3 minute read

Ashlyn Coxson - Die toekoms van

Die toekoms van Afrikaans lê in al sy variëteite.

Daar word dikwels in skole sowel as universiteite verwag dat skoliere en studente teen ‘n sekere standaard gehou moet word, om aanvaar te word en ernstig opgeneem te kan word. Dit is die geval met baie aspekte van die lewe en só ook met die taal, Afrikaans.

Advertisement

In die Suid-Afrikaanse samelewing word Standaard-Afrikaans hoër geag as enige ander variëteit of dialek daarvan, en dit kan natuurlik toegeskryf word aan Apartheid. Baie mense in bruin gemeenskappe, wat hoofsaaklik Kaaps praat, voel dikwels dat hulle nie bevoeg is met betrekking tot die manier waarop hulle praat nie. En wat dit erger maak is dat die samelewing dit so aanvaar; dat wanneer jy nie Standaard-Afrikaans praat nie, jy nie bevoeg is om sekere dinge te doen of om die taal, Afrikaans, te verteenwoordig nie.

Dit is belangrik om te weet dat jou variëteit van Afrikaans nie verkeerd is nie, alhoewel die uitspraak en skryf van sekere woorde verskil as gevolg van die geografiese omgewing waarin jy moes opgroei en sodoende ‘n bepaalde variëteit van Afrikaans moes aanleer. In die proses raak jy as skolier of student sterker en meer selfversekerd asook gereed om jou plek in die samelewing vol te staan met die hulp van Afrikaans as vak en bemagtiging middel. Bemagtiging gee aan Afrikaanse skoliere en studente die vryheid om hulle taal sowel as hulle kultuur uit te leef.

Wanneer ons kyk na moontlike oplossings wat in plek gestel kan word om bemagtiging deur middel van Afrikaans te bevorder, blyk dit dat skole en universiteite moet probeer om meer ruimte te skep vir die verskillende soorte variëteite van Afrikaans. Op skoolvlak sal dit baie help indien onderwysers, leerders meer blootstel aan die verskillende variasies van Afrikaans en nie net klem lê op die gebruik van Standaard-Afrikaans nie. Afrikaans in skole is nie baie uiteenlopend nie en word in die mees standaardste vorm aangebied. Verskeie taalreëls word op leerlinge afgedwing sonder ‘n dieper kyk na die hoekoms en waaroms daarvan. Leerlinge word ook dikwels nie blootgestel aan die verskillende hulpbronne wat in Afrikaans beskikbaar is nie soos byvoorbeeld die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). Daar word gereeld verwys na waarvoor dié afkortings staan, maar dit is baie weinig dat onderwysers dit moontlik maak vir leerlinge om fisies met ‘n harde kopie van ‘n AWS en HAT te werk. Op universiteits vlak word Afrikaans ‘dieper’ omdat daar noukeurig gekyk word na die verskeie tegnieke en reëls wat in dié taal gebruik word en gee aan studente meer vryheid wanneer dit kom by die praat en skryf van sekere opdragte binne ‘n Afrikaanse konteks.

Omdat ‘n onsuiwer vorm van Afrikaans ons huistaal is met die klem op ‘huis’, moet dit ook so geskryf word in boeke en deel vorm van die bepaalde onderrig materiaal in skole en universiteite. Daar is so baie skrywers en digters, wat groot spore getrap het in ons as onsuiwer Afrikaanssprekendes se lewens, wat glad nie deel vorm van die Afrikaanse kurrikulum in skole nie. ‘n Paar van hierdie skrywers is: Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Adam Small.

Afrikaans het nog altyd verskillende variasies gehad en ons moet vrede maak daarmee en toelaat dat Afrikaans in enige variëteit bruikbaar is om skoliere en studente te bemagtig sodat hulle hul plek in die samelewing vol kan staan. Dit is ook ‘n taal wat gebruik word om bande mee te vorm met ander deur gebruik te maak van die talle uitdrukkings wat eie is aan spesifieke variëteite. Ashlyn Coxson

This article is from: