
Die
ontstaan van die unieke ondergrondse Reservoir-galery (2002)
by Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfonteindeur
Hannes Haasbroek
Nasionale Museum, Posbus 266, Bloemfontein, Suid-Afrika Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
OPSOMMING
Haasbroek, H. 2014. Die ontstaan van die unieke ondergrondse Reservoir-galery (2002) by Oliewenhuiskunsmuseum in Bloemfontein. Navors. Nas. Mus., Bloemfontein 30(4): 47-70. Die omskepping van 'n bestaande ondergrondse reservoir by Oliewenhuis-kunsmuseum in 'n uitstalruimte en meerdoelige saal is 'n groot en unieke attraksie vir dié museum. Hierdie groot reservoir wat in 1905 voltooi is, later in onbruik geraak het en vir dekades onder die grond verdoesel gelê het, is toevallig in 1994 ontdek. Aangesien die tema van hierdie studie rondom water gesentreer is, word daar, om dit in konteks te plaas, eerstens na watervoorsieningsbronne sedert die ontstaan van die stad gekyk. Vervolgens word die totstandkoming van die reservoir vroeg in die 20ste eeu as watervoorsieningskonstruksie nagespeur, asook die ontdekking van die reservoir nadat Oliewenhuis-kunsmuseum sy deure in 1989 geopen het. Die stryd en probleme om die konstruksie in 'n funksionele en meerdoelige saal in te rig wat uiteindelik tot die opening in November 2002 gelei het, word ook bespreek. (Oliewenhuis-kunsmuseum, reservoir, Reservoir-galery, watervoorsiening, Nasionale Museum)
ABSTRACT
Haasbroek, H. 2014. The origin of the unique underground Reservoir Gallery (2002) at Oliewenhuis Art Museum in Bloemfontein. Navors. Nas. Mus., Bloemfontein 30(4): 47-70. The conversion of an underground reservoir at Oliewenhuis Art Museum into an exhibition space and multi-purpose hall created a unique attraction for this museum. The large reservoir, which was completed in 1905 and later fell into disuse, lay hidden under the ground for decades until it was discovered by chance in 1994. As the theme of this study centres around water, to place the reservoir in context a look is first taken at sources of water-provisioning since the founding of the city. Thereafter, the establishment of the reservoir early in the 20th century as a water-providing construction is investigated, as well as the discovery of the reservoir after Oliewenhuis Art Museum opened its doors in 1989. The difficulties and problems involved in turning the construction into a functional and multi-purpose hall, eventually leading to its opening as a gallery in November 2002, are also discussed.
(Oliewenhuis Art Museum, reservoir, Reservoir Gallery, water supply, National Museum)
ISBN 978-1-86847-162-1
Die omskepping van 'n bestaande historiese ondergrondse reservoir1 by Oliewenhuiskunsmuseum (fig. 1), Harrysmithstraat 16, in 'n uitstalruimte en meerdoelige saal, gepas bekend as die Reservoir-galery of in die omgang as die Reservoir, is 'n groot en unieke attraksie vir dié museum. Dit het in der waarheid meegebring dat Oliewenhuis nie net as bewaringsentiteit funksioneer nie, maar nou ook heelwat meer geleentheid het om aktiewe kunsbevordering te onderneem en inkomste te genereer deur verhuring van die lokaal vir private en kommersiële funksies. Anders gestel, die Reservoir is nie 'n kunsbewaringsruimte op sigself nie, maar inderdaad 'n ruimte vir kunsaksies.
Hierdie betrokke groot reservoir wat in 1905 voltooi is vir watervoorsiening aan Bloemfontein, later in onbruik geraak het en vir dekades onder die grond verdoesel gelê het, is toevallig in 1994 ontdek (fig. 2).
Dit is waarskynlik die enigste groot ondergrondse kunsgalery in Suid-Afrika wat sy beslag in 'n reservoir gekry het. Ondergrondse kunsgalerye en museums is skaars in die wêreld. So is daar die Museum van Water in St. Petersburg in Rusland wat in 'n ou watertoring en ondergrondse reservoir gehuisves word. In Istanbul is daar die bekende ondergrondse reservoir, die Basilica Cistern, waar musiekkonserte aangebied word. Dit is in die sesde eeu gebou en beslaan die grootte van 'n katedraal. In Parys kom onder andere ondergrondse graffiti-kuns in die katakombes diep onder die stad voor.
1 Die woord “reservoir” is afgelei van reservoir in Frans wat stoorplek (“storehouse”) beteken. 'n Reservoir is gewoonlik 'n opgaardam, terwyl 'n diensreservoir (“service reservoir”) 'n boukonstruksie is, hetsy bogronds as watertorings op pilare of ondergronds in berg- of rotsagtige omgewings, waarin behandelde drinkbare water geberg word as direkte verspreiding aan gemeenskappe. Vgl. “Reservoirs”: http://en.wikipedia.org/wiki/Reservoir (geraadpleeg 9.9.2013).
2 “Basilica Cistern”: http://en.wikipedia.org/wiki/Basilica_Cistern (geraadpleeg 9.9.2013); “Water world of St Petersburg”: http://www.vodokanal.spb.ru/en/shpalernaya_56/vselennaya_vody/ (geraadpleeg 9.9.2013); M.Linström, Art underground, My Mag, Junie/Julie 2012, p. 48.


Inleidend is dit insiggewend om kortliks die dekades lange strewe na 'n eie volwaardige kunsmuseum vir Bloemfontein aan te dui wat uiteindelik in die Oliewenhuis-kunsmuseum vergestalting gekry het. Met die verloop van jare was daar gesamentlike en afsonderlike pogings deur individue en instansies om die oprigting van 'n eie kunsmuseum in Bloemfontein te verwesenlik. By verskeie geleenthede was dit op die rand van sukses, net om weer deur die mat te val. Sodoende het die aanname deur sommige dat Bloemfontein die mees kunsbewuste stad in die land is onder verdenking gestaan. 'n Skrale ligpunt in die verband was toe 'n voormalige burgemeester van die stad, A.C. White, in 1959 fondse en skilderye skenk om 'n kunsgalery, na hom vernoem, in die stadskouburg in te rig. Die galery, wat in 1961 onder die vaandel van die munisipaliteit geopen het, het nooit werklik aan die behoeftes voldoen nie – “die A.C. White-galery het 'n beperkte kunsversameling en die galery is afgesonder en het 'n benouende atmosfeer”.3
Die Nasionale Museum was een van die groot rolspelers in die verkryging van 'n kunsmuseum vir Bloemfontein. Tussendeur het dié museum sy lokale vir die tentoonstellings van die plaaslike kunsverenigings beskikbaar gestel, terwyl die museumbestuur ook talle individuele kunstenaars in die verband tegemoet gekom het. Die Nasionale Museum tesame met ander belanghebbende instansies soos die stadsraad, provinsiale administrasie, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, kunsverenigings en individue soos prof. F.P. Scott het voortgegaan om die ideaal van 'n eie kunsmuseum na te streef. Eers was daar in die verband die Oranje-Vrystaatse kunsmuseumbeplanningskomitee wat die lig in 1966 gesien het en drie jaar later op die amptelike kunsmuseumkomitee uitgeloop het wat die kwessie verder moes dryf. Die verkryging van 'n geskikte terrein, fondsinsameling en die uitbou van die bestaande kunsversameling was onder meer op die agenda.4
Die Jubileumsaal op die hoek van President Brand- en St Andrewstraat was in 'n stadium 'n sterk moontlikheid om as kunsmuseum te oorweeg, terwyl die Ou Presidensie ook geopper is. Teenstrydige standpunte hieroor, asook wat betref hoe so 'n museum bedryf moes word, het die saak in die 1970’s en eerste helfte van die 1980’s laat voortsloer. 'n Onverwagse wending het gekom toe die staatspresidentswoning, Oliewenhuis, aan die Nasionale Museum beskikbaar gestel is om as kunsmuseum ingerig te word. Dit was in alle opsigte die ideale oplossing vir die lank gekoesterde ideaal van 'n eie kunsmuseum vir die stad en het groot byval onder die publiek en vanselfsprekend kunsliefhebbers en kunstenaars gevind.5
Vervolgens is dit ook belangrik om 'n agtergrond van Oliewenhuis-kunsmuseum, 'n Verklaarde Kulturele Instelling, se ontstaan te gee omdat dit immers die terrein is waar die reservoir, wat omskep is in 'n galery, geleë is.
