Gr 7 skeppende kunste

Page 1


Graad 7 • Handleiding Skeppende Kunste

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Skeppende Kunste

Handleiding

Graad 7

Sample

Aangepas vir KABV
LM van der Walt Í2’È-A-CRA-SG01vÎ

INHOUDSOPGAWE

LESELEMENTE

LEERDOELWITTE:

Wat leerders aan die einde van die les moet weet. Geneem uit die KABV.

BELANGRIKE TERMINOLOGIE

SampleNuwe terminologie om die begrip van die vak as deel van hierdie les uit te brei.

DEFINIEER:

Definisies van konsepte om die inhoud te verstaan.

BELANGRIK:

Verduidelik misverstande; moontlike verwarring met betrekking tot bestaande kennis.

WENKE:

Enige inligting anders as die inhoud, om leerders deur die leerproses te begelei.

VIR DIE NUUSKIERIGES:

Aansporing om die inhoud in diepte na te vors. Brei die aktiwiteit en oefening tot só ’n mate uit dat leerders aangemoedig word om te verken. Vir begaafde leerders: uitgebreide oefeninge. Vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes* (LSOB): verduidelik die noodsaaklikheid om die basiese vrae te voltooi om ’n slaagpunt te behaal.

*LSEN in algemene taalgebruik

AKTIWITEIT:

Sample

Vrae oor die les wat voltooi moet word ten einde die kennis van die voltooide les te toets.

OEFENING:

Ter afsluiting van die spesifieke eenheid. Formatiewe assessering.

KERNINHOUD:

Beklemtoon die kern van die inhoud, in-diepte verduideliking van ’n spesifieke afdeling van die les wat verstaan moet word.

STUDEER/HERSIENING:

Tyd wat spandeer word om die inhoud te bestudeer in die afsluiting van die Eenheid en ter voorbereiding vir die toets of eksamen.

Handleiding

G07 ~ Skeppende Kunste

VOORWOORD

INLEIDING

Skeppende Kunste stel leerders bloot aan die studie van ‘n reeks kunsvorms. Die hoofdoel daarvan is om leerders te ontwikkel as kreatiewe en verbeeldingryke individue.

In Graad 7, 8 en 9 word twee ure per week aan Skeppende Kunste toegestaan. Jy gaan net twee kunsvorms bestudeer. Impaq bied aan jou die geleentheid om Dramatiese Kunste en Visuele Kunste as vakke te neem in Gr 10–12. Ons gaan dus net hierdie twee kunsvorms behandel en bestudeer in Graad 7–9. Dit is volgens die bepalings daargestel deur die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV). Jy moet ‘n minimum van 10 les-ure per eenheid aan elke kunsvorm spandeer.

Die lesse in die handleiding is so uiteengesit dat daar aan elke les ‘n bepaalde tydsduur toegeken is. Jy kan egter dit op jou eie wyse organiseer. Dit is jou besluit hoe jy die werk wil doen. Jy moet net aan die einde van die eenheid deur al die temas gewerk het.

Let wel: Daar is geen kwartaaltoetse nie, maar wel ‘n Junie-eksamen asook ‘n Novembereksamen.

Die Dramatiese Kunste word in ‘n aantal onderwerpe verdeel:

Onderwerp 1 – Dramatiese ontwikkeling

Dit behels stemontwikkeling en fisiese ontwikkeling

Sample

KABV vereis dat leerders elke week 15 minute sal spandeer hieraan, aan die begin van elke drama les. Dit moet ‘n totale tyd beslaan van 2,5 ure per kwartaal

Onderwerp 2 – Drama – elemente in toneelskepping

Dit behels die vorm en ontwikkeling van die toneel en die verkenning van relevante temas. Vereiste kontaktyd is 6,5 ure per kwartaal vir hierdie tema.

