17 minute read
Hoofstuk 15—“Hierdie Man Ontvang Sondaars”
Na aanleiding van Lukas 15:1-10
DIE rabbi’s het laat blyk dat hulle ontevrede was omdat die “tollenaars en sondaars” om Christus saamgedromhet. “Hierdie man ontvang sondaars” het hulle gesê, “en eet saam met hulle”
Deur hierdie beskuldiging het hulle geskimp dat Christus graag met die sondaars en slegte mense omgegaan het, en dat Hy onbewus was van hulle sondigheid. Die rabbi’s was teleurgesteld in Jesus. Waarom het iemand wat sy karakter so verhewe voorgedoen het, nie met hulle omgegaan en hulle metodes van onderrig toegepas nie? Waarom het Hy so beskeie en onder alle klasse gewerk? As Hy‘n ware profeet was, het hulle gesê, sou Hy met hulle saamstem en tollenaars en sondaars verontagsaam soos hulle verdien. Hierdie beskermhere van die samelewing was kwaad omdat Hy met wie hulle gedurig in stryd was, wie se rein lewe nogtans hulle ontsag afgedwing en hulle veroordeel het, met sulke duidelike simpatie met die uitvaagsels van die samelewing omgaan. Hulle het nie Sy metodes goedgekeur nie. Hulle het gemeen hulle is geleerd, verfynd en by uitstek godsdienstig, maar Christus se voorbeeld het hulle selfsug ontbloot.
Hulle was ook vertoornd omdat diegene wat veragting vir die rabbi’s getoon het, wat nooit in die sinagoges gesien is nie, rondom Jesus saa-mgedrom en met gespanne aandag na Sy woorde geluister het. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het in daardie reine teenwoordigheid veroordeeld gevoel; hoe was dit dan dat tollenaars en sondaars tot Jesus aangetrokke was?
Hulle het nie geweet dat die verduideliking juis in hulle eie minagtende woorde, “Hierdie man ontvang sondaars,“te vinde was nie. Die siele wat na Jesus gekom het, het in Sy teenwoordigheid gevoel dat daar selfs vir hulle ontvlugting uit die sondemoeras was. Die Fariseërs het hulle net verag en veroordeel, maar Christus het hulle begroet as kinders van God wat wel vervreemd was van die Vaderhuis, maar nie deur die Vaderhart vergete nie. En dit was juis weens hulle ellende en sonde dat Hy vir hulle soveel meer meegevoel gehad het. Hoe verder hulle van Hom weggedwaal het, hoe ernstiger was Sy verlange en groter Sy opoffering om hulle te red.
Die leermeesters van Israel kon al hierdie dinge uit die heilige boeke geleer het, wat hulle met soveel trots bewaar en uitgelê het. Dawid het mos geskryf - dieselfde Dawid, wat in dodelike sonde geval het - “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg.” (Ps. 119:176) Ook Miga het Gods liefde vir die sondaar geopenbaar toe hy gesê het:
“Wie is’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid.” Miga 7:18.
Die Verlore Skaap
Hierdie keer het Christus Sy toehoorders nie aan die Skrifwoord herinner nie. Hy het hom op die getuienis van hulle eie ondervinding beroep. Die wyd uitgestrekte tafellande aan die oostekant van die Jordaan het oorvloedige weiding vir vee aangebied, en deur die klowe en oor die be boste heuwels het menige verlore skaap gedwaal om weer deur ‘n sorgsame herder gesoek en teruggebring te word. In die geselskap rondom Jesus was herders en ook persone wat geld in troppe vee belê het, en almal kon Sy voorstelling waardeer: “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?”
Hierdie siele wat julle verag, het Jesus gesê, is die eiendom van God. Deur skepping en verlossing is hulle Syne, en hulle is waardevol in Sy oë. Net soos die herder sy skape liefhet en nie kan rus as daar selfs een weg is nie, so het God elke verstote siel oneindig meer lief. Mense ontken miskien dat Sy liefde‘n aanspraak op hulle het, hulle dwaal miskien van Hom weg en kies dalk ‘n ander meester; tog behoort hulle aan God, en Hy verlang om Sy eie terug te win. Hy sê: “Soos ‘n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg: en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.” (Eseg. 34:12)
In die gelykenis gaan die herder uit om na een skaap te soek-die minste wat getel kan word. So sou Christus, al was daar net een verlore siel, vir daardie een gesterf het.
