Lewensoriëntering

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
© Optimi
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07

Lewensoriëntering
Handleiding
Graad 12
Sample
Dr M Koen Prof R Niemann
INLEIDING
Lewensoriëntering is die studie van die self in verhouding tot ander en tot die samelewing. Dit spreek vaardighede, kennis en waardes rakende die self aan, asook die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ’n gesonde en produktiewe lewe, sosiale betrokkenheid, ontspanning en fisiese aktiwiteit, loopbane en loopbaankeuses. Hierdie sluit die geleentheid in om ’n verskeidenheid lewensvaardighede te ontwikkel en toe te pas om sodoende probleme op te los, ingeligte besluite en keuses te maak, en gepaste aksies te neem om ’n betekenisvolle en suksesvolle lewe te lei in ’n samelewing wat vinnig verander. Lewensoriëntering fokus dus nie slegs op kennis nie, maar benadruk ook die belangrikheid van die praktiese toepassing van vaardighede en waardes in ons daaglikse lewens, asook in deelname aan fisiese aktiwiteite, gemeenskapsorganisasies en -inisiatiewe.
Lewensoriëntering in die VOO-fase is daarop gemik om:
1. leerders te lei en voor te berei om gepas te reageer op die verantwoordelikhede en geleenthede van die lewe;
2. leerders toe te rus om optimaal te kommunikeer op ’n persoonlike, sielkundige, kognitiewe, motoriese, fisiese, morele, geestelike, kulturele en sosio-ekonomiese vlak;
3. leerders te lei om ingeligte en verantwoordelike besluite te neem rakende hulle eie gesondheid en welstand, asook die gesondheid en welstand van ander;
4. leerders bloot te stel aan hulle grondwetlike regte en verantwoordelikhede, die regte van ander, en kwessies van diversiteit;
5. leerders toe te rus met kennis, vaardighede en waardes om ingeligte besluite te maak oor vakkeuses, loopbane, bykomende en naskoolse studiegeleenthede en die arbeidsmark;
6. leerders bloot te stel aan verskillende studiemetodes en -vaardighede met betrekking tot assesseringsprosesse; en
7. leerders bloot te stel aan die waardes van gereelde deelname aan fisiese aktiwiteite.
Lewensoriëntering in graad 10 – 12 fokus op die volgende ses onderwerpe:
• Ontwikkeling van die self in die samelewing
• Verantwoordelikheid teenoor die samelewing en die omgewing
• Demokrasie en menseregte
Sample
• Loopbane en loopbaankeuses
• Studievaardighede
• Liggaamlike opvoeding
Die vakmateriaal en verwante assesseringselemente is gebaseer op die temas soos in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) uiteengesit.
Handleiding G12 ~ Lewensoriëntering
BYKOMENDE LEESWERK
Nel, M. 2014. Life Orientation for South African teachers. Pretoria: Van Schaik.
Van Heerden-Pieterse. 2015. Life Skills: My journey, my destiny, 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.
HULPBRONNE
Die volgende hulpbronne word vereis om die vak suksesvol te voltooi:
• Impaq-handleiding
• Impaq-portefeuljetake
• Halfjaareksamen
• Rekordeksamen
• Rekordeksamen (dit is die Eindeksamen vir Lewensoriëntering, aangesien die NSS nie ’n vraestel vir Lewensoriëntering insluit nie)
• Klere, skoene en toerusting wat nodig is vir fisieke aktiwiteite.
TYDSTOEDELING
Die voorgestelde tydstoedeling vir Lewensoriëntering graad 12 is soos volg:
Aantal eenhede per jaar 11 eenhede/jaar
Totale aantal weke beskikbaar om inhoud te bestudeer in graad 1222*
Tydsduur van elke eenheid 2 weke
Aantal eenhede (hersiening vir finale assessering uitgesluit) 11
Voorgestelde tydstoedeling per eenheid 3 ure/eenheid
Aantal lesse per eenheid 4
Tydsduur per les 45 minute
Totale voorgestelde tydstoedeling per jaar 33 ure/jaar
*Die aantal weke is verminder om tyd te maak vir die Rekordeksamen, wanneer die finale assessering in Lewensoriëntering vir die jaar sal plaasvind. Dit beteken dat dieselfde hoeveelheid werk in ’n korter tydperk bemeester moet word.
