers op papier. Kan jy sien hoe jou vingerafdrukke verskil?
Hierdie les gaan oor speurders en speurwerk. Versier die klas met voorwerpe of prente van voorwerpe wat met speurwerk te doen het soos ’n vergrootglas, vingerafdrukke, ’n verkyker, ’n kamera, ’n notaboek, plastiekhandskoene, ’n bandopnemer, ens. Kan die leerders raai wat die tema van die les is deur daarna en na die prentjie op die eerste bladsy van die les in die handleiding te kyk?
Die lesnaam, “Op die spoor”, verwys na die idioom “op iemand of iets se spoor wees”, wat beteken om na iemand of iets te soek of iets/iemand te probeer opspoor.
Gesels oor speurwerk en speurverhale.
• Wat is ’n speurder? (’n Lid van die polisie of ’n onafhanklike persoon wat inligting oor misdadigers en misdade versamel om misdadigers te vang.)
• Watter boeke, flieks of TV-reekse ken die leerders wat oor speurders en speurwerk gaan? Hulle kan kortliks vertel waaroor die stories gaan of meer oor die speurders in die storie vertel. Byvoorbeeld Sherlock Holmes, Enola Holmes, Scooby-Doo, Nancy Drew, Hoodwinked, die Sanri Steyn-boekreeks, ens.
• Waarom is daar speurders? (Om inligting en bewysstukke in te samel om misdadigers te vang of om die waarheid te ontbloot.)
• Hoe los speurders raaisels op? (Hulle voer onderhoude met ooggetuies; leidrade soos vingerafdrukke, voetspore, skoenspore, voertuigspore, enige iets met iemand se DNS soos hare, bloed, ens.; vingerafdrukke word op ’n databasis nagegaan om te sien wie s’n dit is; inligting op databasisse word gebruik; beeldmateriaal van sekuriteitskameras, foto’s, selfoonrekords soos oproepe en boodskappe; hulle maak afleidings, ens.)
• Watter ander beroepe doen amper dieselfde soort werk as speurders? (Geoloë, argeoloë, antropoloë, paleontoloë, historici, dokters, noodpersoneel, wildbewaarders, ens. Dit is alles beroepe waarin jy moet agterkom wat gebeur het, hoe dit gebeur het, wat fout is, of wie iets gedoen het.)
Die leerders gaan rolspel doen en self speurder speel om agter die kap van die byl te kom. Weet die leerders wat die idioom “agter die kap van die byl kom” beteken? (Om die waarheid uit te vind, om die fynste besonderhede van iets te verstaan.)
Lees die scenario vir die leerders:
SAMPLE
Dit is Driekie Draak se verjaarsdag! Sy het probeer om ’n koek te bak, maar dit het geflop. Melinda Muis het ingespring en ’n heerlike sjokoladekoek vir haar partytjie gebak. Al Driekie se vriende en bure is by die partytjie. Erik Eenhoring, Piet Padda en Karel Kriek is ook daar. Haar sussie, Drienie Draak, het al die pad van Drakeland af gekom om die partytjie by te woon. Die feesvieringe is buite in die tuin. Almal gesels vrolik, en party gaste dans jolig. Toe dit tyd is om kersies op die koek te sit sodat Driekie dit kan doodblaas, sien Drienie iets vreesliks ... Die koek is skoonveld! Wie is die skuldige smulpaap?
Leerders werk in groepe van vyf, een leerder vir elk van die karakters in vetdruk in die scenario. (As daar minder as vyf leerders is, moet die fasiliteerder die res van die karakters vertolk.) Werk in ’n groot vertrek of buite, sodat daar genoeg plek vir al die groepe is om die rolspel te doen sonder dat hulle mekaar se vrae en antwoorde hoor.
Leerders gaan die karakterkaartjies in die bylae gebruik. As daar meer as vyf leerders is, moet daar kopieë van die kaartjies gemaak word. Knip die kaartjies uit, vou dit toe, en gooi dit in ’n houer vir elke groep. Die leerders in elke groep trek ’n kaartjie. (Of skryf die name van die karakters op papiertjies en gooi dit in ’n houer waaruit hulle trek, en deel dan die kaartjies uit.) Leerders mag nie mekaar se kaartjies sien nie.