3 A. Smit, Die kunslewe in Bloemfontein vanaf 1940 tot 1978 (MA-verhandeling, UOVS, 1980), p. 265. Die A.C. White-kunsgalery is in 1987 gesluit en die werke in dié versameling is aan Oliewenhuis-kunsmuseum oorgedra. Vgl. D.A. van der Bank, Nasionale Museum. Deel III. A.C. Hoffman se direkteurskap, 1951-1969, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(5), Augustus 2000, p. 133.
4 Smit, p. 245; Van der Bank, A.C. Hoffman se direkteurskap, pp. 132-133; D.A. van der Bank, Nasionale Museum. Deel IV. J.J. Oberholzer se direkteurskap, 1969-1985, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 17(4), Augustus 2001, pp. 87-88.
5 Die Volksblad, 14 en 16.1.1985; Van der Bank, A.C. Hoffman se direkteurskap, pp. 132-133; Van der Bank, Nasionale Museum. Deel IV. J.J. Oberholzer se direkteurskap, pp. 87-88.
Die kunsmuseum word gehuisves in die imposante herehuis in 'n Neo-Kaaps-Hollandse styl op Grantheuwel, skuins oorkant die Meisieskool Oranje en Happy Valley. Die gebou is deur William Mollison, hoofargitek van die Departement Openbare Werke (DOW), en John Stockwin Cleland, sy assistent en sekretaris van dié departement, ontwerp. F.W. Masey van Bloemfontein was die plaaslike konsulterende argitek. Bouwerk is in 1941 teen 'n koste van nagenoeg £21 231 voltooi en die woning is in 1942 betrek. Dit het aanvanklik as amptelike woning van die goewerneurs-generaal en na republiekwording in 1961 as dié van die staatspresidente gedien wanneer hulle in Bloemfontein vertoef.6 Vanweë die voorkoms van heelwat olyfbome op die omliggende heuweltjies is die naam Oliewenhuis in 1972 amptelik daaraan toegeken. Aangesien die verblyf merendeels sporadies was7 en die instandhoudingskoste en administrasie van die woning slegs vir dié doel bevraagteken is, is die staat onder die presidentskap van P.W. Botha na moeisame onderhandelinge deur kunsliefhebbers oortuig om die huis op 19 Julie 1985 aan die Nasionale Museum oor te maak om as kunsmuseum in te rig. Vanselfsprekend is heelwat strukturele veranderinge aangebring om die kunsmuseum tot sy reg te laat kom en die nuutste tegnologie is aangewend om die kunswerke in die ideale klimaat en sekuriteit te bewaar. So het dit gebeur dat die stad op 11 Oktober 1989 sy eerste volwaardige kunsmuseum onder die vaandel van die Nasionale Museum kon inwy.8
Die Oliewenhuis-kunsmuseum het sy deure geopen met die doel om kuns te versamel, te bewaar en uit te stal om sodoende 'n geskiedkundige en kontemporêre kunsversameling vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap te bied. 'n Permanente versameling kosbare skilderye, beeldhou- en grafiese werke is opgebou. Veral skenkings en bemakings van meet af het die kunsversameling verryk. Die stadsraad het die besondere versameling werke van die A.C. White-galery aan Oliewenhuis geskenk en die Nasionale Museum se bestaande permanente versameling het dit aangevul. Vier-en-twintig werke van die Bloemfontein-groep9 het via die F.P. Scott-trust hulle weg na Oliewenhuis gevind. 'n Skenking van die Haenggi-stigting, nadat die Pelindaba Museum van Afrika en Moderne Kuns (PELMAMA) ontbind het, is 'n waardevolle toevoeging. Werke van bekende kunstenaars soos Marianne en Alexander
6 Tydens hulle verblyf in Bloemfontein het die Britse koningsgesin gedurende hul landwye amptelike toer en besoek aan Suid-Afrika in 1947 in dié woning tuisgegaan. Koning George VI, sy eggenote Elizabeth en hulle twee dogters, prinses Elizabeth (vandag koningin Elizabeth II van Groot-Brittanje) en prinses Margaret is met gasvryheid en ingetoë waardigheid ontvang en onthaal. Vgl. The Friend, 24.1.1947, 29.1.1947; J. Haasbroek, Die Britse koningsbesoek aan Bloemfontein, Maart 1947, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(8), Desember 2002.
7 Die langste tydperk van aaneenlopende bewoning was van 12 Mei tot 20 Junie 1960 deur goewerneur-generaal C.R. Swart en sy vrou. Van die latere staatspresidente het eerder verkies om in hotelle tuis te gaan. Vgl. M. Botes, Oliewenhuis – Van ampswoning tot kunsmuseum, Culna, 58, November 2003, pp. 13-15.
8 Volksblad, 31.10.2002; Ons Stad, 11.12.2003; Botes, pp. 13-15; A. Narraine, Visit Oliewenhuis Art Museum, Get It, Mei 2013, pp. 24-25; “Oliewenhuis”: http://www.nasmus.co.za/museum/satellitemuseums/oliewenhuis-art-museum/introd ... (geraadpleeg 21.2.2012).
9 Die Bloemfontein-groep is in 1958 deur kunstenaars gestig om oor die algemeen kuns in die stad te bevorder en in die besonder meer bekendstelling aan hulle eie werk te verleen. Hulle het plaaslik en nasionaal uitgestal. Die lede het bestaan uit Eben van der Merwe, Mike Edwards, Rose-Marie Budler, Frans Claerhout, Alexander Podlashuc, Marianne Podlashuc, Renée le Roux, Stefan Ampenberger, Iris Ampenberger, Arthur Cantrell, Fayetta Varney, Neville Varney en Bruce Hancock (hy het net aan een uitstalling deelgeneem) – almal van Bloemfontein, asook Walter Westbrook van Kimberley. In 1968 het die Groep as sodanig hulle werksaamhede afgesluit, behalwe herdenkingstentoonstellings wat in 1978 en 1988 gehou is. Vgl. Smit, pp. 94, 102; Crampton, S. The Bloemfontein Group: A heritage and a destination, Nasionale Museum Nuus, 34, April 1988, pp. 16-17.
Podlashuc, Frans Claerhout, Stefan en Iris Ampenberger, Mike Edwards, Thomas Baines, J.E.A. Volschenk, J.H. Pierneef en W.H. Coetzer bevind hulle in die kunsmuseum.10 Tydelike kunsuitstallings van bekende kunstenaars van en buite Bloemfontein vind ook deurlopend plaas.
Vandag spog die Kunsmuseum nie alleen met sy waardevolle inhoud in die hoofgebou nie, maar op die terrein is ook die unieke Afrika-mallemeule11 met sy kunsskeppings uit die Afrika- en Europese mitologie waarop besoekers kan ry, ander interessante beeldhouwerke en 'n orkesverhoog in die tuin, die Terrace-restaurant én die ondergrondse Reservoir-galery agter in die tuin en wat hier onder bespreking is.12
Aangesien die tema van hierdie studie rondom water gesentreer is, word daar, om dit in konteks te plaas, eerstens na watervoorsieningsbronne sedert die ontstaan van die stad gekyk. Vervolgens word die totstandkoming van die betrokke reservoir vroeg in die 20ste eeu as watervoorsieningskonstruksie nagespeur, asook die ontdekking van die reservoir nadat Oliewenhuis-kunsmuseum sy deure in 1989 geopen het. Die stryd en probleme om die konstruksie in 'n funksionele en meerdoelige saal in te rig wat uiteindelik tot die opening in November 2002 gelei het, word ook onder die loep geneem. Terselfdertyd wat die reservoir-projek aan die gang was, is die kafeteria op die terrein opgegradeer om as restaurant (eers as Café Olien onder beheer van die Museum en later geprivatiseer en nou bekend as The Terrace) te dien. Ofskoon die twee projekte gelyklopend was, word hoofsaaklik op die verwikkelinge by die reservoir gekonsentreer en slegs sydelings na die ander projek verwys om alles in konteks te plaas.