Die skaap wat van die kudde weggedwaal het, is die hulpeloosste van alle skepsele. Die herder moet daarna soek, want dit kan nie self terugkom nie. So ook met die siel wat van God weggedwaal het, hy is so hulpeloos soos ‘n verdwaalde skaap, en as Goddelike liefde hom nie kom red het nie, sou hy nooit na God terugkeer nie.
Die herder wat ontdek dat een van sy skape makeer, kyk nie onverskillig na sy trop wat veilig in die kraal is, en sê, “Ek het negen-en-negentig, en dit sal vir my te veel moeite kos om na die verdwaalde een te gaan soek, laat hom terugkom en Ek sal die deur van die skaapkraal oopmaak en hom inlaat” nie. Nee; skaars het die skaap verdwaal of die herder is bedroef en bekommerd. Hy tel sy kudde en tel hulle weer. As hy seker is dat een van die skape makeer, gaan hy nie slaap nie. Hy los die nege-en-negentig in die kraal en gaan die verdwaalde skaap soek. Hoe donkerder en stormagtiger die nag en hoe gevaarliker die weg, hoe groter die herder se angs en hoe ernstiger soek hy. Hy doen alles in Sy vermoë om daardie een verlore skaap te vind.
Met watter verligting hoor hy in die verte die eerste effense geblêr. Hy klim teen die hoogste steiltes agter die geluid aan en waag sy lewe tot aan die rand van die afgrond. So soek hy verder terwyl die geblêr al sagter word en hom laat weet dat die skaap byna dood is. Uiteindelik word sy moeite beloon en die verlorene word gevind. Dan raas hy nie met hom omdat hy hom soveel moeite veroorsaak het nie. Hy jaag hom nie met ‘n sweep aan nie. Hy probeer hom selfs nie huis toe lei nie. In sy vreugde neem hy die bewende dier op sy skouers. As hy gekneus en gewond is, neem hy hom in sy arms en druk hom aan sy bors sodat die warmte van sy eie hart aan hom lewe kan gee. Met dankbaarheid dat sy soektog nie verniet was nie, dra hy hom na die kudde terug.
Dank God, Hy het geen droewige toneel voor ons verbeelding geskilder van ‘n bedroefde herder wat sonder die skaap terugkeer nie. Die gelykenis spreek nie van mislukking nie, maar van sukses en die vreugde van herwinning. Hier is die Goddelike waarborg dat selfs nie een van die verlore skape van Gods kudde oorgesien word nie. Nie een word sonder hulp gelaat nie. Christus sal elkeen wat hom oorgee om vrygekoop te word, uit die put van verdorwenheid en uit die dorings van sonde red.
Wanhopige siel, hou moed, selfs al het u verkeerd gehandel. Moenie dink dat God miskien u sondes sal vergewe en u sal toelaat om in Sy teenwoordigheid te kom nie. God het die eerste toenadering gesoek. Terwyl u in opstand was teen Hom, het Hy u gaan soek. Met die tere hart van die herder het Hy die nege-en-negentig agtergelaat en in die woestyn na die verdwaalde gaan soek. Om die siel wat gekneus en gewond is, wat gereed is om te sterf, slaan Hy Sy arms van liefde, en met vreugde dra Hy hom na die veilige kraal.