Onderwerp 3 – Interpretasie en uitvoering van geselekteerde dramatiese vorms

Die interpretasie en uitvoeringtegnieke in volksverhale. Besinning

oor eie opvoering. Voorgestelde kontaktyd : 6,5 ure per kwartaal.

Onderwerp 4 – Waardering en besinning

Resensie doen oor ten minste EEN opvoering of film. Kontaktyd: 1 uur

Onderwerp 5 – Media en loopbane

Verken verskillende loopbane in drama. Kontaktyd is 1 uur per kwartaal.

Die onderwerpe word egter tussen die kwartale verdeel en sal duidelik aangedui word by elke les. Jy kan dus jou lesse elke week self beplan en dit hang van jou af hoe vinnig of stadig jy daardeur werk.

Die Visuele Kunste werk op dieselfde wyse as die Drama. Die onderwerpe is as volg:

Onderwerp 1: Skep in 2D

Waarneming en interpretasie van eie en wyer wêreld.

Gebruik van kunselemente.

Onderwerp 2: Skep in 3 D

Drie-dimensionele kunswerke en projekte wat op eie wêreld gebaseer is.

Sample

Temas om belangstelling te verken.

Konstruksie en modelleringstegnieke.

Manipulasie van verskillende materiaal.

Besorgdheid oor die omgewing.

Onderwerp 3: Visuele geletterdheid

Kommunikasie deur kuns.

Interpreteer, analiseer en herken simboliese taal.

Handleiding G07 ~ Skeppende Kunste

Die rol van die kunstenaar in die gemeenskap.

Ontwikkel navorsingsvaardighede.

Die kontaktye per onderwerp verskil van kwartaal tot kwartaal en sal duidelik aangedui word by elke kwartaal.

Ek hoop dit gee jou ‘n duidelike riglyn van die Skeppende Kunste en al die onderwerpe wat hierdie jaar behandel gaan word.

Jy moet in jou beplanning en jou kontaktyd per kwartaal van elke onderwerp in ag neem en dit vir jouself so verdeel dat jy deur al die werk kan kom!

JAARPLAN

Opwarmingsroetine

2 Stemontwikkeling

3 Fisiese ontwikkeling 4 Toneelskepping

5 Loopbane

6 Teken- en skilder media

7 Kunste as erfenis

8 Gebruik van herwinbare materiale

9 Kommunikasie deur simbole.

10 Modellering van erdeware

12 Tradisionele volksverhale

Etstegnieke

Plaaslike kunsvlyt

Kulturele drama

Patroonmaak

Collage/Plakskildery

Waarnemingstegnieke

Opwarmingsoefeninge

25 Storievertelling

26 Loopbane in verwante velde

27 Figuurtekening

28 Herwinbare materiaal in kuns

EENHEID 1: Dramatiese vaardigheidsontwikkeling en skepping in 2D en 3D

LEERDOELWITTE:

INLEIDING

Sample

Nadat jy hierdie eenheid voltooi het, moet jy in staat wees om die volgende te doen:

 Drama opwarmingstegnieke kan bemeester.

 ‘n Toneel kan skep en opvoer

 Loopbane kan identifiseer in die vermaaklikheidsbedryf.

 Die inhoud, konsep en vaardighede van teken en skilder verstaan.

 Kunselemente en ontwerpelemente kan gebruik in kunswerke.

 Kunste as erfenis kan bespreek.

 Respek en waardes vir kunsvlyt ontwikkel.

 Kunswerke in 2D en 3D kan skep

Die onderwerpe in Drama en Visuele Kunste word in onderwerpe verdeel. Elke onderwerp word in ’n verskillende les ontwikkel. Die tyd wat per kwartaal per les (onderwerp) vereis word, word ook aangedui. Jy kan dus nou self bepaal hoe jy jou tyd wil verdeel.

Die eerste onderwerp in drama is die opwarmingsroetine. Dit is belangrik dat jy elke week 15 minute daaraan spandeer, voordat jy met jou dramales voortgaan. Dit help jou om te fokus en te laat ontspan.

