Ma, ek skryf vir jou ʼn gedig
Sê-nou is ’n lekker sê
Soe, ek is oek important
O koud is die windjie en skraal
Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
© Optimi
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
�ir so lank as wat ons kan onthou, vertel mense stories.
Wat is die doel van letterkunde, en waarom maak dit saak?
Stories, geskiedenis, mites, legendes en fabels is die stukkies waaruit kultuur opgebou is. Om ons eie kultuur te verstaan en om aktief daaraan deel te neem, moet ons eers leer oor die stories wat ons kultuur gevorm het.
Letterkunde leer ons oor die wêreld om ons, oor geskiedenis en oor mense van ander tye en plekke. Dit is vir seker meer pret om ʼn storieboek oor ʼn ander tyd en plek te lees as wat dit is om dieselfde inligting uit ʼn droë ou handboek te leer!
Letterkunde brei jou woordeskat uit en help jou om beter te lees en skryf. Die beste manier om ʼn beter skrywer te word, is om meer te lees.
Letterkunde is ʼn vorm van vermaak en stel ons in staat om ons verbeelding te gebruik om die storie in ons gedagtes te sien. Tog bestaan letterkunde nie net om ons te vermaak nie:
• Dit laat ons toe om onsself kreatief uit te druk.
• Dit voed ons op.
• Dit protesteer teen onregte.
• Dit daag ou idees en die gewone stand van sake uit.
• Dit vertroos en genees.
Ons kan daarom sê dat letterkunde baie verskillende doele het. As jy dit lees en bestudeer, leer dit jou van jouself en ander, en dit vergroot jou ervaringswêreld.
Vir letterkunde om sy doel te dien, is dit belangrik dat jy verstaan dat letterkunde in verskillende genres ingedeel word. Jy moet weet watter genre jy lees om ʼn teks goed te kan verstaan.
GENRE
Sample
Die woord “genre” beteken “soort”. ʼn Genre is dus ʼn soort kuns, letterkunde of musiek met ʼn spesifieke vorm, inhoud of styl.
Letterkunde het drie hoofgenres: poësie, drama en prosa, waar prosa verder verdeel word in fiksie en niefiksie, en drama in komedie, tragedie en tragikomedie. Hierdie genres het kenmerke en funksies wat hulle van mekaar onderskei.
Dit is belangrik dat jy weet watter genre jy lees en dat jy die boodskap daarvan verstaan sodat jy ʼn teks kan ontleed. Daarom moet jy die regte terminologie vir elke genre ken, en jy moet hierdie terme gebruik wanneer jy opstelle skryf en vraestelle beantwoord.
POËSIE
Poësie word gekenmerk deur metrum (die ritme van die klankgrepe) en rym binne en/of aan die einde van ʼn reël. Daar is epiese, narratiewe, romantiese, dramatiese en liriese gedigte. Jy het al kennis gemaak met odes, sonnette, elegieë en ballades.
In poësie word daar dikwels figuratiewe taal soos metafore en vergelykings gebruik om ʼn indruk te skep wat die leser sal onthou. Hierdie unieke taalgebruik laat poësie uitstaan en onderskei dit van gewone spreektaal.
DRAMA
Dramas is tekste wat voor ʼn gehoor opgevoer word. Die antieke Grieke was verantwoordelik vir die vorm van die drama soos wat ons dit vandag ken, en William Shakespeare is natuurlik een van die beroemdste dramaturge in meer moderne tye. Bekende Afrikaanse dramaturge is DJ Opperman, Bartho Smit, Reza de Wet, Temple Hauptfleisch en Pieter Fourie. Drama kan verder verdeel word in komedie, tragedie en tragikomedie.
KOMEDIE
ʼn Komedie het ʼn ligter toon met die doel om ons te amuseer. Dit is soms snaaks, maar dikwels is die soort vermaak meer subtiel. In ʼn tradisionele komedie kom die karakters op die ou einde hulle struikelblokke te bowe. ʼn Voorbeeld is Die Keiser deur Bartho Smit.
TRAGEDIE
ʼn Tragedie het ʼn ernstige onderwerp met ʼn somber toon. Dit handel oor hartseer of verskriklike gebeurtenis in die lewe van ʼn held of heldin. Tragedies word gewoonlik geskryf om die gehoor dieper oor ʼn sekere saak te laat dink. Voorbeelde van tragedies in die Afrikaanse letterkunde is Periandros van Korinthe deur DJ Opperman en Germanicus deur NP van Wyk Louw.
TRAGIKOMEDIE
Soos ons uit die naam kan aflei, kombineer ʼn tragikomedie elemente van ʼn komedie en tragedie. Dit is gewoonlik óf ʼn tragedie met genoeg komiese oomblikke om die toon ligter te maak, óf ʼn ernstige drama met ʼn gelukkige einde waar die held of heldin gered word. ʼn Voorbeeld van ʼn tragikomedie in Afrikaans is Die goue kring deur Uys Krige.
PROSA
Sample
Anders as poësie is prosa se vorm nader aan die manier hoe mense gewoonlik praat. Dit is minder rigied as die meeste poësie, maar dit gebruik ook figuratiewe taal soos metafore. Dit fokus meer op karakters en intrige. Prosa word gewoonlik verdeel in fiksie, wat kortverhale en romans insluit, en niefiksie, soos byvoorbeeld essays, toesprake en artikels.
FIKSIE
Die term “fiksie” word gebruik vir werke uit ʼn skrywer se verbeelding wat nie noodwendig op die werklikheid gebaseer is nie. Fiksie bestaan gewoonlik uit ʼn intrige, wat weer uit die volgende onderafdelings bestaan: die uiteensetting, voorbodes, die stygende handeling, die hoogtepunt of klimaks, die afloop en die ontknoping. Voorbeelde van gewilde Afrikaanse fiksie is byvoorbeeld Kringe in ’n Bos en Fiela se kind deur Dalene Matthee, Fees van die ongenooides deur PG du Plessis en Agaat deur Marlene van Niekerk.
NIEFIKSIE
N
iefiksie verwys na ʼn prosawerk wat oor feite handel en nie ʼn verbeelde storie vertel nie. Niefiksie kan wissel van kreatief (byvoorbeeld ʼn persoonlike essay) tot rapporterend (byvoorbeeld ʼn navorsingsverslag). Aan die kreatiewe kant word figuratiewe taal ook gebruik. Niefiksie kan bloot feite weergee (dink aan ʼn nuusberig), maar kan ook ʼn storie vertel in die vorm van iemand se lewensverhaal in ʼn outobiografie of biografie. Eugène N Marais was ʼn bekende skrywer van Afrikaanse niefiksie, en Die siel van die mier is een van sy bekendste werke.
HOE OM DIE WOORDELYSTE TE GEBRUIK
Van die terme verskyn net een keer in die drie lyste omdat hulle dieselfde funksie in poësie, drama en prosa het. Werk deur al drie lyste om die term waarna jy op soek is, op te spoor.