WATERVOORSIENING IN DIE REPUBLIKEINSE TYDPERK
Tydens 'n groot waterberaad wat in 1985 in Bloemfontein gehou is, was daar 'n opmerking in 'n referaat wat universele weerklank vind, naamlik dat in die benutting van enige streek se ontwikkelingspotensiaal speel water as lewensnoodsaaklike hulpbron 'n uiters belangrike rol. Die beskikbaarheid van water het 'n wesenlike invloed op biologiese lewe, aktiwiteite in alle sektore van die ekonomie, die leefbaarheid van 'n omgewing, mense se ontspanningsaktiwiteite en die geografiese verspreiding van bevolkings gepaardgaande met hulle maatskaplike prosesse.13
10 Volksblad, 31.10.2002; Ons Stad, 11.12.2003; Brosjure: Oliewenhuis Art Museum.
11 Die projek om 'n mallemeule by Oliewenhuis tot stand te bring, het in 1994 'n aanvang geneem. Ofskoon die mallemeule vanselfsprekend op pret gemik is, stel dit ook kuns as 'n breër konsep voor wat op beweging en fisiese gebruik dui, terwyl die ernstige en estetiese invloed behoue bly. Waar ‘perdjies’ gewoonlik by 'n mallemeule geld, is kunstenaars van oor die land betrek om 16 oorspronklike kunswerke van ‘diere’ te skep wat Afrika- en Europese mitologiekonsepte nasionaal integreer sodat dit die verskeidenheid van kulture in Suid-Afrika reflekteer. So word kinders by kuns betrek om kunsliefhebbers vir die toekoms te vorm. Vgl. Brosjure: Oliewenhuis Art Museum.
12 Volksblad, 23.1.2002. Om die Kunsmuseum as instansie sonder pretensie deel van die publiek te maak, bied die Museum ook veel meer as net kunsuitstallings aan om besoekers te trek sodat diegene wat waarskynlik nooit so 'n plek sal besoek nie ‘vriende’ daarvan kan word en moontlik die ontkiemende saadjie van 'n kunsliefhebber kan kweek. So is al rockfeeste, verskeie ander musiekaanbiedings, bier- en wynproe-aande, rolprentaande, 'n verskeidenheid kunswerkswinkels en spesiale museumdae aangebied. Oliewenhuis is die enigste museum in Suid-Afrika wat tydens die jaarlikse Sophia Gray-gedenklesing en -uitstalling 'n argitektoniese uitstalling aanbied.
13 Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek (hierna VPAB): A566, nr. 143, die rol van water in die ontwikkeling van 'n streek (referaat, W.J.H. Vrey, Bloemfontein-waterberaad, 7.5.1985), p. 2.
Sedert Bloemfontein se ontstaan in 1846 as Britse militêre pos en die geleidelike ontwikkeling van ’n dorpie wat die hoofsetel van die republiek Oranje-Vrystaat (18541902) geword het, was watervoorsiening een van die grootste probleme. Die kronkelende spruit wat daardeur geloop het, later Bloemspruit genoem, is kort na die stigting van Bloemfontein opgedam om ’n dammetjie, bekend as “Major Warden’s dam” (vernoem na die stigter van die stad) te vorm wat as reservoir gedien het.14
Soos Bloemfontein se inwonerstal gegroei het, was benewens die spruit en later damme, hoofsaaklik fonteine en privaat en openbare putte die belangrikste voorsieners van water. Baie huishoudings het 'n swart bediende gehad wat uitsluitlik getaak is om water by die verskillende plekke te gaan haal en 'n groot koperhoepelvat en emmers vol water in 'n ry op 'n bankie was by huise 'n algemene gesig.15
Die fontein waaruit die dorp se naam voortgevloei het, te wete “Bloem Fontein”, was die belangrikste en sterkste. Teen die einde van die 1850’s was daar reeds vier putte ten suide van die spruit wat goeie suiwer water opgelewer het. Met verloop van tyd het openbare putte al hoe meer hulle verskyning gemaak. Teen die 1880’s was daar putte voor die markgebou, in Waaihoek, op die hoek van Monumentweg en St Georgestraat, aan die boent van Maitlandstraat, op Wardenplein en in Pres. Brandstraat. In 1891 is 'n verdere put by die stadsaal gegrawe. Hierdie munisipale putte is gewoonlik van 'n pomp voorsien, andersins is ook van die tradisionele katrolle en emmers gebruik gemaak. In die 1890’s was daar ook reeds 32 privaat putte in werking.16
Ofskoon die fonteine en putte aanvanklik die dorp van voldoende water voorsien het, het droogtes weldra knellend hierop ingewerk. Die bou van damme is ook as 'n logiese oplossing beskou. Die bekendste dam was stellig die groot dam met sy effens konvekse wal wat in ongeveer 1866 agter die Presidensie (staatspresidentswoning) en die Damesinstituut (Eunice-skool, vandag deel van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie), beide in President Brandstraat, gebou is. Die opvangsgebied was die vlakte tot by Brandkop in die suide en die hele omgewing waar Parkweg en Eerstelaan vandag kruis, was onder water. Die wal is etlike keer verhoog om meer water beskikbaar te hê. Die dam het nie alleen Bloemfontein van water voorsien nie, maar was die swem-, bad- en sosiale uitspanplek van die inwoners, die speelplek van kinders en die drinkplek van diere.17 In 1891/92 het Bloemfontein nogal ’n omwenteling beleef toe twee nuwe noemenswaardige damme gebou is. Die een dam was op die gemeenskapsgronde suidwes van Bloemfontein in die omgewing van Brandkop en
14 K. Schoeman, Bloemfontein – Die Ontstaan van ’n Stad 1846-1946, p 3; P.W. Grobbelaar (red.), Die Vrystaat en sy Mense, p. 53.
15 Schoeman, p. 118.
16 The Friend, 18.2.1854, 11.1.1877 en 22.2.1877; P.M. Snyman, Die grondslag van die historiese aardrykskunde en die toepassing van die ‘spesifieke periode’-metode op die historiese aardrykskunde van Bloemfontein (MA-verhandeling, UOVS, 1969), pp. 171-174; S. Botha, Die verandering en ontwikkeling van die woonhuisargitektuur in Bloemfontein gedurende die tydperk 1856-1946 met bydraende faktore (MA-verhandeling, UOVS, 1991), p. 12; Schoeman, p. 118.
17 Argief vir Eietydse Aangeleenthede (AREA), PV 522, 2/1/3: E.N. Roberts, “The Bloem Fontein”, ongepubliseerde artikel, p. 14; C.J. Carrol, Bloemfontein in bygone days, The Friend, 5.4.1927, p. 8; H.H.A. Groenewald & A.D. Haroldt, Bloemfontein tot 1900, Argitektuur-historiese studie, UOVS, 1977, p. 353; Schoeman, Bloemfontein, p. 49; K. Schoeman, Bloemfontein in Beeld, p. 92.
Navors. nas. Mus., Bloemfontein Volume 30, Deel 4
die ander teenaan die oostekant van die stad op die plaas Rustfontein, deel van Douglas Valley.18
Die stigting in 1889 van die Bloemfontein-waterkompanie wat die stad se watervoorsiening moes bestuur en bevorder, het daartoe gelei dat die stadsraad besef het dat voorsiening gemaak moes word vir meer volhoubare watervoorraad. Die koms van die spoorweg na Bloemfontein in die 1890’s en gepaardgaande ontwikkeling het vanselfsprekend druk op die stad se watervoorraad geplaas. Op 'n openbare vergadering in 1895 is die Modderrivierskema aanvaar en die daaropvolgende jaar is besluit dat die water in die rivier by Sannaspos die beste opsie is om 'n dam te bou. Enkele maande voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het die eerste effens modderige water uit dié skema via 'n diensreservoir van 800 000 gelling in die omgewing van Naval Hill Bloemfontein se inwoners bereik.19
DIE TOTSTANDKOMING VAN DIE RESERVOIR IN 1905
Na die Anglo-Boereoorlog het die kort koloniale tydperk, toe die Vrystaat as die Oranjerivierkolonie (1902–1910) bekend gestaan het, jare van ongekende vooruitgang beleef. Nie alleen het onder andere etlike nuwe openbare geboue die lig gesien nie, maar watervoorsiening was ook hoog op die prioriteitslys. In November 1904 is waterwerke met 'n kapasiteit van 220 000 000 gelling by Maselspoort geopen en dit is gevolg deur Mockesdam met 'n kapasiteit meer as twee keer so groot.20
Gelyklopend hiermee het twee diensreservoirs in Bloemfontein tot stand gekom. Die een is op Seinheuwel (so genoem na aanleiding van die Britse soldate se seinpos aldaar gedurende die Anglo-Boereoorlog) uitgegrawe en bekend as die “lower level service reservoir”, die ander op Grantheuwel (oorsprong van die naam is nie duidelik nie), bekend as die “higher level service reservoir”.