Die werk word ook duidelik verdeel: Die eerste lesse is DRAMA en die tweede deel van die lesse is VISUELE KUNSTE. Dit is egter jou keuse watter afdeling jy eerste wil doen. Dit is wat die Skeppende Kunste so lekker maak – jy besluit self watter werk jy wanneer wil doen!

BELANGRIKE TERMINOLOGIE

Alle nuwe terminologie het ek vir jou duidelik aangedui en daar is ‘n opsomming daarvan in die DEFINIEER blokkie by elke les.

DRAMA

Onderwerp 1: Dramatiese vaardigheidsotwikkeling (2,5 ure)

Voorgestelde hulpbronne: Drom of tamboeryn en die Studiegids.

Spandeer 15 minute per week aan die onderwerp.

1.1

Les 1: Die opwarmingsroetine

‘n Opwarmingsroetine is belangrik om verskeie redes:

o Dit voorkom beserings. In drama gebruik jy jou stem, asook jou liggaam. Dit is dus belangrik dat beide jou stem en jou liggaam goed opgewarm is voordat jy met jou roetine begin.

o Deur op te warm verhoog jy die volume suurstof wat deur jou liggaam opgeneem word. Dit bevorder jou uithouvermoë en help ook om te voorkom dat jy uitasem klink.

o Opwarming help jou fokus op die taak wat voorlê.

o Dit is ‘n manier om jou tegniese vaardighede in te oefen en te ontwikkel.

o Dit verlig die spanning en angs wat jy voel voor die uitvoering van die taak.

Jy moet selfs vir drama jou hele liggaam opwarm, nie slegs jou stem en gesig nie.

Die dele wat jy moet opwarm is:

LIGGAAM

 Voete

 Knieë  Bene

 Heupe

 Bolyf

 Arms

 Nek

 Kop

GESIG

o Lippe

o Tong

o Wange

Sample

Artikulasie

Diafragma

2.1 Les 2: Stemontwikkeling

Die volgende ontspanningsoefeninge kan gedoen word vir die lippe, tong en wange.

Lippe

Tuit die lippe en blaas die lug met ‘n sterk aksie uit.

Gee ‘n groot glimlag en direk daarna ‘n harde frons. Herhaal die aksie ‘n paar keer.

Tong

Staan regop en hou jou gesig vorentoe. Lek nou in die volgende rigtings: neus, linkeroor, regteroor en ken.

Probeer nou die volgende aksies met jou tong: lek na die dak (boontoe), die linkerkantse muur, regterkantste muur en die grond. Doen die aksies terwyl jy doodstil staan en jou kop stil hou.

Probeer nou jou tong vorentoe strek en die voorwerp voor jou lek, soos bv. die muur.

Wange

Verbeel jou jy het ‘n reuse suiglekker in jou mond. Suig dit nou denkbeeldig met sterk suigbewegings. Onthou die suiglekker pas skaars in jou mond!

Nou moet jy dit begin kou! Dit pas nie in jou mond nie, so jy moet jou mond ooprek en dit met stadige bewegings begin kou. Hou aan met die bewegings vir ongeveer een minuut. Verbeel jou nou die lekker word kleiner en jy kan dit nou makliker begin kou.

Kou nou vinniger en vinniger, totdat jou wange warm en los begin voel.

Sample

Die volgende is ‘n aantal asemhalingsoefeninge wat jy kan doen:

1) Staan regop in die neutrale posisie. Plaas jou hande onder jou ribbekas. Hou jou nek en skouers ontspanne. Haal nou diep asem en asem uit vir 10 sekondes. Herhaal die oefening en verleng elke keer die telling, bv. asem uit in 15 sekondes en asem dan uit in 20 sekondes. Jy sal voel hoe jou hele liggaam ontspan!