Die Jode het geleer dat die sondaar hom moet bekeer voordat Gods liefde tot hom uitgereik kan word. In hulle oog is bekering die werk waardeur die mens die guns van God moes verdien. En dit was hierdie gedagte wat die Fariseërs in verbasing en woede laat uitroep het: “Hierdie man ontvang sondaars.” Hulle het gemeen Hy moes niemand toelaat om Hom te nader behalwe diegene wat tot bekering gekom het nie. Maar in die gelykenis van die verlore skaap het Christus geleer dat redding nie kom deurdat ons God soek nie, maar deurdat God ons soek. “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk.” Rom. 3:11, 12. Ons kom nie tot bekering sodat God ons moet liefhê nie, maar Hy openbaar Sy liefde aan ons sodat ons tot bekering kan kom.
Wanneer die verdwaalde skaap uiteindelik huis toe gebring word, sing die herder sy welluidende danken vreugdelied. Hy roep sy vriende en bure en sê aan hulle: “Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.” So ook wanneer die groot Herder van die skape ‘n verdwaalde skaap vind, hef die hemel en die aarde saam ‘n danken vreugdelied aan.
“Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” Julle Fariseërs, het Christus gesê, dink dat julle die gunstelinge van die hemel is. Julle dink dat julle veilig in julle eie geregtigheid rus. Julle moet dan weet dat as julle geen bekering nodig het nie, My sending nie op julle betrekking het nie. Hierdie arme siele wat hulle armoede en sondigheid voel - dit is juis hulle wat Ek kom red het. Die engele van die hemel stel belang in hierdie verlorenes wat julle verag. Julle kla en trek julle neus op wanneer een van hierdie siele hom by My aansluit; maar weet dit dat engele hulle verheug en‘n triomflied klink in die hemelhowe daarbo.
Die rabbi’s het ‘n gesegde gehad dat daar vreugde in die hemel is as iemand wat teen God gesondig het, vernietig word: maar Jesus het geleer dat die werk van vernietiging vir God ‘n vreemde werk is. Die ganse hemel verheug hom wel in die herstel van Gods eie beeld in die siele wat Hy geskape het.
Wanneer iemand wat ver in die sonde verdwaal het, probeer om na God terug te keer, sal hy kritiek en wantroue ondervind. Sommige sal twyfel of sy bekering opreg is, of hulle sal fluister: “Hy het geen vastigheid nie; ek glo nie dat hy sal kan volhou nie.” Hierdie mense doen nie die werk van God nie, maar die werk van die Satan, wat die aanklaer van die broeders is. Deur hulle kritiek wil die Bose daardie siel mismoedig maak en steeds verder wegdryf van hoop en van God. Laat die boetvaardige sondaar nadink oor die vreugde in die hemel oor die terugkeer van die een wat verlore was. Laat hom rus vind in die liefde van God en geensins mismoedig voel oor die veragting en agterdog van die Fariseërs nie.
Die Rabbi’s het verstaan dat Christus se gelykenis op die tollenaars en sondaars van toepassing was, maar dit het ook‘n breër betekenis gehad. Deur die verlore skaap stel Christus nie net die individuele sondaar voor nie, maar die een wêreld wat afvallig geword het en deur sonde verwoes is. Hierdie wêreld is net‘n atoom in die groot heelal waaroor God regeer, nogtans is hierdie gevalle wêreldjie die een verlore skaap-kosbaarder in Sy oë as die nege-en-negentig wat nie van die kudde weggedwaal het nie. Christus, die geliefde Bevelvoerder van die hemelse howe het Homself verneder; Hy het afstand gedoen van die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het om die een verlore wêreld te red. Hiervoor het Hy die sondelose wêrelde daar bo verlaat - daardie nege-en-negentig wat Hom liefgehad het - en na hierdie aarde gekom om “ter wille van ons oortredinge deurboor” en “ter wille van ons ongeregtighede ... verbrysel” te word (Jes. 53:5) God het Homself in Sy Seun gegee sodat Hy die vreugde kan smaak om die verlore skaap terug te kry.
“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word.” 1 Joh. 3:1. En Christus sê: “Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” (Joh. 17:18) - om aan te vul “die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is.” (Kol. 1:24) Elke siel wat Christus gered het, is geroep om in Sy Naam te werk vir die wat verlore is. Hierdie werk was in Israel verwaarloos. Word dit nie vandag deur diegene verwaarloos wat bely dat hulle Christus se volgelinge is nie?