“Alibi” is ’n Latynse woord wat ‘elders’ beteken. Dit is ’n leenwoord.
Elkeen bestudeer sy/haar kaartjie en leef hulself in die karakter in om die rol te vertolk. Daar is ’n motief en ’n alibi op elke kaartjie wat gebruik moet word om vas te stel wie die koek gesteel het. Die motief is redes waarom die karakter moontlik die koek sou steel, en die alibi is moontlike redes wat die karakter kan aanvoer om hom-/haarself te verdedig, dat hy/ sy nie die skuldige is nie. (Verduidelik wat “motief” en “alibi” beteken. “Motief” is die rede waarom iemand iets doen, en “alibi” is ’n bewering of omstandighede dat iemand op ’n ander plek was toe die misdaad gepleeg is.)
Die groepe kry byvoorbeeld 15 minute om met die ander karakters in die groep te gesels en vrae te vra om agter te kom wie die koek gesteel het en waarom. Die leerders maak notas terwyl hulle gesels om hulle te help om agter te kom wie die skuldige is. Daar is dus nie ’n definitiewe oplossing tot die raaisel nie, want enige een kan die skuldige wees. Die doel van die aktiwiteit is om rolspel te doen en logiese vrae te vra en afleidings te maak om tot ’n gevolgtrekking te kom.
Die gebeure word in die volgende aktiwiteit bespreek.
Vir die nuuskieriges: Doen navorsing om die vrae te beantwoord.
• Waarom het ons vingerafdrukke? Een van die moontlike redes is dat vingerafdrukke help om die tassin te verbeter. Daar is ’n teorie dat dit jou help om voorwerpe beter vas te vat, veral wanneer jou hande nat is, maar studies toon dat vingerafdrukke nie noodwendig daarmee help nie.
• Watter diere het vingerafdrukke? Primate (soos gorillas en sjimpansees) het vingerafdrukke, en ook koalas.
• Watter diere het unieke eienskappe wat baie soos vingerafdrukke is? Sebras se strepe is uniek, die vlekke op wildehonde se pelse is uniek, kameelperde se kolle is uniek, luiperds het unieke kolpatrone, ens.
Aktiwiteit 224: Neem deel aan ’n bespreking
20 minute
Gesels oor die gebeure in die rolspel in die vorige aktiwiteit. Leerders maak beurte om hulle weergawe van die gebeure te vertel. Wie kan met die snaaksste en/of eienaardigste verduideliking vorendag kom wat verklaar wat met Driekie se verjaarsdagkoek gebeur het? Hou die motiewe en alibi’s op die kaartjies in gedagte.
Hul weergawe van die gebeure moet in die regte volgorde vertel word. Hulle begin deur te vertel wie dit was en waarom en verduidelik dan wat presies gebeur het. Die volgende sleutelwoorde kan gebruik word:
Wat? Waar? Wie? Waarom? Wanneer? Gevolge
Die leerders kan daarna gesels oor situasies waarin hulle moes probeer om die waarheid uit te pluis of moes agterkom wie iets gedoen het. Het iemand dalk lekkers uit die kas gesteel? Het hulle dalk agtergekom dat iemand in hul kamer rondgekrap het? Het hulle dalk al gedink dat iemand vir hulle gejok het? Die sleutelwoorde op die vorige bladsy kan gebruik word.
Aktiwiteit 225: Lees hardop
40 minute
Leerders oefen om die onderstaande teks hardop te lees. Terwyl hulle lees, kan die res van die leerders met ander werk aangaan.
Herinner die leerders aan alles wat belangrik is as jy hardop lees, soos om duidelik en hard genoeg te praat (sonder om te skree) en om die regte intonasie te gebruik. Hulle behoort al in staat te wees om af en toe oogkontak met die gehoor te maak, al is die teks onvoorbereid.
Wenke vir hardop lees
• Spreek die woorde reg uit
• Lees vlot en met gevoel
• Gehoorsaam die leestekens – rus by ’n komma (,), praat ’n bietjie harder as daar ’n uitroepteken (!) is, rus langer by ’n punt (.). As daar ’n vraagteken (?) is, beteken dit jy moet die laaste woord in die sin op ’n hoër toon uitspreek.