Inligting en bronnemateriaal oor die twee reservoirs is beperk. Amptelike stukke van die plaaslike owerheid en berigte in die media destyds wat opgespoor kon word, verwys net oorlangs na die totstandkoming daarvan, terwyl die spesifieke ligging van die reservoirs nie duidelik genoem word nie. Die toevallige ontdekking van die groot reservoir in 1994 op die terrein van Oliewenhuis-kunsmuseum en enkele jare later die attent maak deur die polisie van 'n groter soortgelyke reservoir op Seinheuwel,21 tesame met die beskikbare bronnemateriaal oor dié reservoirs, het genoegsame materiaal voorsien om die reservoirs in hulle historiese konteks te plaas.
18 VPAB: MBL 3/1/3, Mayor’s Minute from the 1st September to the 31st August 1892, p. 4; The Friend, 9.7.1890; 13.8.1890; 26.9.1890; 4.9.1891; 29.1.1892.
19 The Friend, 8.5.1889, 16.8.1895, 11.12.1896, 16.5.1899; Snyman, pp. 169-177; Groenewald & Heroldt, pp. 350-358; Schoeman, Bloemfontein, p. 119. Een gelling = 4,5 liter.
20 VPAB: MBL 3/1/9, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1904, p. 49; The Friend, 10.11.1904; Schoeman, Bloemfontein, p. 187.
21 Etlike jare gelede het outeur van die artikel die polisie vergesel na die reservoir op Seinheuwel wat deur die roete teen Agtstestraat op bereik is. 'n Versteekte mangat in die veld verleen die enigste toegang tot die reservoir, net soos die geval ook sou wees met die reservoir-ontdekking by Oliewenhuis. Die pikdonker Seinheuwel-reservoir is moeisaam met flitsligte betree en tekens van satansaanbidders was teen die mure opmerklik – ook die rede hoekom die polisie die plek onder oë hou.
In sy jaarverslag vir 1904 het burgemeester W.H.S Reid aangekondig dat die uitgrawings van beide die diensreservoirs voltooi is, 'n voorman aangestel is sodat die werk kon voortgaan en dat masjinerie en tydelike behuising daarvoor vanaf Maselspoort bekom is.22 Die volgende jaar het die bouwerk aansienlik gevorder en die een op Seinheuwel is eerste aan aandag gegee. In April is tenders ingewag om 65 steunpunte vir die reservoirs te voorsien.23 So ook is die tender van F.W. Gray, wat ook die laagste tender was, aanvaar om die dak van die reservoirs van metaalstawe te voorsien om die gewelfvormige konstruksie daarvan te dra.24 Onder die wakende oog van die stadsingenieur sou voortgegaan word om die dakgewelf met rooibakstene en messelklei te vorm.25 Sporadies het die stadsraad verneem dat werk bevredigend vorder en op datum is.26 Aan die begin van Augustus is 'n aanvang geneem met die aanbring van die dakmetaalstawe by die Grantheuwel-reservoir, terwyl die oprigting van die steunpunte in die daaropvolgende twee weke ook aandag geniet het. Teen hierdie tyd was die dak van die Seinheuwel-reservoir so te sê voltooi. In September 1905 is bouwerk aan dié reservoir afgehandel en daar is begin om dit vol te pomp, terwyl die uitmessel van die ander een aan die gang was.27
Reid was in 1905 weer in die burgemeesterstoel en in sy verslag van daardie jaar het hy met genoegdoening geskryf dat beide reservoirs voltooi is:
“The work in Bloemfontein in connection with the Additional Waterworks scheme consisted of the building of Low and High Level Service reservoir. The former has a capacity of 2,000,000 gallons and is worked in conjunction with the old reservoir [waarskynlik teen Naval Hill]. The High Level Reservoir has a capacity of 300,000 gallons. Both of these are completed and in use. Both reservoirs are roofed over.” 28
DIE ONTDEKKING VAN DIE RESERVOIR OP DIE OLIEWENHUIS-TERREIN
Tydens die beplanningsfase van die plasing en oprigting van die mallemeule by Oliewenhuis-kunsmuseum in 1994 is 'n terreinplan by DOW aangevra. 'n Konstruksie noord van die gebou is op die terreinplan gesuggereer in stippellyne waarvan niemand in daardie stadium kennis gedra het nie. By nadere ondersoek het 'n versteekte mangat (fig. 3) in die tuin tussen die plantegroei tot 'n groot ondergrondse struktuur gelei waarin water ongeveer 'n halwe meter diep gestaan het. Stefan Hundt (fig. 4), die kurator in daardie stadium, en Jan Ras, bekende Bloemfonteinse argitek en lid van die Vriende van Oliewenhuis, was van die heel eerste mense wat na al die jare die reservoir betree het.29
22 VPAB: MBL 3/1/9, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1904, p. 49.
23 The Friend, 14.4.1905.
24 VPAB: MBL 1/1/1/12, Notule van Stadsraadsvergadering, 4.5.1905, p. 376.
25 VPAB: MBL 1/1/1/13, Notule Openbare Werkevergadering, 11.5.1905, p. 14; MBL 1/1/1/12, Notule van Stadsraadsvergadering, 18.5.1905, p. 396.
26 VPAB: MBL 1/1/1/12, Notule van Stadsraadsvergadering, 20.7.1905, p. 468.
27 VPAB: MBL 1/1/1/12, Notule van Stadsraadsvergadering, 3.8.1905, p. 476; 17.8.1905, p. 488; 7.9.1905, p. 503; 21.9.1905, p. 530; MBL 3/1/10, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1905, p. 27; The Friend, 8.9.1905.
28 VPAB: MBL 3/1/10, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1905, p. 27.
29 Persoonlike mededeling: Jan Ras, Bloemfontein, 21.1.2014.
Benewens dat hy grootliks die inisieerder van die Afrika-mallemeule was, was Hundt aan die stuur van sake met die ontdekking van die konstruksie en het 'n leidende rol in die aanvanklike ontginning daarvan gespeel.30

Tereg kon die Volksblad later opmerk: “Dit is alles te danke aan 'n mallemeule wat staanplek moes kry dat Oliewenhuis vandag kan spog met 'n ondergrondse kunsmuseum.”31 Daar is gesinspeel dat dit een kans in 'n duisend was dat die reservoir ontdek is,32 want as die mallemeule-projek nie gerealiseer het nie, kon die massiewe reservoir-konstruksie steeds verdoesel gelê het terwyl die lewe sy daaglikse gang op die grasperk bo-oor gegaan het.
30 Persoonlike mededeling: Dirk van den Berg, Bloemfontein, 24.12.2013; Jan Ras, Bloemfontein, 21.1.2014.
31 Volksblad, 3.10.2002.
32 Volksblad, 25.6.2001.
Beligting is terstond gereël om die ontdekking te peil (fig. 5). Inlaat- en uitsuigwaterpype in die suidelike hoek het die vermoede onmiddellik verskerp dat dit 'n wateropgaartenk moes wees wat hier in hoofsaaklik soliede graniet uitgekap is. Water is dus ingelaat deur 'n staalpyp met 'n deursnee van ongeveer 35 cm en uitgelaat deur 'n ander pyp met 'n
33

Navors. nas. Mus., Bloemfontein Volume 30, Deel 4
Voor die oë van die personeel en belangstellendes het 'n konstruksie in die vorm van 'n ondergrondse reservoir ontvou met 'n oppervlakte van ongeveer 450 vierkante meter waarvan die dak gestut word deur twee rye van vyf steunpunte (uit gekapte doleriet oftewel ysterklip) met twee dra-balke daaroor waarop 'n gewelfde dak rus. Daar is opgemerk dat die mure en vloer van die konstruksie van gegote beton is, maar dit was nie heeltemal waterdig nie - reënwater het dus deur die dekades van buite deurgesypel en in die reservoir opgegaar. Die binnemaat van die reservoir is op ongeveer 14 x 33 x 3,2 meter vasgestel en kon sowat 1 440 kubieke meter water hou.34
Wat hier na bykans 90 jaar ontdek is en beskryf is as uniek, tombe-agtig, dramaties en voortreflik, is die einste ondergrondse diensreservoir wat in 1905 op Grantheuwel voltooi is om Bloemfontein van water te voorsien.