Weeklikse skedule
Die voorgestelde weeklikse skedule van temas vir die volle graad 12-program:
*Tydsduur van les is 45 minute.
STUDIEWENKE EN -METODES
Onthou dat studiewerk nie tot die aand voor die eksamen of toets uitgestel kan word nie. Dit is nooit te vroeg om goeie studiegewoontes te kweek nie. Almal is verskillend, en vir sommige leerders kom studeer en motivering vanself. Maar, net soos ’n atleet of sokkerspeler moet oefen om sy/haar vaardighede te ontwikkel, moet doeltreffende studievaardighede ingeoefen word as jy goed wil presteer. Hoe gouer jy goeie studiegewoontes verstaan en begin toepas, hoe makliker gaan toetse en eksamens wees en hoe beter sal jou kanse wees om goeie punte te behaal. Hier is ’n paar wenke om jou te help om die meeste van jou studies te maak:
• Alhoewel jy op enige plek kan studeer, moet die plek waar jy studeer niks hê wat jou aandag sal aftrek nie.
• Tyd is die kosbaarste hulpbron wat jy het. As jy sukkel om tyd te vind om te studeer, moet jy begin prioritiseer en ’n rooster opstel. Dit is belangrik dat jy nie jouself in hierdie belangrike graad 12-jaar met werk oorlaai nie.
• Wanneer jy vir toetse en eksamens voorberei, moet jy tyd daaraan spandeer om die werk te hersien. Begin deur die werk te hersien terwyl dit nog vars in jou geheue is. As jy te lank wag, mag jy dalk vind dat die materiaal nie meer sin maak nie.
• Maak seker jy verstaan al die materiaal. Moenie feite probeer memoriseer as jy dit nie verstaan nie.
• Assesseer jouself deur die selfassesseringsvrae en -aktiwiteite aan die einde van die eenheid te hersien. Gebruik die Leeruitkomste as riglyn.
• Dit is belangrik om gereelde ruspouses te neem – as jy te hard werk, kan dit jou prestasie verminder.
• Bly gemotiveerd. Versier jou studeerplek met inspirerende aanhalings of foto’s van die mense wat jy trots wil maak deur goeie punte te behaal.
• Beloon jouself.
• Sien eenheid 5 vir meer inligting.
Sample
LESELEMENTE
Elke eenheid (voorgestelde tyd: 2 weke) bestaan uit die volgende leeraktiwiteite:
• ’n Uitdaging
• Lewensoriëntering-inhoud
• Liggaamlike Opvoeding
• Los die uitdaging op
• Reflekteer en pas toe
• Liggaamlike opvoeding maak deel uit van meeste eenheide, maar hou nie noodwendig verband met die eenheid se uitdagings nie
Asook:
• Leeruitkomste
• Bykomende aktiwiteite
• Definisies
• Verrykende aktiwiteite (Vir die nuuskieriges)
• Opsommings
• Aktiwiteite vir selfassessering
IKONE







BAIE BELANGRIK



Gegewe die bogenoemde leerorde word geïmpliseer dat leerders betrokke moet raak by die aktiwiteite en die oplossing van aksies, om die inhoud en insig te versamel, asook die vermoë om probleme op te los ten einde suksesvol te wees in hierdie vak.