Hoeveel van die verdwaaldes het u, geagte leser, gaan soek en na die kudde teruggebring? Wanneer u, u van diegene afwend wat onbelowend en onaantreklik skyn te wees, besef u dat u besig is om siele te verwaarloos na wie Christus soek? Juis op daardie oomblik wanneer u hulle verwerp, kan hulle in die grootste behoefte vir u meegevoel verkeer. In elke godsdienstige byeenkoms is daar siele wat na rus en vrede verlang. Dit kan voorkom of hulle onverskillig leef, maar hulle is nie onbewus van die invloed van die Heilige Gees nie. Baie van hulle kan vir Christus gewen word.
As die verlore skaap nie na die kudde teruggebring word nie, dwaal hy totdat hy sterf. En baie siele word verwoes omdat daar nie ‘n uitgestrekte hand was om te red nie. Hierdie sondiges kom miskien hard en onverskillig voor, maar as hulle dieselfde voordele gehad het wat andere gehad het, sou hulle miskien ‘n veel groter eerbaarheid en meer talente vir diensbaarheid aan die dag gelê het. Engele bejammer hierdie verdwaaldes. Engele ween terwyl menslike oë droog is en harte sonder meegevoel gesluit is. O, die gebrek aan diepe, sielroerende meegevoel vir die versoektes en dwalendes! Was daar net meer van Christus se gees en minder, veel minder, van die self.
Die Fariseërs het verstaan dat Christus se gelykenis vir hulle‘n teregwysing was. Pleks dat Hy hulle kritiek oor Sy werk aanvaar het, het Hy hulle vir hulle verwaarlosing van die tollenaars en sondaars tereggewys. Hy het dit nie openlik gedoen nie om te verhoed dat dit hulle harte teen Hom sou sluit, maar Sy illustrasie het hulle op die eintlike werk gewys wat God van hulle verlang het en wat hulle versuim het om te doen. As hulle ware herders was, sou hierdie leiers van Israel die werk van ‘n herder gedoen het. Hulle sou die genade en liefde van Christus geopenbaar het en sou saam met Hom Sy sending verrig het. Hulle weiering om dit te doen het bewys dat hulle beweerde vroomheid vals was. Daar was wel baie wat Christus se teregwysinge verwerp het, nogtans het Sy woorde sommige oortuig. Na Christus se hemelvaart het die Heilige Gees op hierdie persone gekom, en hulle het hulle met die dissipels verenig in die werk wat in die gelykenis van die verlore skaap uiteengesit word.
Die Verlore Silwerstuk
NadatChristusdiegelykenisvandie verloreskaapgespreek het,hetHy‘nandervertel, en gesê: “Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?”
Indie Ooste hetdiehuisevan diearmesgewoonlikuit net eenvertrek bestaan; dikwels vensterloos en donker. Die vertrek is selde uitgevee en ‘n muntstuk wat op die vloer val, sou gou onder stof en rommel bedek word. Om dit te vind, selfs bedags, moes ‘n kers opgesteek en die huis deeglik uitgevee word.
Die vrou se bruidskat het gewoonlik uit geldstukke bestaan wat sy versigtig as haar kosbaarste besitting bewaar het, en wat onder haar dogters verdeel sou word. Om een van hierdie stukke te verloor, sou as’n ernstige ramp beskou word, en om dit weer te vind as ‘n rede tot groot blydskap waarin die buurvroue sou deel.