DIE ONTWIKKELING EN TOTSTANDKOMING VAN DIE RESERVOIRGALERY
Na die ontdekking in 1994 sou dit 'n geruime tyd duur voordat 'n aanvang geneem is met die totstandkoming van die ondergrondse galery. Die volgende jaar het Hundt, argitekte Jan Ras en Clive Househam, bourekenaar Edmund Hattingh en lede van die Vriende van Oliewenhuis ('n vrywillige vereniging wat hulle ten doel stel om die aktiwiteite van die 34
Kunsmuseum te bevorder) die reservoir se opset in oënskou geneem hoe die pad vorentoe moes loop.35 Eers vroeg in 1996 is die wiele langsaam aan die rol gesit toe die komitee van die Vriende van Oliewenhuis onder voorsitterskap van Hattingh met voorlopige planne, voorstelle en motiverings vorendag gekom het. Op 26 April 1996 het die Nasionale Museum se direkteur, dr. C.M. Engelbrecht, die Museum se DOW-begroting voor die direkteur-generaal van die Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie gelê en terselfdertyd hom ingelig oor die ondergrondse reservoir by Oliewenhuis en wat daarmee beplan word en dat dit verkieslik deel van dié begroting moes bly. “Dit gaan 'n treffer wees!” het hy onder die reservoir-inskrywing afgesluit.36
In Junie 1996 het Engelbrecht die DOW-streekverteenwoordiger ingelig oor die unieke potensiaal wat die reservoir het om as uitstallokaal en dies meer ingerig te word en hoe die konstruksie aangepas moes word om hiervoor geskik te wees, terwyl 'n oproep om finansiële ondersteuning daarvoor ook weer gedoen is.37 Maar op 10 Oktober 1996 is daar tydens 'n maandvergadering van die Kunsmuseum waar Engelbrecht en dr. C. Lynch (adjunkdirekteur van die Nasionale Museum) en Hundt teenwoordig was, aangekondig dat wat betref die reservoir-projek geen vordering gemaak is nie en “'n meer volledige voorstel moet volgende jaar opgestel word”.38
Na die ontdekking van die reservoir was Oliewenhuis in die bevoorregte posisie om na die goeie werk wat Hundt gedoen het, sedert September 1997 die bekwame Sharon Crampton (fig. 6) as kurator van die Kunsmuseum in die pos te hê wat die reservoir-ontwikkelings verder kon dryf. Sy het juis na haar aanstelling haar voorgeneem om “op verskeie vlakke lewe in die ‘mooi huis op die heuwel’ te blaas”, waarvan die reservoir as meerdoelige uitstalruimte beslis een was.39
Nieteenstaande Jan Ras-argitekte se aanvanklike opbouende betrokkenheid by die projek,40 het DOW so te sê op eie inisiatief voortgegaan om Van der Westhuizen Botha Argitekte (vandag bekend as Beautiful Buildings Professional Architects) van Bloemfontein vir die opstel van die planne te oorweeg. So gebeur dit dat hulle planne en voorstelle vir die omskepping van die reservoir in April 1998 aan die Nasionale Museum lewer wat om verskeie redes nie genoeë daarmee geneem het nie en die besware is aan DOW in Pretoria oorgedra. Intussen is die betrokke argitekte ook meegedeel dat die advieskomitee van Oliewenhuis en die raad van die Nasionale Museum insae daarin moes hê en die nodige goedkeuring gee.41
35 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Mei – Julie 1995, Oliewenhuis, p. 49. As argitektuurdosent aan die Vrystaatse universiteit het Jan Ras saam met sy eerstejaarstudente, elk met 'n kers as deel van 'n bekendmakingsprojek, in 'n stadium die nuutontdekte reservoir betree. Toe die kerse die een na die ander uitdoof, het hulle blitsvinnig – almal was nog nie eers behoorlik in die reservoir nie –padgegee met die besef dat die lug in die konstruksie nie vir mens en vlam voordelig is nie. Persoonlike mededeling: Jan Ras, Bloemfontein, 21 en 22.1.2014.
36 Nasionale Museum (DOW): A2/6, M. Engelbrecht – Direkteur-generaal, 26.4.1996.
37 Nasionale Museum (DOW): A2/6, M. Engelbrecht – DOW-streekverteenwoordiger, 27.6.1996.
38 Nasionale Museum (Oliewenhuis): A3/20, Oliewenhuis-maandvergadering, 10.10.1996.
39 Volksblad, 2.1.2002. Stefan Hundt het op 30 April 1997 die diens van die Museum verlaat.
40 Jan Ras-argitekte (Argief), Lêer JR/A/201/93, S Hundt – J. Ras, 25.9.1996.
41 Nasionale Museum (DOW): A2/6, Van der Westhuizen Botha Argitekte – C.M Engelbrecht, 6.4.1998; C.M. Engelbrecht - Van der Westhuizen Botha Argitekte, 7.4.1998; C.M. Engelbrecht –DOW Pretoria, 5.5.1998.
(1997-2008).

In sy skrywe op 5 Mei 1998 aan DOW meld die direkteur van die Nasionale Museum: “Die prosedure tot op hierdie stadium verwar ons effens. Ons voel dat ons nog skaars enige insette gelewer het toe die planne al gereed was om op tender uit te gaan.”42 Probleme met die voorgestelde planne is uitgewys, onder andere die bogrondse struktuur wat nie die tuin komplimenteer nie, sekere strukturele probleme en onduidelikheid wat betref die koste en wat presies die opdragte aan die argitek is. 'n Ernstige versoek is gerig dat die werk nie op tender moes uitgaan nie voordat al die rolspelers koppe bymekaargesit het om die probleme uit te pluis en die projek sodoende op 'n gesonde grondslag te plaas.43