2) Asem in oor drie sekondes. Hou jou asem vir drie sekondes. Asem nou uit, terwyl jy hardop tot 10 tel. Gebruik jou boonste maagspiere om jou asem te beheer. Dit help deur jou ribbekas uit te stoot. Jou boonste maagspiere beheer jou diafragma.

3) Lê in ‘n gemaklike posisie op jou rug. Plaas ‘n objek, soos ‘n boek, op jou pelvis. Terwyl jy asemhaal, kyk hoe die boek op en af beweeg. Herhaal dit ‘n paar keer.

Artikulasie-oefening:

Plaas jou vuis in jou diafragma (tussen jou ribbes en maag).

Sȇ die volgende so vinnig soos jy kan: (jy moet die woorde amper uitspoeg)

Pah-pah-pah-pah-pah-pah-pah-pah-pah

Sȇ die volgende so vinnig moontlik: Mani mani mani mani mani

Artikuleer nou duidelik terwyl jy die volgende sȇ: Babble babble bobble bubble

Herhaal die bogenoemde oefening, maar vervang die eerste letter van die woorde met ander letters bv. d, s, k,l, ens.

3.1 Les 3: Fisiese ontwikkeling

Die volgende is voorbeelde van oefeninge wat bydrae tot jou fisiese ontwikkeling.

Fisiese opwarmingsoefeninge help om die liggaam te ontspan en aan te wakker.

1) Oefening 1:

Staan regop en ontspan jou skouers.

Laat sak jou kop na jou bors. Buig nou jou rug ontspannend na vore, totdat jou liggaam ontspanne vooroor hang.

Jou hande moet amper die grond raak.

Buig jou bene effens.

Doen die aksie nou weer terug na jou oorspronklike posisie.

2) Gaan kniel op die grond. Maak jou liggaam so klein as moontlik. Spring nou in ‘n “ontploffing” na boontoe, terwyl jy probeer om so hoog moontlik te spring. Herhaal dit 3 keer.

3) Kry vir jou ‘n maat om die volgende oefening te doen.

Staan agter mekaar. Die voorste persoon voer ‘n aantal aksies uit en die persoon wat volg moet dit naboots. So kan jul beurte maak en jul eie bewegings skep!

4) Jy kan ook beelde gebruik om jou te help met opwarming. Daarmee bedoel ek dat jy kan bv. die beeld van ‘n nar gebruik. Maak asof jy ‘n nar is – ontwikkel ‘n “optrede” en gebruik dit as opwarming. Jy kan jou stem hierdeur opwarm deur jou stemtoon te verander en ook jou liggaam gebruik om snaakse aksies uit te voer.

DEFINIEER:

Artikulasie: Dit is die wyse waarop die spraakorgane saam gebruik word om die klank tydens spraak te vorm.

Ritme: Dit is die wyse waarop die klank vloei en beweeg. Dit word bepaal deur tempo, spoed, pouse en klimaks.

Projeksie: Dit is die volume waarvolgens die klanke oorgedra word na die gehoor.

KERNINHOUD:

Dit is belangrik om stem en liggaam op te warm, selfs in drama. Dit is ook belangrik om ‘n veilige omgewing te skep waarin jy opwarm en werk.

Sample

In drama moet jy jou verbeelding fisiek, visueel en emosioneel oefen. Opwarming geskied stuk-stuk en dis ‘n goeie idee om vir jouself ‘n roetine te skep wat jy elke keer kan doen voordat jy met jou drama werk begin. Jou liggaam pas dan vinniger aan by die opwarmingsroetine en dit berei jou voor vir die werk wat volg!

VIR DIE NUUSKIERIGES:

Alhoewel ons nie vanjaar dans behandel nie, is dit nogal interessant om te sien hoe die dans en drama se opwarmingsroetines oorvleuel. Dit kan jou miskien help as jy aktiwiteit 1 moet voltooi.

AKTIWITEIT 1:

Die opdrag tel nie punte nie.