“En as sydit kry,” het Christus gesê, “roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Hierdie gelykenis, soos die vorige een, stel die verlies van iets voor wat, as dit sorgvuldig gesoek word, weer met groot vreugde gevind sal word. Maar die twee gelykenisse stel verskillende klasse voor. Die verlore skaap weet dat hy verlore is. Hy het die herder en die kudde verlaat en kan hom nie self red nie. Dit stel diegene voor wat besef dat hulle van God geskei is, en in ‘n wolk van onsekerheid, en in vernedering en groot versoeking verkeer. Die verlore muntstuk stel diegene voor wat verlore is in oortredinge en sonde, maar wat geensins bewus is van hulle toestand nie. Hulle is van God vervreemd, maar hulle weet dit nie. Hulle siele is in gevaar, maar hulle is onbewus daarvan en ongeërg. In hierdie gelykenis leer Christus dat selfs diegene wat onverskillig staan teenoor die aansprake van God, die voorwerpe van Sy bejammerende liefde is. Hulle word gesoek sodat hulle na God teruggebring kan word.
” ‘n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.” Jer.50:6. “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.” Ps. 119:176.
Die skaap het vêr van die kudde weggedwaal. Hy het in die woestyn of op die berge verdwaal. Die silwerstuk was in die huis verlore. Dit was naby, maar dit kon net na ‘n sorgvuldige soektog teruggevind word.
Hierdie gelykenis is’n les vir gesinne. In die huisgesin heers daar dikwels groot onverskilligheid wat sy siele betref. Onder hulle kan een wees wat van God vervreemd is, maar hoe min bekommer hulle hulle oor die feit dat een van Gods toevertroude gawes in die gesinsverhouding verlore kan gaan.
Die muntstuk bly ‘n silwerstuk al lê dit tussen die stof en die rommel. Die besitter soek dit omdat dit waardevol is. So beskou God elke siel, al is hy hoe in sonde versonke, as kosbaar. Net soos die muntstuk die beeld en opskrif van die regerende mag dra, so het die mens by sy skepping die beeld en opskrif van God gedra, en hoewel dit nou deur die invloed van sonde geskend en verdof is, bly die tekens van hierdie opskrif nog op elke siel. God verlang om daardie siel te herwin en opnuut Sy eie beeld in geregtigheid en heiligheid daarop af te druk.
Die vrou in die gelykenis soek naarstiglik na haar verlore muntstuk. Sy steek‘n kers op en vee die huis uit. Sy verwyder alles wat haar soektog kan verhinder. Alhoewel daar net een stuk soek geraak het, sal sy nie ophou om te soek voordat sy daardie geldstuk gevind het nie. So moet daar ook as een lid van die gesin vir God verlore is, van elke middel gebruik gemaak word om hom terug te win. Laat die ander lede van die gesin hulleself deeglik ondersoek. laat die lewensgewoontes nagegaan word. Kyk of daar nie een of ander fout is, enige verkeerde manier waarop die gesin gehanteer word, waardeur die siel in onboetvaardigheid gehard word nie.
As daar een kind in die gesin is wat onbewus is van sy sondige toestand, moet die ouers nie rus nie. laat die kers opgesteek word. Ondersoek die Woord van God, en laat alles in die huis met sy lig ondersoek word om uit te vind waarom die kind verlore is. laat die ouers hulle eie harte ondersoek, hulle gewoontes en doen en late. Kinders is die erfenis van dieHereenons moetaanHomverantwoording doenvirdie manierwaaroponsSyeiendom hanteer.
Daar is vaders en moeders wat graag in ‘n buitelandse sendingveld wil werk; daar is vele wat aktief aan Christelike werk buite die huis deelneem, terwyl hulle eie kinders vreemdelinge is vir die Heiland en Sy liefde. Die ouers vertrou die werk om hulle kinders vir Christus te wen, aan die predikant of aan die Sabbatskoolonderwyser toe, maar sodoende versuim hulle hul eie Godgegewe verantwoordelikheid. Die hoogste diens wat ouers vir God kan doen, is om hulle eie kinders op te voed en te leer om Christene te wees.
“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê:
Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie:” lukas 18:16, 17.
Dit is werk wat geduldige arbeid vereis, ‘n lewenslange sorgvuldige en volgehoue poging. As ons hierdie verantwoordelikheid verwaarloos, bewys ons dat ons ontroue rentmeesters is. Geen verskoning vir so ‘n versuim is vir God aanneemlik nie.