42 Nasionale Museum (DOW): A2/6, C.M. Engelbrecht – DOW Pretoria, 5.5.1998.
43 Nasionale Museum (DOW): A2/6, C.M. Engelbrecht – DOW Pretoria, 5.5.1998.
In Julie 1998 het die direkteur by die plaaslike tak van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede (RNG) verneem of daar enige besware in beginsel teen die voorgenome projek sou wees. Terselfdertyd merk hy in dié skrywe aan mej. H. Gouws op dat die huidige planne en sketse44 nie aanvaarbaar is nie en derhalwe nog nie aangeheg word nie totdat die argitek met nuwe voorstelle vorendag kom. Nietemin is 'n beskrywing gegee van wat beoog word en wat dit moes behels. Die reservoir moes omskep word om 'n uitstal-area vir tydelike en reisende uitstallings te huisves wat terselfdertyd vir konferensies en opvoedkundige programme gebruik kon word. Hiervoor moes die volgende voorsien word: Ingangsportaal, dienskombuis, ablusiegeriewe, ontvangslokaal, stoorkamer, gebruikersvriendelike vloere, voldoende ventilasie en beligting, waterbestande konstruksie en die nodige sekuriteits- en brandmeganismes.45
In daardie jaar is voortgegaan met ernstige beraadslagings tussen DOW en die Nasionale Museum/Oliewenhuis-kunsmuseum oor die implementering van die reservoir-projek en dit sou voortduur totdat die inrigting daarvan in Mei 2001 afgeskop het.46 Ofskoon die argitekte, Van der Westhuizen Botha, terug by die tekenbord, besig was om nuwe planne vir die reservoir-projek op te trek, het kommer in die middel van 1998 bestaan of die staat die nodige befondsing sou kon verskaf om dit te voltrek.47
Uiteindelik het alles in plek begin val. Teen einde April 2000 het DOW verdere voorlopige voorstelle aan die Museum gedoen vir die inrigting van die reservoir waarna die argitekte voortgegaan het om die planne te finaliseer.48 Ten spyte van die aanvanklike verskillende sienings oor hoe die reservoir-projek tot volvoering gebring moes word, het die samewerking tussen die Nasionale Museum/Oliewenhuis en DOW bevredigend gebly sodat dit, wat as 'n onmoontlike droom gesien is, mettertyd kon realiseer.49
Einde ten laaste kon Sharon Crampton in Desember 2000 in Oliewenhuis se nuusbrief aankondig: “Na maande se spekulasie is dit vir ons aangenaam om aan te kondig dat die planne vir die uitbreiding van die kafeteria en die restourasie van die ondergrondse reservoir uiteindelik goedgekeur is.”50 Tenders om die bouprojek aan te pak, het op 22 Januarie 2001 gesluit. Dit is toegeken aan AJ Pretorius-boukontrakteurs en Nicks Electrical.51 Op 14 Mei 2001 is die betrokke Oliewenhuis-terrein amptelik aan die kontrakteurs oorhandig om beide projekte aan te durf, dit wil sê die omskepping van die
44 Ofskoon die RNG, nadat dit die planne onder oë gehad het, gelyk gegee het dat die voorstel van DOW nie in lyn met die erfenisomstandighede van Oliewenhuis was nie en dat dit 'n ontoepaslike voorstel was, kon die instelling geen stukrag aan sy besware gee nie. Sy bestaansreg in die nuwe demokratiese Suid-Afrika het volgens nuwe wetgewing in 1999 op 31 Maart 2000 uitgeloop. Dit is eers enkele jare later deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) vervang. Persoonlike mededeling: Cobus du Preez, Bloemfontein, 17.1.2014.
45 Nasionale Museum (Oliewenhuis); A3/20, C. Engelbrecht – H. Gouws, 16.7.1998.
46 Crampton, pp. 31-32.
47 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Februarie – April 1998, Oliewenhuis, p. 41; Mei – Julie 1998, Oliewenhuis, p. 40.
48 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Februarie – April 2000, Oliewenhuis, p. 34; Mei – Julie 2000, Oliewenhuis, p. 35.
49 Oliewenhuis-nuusbrief, Februarie 2002, p.1.
50 Oliewenhuis-nuusbrief, Desember 2000, p. 1.
51 Nasionale Museum-kwartaalverslae, November 2000 – Januarie 2001, Oliewenhuis, p. 35; Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004: Minutes of site meeting, 25.2.2002.
reservoir in 'n galery en uitbreidings aan die kafeteria om as restaurant te dien.52 Teen einde Oktober 2001 was die vernuwing van die reservoir slegs 20% gevorder, terwyl die kafeteria/restaurant-opset 80% gehaal het. Die rede hiervoor is uitdruklik in Oliewenhuis se kwartaalverslag uitgestippel: “The delay with the reservoir is being caused by large rocks, which are virtually being removed manually.”53
Toegang tot en benutting van die reservoirlokaal het uitgrawings direk langs die reservoir aan die noordoostelike kant genoodsaak en dit het tot 'n aantal konstruksie-probleme gelei. Aangesien sterk bewegings die bestaande reservoirkonstruksie kon laat intuimel, kon die omringende rotsformasie nie met plofstof opgebreek word nie. Die hoofsaaklik soliede rotse is derhalwe moeisaam met lugdrukbore opgebreek.54 Hierdie moeisame proses, tesame met swaar reën, het meegebring dat die bouwerk, wat oor die algemeen goed gevorder het, effens later voltooi sou word as wat aanvanklik beplan is. Die voltooiingsdatum was eers 14 Februarie 2002, daarna geskuif na einde Maart en toe na 26 April 2002, maar dit was steeds nie haalbaar nie. Die onsekerheid hieroor wat geheers het, het dit moeilik gemaak om 'n openingsfunksie en gepaardgaande uitstalling te finaliseer.55
Nietemin is tydens 'n terreinvergadering op 25 Februarie 2002 aangekondig dat die reservoir-bouwerk 80% voltooi is, terwyl die nuutgeskepte ingangsgedeelte, wat die voorportaal, kombuis en toilette bogronds behels, trappe wat afwentel na die ondergrondse toegangsportaal tot die reservoir waar ook 'n dienskombuis en stoorkamer is, op 15% staan.56 Die installering van 'n hysbak was ook in wording en voorsiening is in die reservoir gemaak vir 'n ingeboude stelsel om die temperatuur en vog te beheer.57
Een van die belangrikste aspekte wat in ag geneem moes word by die omskep van die reservoir in 'n uitstalruimte was om dit waterdig te maak. 'n Groot uitdaging was om die grond en gras wat die dak van die reservoir bedek het, sonder masjinerie te verwyder en voorsorg te tref dat die kwesbare dak nie beskadig word nie. Ten einde die mure en vloer waterdig te kry, is rooi siersteenmure aan die binnekant van die betonmure gebou en 'n laag beton op die vloer gegiet wat met leiklipteëls bedek is. Die waterdigting van die hele konstruksie was immers 'n voortdurende probleem en kort voor die opening van die Reservoir is probleme daarmee steeds uitgewys.58
52 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Mei – Julie 2001, Oliewenhuis, p. 32.
53 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Augustus – Oktober 2001, Oliewenhuis, p. 31. Vandag is die restaurant geprivatiseer en staan as The Terrace bekend.
54 Crampton, p. 31; “Oliewenhuis Art Museum”
:http://www.publicworks.gov.za/oldweb/speeches/depmin/2002/14nov2002.htm (geraadpleeg 29.11.2005); Oliewenhuis Art Museum-brosjure: The Reservoir – Information rediscovery (Motheo District Municipality).
55 Nasionale Museum-kwartaalverslae, November 2001 – Januarie 2002, Oliewenhuis, p. 36; Februarie – April 2002, Oliewenhuis, p. 36; Bloemnuus, 8.3.2002.
56 Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004: Minutes of site meeting, 25.2.2002.
57 Volksblad, 25.6.2001.
58 Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004: M. Botha – AJ Pretorius-boukontrakteurs, 2.9.2002, 12.11.2002. Ofskoon alles moontlik in die stryd gewerp is om doeltreffende waterdigting te verseker, sou waterlekkasies en -probleme na voltooiing van die projek steeds voorkom wanneer swaar reën geval het. So het dit in Maart 2003 gebeur dat die gebruik van die Reservoir voorlopig gestaak moes word nadat die hele vloer onder water was en besoekers moes teleurgesteld weggewys word. Vgl. Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004: S. Crampton – Van der Westhuizen Botha Argitekte, 24.3.2003; Nasionale Museum-kwartaalverslae, Februarie – April 2003, Oliewenhuis, p. 35.