• Die leestekens help jou om teen die regte tempo (spoed) te lees.
• Onthou, jy moet nou en dan oogkontak met die gehoor maak.
Assesseer die leerders informeel met die rubriek. Kriteria
Het jy die woorde reg uitgespreek?
Het jy vlot en met gevoel gelees?
SAMPLE
Het jy die leestekens gehoorsaam?
Het jy teen die regte tempo gelees?
| 2 | 3 | 4 | 5
| 2 | 3 | 4 | 5
| 2 | 3 | 4 | 5
| 2 | 3 | 4 | 5
Het jy oogkontak met die gehoor gemaak? 1 | 2 | 3 | 4 | 5
Dit is uiteindelik Driekie Draak se verjaarsdag! Melinda Muis is op pad met ’n heerlike sjokoladekoek, al die versnaperinge is op die tafel gepak, en die tuin is mooi versier. Die gaste is amper daar, en Driekie is besig om die laaste paar goed reg te kry.
“Waar moet ek die koeldrank sit?” vra haar sussie Drienie. Drienie het al die pad van Drakeland af gekom om Driekie se groot partytjie by te woon. Driekie is diep in haar gedagtes verlore. Sy wil vreeslik graag hê alles moet vandag seepglad verloop. Hopelik kom al die gaste goed oor die weg. Almal ken mekaar nie, maar hulle behoort gesellig te kuier, dink Driekie.
“Haai! Driekie! Waar’s jou kop? Ek praat met jou,” probeer Drienie haar aandag kry. Driekie beduie waar om die koeldrank te sit, en haar gedagtes dwaal verder. Karel Kriek is haar nuwe buurman, en sy
weet hy kan lekker stories en grappies vertel om die gaste te vermaak. Die stories oor hom wat die dorp vol loop, is sekerlik nonsens. Net omdat hy in die middel van die nag ingetrek het, beteken nie hy is vreemd of ’n krimineel nie. Of doen dit?
Aktiwiteit 226: Speel ’n taalspeletjie
20 minute
Leerders werk in pare en speel ’n geheuespeletjie (Memory). Hulle knip die prentjies en woorde in die bylae uit (’n stel uit een van die twee se handleiding) en kan dit op karton plak sodat dit makliker is om mee te werk. Hulle skommel die kaartjies, draai dit om en pak dit onderstebo in ’n groot vierkant of reghoek (of ’n ander vorm om die speletjie ’n bietjie moeiliker te maak).
Hulle maak beurte om twee kaartjies op ’n slag om te draai om ’n prentjie en die regte woord te vind. Sodra ’n leerder ’n paar gekry het wat pas, vat hy/sy die kaartjies en sit dit eenkant en mag dan weer probeer. As hy/sy nie weer ’n paar kry nie, is dit die ander leerder se beurt. Die een met die meeste pare kaartjies aan die einde wen die speletjie.
SAMPLE
Daarna kan die leerders die prentjies en woorde in hul werkboek plak (een gebruik die kaartjies waarmee hulle gespeel het, en die ander een knip die kaartjies uit sy/haar handleiding se bylae). Hulle skryf sinne met die woorde om te wys hulle weet wat dit beteken.
Die leerders kan ook bordspeletjies speel, soos Cluedo® of Guess Who®.
AFDELING 2 LEES EN KYK
Aktiwiteit 227: Lees ’n biografie
30 minute
Die biografie is in graad 4 behandel. Kan die leerders onthou wat dit is? ’n Biografie is ’n beskrywing van iemand se lewe, gewoonlik in boekvorm. ’n Biografie word nie geskryf deur die persoon oor wie dit gaan nie. Kan die leerders onthou wat ’n boek genoem word wat die persoon self oor sy/haar lewe skryf? (Outobiografie) (Gee woorde met outo-, soos outomobiel, outomaties, ens. om die leerders te help.)