Skep jou eie opwarmingspeletjie. Onthou om te fokus op al die aspekte wat ons behandel het:

Stemontwikkeling en fisieke ontwikkeling.

Bied jou speletjie aan vir jou fasiliteerder en jou maats.

Onderwerp 2: Drama-elemente in toneelskepping (6,5 ure)

Voorgestelde hulpbronne: Prente, koerantartikels van verskeie temas as stimulus in toneelskepping.

4.1 Les 4: Toneelskepping en kritiese besinning

Voordat ons ons eie toneel of drama gaan ontwikkel, gaan ons eers kyk na ‘n aantal terme en strukture waarmee ons te doen kry in drama. Hierdie onderwerpe bly dieselfde tot in Graad 12.

Wat is dramatiese struktuur?

Dit is die WAAROM? WIE? WAAR? WAT? WANNEER? in die toneelstuk.

Dit is die vrae wat jy jouself moet afvra as jy ‘n toneelstuk ontwikkel.

Die skrywer van die stuk vertel die akteur WIE die karakter is. Die skrywer vertel die karakter WAT om te sȇ en ook HOEKOM hy dit sȇ

Die skrywer vertel WAT, WAAR en WANNEER die karakter doen wat hy doen. Die antwoorde van al die vrae lei tot die fisiese aksies wat uitgevoer word en aan die gehoor vertoon word. Jy moet eers al hierdie vrae antwoord, voordat jy ‘n toneel kan skep.

‘n Verdere belangrike aspek is dat elke toneel ‘n begin, middel en einde het. Die begin is die inleiding. Dit stel die probleem wat ondervind word bekend aan die gehoor.

Sample

Die middelste deel is die ontwikkeling van die probleem. Die aksies wat ontstaan soos die probleem groei.

Die einde is die oplossing van die probleem.

Ons gaan nou die bogenoemde aspekte gebruik om ‘n toneel te skep.

Ek het die volgende tema gekies om ‘n toneel te skep. Ons gaan die stappe saam volg en dan gaan jy in aktiwiteit 2 jou eie tema gebruik om ‘n toneel te skep.

SOSIALE KWESSIE: KINDERMISHANDELING

(Bron: http://duic.nl/nieuws/5879/utrechtse-poli-voor-kindermishandeling-mogelijk-dicht/)

Kyk na die bogenoemde foto en beantwoord die volgende vrae. Dit sal jou help om ‘n rowwe idee te vorm van jou toneelstuk se tema en inhoud.

1) Skryf die dinge neer wat jy in die foto raaksien Waar dink jy het hierdie gebeure plaasgevind?

2) Wat is volgens jou die sentrale probleem in die foto? Wie dink jy is verantwoordelik vir die probleem?

3) Wat dink jy het aanleiding gegee tot die posisie waarin die kind nou is? Watter gebeure dink jy het daartoe gelei? Waarom dink jy het hierdie gebeure plaasgevind en wanneer dink jy het dit gebeur?

4) Jy het nou die begin van jou storie. Jy moet dit nou net orden in ‘n begin, middel en einde.

Sample

Kom ons beantwoord nou die vrae. Onthou jy kan enige tyd van my verskil! Ek gebruik die volgende net as ‘n voorbeeld om jou te lei, sodat jy jou eie toneel sal kan skep vir assessering. Jy kan gerus jou eie idees ook byvoeg by my antwoorde.

Moontlike antwoorde: (eie opinie, verbeelding is belangrik)

1) Ek sien ‘n dogtertjie wat in ‘n gang sit. Sy lyk baie hartseer en ook baie bang. Dit lyk asof dit haar eie huis kan wees.