VAKINHOUD EN BEPLANNING
Inhoud
Eenheid 1: Selfontwikkeling: Begrip en hantering van stres
1.1 Stres
1.2 Liggaamlike Opvoeding: ’n Gebalanseerde lewenstyl
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 2: Selfontwikkeling: Verhoudings
2.1 Verhoudings en kommunikasie
2.2 Liggaamlike Opvoeding: Veiligheidsmaatreëls in fisiese fiksheid
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 3: Selfontwikkeling: Kommunikasie
3.1 Kommunikasie
3.2 Liggaamlike Opvoeding: Deelname aan programme vir persoonlike fiksheid en gesondheid
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 4: Selfontwikkeling: Konflik en konflikhantering
Teikendatum*
Sample
4.1 Konflik en konflikhantering
4.2 Liggaamlike Opvoeding
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 5: Studievaardighede
5.1 Studievaardighede en voorbereiding vir die eksamen
5.2 Liggaamlike Opvoeding
Inhoud Teikendatum*
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 6: Verandering en oorgang
6.1 Oorgang vanaf skool na naskool, en hantering van verandering
6.2 Die arbiedsmark
6.3 Liggaamlike Opvoeding
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 7: Projek
7.1 Projek
7.2 Liggaamlike Opvoeding: Inheemse speletjies van Suid-Afrika
Eenheid 8: Loopbane en loopbaankeuses
8.1 Loopbane en loopbaankeuses
8.2 Liggaamlike Opvoeding
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Eenheid 9: Demokrasie en menseregte
9.1 Verantwoordelike burgerskap en menseregte
9.2 Die rol van die media in ’n demokratiese samelewing
9.3 Liggaamlike Opvoeding
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Halfjaareksamen
Inhoud Teikendatum*
Eenheid 10: Sosiale en omgewingsverantwoordelikheid
10.1 Sosiale en omgewingsverantwoordelikheid
10.2 Ontwikkeling ’n persoonlike visie- en missieverklaring vir die lewe
10.3 Liggaamlike Opvoeding
Oplossing, reflekteer en pas toe
Eenheid 11: Selfontwikkeling in die samelewing
11.1 Fisiese, persoonlike, sosiale en omgewingstoestande
11.2 Liggaamlike Opvoeding
Los die uitdaging op
Reflekteer en pas toe
Hersiening
Eindeksamen (tydens Rekordeksamen)
*Voltooi jou teikendatum vir elke les volgens jou jaarplan vir die onderwerp.
Sample
Selfontwikkeling: Begrip en hantering van stres
Dié eenheid fokus op die begrip en hantering van stres as ’n belangrike element van selfontwikkeling, ’n onderwerp wat ons sedert graad 10 bespreek. Selfontwikkeling behels die strewe na en bemeestering van vaardighede wat individue kan help om die beste te doen met dit wat hulle het. Dit gaan oor die vervulling van ons volle potensiaal as mens.
Stres het ’n integrale deel van ons alledaagse lewens geword. Die moderne lewe is vol uitdagings, eise, rompslomp en sperdatums wat ons nie altyd kan vermy nie. Die manier waarop ons stres hanteer, het ’n invloed op ons liggame en siele. Gevolglik moet ons onsself beskerm deur die simptome van stres te herken en stappe te neem om die newe-effekte te verminder.
Fisiese aktiwiteite kan ook help om ’n positiewe lewenstyl te handhaaf, en fisiese beweging en geestesgesondheid te bevorder. Dit versterk ook die immuunstelsel, vertraag die verouderingsproses en help om stres te verlig.
Die vermoë om stres doeltreffend te bestuur, is uiters belangrik vir beide persoonlike en professionele sukses. Die doel van die eenheid is dus om jou toe te rus met kennis, waardes, vaardighede en aktiwiteite om stresvolle situasies en uitdagings in die lewe te herken en te hanteer, om te floreer in die lewe en die wêreld daarbuite.
UITDAGING
Wat kan ek doen om my eie stresvlakke te verlig?

LEERUITKOMSTE
Nadat jy hierdie eenheid voltooi het, moet jy in staat wees om die volgende te doen:
• die konsep van stres verduidelik;
• verskillende reaksies tot stres identifiseer;
• die algemene oorsake van stres in jou lewe ontleed;
• kritiese ondersoek van maniere om stres in die daaglikse lewe te hanteer;
• die belangrikheid van fisiese aktiwiteite bespreek asook die waarde wat dit het vir ’n mens se lewe en die verligting van stres;
• oefeninge wat stres teenwerk, identifiseer;
• bespreek waarom sekere aktiwiteite veral waardevol is in die verligting van stres.

DEFINIEER
Angs: Bekommernis, senuweeagtigheid of ongemak. Eustres: Die term eustres verwys na twee konsepte. Die voorvoegsel eu- is afgelei van die Griekse woord wat beteken “goed” of “wel”. Wanneer dit aan die woord “stres” gekoppel word, beteken dit letterlik “goeie stres”.