Kies ’n leerder om die titel en die eerste sin van die biografie op die volgende bladsy te lees. Kan iemand raai wat die beroep van die persoon is waaroor die biografie gaan? (Speurder)
Piet Byleveld is een van die beste speurders in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy het gehelp om hoëprofielmisdadigers, van die land se gewelddadigste kriminele en reeksmoordenaars te vang (dit word nie in die handleiding genoem nie). Dit word nie uitdruklik in die biografie genoem nie, en dit moet dalk nie vir die leerders genoem word nie. Party leerders is baie onskuldig, en hul ouers sal dalk nie wil hê dat hulle aan hierdie onderwerpe blootgestel moet word nie. Die doel van die biografie is om uit te lig dat Piet Byleveld ’n goeie speurder was en hoe hy sake opgelos het deur op fyn besonderhede te fokus. Lees die biografie saam met die leerders, en hulle lees dit dan op hul eie of saam met ’n maat.
SAMPLE
Die biografie is langer as wat die KABV aanbeveel, maar die leerders behoort ’n teks van hierdie lengte te kan lees.
• As jy sukkel om ’n woord uit te spreek, breek die samestelling op, of verdeel die woord in lettergrepe, byvoorbeeld: “motor-voertuig-ongelukke”.
• Die a in “misdadigers” klink lank. Dit word uitgespreek as “mis-daa-di-girs”.
• Die letters in die akronieme SAP en SAPD word afsonderlik uitgespreek.
• Brixton word uitgespreek as “briek-stin”.
• Die titel “adjudant-offisier” word uitgespreek as “ad-juu-dant-o-fi-sier”.
• Die i in “direkteur” klink soos die letter i, nie soos die i in “direk” wat soos ie klink nie – “di-rekteur”.
• Die o en a in “openbare” is lank – “oo-pin-baa-ri.”
• Die e’s in “federale” klink verskillend – “fê-di-raa-li”.
• Ons hoor nie die e in “bydrae” nie. Dit word as “bydra” uitgespreek.
• Die e en a in “beamptes” word afsonderlik uitgespreek – “bi-amp-tis”.
Agter die kAp vAn bAasspeurDer piet Byleveld
Díe bloedhond van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was deur misdadigers gevrees, want as hy eers op jou spoor was, het hy nie gelos voordat hy jou uitgesnuffel het nie. Sy bynaam was met reg Piet Byl. Met sy suksessyfer van 99% in sy loopbaan van amper 40 jaar, verdien hy die titel as Suid-Afrika se beste speurder.
Piet Byleveld (Petrus Erasmus Johan van Staden Byleveld) is op 6 Junie 1950 in Lephalale (voorheen Ellisras), Limpopo, gebore. Hy het op ’n plaas grootgeword en wou eendag ’n predikant word, maar die droom het verander in sy dienspligjaar in die weermag. In 1970 het hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens as studentkonstabel aangesluit.
Nadat hy sy opleiding aan die SAP -kollege voltooi het, waar hy as die tweede beste polisiestudent aangewys is, is hy in Desember 1970 na die Hillbrow-polisiestasie verplaas. Sy loopbaan het begin met die ondersoek van motorvoertuigongelukke , aanrandings en kwaadwillige skade aan eiendom. In 1972 is hy verplaas na die speurtak van die Hillbrowpolisiestasie, en in 1977 is hy bevorder tot speurder-sersant. Op 1 Junie 1977 het hy deel geword van die Brixton -Moord-en-Roofeenheid.
SAMPLE
Tussen 1981 en 1988 het Byleveld aan moordsake begin werk en is bevorder tot speuradjudant-offisier. Daarna het hy die tuig eers neergelê om saam met sy pa te boer. Ná versoeke van die Direkteur van Openbare Vervolging het hy in 1990 teruggekeer na die polisiediens en die moord-en-roof-eenheid, waar hy later die langsdienende lid van die eenheid sou word. Hy is in 1995 bevorder tot luitenant en later kaptein nadat die nuwe rangstelsel geïmplementeer is. In 2007 is hy tot direkteur bevorder.
In 2010 het hy uit die polisiediens getree. Met sy amperse obsessie met detail het hy die kleinste leidrade noukeurig ondersoek. In sy eie woorde in die boek Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder deur Hanlie Retief: “As jy behoorlike speurwerk op die toneel doen, gáán jy die saak oplos.” Te danke hieraan en aan sy unieke onderhoudvoertegnieke en uitsonderlike vermoëns om misdadigers se gedagtes te lees, het hy in sy lang, suksesvolle loopbaan as speurder talle sake opgelos wat vir ander onmoontlik was.