2) Die probleem, dink ek, is dat iemand, moontlik haar ma, haar getraumatiseerd het. Sy word emosioneel mishandel deur haar ma. Haar ma verkleineer haar en sȇ lelike goed vir haar, wat haar selfbeeld afkraak (dit is nou hier waar jy jou verbeelding moet gebruik, om vir jou ‘n storie op te maak oor die foto)

3) Die dogtertjie het haar ma probeer help in die kombuis (gebruik jou verbeelding en skep ‘n storielyn) en sy het die eiers op die grond laat val. Haar ma was so woedend dat sy haar rondgeruk het. Sy het die dogtertjie geskel en vir haar gesȇ sy is ‘n dom nikswerd. Sy het haar verder verneder deur haar hare in die eier te smeer. Dit het sy alles gedoen terwyl haar boetie en sussie toegekyk het. Die situasie het plaasgevind in die vroeë aand.

4) Nou moet jy eers ‘n begin, middel en einde skep. Jou storie moet jy eers rofweg skryf en dan kan jy dit in ‘n toneelstuk omskep.

Die begin

Die ma en kinders is in die kombuis. Die oudste dogter het nie ‘n goeie verhouding met haar ma nie. Sy wil haar ma help. Die probleem is dat haar ma geen vertroue in haar het om haar te kan help nie.

Die middel

Die grootste probleem is die verhouding tussen ma en dogter. Die probleem vererger as die dogter die hele dosyn eiers op die vloer laat val. Die ma begin met fisiese en verbale mishandeling van die kind.

Die einde

Die kind vind ‘n tydelike oplossing deur haarself van die situasie te verwyder. Sy weet egter dat sy iemand moet vertel van haar situasie sodat sy en haar ma hulp kan kry.

Toneelskepping:

Karakters: Kind Ma

Ruimte: Kombuis/gang

Tema: Kindermishandeling

Sample

Boodskap: Geen fisiese of emosionele mishandeling teenoor enige iemand is aanvaarbaar nie.

Nou kan jy begin om die toneel uit te beeld. Jy moet in jou toneel fokus op sekere aspekte:

 Die groepering van die karakters – hoe naby aan mekaar moet die karakters beweeg? In hierdie geval is die karakters in ‘n fisiese geveg betrokke. Hulle raak dus aan mekaar.

 Die fokuspunt sal die plek wees waar die kind die eiers laat val het.

 Hoe sien die gehoor die prentjie? Daar is baie beweging op die verhoog en die gehoor ervaar die aggressie en woede.

 Soms is die gebruik van ‘n stilbeeld ‘n gepaste wyse om die aksie te fokus. In die toneel is die einde ‘n gevriesde beeld van die kind wat ineengekrimp sit. Dit lewer ‘n uitstekende klimaks vir die toneel.

Besinning en kritiek

Hoe was jou ervaring van die toneelskeppingsproses? Beantwoord hierdie vrae vir jouself. Dink waar sou jy verbeterings aangebring het.

As jy krities na ‘n film of opvoering gaan kyk, en dit dan evalueer, is jy ‘n resensent. Dit beteken dit is jou werk om ‘n resensie te skryf oor die film of opvoering.

’n Resensie moet sekere inligting bevat:

o Die algemene besonderhede van die film/opvoering.

Titel

Skrywer

Tyd, plek en duur van die vertoning.

o Wie is die hoofkarakters?

o Waaroor gaan die storie? Die storielyn word beskryf.

o Hoe word die elemente van drama toegepas?

o Word kostuums en grimering doeltreffend gebruik?

o Word die beligting en die stel rekwisiete korrek en doeltreffend gebruik?

o Word musiek en klank doeltreffend gebruik en dra dit by tot die atmosfeer van die opvoering?

o Kon die gehoor identifiseer met die karakters in die film/produksie?

o Is die film/produksie effektief bemark?

o Skryf ‘n samevattende opinie van die film/opvoering. Gee jou eie opinie daaroor. Sal jy dit aanbeveel vir ander persone? Motiveer te alle tye jou redes.