Hanteringsmeganismes: Enige doelbewuste of onbewuste poging wat ’n individu in staat stel om by omstandighede aan te pas om balans te vind.
Nood: Die term verwys na uiterste angs, hartseer of pyn.
Stres: Stres is ’n reaksie tot ’n stimulus wat die fisiese of geestelike ewewig versteur.
Stresbestuursplan: Fisiese en/of emosionele reaksies wat die liggaam help om stres te verwerk.
Stressor: ’n Stressor is ’n prikkel of stimulus wat stres veroorsaak, byvoorbeeld geraas, ’n voortsnellende motor, die skryf van ’n toets, of om vir die eerste keer uit te gaan met iemand wat jy nog nie voorheen ontmoet het nie (toe-oë-afspraak).
Stresvlakke: Die erns van geestelike of fisiese stres as gevolg van faktore wat die ewewig van ’n persoon omverwerp.
Stresweerstand: Stresverdraagsaamheid is die vermoë om te ontspan en te kalmeer ondanks probleme.
Terapie: Deskundige ingrypings om ’n persoon te verander, of om die effek van ’n negatiewe toestand of ondervinding om te keer.
Veg-en-vlug-reaksie: Wanneer jy bedreig voel, vind ’n chemiese reaksie in die liggaam plaas wat jou in staat stel om op ’n manier te reageer wat besering voorkom.
Onderwerp 1.1 Stres
Probleemvrae
• Om die uitdaging op te los, beantwoord die volgende probleemvrae:
• Wat is die hoofoorsake van stres in my lewe?
• Watter uitwerking het stres op my?
• Hoe gespanne is ek?
• Wat kan ek doen om my stres te bestuur?
Inleiding
Die fokus hierdie les is om die verskillende oorsake van stres en die invloed wat dit op ons welsyn het, te herken; en om die verskillende maniere te ondersoek om stres te hanteer.
Begrip: Stres
Die term stres is sowat 70 jaar gelede deur Hans Seyle uitgedink nadat hy in talle eksperimente opgemerk het dat laboratoriumdiere dieselfde patologiese veranderinge ondergaan wanneer hulle aan volgehoue stres blootgestel word (The American Institute of Stress, 2014:1). Baie ander terme hou verband met stres, bv. kommer, druk, bekommernis, angs en senuweeagtigheid.
Wat veroorsaak stres?
In mense is stres die gevolg van stremmende of veeleisende interaksies tussen hulle en hul omgewing wat uiteindelik ’n bedreiging vir hul welstand inhou. Met ander woorde, ’n stressor wat werklike eise aan ’n persoon stel wat moontlik tot stres kan lei.
Die hantering van stres begin by die identifisering van die oorsake van stres (stressors) in
Handleiding
G12 ~ Lewensoriëntering Eenheid
jou lewe. Tabel 1.1 lys voorbeelde van stressors wat ’n invloed gedurende al die stadiums van die lewe kan hê. Die tabel bied vier groepe stressors, naamlik fisies, emosioneel, sosiaal en omgewing.
Tabel 1.1: Voorbeelde van stressors
Soort stressorVoorbeelde van stressors
Fisies
Emosioneel
Omgewing
Sosiaal
Fisiese faktore wat die liggaam beïnvloed, bv. pyn, fisiese of seksuele misbruik, siekte, honger of fisiese gestremdheid.
Emosionele stressors kan gevoelens, persoonlikhede, selfbeeld, veerkragtigheid of angs wees, of die manier waarop jy op veranderinge in die lewe reageer (dood, egskeiding, die verandering van werk, swangerskap).
Omgewingstressors kan natuurlike rampe insluit, asook ’n gebrek aan privaatheid, gebrek aan vars lug, besoedeling of geraas.
Sosiale stressors wat jou welstand beïnvloed, sluit in aspekte van jou verhoudings met ander mense (byvoorbeeld familie en vriende), sosiale taboes en verwagtinge, en druk om by die skool of werk te presteer.
’n Ander manier om stressors te groepeer, kan wees intern (voedingstatus, algemene gesondheid, fiksheidsvlakke, emosionele welstand of die hoeveelheid slaap wat jy kry) en ekstern (fisiese omgewing soos jou werk, verhoudings met ander, huisomstandighede, uitdagings, moeilikhede en verwagtinge waarmee jy daagliks gekonfronteer word).