In hierdie tyd het hy as speurder gefokus op rooftogte, en in 1977 het hy saam met kaptein Spyker van Wyk die berugte Stander-bende vasgetrek. Hierdie bende het meer as dertig winkels en banke in Johannesburg beroof.
“As jy behoorlike speurwerk op die toneel doen, gáán jy die sAak oplos.”
– piet Byleveld
Foto: Maroela Media
Hy het van die ergste misdade in Suid-Afrika opgelos en van die gevaarlikste kriminele gevang. Van die bekendste sake is die Knysnasaak (1993), die Kranskop-saak (1996 tot 1997), die Nasrec-saak (1996 tot 2002) en die Wemmerpan-saak (1997 tot 2000), wat hy opgelos het deur ’n bêrekoopstrokie te bespeur wat die skuldige geteken het.
Sy merkwaardige speurwerk was regoor die wêreld bekend. Die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) en die Londense Metropolisie (Scotland Yard) van Engeland het sy kundigheid ingewin. In 2010, kort voor sy aftrede, is hy met
Woordeskat
’n spesiale toekenning deur die Internasionale Polisievereniging (IPA) as een van die drie beste speurders ter wêreld aangewys. Hy ontvang ook die Departement van Justisie se Judicial-toekenning vir sy besondere bydrae tot die bekamping van misdaad in Suid-Afrika, ’n toekenning waarmee slegs sewe beamptes in die geskiedenis van die SAPD vereer is.
Byleveld is op 24 Mei 2017 op die ouderdom van 67 oorlede. Hierdie bobaasspeurder wat in die meeste gevalle agter die kap van die byl gekom het, laat ’n groot leemte agter die misdaadvergrootglas.
bloedhond: ’n soort hond met ’n uitstekende reuksin wat veral gebruik word om misdadigers deur middel van reuk op te spoor dienspligjaar: ’n jaar waarin mans verplig was om militêre opleiding te ontvang kwaadwillige: met negatiewe bedoelings, om kwaad te wil doen berugte: as iets of iemand berug is, beteken dit almal weet daarvan, maar om slegte redes die tuig neerlê (uitdrukking): aftree (iemand werk nie meer nie) langsdienende: die langste van enige iemand in ’n bepaalde pos werk obsessie: gedurig aan iets of iemand dink, in die biografie beteken dit hy het altyd fyn besonderhede in ag geneem bêrekoopstrokie: koop deur ’n deposito te betaal, dan hou die winkel die item totdat jy die volle bedrag kan betaal bekamping: om iets te bekamp is om ’n einde daaraan te probeer maak agter die kap van die byl kom (idioom): ’n saak probeer uitpluis, die waarheid ontbloot leemte: ’n gaping, daar is ’n gebrek aan iets of iemand
Bespreek die artikel. Leerders antwoord deur hand op te steek, en hulle skryf die antwoorde ná die bespreking in hul werkboek.
1. Oor wie gaan die biografie, en watter beroep het hy beoefen?
Piet Byleveld, speurder (in die polisiediens/SAPD)
2. Wat is die doel van ’n biografie?
Om inligting oor die persoon se lewe te gee. (Ander antwoorde is ook reg, byvoorbeeld die skrywer dink die gebeure in die persoon se lewe / die persoon se lewensverhaal is belangrik om met ander te deel.)
• ’n Volledige gids wat alle tekste vir begripstoetse, asook luister- en leesvaardighede bevat.
• Omvattende verduidelikings van taalbegrippe wat maklik is om te verstaan.
• Stap-vir-stap-riglyne om lesse aan te bied.
• ’n Verskeidenheid prettige en praktiese aktiwiteite wat leerders betrek en help om taalbegrippe vas te lê en in te oefen.
• Interessante temas wat op graad 5’s se algemene kennis fokus en hulle nuuskierigheid oor die wêreld aanwakker.
• Moedig onafhanklike denke aan en ontwikkel redeneervermoë.