Soos die projek geleidelik gevorder (figure 7, 8 & 9) het en die unieke veeldoelige kunslokaal voor die oë van die publiek, instansies en kunstenaars vorm aangeneem het, het lofprysinge en komplimente daarvoor ingestroom. Veral oor naweke is die onvoltooide reservoir druk besoek en die opsigters en ander personeel moes bontstaan om al die vrae oor die projek van opgewonde en nuuskierige mense te beantwoord.59
Einde Oktober 2002, dit wil sê kort voor die amptelike openingsdatum wat uiteindelik op 14 November 2002 vasgestel is, het die kurator van Oliewenhuis haar kommer uitgespreek dat etlike kleiner afrondingswerk aan die reservoir steeds gedoen moes word en dat waterlekkasies na reën of tydens besproeiing van die grasperke op verskillende plekke voorkom. Die vertroue is uitgespreek dat dit spoedig uitgesorteer sou word.60
Eerw. Musa Zondi, destyds adjunkminister van openbare werke, het die Reservoir-galery amptelik geopen. Sowat 400 gaste was teenwoordig en Rick Nuttall, toe adjunkdirekteur van die Nasionale Museum, het as seremoniemeester opgetree, terwyl die St Patrick Marimba-kwartet die musiek verskaf het. DOW het die helfte (R7 500) van die koste van die openingsfunksie geborg. Gepaardgaande met die opening is twee reekse kunswerke, te wete Christ and the other Person en Reconciliation by Women, van die bekende Vrystaatse skilder van Belgiese afkoms, vader Frans Claerhout, uitgestal. Hierdie werke het deel van die Kunsmuseum se permanente versameling geword.61
In sy eerste paragraaf van sy openingsrede het die minister gesê: “I indeed feel honoured to share this exciting event of opening the mysterious reservoir with you. I must admit that I had a previous sneak at the work done here on one of my visits to Bloemfontein and already at that stage of witnessing work in progress I felt the thrill of turning this find into something that will be preserved for prosperity, some place that will contribute to the appreciation and sharing of our precious collection of South African works of art.”62 Vervolgens het hy onder andere ook opgemerk dat in die verlede daar konflik tussen die volkere in die land was, maar dat harmonie nou aan die orde van die dag is. In die verlede het hulle mekaar se prestasies, kulture en gebruike agterdogtig gadegeslaan, maar nou is almal daartoe verbind om van mekaar te leer en ander se kultuur en erfenis te waardeer.63
59 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Mei – Julie 2002, Oliewenhuis, p. 33; Oliewenhuis-nuusbrief, Februarie 2002, p. 1.
60 Nasionale Museum-kwartaalverslae, Augustus – Oktober 2002, Oliewenhuis, p. 34.
61 Nasionale Museum-kwartaalverslae, November 2002 – Januarie 2003, Adjunkdirekteur, p. 10; Oliewenhuis, p. 34; Volksblad, 6, 12 en 16.11.2002. Voor die amptelike opening het die Reservoir reeds as uitstalruimte gedien vir die beelde-uitstalling, Die rooi tapyt, deur Jan van der Merwe. Vgl. Volksblad, 2.10.2002, 12.11.2002.
62 “Oliewenhuis Art Museum
”:http://www.publicworks.gov.za/oldweb/speeches/depmin/2002/14nov2002.htm (geraadpleeg 29.11.2005).
63 “Zondi opening art galery”: http//www.polty.org.za/article/zondi-opening-and-handover-ofextensions-to-art-gall (geraadpleeg 21.2.2012).
Figuur 7: Nadat die gras bo die reservoir verwyder is, is die gewelfde steendak blootgelê om te versterk en waterdig te maak. In die noordelike muur (sigbaar op die voorgrond) van die reservoir sou weldra openinge ingebreek word om die struktuur te kon betree. Heel voor is die uitgrawings waar die nuwe konstruksie moes verrys om toegang tot die reservoir te verleen. Agter vertoon Oliewenhuis-kunsmuseum.

(Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum)
Figuur 8: Hier kan waargeneem word wat ʼn geweldige moeilike taak dit was om die uitgrawings met lugdrukbore te doen vir die oprigting van die nuwe toegangstruktuur. Vanselfsprekend was dinamiet buite die kwessie omdat dit die reservoir kon beskadig. Openinge is in die reservoirmuur aangebring wat omskep sou word as ingang vanaf die nuutgeboude toegangsvertrekke na die reservoir as sodanig.
(Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum)

muur van die oorspronklike reservoir duidelik sigbaar van waar die galery na voltooiing betree sou word. Op die agtergrond is die Afrika-mallemeule sigbaar. Juis die terreinplanne van Oliewenhuis wat getrek is om die mallemeule se plasing uit te klaar, het gelei tot die ontdekking van die reservoir toe dit op die planne opgemerk is. (Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum)
Sodoende het Bloemfontein 'n kunsskat van sowat R3,8 miljoen ryker geword (figure 10 & 11). Die omskepping van die reservoir in 'n meerdoelige kunslokaal is deur die nasionale Departement van Kuns en Kultuur gefinansier en altesaam 35 tydelike werksgeleenthede is in die proses geskep.64 In die openingsmaand van die Reservoir het 'n rekordgetal van 11 700 besoekers by Oliewenhuis opgedaag.65
In hierdie tyd van opwinding en trots rondom die opening van die Reservoir-galery het 'n onverkwiklike situasie opgeduik wat 'n effense demper op die gebeure geplaas het. Klaarblyklik het die kontrakteur nie al die subkontrakteurs vir hulle werk vergoed nie. Dit het meegebring dat hulle geweier het om enige herstel-, afrondings- en addisionele werk te doen voordat dit nie geskied het nie. Daar was onder andere steeds lekasieprobleme, foutiewe lugreëling, verf wat afdop, los dakteëls, lekkende toilette en stukkende plafonne. 'n Beroep is deur die Nasionale Museum op DOW gedoen om die probleme in dié verband
64 Nasionale Museum: Jaarverslag 2002-2003, p. 13; Volksblad, 16.11.2002.
65 Nasionale Museum-kwartaalverslae, November 2002 – Januarie 2003, Oliewenhuis, p. 34.

op te los.66 Op 14 November 2003, presies 'n jaar na die opening, het die kontrakteur die projek finaal afgeteken dat alle werk voltooi is.67
Nog voor die Reservoir-galery sy deure oopgegooi het, is alreeds einde Oktober 2002 aangekondig dat die ondergrondse galery, met sy treffende atmosfeer wat hom leen tot die wêreld van kuns, reeds tot in 2004 vol bepreek is. Van die gehalte uitstallings waarna kunsliefhebbers toe kon uitsien in 2003 was onder andere dié van Jane Alexander en Abelumbi: Untold tales of magic deur kunstenaars soos Siphiwe Zulu, Mduduzi Xakaza en Jabulani Mhlabini, asook werke van die bekroonde kunstenaar Gerard Sekoto.68
66 Nasionale Museum-kwartaalverslae, November 2002 – Januarie 2003, Oliewenhuis, p. 34. Die kontrakteur, Dries Pretorius, het die subkontrakteurs wat die kwessie met hom opgeneem het, meegedeel dat hulle hom maar kan dagvaar, want hy het nie fondse om hulle te betaal nie. En bygevoeg dat DOW hom buitendien geld skuld. Vgl. Nasionale Museum (DOW): A2/6, R. Nuttall –J. Van der Walt, 20.1.2003.
67 Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004: Department of Public Works – Final delivery certificate, 14.11.2003.
68 Volksblad, 31.10.2002.

Die visie van Oliewenhuis-kunsmuseum word só weergegee: “Ons streef daarna om die mense se kennis, begrip en waardering van ons kulturele erfenis te verryk en die volle verskeidenheid daarvan te weerspieël; om 'n kulturele en opvoedkundige bron te voorsien, om 'n betrokkenheid by die visuele kunste aan te moedig en om 'n kultuur van verskillende, maar gedeelde, nasionale identiteit te kweek.”
Deur die totstandkoming van die Reservoir-galery gepaardgaande met die unieke atmosfeer vir meerdoelige kunsuitstallings wat dit verteenwoordig, kan onomwonde geopper word dat dié galery 'n groot aanwins vir Oliewenhuis is om sy visie kragtig uit te dra.

Tereg kon die kurator van Oliewenhuis, Sharon Crampton, wat die hele totstandkoming van die Reservoir-galery intens beleef het, 'n jaar na die opening daarvan opmerk: “The Reservoir at Oliewenhuis has culminated in a unique, flexible, multi-purpose space, which is busy, exciting and attractive. Additional space has given the Art Museum the opportunity of opening the Museum to diverse audiences, and to experiment with new methods of presentation, interpretation and education.”70 Vandag is hierdie uitlating steeds ten volle geldig. Die Rosestad spog met sy Reservoir-galery met een van die uniekste en mees oorspronklike uitstalruimtes in Suid-Afrika. Al die rolspelers hiervan by onder andere die
69 Ons Stad, 11.12.2003.
70 Crampton, pp. 31-32.
Nasionale Museum, Oliewenhuis-kunsmuseum en DOW het daarin geslaag om van 'n onwerklike droom 'n realiteit te maak.
Die Reservoir geniet deurlopend groot aftrek onder 'n verskeidenheid kunstenaars uit alle genres om hul werke in die unieke ondergrondse atmosfeer ten toon te stel. Sonder teenspraak kan gesê word dat dié galery en onthaallokaal by Oliewenhuis-kunsmuseum 'n unieke suksesverhaal weerspieël.