Wanneer jy oor jou stresvlakke dink, is dit ook belangrik om die oorsake van die stres (stressors) in jou lewe te identifiseer. Hierdie is dikwels ’n kombinasie van faktore, met sommige stressors wat meer daartoe bydra as ander.
’n Opgeleide professionele persoon kan jou help om die diepgewortelde of verborge oorsake van die stres in jou lewe vas te stel, soos volgehoue druk, verwerping, misbruik en skuldgevoelens.
Verskillende interpretasies van stressors
Sample
Stres beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Hoe jy ’n stresvolle gebeurtenis ervaar, is baie belangrik omdat dit kan bepaal hoe jy reageer en ook die uiteindelike invloed op jou fisiese en geestesgesondheid kan bepaal. Mense interpreteer dieselfde gebeurtenis op verskillende maniere, met ooreenstemmende verskille in reaksie.
Sommige mense blyk alles met ’n knippie sout te neem. Hulle natuurlike kalm benadering kom selfs in stresvolle situasies na vore. Hulle sal op ’n stresvolle gebeurtenis reageer met gesegdes soos “More is nog ’n dag” of “Bring dit, ek kan!”. Daarteenoor sal ander mense gespanne raak met die geringste teken van ’n stresvolle gebeurtenis. Hulle tipiese reaksie kan wees: “Daar is nie genoeg tyd nie” of “Ek kry dit nie perfek nie”.
Dit is asof verskillende mense verskillende “lense” gebruik om na moontlike stresvolle gebeurtenisse te kyk. Figuur 1.1 is ’n grafiese voorstelling van die verskillende stresfaktore wat stres in een persoon kan veroorsaak, maar waaraan ’n ander hom min sal steur.

Figuur 1.1: Verskille in die interpretasies van stressors
Dit is duidelik dat verskillende soorte interne en eksterne druk stres kan veroorsaak. Elkeen het verskillende snellers wat stres veroorsaak. Dit kan fisiek, ’n emosionele verandering of ’n verandering in die omgewing wees. Dit kan ’n geringe of ’n groot lewenstyluitdaging wees.

VIR DIE NUUSKIERIGES
Daar is baie voorbeelde van gebeure met verskillende weergawes en reaksies by mense:
• Sosiale reaksies waar baie mense byeen is (soos ’n partytjie), veroorsaak baie keer hoë stresvlakke by sommige mense, terwyl ander in so ’n omgewing floreer.
• Spitsverkeer in groot stede veroorsaak hoë stresvlakke by sommige mense, terwyl ander dit as ’n geleentheid gebruik om te ontspan en na te dink oor die dag en hulle omstandighede.
• Toe Suid-Afrika se eerste demokraties-verkose president, Nelson Mandela, in 1990 uit die tronk vrygelaat is, was mense oorstelp van vreugde. Ander het egter hoë vlakke van stres ervaar vanweë van onsekerheid oor die land se toekoms.
Sample
• Tegnologiese vooruitgang en uitvindings ontlok ook verskillende reaksies by mense. Rekenaars, die internet, selfone en tablette mag sommige mense opgewonde maak, maar veroorsaak hoë stresvlakke by ander wat nie weet hoe om dit te gebruik nie. Kernkrag is ook ’n baie omstrede uitvinding – sommige vind dit nuttig en steun die tegnologie, terwyl ander dit baie stresvol vind en enige kernontwikkeling naby hulle wonings sterk sal teenstaan.
• Kan jy aan nog voorbeelde van gebeure dink wat onlangs in die nuus was wat verskillende stresreaksies by verskillende mense meegebring het?
• Het jy voorbeelde van mense wat anders as jy onder stresvolle omstandighede opgetree het?
Die uitwerking van stres op die liggaam Wanneer jy bedreig voel (of dit nou werklik so is of net jou verbeelding), gaan die liggaam se verdediging in ’n vinnige, outomatiese proses in wat bekend staan as die “veg-of-vlugreaksie”. Dit is die reaksie van die liggaam se simpatieke senustelsel op ’n stresvolle gebeurtenis.