DEFINIEER:

Sample

Ruimte: Dit is die afstand wat daar bv. tussen die karakters of voorwerpe in ‘n toneel is

Vlakke: Om jou ruimte goed te benut, moet jy drie vlakke in ag neem. Dit is hoog, middel en laag. Vlakke dra betekenis oor. As iemand hoog geplaas word, dui dit op ‘n belangrike persoon. As alles op een vlak aangebied word, sal dit vervelig voorkom.

Vorms: Die liggaam word in drama in drie vorms verdeel: bal, muur en speld.

Balvorm: Jou liggaam word so klein moontlik opgekrul.

Muurvorm: Jy strek jou arms horisontaal sover moontlik uit.

Lank of speldvorm: Jy staan op jou tone en strek jou arms sover moontlik na bo.

Beweging: Dit omvat al jou sintuie en ook jou liggaamsbewustheid en liggaamsbeweging.

Karakter: Dit is die rol wat ‘n persoon aanneem.

KERNINHOUD:

Dit is belangrik dat jy die proses van toneelskepping kan toepas as jy na relevante kwessies kyk. Dit is baie makliker vir iemand om ingewikkelde sake, soos bv. kindermishandeling of armoede, te verstaan as dit in dramatiese vorm aangebied word.

Jy sal ook ‘n beter begrip ontwikkel vir films en opvoerings wat veral gemik is op relevante sosiale kwessies.

Sample

VIR DIE NUUSKIERIGES:

Gaan soek ‘n resensie van ‘n film in ‘n tydskrif.

Gebruik die gegewe riglyne in die handleiding en ontwikkel ‘n resensie-vraelys. Baseer jou vraelys en antwoorde op jou gekose tydskrif-resensie.

Bespreek jou resensie met jou fasiliteerder.

AKTIWITEIT 2:

Die volgende aktiwiteit tel vir assessering.

Gaan blaai deur die tydskrifte en koerante wat jy as hulpbronne by Les 4 versamel het. Gaan kies enige tema wat ‘n relevante sosiale kwessie is. Dit kan enigiets wees vanaf besoedeling tot die Vigs- kwessie in ons land.

Gebruik die proses van toneelskepping soos in Les 4 behandel om ‘n toneelstuk te skryf. Jou toneelstuk moet die tema ondersteun en in dialoogvorm geskryf wees. Dit moet minstens 10 minute lank wees as dit opgevoer word.

Jy sal slegs punte verdien vir jou geskrewe teks. Jy kan wel jou teks aan jou fasiliteerder voorlees. Dit is jou keuse.

Assesseringstabel

1) Gekose tema is relevant.

2) Duidelike beskrywing van wat/waar/ wie/waarom/ wanneer

3) Het ‘n duidelike begin, middel en einde.

4) Dialoog is relevant en is op leerling se ontwikkelings-vlak.

5) Die gehoor identifiseer met die karakters.

[20/2 = 10 punte]

[20]

Onderwerp 5: Loopbane in drama (1 uur)

5.1 Les 5: Verken loopbane in die vermaaklikheidsbedryf

Daar is verskeie loopbane in die vermaaklikheidsbedryf. Ons gaan net eers kyk na die groep mense (die beroepe) wat die gehoor vermaak. Dit is die akteurs, dansers, sangers en komediante.

Daar is nog vele ander beroepe wat ons later sal bestudeer.

Akteurs/Aktrises

Akteurs speel nie net toneel nie. Hulle werk ook as stemoorklankingkunstenaars en moet selfs soms kan sing en dans. Dit is belangrik vir ‘n akteur/aktrise om veelsydig te wees. Die salaris van ‘n akteur/aktrise kan wissel, afhangende van die werk wat hulle doen. ’n Sepie-akteur kan tussen R10 000 tot R30 000 per maand verdien.

Die voordele van die beroep is dat jy baie nuwe mense ontmoet, baie kan rondreis en nie elke dag dieselfde tipe werk doen nie.