Die Reservoir word gereken as 'n uitmuntende voorbeeld van 'n struktuur met minimale impak op die omgewing en is derhalwe in 2008 deur SAIA (South African Institute of Architects) en VISI (dekor-, ontwerp- en argitek-tydskrif) benoem as een van die 12 beste “groen-geboue” in Suid-Afrika.71
ERKENNINGS
ʼn Woord van dank aan die Nasionale Museum vir die geleentheid om hierdie studie te publiseer, asook aan die beoordelaars, prof. Dirk van der Berg (Departement Kunsgeskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein) en mnr. Cobus du Preez (Departement Argitektuur, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein).
Die personeel van die Vrystaatse Argiefbewaarplek en die stadsbiblioteek van Bloemfontein word ook bedank vir hulle vriendelike diens en hulpvaardigheid.
BRONNE
Argivale bronne
NASIONALE MUSEUM, BLOEMFONTEIN
Departement Openbare Werke (DOW), A2/6. Jaarverslae, 2002-2003.
Kwartaalverslae (Oliewenhuis), Mei – Julie 1995, Februarie – April 1998, Mei – Julie 1998, Februarie – April 2000, Mei – Julie 2000, November 2000 – Januarie 2001, Mei – Julie 2001, Augustus – Oktober 2001, November 2001 – Januarie 2002, Februarie – April 2002, Mei – Julie 2002, Augustus – Oktober 2002, November 2002 –Januarie 2003, Februarie – April 2003.
Kwartaalverslag (adjunkdirekteur), November 2002 – Januarie 2003. Oliewenhuis, A3/20.
OLIEWENHUIS-KUNSMUSEUM
Dokumentasiebronne, Die Reservoir, 2002.
Oliewenhuis-dokumentelêer: Extensions, Reservoir & Cafe Olien, 2001-2004.
VRYSTAATSE PROVINSIALE ARGIEFBEWAARPLEK (VPAB)
Argief van die stadsklerk van Bloemfontein (MBL)
MBL 3/1/3, Mayor’s Minute from the 1st September to the 31st August 1892.
MBL 3/1/9, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1904.
MBL 3/1/10, Minute of his worship the Mayor for the mayoral year ending 31st December 1905.
MBL 1/1/1/12, Notule van Stadsraadsvergadering, 4.5.1905, 18.5.1905, 20.7.1905, 3.8.1905, 17.8.1905, 17.9.1905, 21.9.1905.
MBL 1/1/1/13, Notule Openbare Werkevergadering, 11.5.1905.
Aanwinste – Privaatversamelings (A)
A566, The Friend-versameling, nr. 143, Die rol van water in die ontwikkeling van 'n streek (Referaat, W.J.H. Vrey, Bloemfontein-waterberaad, 7.5.1985).
ARGIEF VIR EIETYDSE AANGELEENTHEDE (AREA)
Privaatversamelings (PV)
PV 522, 2/1/3: E.N. Roberts.
JAN RAS-ARGITEKTE (ARGIEF)
Lêer JR/A/201/93, S Hundt – J. Ras, 25.9.1996.
Periodieke publikasies
Bloemnuus, 2002.
Oliewenhuis-nuusbrief, 2000, 2002. Ons Stad, 2003.
The Friend, 1854, 1877, 1889, 1895, 1896, 1899, 1892, 1904, 1905, 1947. Volksblad, 1985, 2001, 2002.
Literatuur
Botha, S. Die verandering en ontwikkeling van die woonhuisargitektuur in Bloemfontein gedurende die tydperk 1856-1946 met bydraende faktore (MA-verhandeling, UOVS, 1991).
Grobbelaar, P.W. (red.). Die Vrystaat en sy Mense. Kaapstad, 1986.
Groenewald, H.H.A. & Heroldt, A.D. Bloemfontein tot 1900 – 'n Argitektuur-historiese studie (UOVS), Oktober 1977.
Schoeman, K. Bloemfontein – Die ontstaan van 'n stad 1846-1946. Kaapstad, 1980.
Schoeman, K. Bloemfontein in Beeld. Kaapstad, 1986.
Smit, A. Die kunslewe in Bloemfontein vanaf 1940 tot 1978 (MA-verhandeling, UOVS, 1980).
Snyman, P.M. Die grondslag van die historiese aardrykskunde en die toepassing van die ‘spesifieke periode’metode op die historiese aardrykskunde van Bloemfontein (MA-verhandeling, UOVS, 1969).
Artikels
Botes, M., Oliewenhuis – Van ampswoning tot kunsmuseum, Culna, 58, November 2003.
Carrol, C.J., Bloemfontein in bygone days, The Friend, 5.4.1927.
Crampton, S., The Bloemfontein Group: A heritage and a destination, Nasionale Museum Nuus, 34, April 1988.
Crampton, S., Reshaping Oliewenhuis Art Museum, Culna, 58, November 2003.
Haasbroek, J., Die Britse koningsbesoek aan Bloemfontein, Maart 1947, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(8), Desember 2002.
Linström, M., Art underground, My Mag, Junie/Julie 2012, p. 48.
Narraine, A. Visit Oliewenhuis Art Museum, Get It, Mei 2013.
D.A. van der Bank, Nasionale Museum. Deel III. A.C. Hoffman se direkteurskap, 1951-1969, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(5), Augustus 2000.
D.A. van der Bank, Nasionale Museum. Deel IV. J.J. Oberholzer se direkteurskap, 1969-1985, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 17(4), Augustus 2001.
Internet
“Basilica Cistern”: http://en.wikipedia.org/wiki/Basilica_Cistern (geraadpleeg 9.9.2013).
“Oliewenhuis”: http://www.nasmus.co.za/museum/satellite-museums/oliewenhuis-art-museum/introd (geraadpleeg 21.2.2012).
“Oliewenhuis Art Museum”: http://www.publicworks.gov.za/oldweb/speeches/depmin/2002/14nov2002.htm (geraadpleeg 29.11.2005).
“Reservoirs”: http://en.wikipedia.org/wiki/Reservoir (geraadpleeg 9.9.2013)
“Water world of St Petersburg”: http://www.vodokanal.spb.ru/en/shpalernaya_56/vselennaya_vody/ (geraadpleeg 9.9.2013).
“Zondi opening art galery”: http//www.polty.org.za/article/zondi-opening-and-handover-of-extensions-to-art-gall (geraadpleeg 21.2.2012).
Brosjures
Oliewenhuis Art Museum
The Reservoir - Information rediscovery (Motheo District Municipality)
Persoonlike mededelings
Cobus du Preez, Bloemfontein, 17.1.2014.
Jan Ras, Bloemfontein, 21 en 24.1.2014.
Dirk van den Berg, Bloemfontein, 24.12.2013.
Navors. nas. Mus., Bloemfontein Volume 30, Deel 4
EDITORIAL COMMITTEE
Editor: M.F. Bates, Ph.D. (Stellenbosch); Co-editor (Natural Sciences): R.J. Nuttall, M.Sc. (Natal) Co-editors (Human Sciences): J. Haasbroek, D.Phil. (UOFS); S. Moodley, M.A. (Wits).
Consulting Editors: Prof. C. Chimimba (Department of Zoology and Entomology, University of Pretoria, South Africa); Dr J. Deacon (South African Heritage Resources Agency, Cape Town, South Africa – retired); Dr A. Dippenaar-Schoeman (ARC – Plant Protection Research Institute, Pretoria, South Africa); Dr A. Kemp (Northern Flagship Institution, National Museum of Natural History, Pretoria, South Africa – retired); Dr D.T. Rowe-Rowe (Ezemvelo KZN Wildlife, Pietermaritzburg, South Africa – retired); Prof. B.S. Rubidge (Bernard Price Institute for Palaeontological Research, University of the Witwatersrand, Johannesburg, South Africa); Prof. A.E. van Wyk (Department of Botany, University of Pretoria, South Africa); Prof. A. Wessels (Department of History, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa).
Orders to: National Museum, P.O. Box 266, Bloemfontein 9300, South Africa
E-mail: library@nasmus.co.za