Gedurende die stresreaksie produseer die liggaam groter hoeveelhede van die chemikalieë kortisol, adrenalien en noradrenalien, wat die hartklop en asemhaling versnel, spiergereedheid en waaksaamheid verhoog, asook die liggaam laat sweet ter beskerming in gevaarlike of uitdagende omstandighede (Martin, 2014:1). Liggaamsfunksies wat nie nodig is nie, soos die spysvertering- en immuunstelsel, word vertraag.
Stres kan alle aspekte van jou lewe beïnvloed: jou liggaam, gedagtes, gevoelens en gedrag. Van die algemene simptome van stres is:
• Fisiese simptome: Kners op die tande, klem van kake, spierspanning, hoofpyne, kort van asem, maagpyn, moegheid, verhoogde bloeddruk, borspyne, naarheid, lighoofdigheid, oormatige sweet, floute, droë mond, diarree, hardlywigheid en spierspasma.
• Gedragsimptome: Slaap te veel of te min, eet meer of minder as gewoonlik, gewigsverlies, dwelmmisbruik, antisosiale optrede, afname in persoonlike higiëne en senuweeagtige gewoontes (byt naels, loop heen en weer).
• Emosionele simptome: Buierigheid, depressie, angs, skuldgevoelens, selfverwyt, ontkenning, gevoelloosheid, geïrriteerd, hulpeloosheid, wantroue, kort humeur, gevoel van eensaamheid en afsondering, en huilerigheid.
• Kognitiewe simptome: Onvermoë om te konsentreer, aandagafleibaarheid, geheueprobleme, swak probleemoplossing, swak oordeel, ongeloof, versteurde denke, verwarring, terugflitse of selfmoordgedagtes.
Figuur 1.2 toon van die negatiewe uitwerking wat stres oor die lang termyn op jou gesondheid het.

Brein: Depressie, angstigheid, insomnia (slaaploosheid), min energie, migraines
Nek: Hipotiroïdisme, seer keel, mondsere
Are: Hoë bloeddruk, cholesterol, beroerte
Longe: Hoes, verkoue, asma
Lewer en pankreas: Lewersiekte, diabetes
Geslagskliere: PMS, ongereelde menstruasie, lae seksdrang, inflammasie van die prostaatklier, nagsweet
Vel: Veroudering, aknee rosacea, ekseem, psoriase, allergieë
Hare: Haarverlies
Spiere en gewrigte: Pyn, spanning, fibromialgie, waterretensie
Hart: Hartsiekte, ongereëlmatige hartklop
Maag: Swere, wanvoeding, anoreksie, hardlywigheid, PDS, IDS
Gewigstoename: Vet om die middel
Figuur 1.2: Newe-effekte van stres op gesondheid oor die lang termyn
Stres sal nie net jou verstand, liggaam en gedrag op verskillende maniere beïnvloed nie, maar kan ook sy tol eis op jou verhoudings by die huis, skool en werk. Stres is op sigself nie ’n siekte nie, maar kan tot ernstige siektes lei indien dit nie aangespreek word nie. Dit is daarom belangrik om die bogenoemde stressors te herken om jou te help om gesonde strategieë te bedink om stres te hanteer.
Positiewe uitwerking van stres
Ons dink gewoonlik aan stres as negatief omdat ons glo dat stres meer skadelik as goed is. Maar stres is nie altyd sleg nie. Stres in klein hoeveelhede kan jou help om beter te presteer en kan jou dryf om jou beste te lewer. Dit word eustres genoem. Die term eustres is afgelei van die Griekse voorvoegsel “eu-” wat “goed” beteken (soos in eufories). Wanneer stres jou motiveer om ’n resies te wen of ’n belangrike projek betyds te voltooi, het jy eustres ervaar.
Miller en Smith (2014:1) verduidelik die verskil tussen positiewe en negatiewe stres deur aan te voer dat stres in die menslike toestand noodsaaklik is, net soos spanning noodsaaklik is vir die vioolsnaar: te min en die musiek is vervelig en kras; te veel en die musiek is skril en die snaar breek. Dit is daarom belangrik om te leer hoe om te weet wanneer jou stresvlakke buite beheer is.

VIR DIE NUUSKIERIGES
Mense van alle vlakke van die samelewing gebruik stres om beter te presteer.