Maar diegene wat skuldig was aan verwaarlosing moet nie wanhopig word nie. Die vrou wie se muntstuk soek geraak het, het gesoek totdat sy dit gevind het. Laat ouers net so deur liefde, geloof en gebed vir hulle huisgesinne werk totdat hulle met vreugde na God kan kom en kan sê:
“Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het.” (Jes. 8:18) Dit is ware tuissendingwerk en dit help diegene wat dit doen net soveel as diegene vir wie dit gedoen word. Deur ons getroue belangstelling in die huiskring, berei ons ons voor om vir die lede van die Here se gesin te werk, met wie ons, as ons getrou is, deur die eeue van die ewigheid sal saamwoon. In ons broeders en susters in Christus moet ons dieselfde belangstelling toon as die lede van‘n gesin vir mekaar.
En dit is Gods plan dat hierdie werk ons geskik sal maak om vir nog andere te werk. Namate ons simpatie en liefde toeneem, sal ons orals werk vind om te doen. Gods groot huisgesin behels die hele wêreld en nie een lid daarvan mag verontagsaam en verwaarloos word nie.
Waar ons ook al is, daar wag die verlore silwerstuk om gesoek te word. Soek ons daarna? Dag na dag ontmoet ons diegene wat niks in godsdienstige sake belang stel nie. Ons praat met hulle, ons besoek hulle. Stel ons belang in hulle geestelike welsyn? Hou ons Christus aan hulle voor as die Heiland wat sonde vergewe? Met ons eie harte warm met die liefde van Christus, vertel ons hulle van daardie liefde? As ons dit nie doen nie, hoe sal ons hierdie siele wat vir ewig verlore is in die oe kan kyk wanneer ons saam met hulle voor die troon van God te staan kom?
Die waarde van ‘n siel, wie kan dit bereken? As u dit wil weet, gaan na Getsemane en waak daar saam met Christus deur daardie ure van angs, toe Hy as’t ware groot druppels bloed gesweet het. Aanskou die Heiland aan die kruis opgehef. Luister na daardie wanhopige uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34) Kyk na die gewonde hoof, die deurboorde sy, die gekweste voete. Onthou dat Christus alles gewaag het. Vir ons saligheid is die hemel self in gevaar gestel. Aan die voet van die kruis kan u die waarde van ‘n siel bereken as u onthou dat Christus vir één sondaar Sy lewe sou neergelê het.
As u met Christus in gemeenskap is, sal u dieselfde waarde as Hy aan elke mens heg. U sal vir andere dieselfde innige liefde voel wat Christus vir u gevoel het. Dan sal u in staat wees om diegene vir wie Hy gesterf het, te wen, nie te dryf nie, aan te trek, nie af te stoot nie.GeeneensouooitnaGodteruggebringgeweeshetasChristusnie‘npersoonlikepoging vir hulle aangewend het nie; en dit is deur hierdie persoonlike werk dat ons siele kan red. As u diegene sien wat neerdaal na die dood, sal u nie in stille onverskilligheid en gemaksug rus nie. Hoe groter hulle sonde, en hoe dieper hulle ellende, hoe ernstiger en teerder sal u pogings wees om hulle te herwin. U sal die behoefte gewaar van diegene wat ly, wat teen God gesondig het en gebuk gaan onder die las van sonde. U hart sal saam met hulle voel en u sal ‘n helpende hand na hulle uitreik. In u arms van geloof en liefde sal u hulle na Christus bring. U sal oor hulle waak en hulle bemoedig, en u meegevoel en vertroue sal dit vir hulle moeilik maak om onstandvastig te word.
Die engele van die hemel staan gereed om u met hierdie werk te help. Al die hulpmiddels van die hemel is tot die beskikking van diegene wat trag om die verlorenes te soek. Engele sal u help om die onverskilligste en gehardste persone te bereik. En as een na God teruggebring word, is die ganse hemel verheug; serafs en gerubs bespeel hulle goue harpe en sing lofliedere tot eer van God en die Lam vir Hulle genade en liefde teenoor die mensekinders.