Die nadele is dat dit nie ‘n baie standvastige beroep is nie. Die fleksietyd maak dit soms moeilik, omdat jy enige tyd van die dag of nag gevra kan word om te werk. Jou finansies word ook beïnvloed – soms kan jy vir lang tydperke geen inkomste verdien nie.

Akteurs en aktrises het meestal natuurlike aanleg, maar as jy ‘n loopbaan in die rigting oorweeg, is dit ‘n bonus as jy gaan studeer.

Jy kan ‘n universiteitsgraad verwerf by die meeste universiteite. Baie van die bekende akteurs en aktrises het egter by TUT gestudeer. (Tswane Universiteit van Tegnologie).

Dansloopbane

Daar is verskeie opsies in dansloopbane.

’n Dansinstrukteur is ‘n persoon wat mense leer dans. Hulle is gewoonlik opgelei in een of meer dansgenres. Hulle word opgelei by TUT en ook in verskeie dans-ateljees.

’n Choreograaf is die persoon wat die danspassies uitwerk vir ‘n bepaalde produksie. Hulle leer dit aan die dansers. Hierdie persone ondergaan ook intense opleiding en is gewoonlik self uitstekende dansers.

Dansers kom ook uit verskeie groepe. Ons kry balletdansers, hip-hop dansers, baldans dansers en vele meer. ‘n Danser moet baie gedissiplineerd wees. Hulle beroep is ook wisselvallig. Dansers kan soms aan ‘n dansgeselskap behoort wat optredes landswyd het.

Sangers maak ook ‘n groot deel uit van ons vermaaklikheidskunstenaars. Natuurlike talent is ‘n groot bonuspunt, maar goeie sang- en musiekopleiding kan ook bydra tot ‘n sanger se sukses.

VIR DIE NUUSKIERIGES:

Ons kyk net kortliks in die les na ‘n paar beroepe in die vermaaklikheidsindustrie.

Gaan doen verdere navorsing en soek nog ten minste drie beroepe in die vermaaklikheidsbedryf.

Maak ‘n paar aantekeninge daaroor en bespreek dit met jou fasiliteerder.

Sample

AKTIWITEIT 3:

Die volgende aktiwiteit tel nie as assessering nie.

Kies ‘n bekende Suid-Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar (enige genre).

Gaan doen nou navorsing oor die persoon en beantwoord die volgende vrae:

1) Plak ‘n foto/prent van die persoon en skryf sy/haar naam neer.

2) Wat is sy/haar beroep, bv. sanger/akteur/danser?

3) Waar het die persoon gestudeer?

4) Vir watter produksie is die persoon bekend?

5) Wat is die persoon se lewensfilosofie?

6) Hoe inspireer die persoon jou?

VISUELE KUNS

Onderwerp 1: Skep in 2D (2 ure)

Voorgestelde hulpbronne: Visuele stimuli vir teken.

Materiaal benodig: Potlood, houtskool, was, tekenkryte.

6.1 Les 6: Teken en skilder: media en tegnieke

6.1.1 Tipes media

Daar is verskeie tipes media wat gebruik word as jy skilder of teken. Ons gaan ‘n paar van hierdie media bespreek:

1) Potlode

Daar is hoofsaaklik twee tipes potlode: Harde en sagte potlode. Op die potlode word dit aangedui deur H wat hard beteken en B wat sag beteken.

H-potlode is harder en gekondenseerd en ook ligter. ‘n H-potlood laat minder grafiet op die bladsy agter.

B-potlode skryf donkerder en los meer grafiet op die bladsy agter. B-potlode is sagter as H-potlode.

Hieronder is ’n uiteensetting van die verskillende tekenpotlode se grade, om dit vir jou makliker te maak:

Verskriklik hard – 7H tot 9H

Baie hard – 4H tot 6H

Hard – 3H tot 4H

Medium hard – H tot 2H

Medium – HB tot F

Medium sag – B tot 2B

Sag – 3B tot 4B

Baie sag – 4B tot 6B

Verskriklik sag – 7B tot 9B

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.