• Atlete ervaar tipies hoë vlakke van stres voor ’n wedren. Goeie atlete leer om die veg-en-vlug-reaksie te gebruik om beter as hulle teenstanders te presteer.
• Sakelui voel baie keer gespanne weens werksdruk, maar baie beweer dit laat hulle harder werk en dryf hulle om beter te presteer.
• Kunstenaars (musikante, dansers) ervaar ook hoë vlakke van stres, maar gebruik dit dikwels om beter te presteer.
• Kandidate voel ook baie keer gespanne oor hulle akademiese prestasie. Dit kan dramaties verhoog voor ’n toets, maar stres kan ’n belangrike rol speel in die voorbereiding van ’n toets.
• Kan jy aan nog voorbeelde dink waar mense stres op ’n positiewe manier gebruik het?
• Kan jy dink aan ’n voorval waar jy baie gespanne gevoel het voor die tyd, maar waar die energie as gevolg van die stres jou beter laat presteer het? Dink hoe stres jou laat voel, en hoe jy tog positief kan reageer met betrekking tot dié gevoelens.
Stresvlakke
Voordat jy iets oor stres in jou lewe kan doen, moet jy eers die vlakke van stres in jou lewe bepaal en verstaan. Daar is verskeie metodologieë wat jy kan gebruik om dit te doen. Hierdie metodologieë strek van die hoogs-gespesialiseerde – dikwels onder leiding van ’n opgeleide professionele persoon soos ’n dokter of ’n sielkundige – tot die mees eenvoudigste, wat jy self kan doen.
Een so ’n metodologie is ontwikkel deur Didato (2003:182, 183). Dit behels ’n toets met twaalf vrae, elk met ’n verklaring wat as Waar of Onwaar beantwoord kan word. Om uit te vind of jy gespanne is, beantwoord die volgende vrae:
Vraag
1.Ek is ’n ligte slaper.
2.Ek is geneig tot ’n sterk persoonlikheid.
3.Ek glo ek is meer buierig as die gemiddelde persoon.
4.Ek is dikwels uitgeput.
5.Ek reageer dikwels met woede.
6. Ek is geneig om die aantal aktiwiteite te vermeerder wanneer ek onder druk is.
7. Ek is meer perfeksionisties as die meeste van my vriende.
8.Ek steur my gewoonlik nie veel aan my gesondheid nie.
9.Ek eet meer as gewoonlik wanneer ek gespanne is.
10. Ek voel soms naar.
11. Ek ervaar dikwels ’n sterk drang om te eet, te drink, drank te gebruik of te rook.
12. In die algemeen voel ek matige tot sterk liggaamlike spanning.
Antwoord
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
WaarOnwaar
Bereken die aantal Waar-antwoorde (Elke Waar-antwoord tel 1 en elke Onwaar-antwoord tel 0.)
Volgens die toets is jou stresvlakke soos volg:
Jou puntetelling: Die meeste van ons kan ’n wisselende mate van druk hanteer sonder om gespanne te voel, maar te veel of buitensporige druk – dikwels vanweë ons eie denkpatrone en lewenservarings – kan ons vermoë om stres te verwerk, oorweldig.
3 punte of minder: Jy is min geneig om aan stresverwante siektes te lei.
Sample
4 – 7 punte: Jy is meer geneig om stresverwante gesondheidsprobleme te ervaar, of dit geestelik, liggaamlik of albei is. Jy sal baat vind by die bestuur/ behandeling of berading van die geïdentifiseerde areas.
8 punte of meer: Jy is geweldig vatbaar vir stres en toon heelwat kenmerke en karaktertrekke wat ongesonde gedrag skep. Dit beteken dat jy meer vatbaar is vir stres en stresverwante siektes soos diabetes, prikkelbare derm, migraine, rug- en nekpyn, hoë bloeddruk, hartsiektes/beroertes en swak geestesgesondheid (depressie of angs).
’n Stres-dagboek is ’n rekord van die stresvlakke wat jy oor ’n tydperk ervaar, en die moontlike redes daarvoor. Dit is ’n nuttige instrument om die veranderinge in jou stresvlakke te bespeur, en om enige verwante patrone te identifiseer.