Bloudruk Desember 2008 Posbus 203
oraniacvo@telkomsa.net
Eerste Uitgawe Orania, 8752
Passop Ratetouille – Danè is oppad.
Een van ons matrikulante, Danè Olivier, het op 22 Augustus deelgeneem aan ʼn streek- “Sjef van die Jaar” kompetisie. Sy was die enigste deelnemer van ʼn C.V.O –skool en was ook die enigste deelnemer van die platteland. Sy het ons skool baie trots gemaak met die 4de plek wat sy behaal het. Die Hoofsjef het haar gekomplimenteer vir die insig wat sy teenoor haar vak toon. Met hierdie prestasie het Danè R5 000 studiegeld ontvang. Mev. Rika Kirsten, Dané se Gasvryheid-onderwyseres, het haar vergesel na Bloemfontein waar die kompetisie gehou is. Juf. Rika sê die beoordelaars was baie beïndruk met Dané se nagereg. Dané se nagereg was meer oorspronklik en het heeltemal anders gesmaak. Deelname aan so ʼn kompetisie verg baie voorbereiding. Daar moes apparaaten bestandeellyste opgestel word. Al die bestanddele moes gekoop word. Dit het ʼn groot bedrag gekos. “Vir my was die beste deel, toe ons moes begin kook en almal verward rond gestaan het. Ek het presies geweet wat van my verwag word”; sê Dané. “Ek sien baie daarna uit om te gaan studeer en as Sjef te kwalifiseer. Ek geniet dit om met geure te eksperimenteer.” Daar is geen keer aan haar toekomsplanne nie. Sy wil op ʼn boot gaan werk en ondervinding as kok opdoen en dan wil sy haarself in Botswana gaan vestig. Dané se laaste boodskappie: “Ek wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om vir tannie Rika baie dankie te sê, sonder haar sou ek dit nie kon doen nie.” Shaine Viljoen gr 10
CVO-onderwysers lewer bydrae by Orania Beweging-konferensie
Elke jaar word daar deur die Orania Beweging ʼn konferensie gehou waar kwessies, relevant tot die ontwikkeling en groei van Orania bespreek word. Vanjaar se konferensie het veral daaroor gegaan om Orania nuut aan te bied en mens kon dit al aan die tema, ‘Nuwe Antwoorde vir Nuwe Tye’, aflei. By hierdie konferensie, wat plaasgevind het op 9Augustus 2008 was vier van die ses sprekers Oraniërs. Meneer Ebert Terblanche, Ouditeur en rekeningkunde-onderwyser by die CVO, se referaat met die tema ‘Gemeenskapsinstellingsen instrumente: Die boustene van ʼn selfstandige gemeenskap’, was gemik op die gebruik van gemeenskapsinstellings. Meneer Terblanche skryf dat, volgens Amartya Sen, die vermoë om te funksioneer die onderskeidende faktor tussen ryk en arm is. Die rede waarom gemeenskapsinstellings belangrik is, beskryf meneer Terblanche: “Wanneer ʼn gemeenskap nie self oor die nodige instellings en instrumente beskik nie, is hy afhanklik van die inisiatief van buitepartye en is hy ontmagtig.” Hierdie referaat was ʼn groot sukses. Meneer Hannes du Preez, Batebestuurder en ekonoom en ook onderwyser vir Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe en Lewensoriëntering, se baie treffende referaat is in verskeie koerante aangehaal. Hierdie referaat, wat ʼn meer praktiese aanslag as die ander gehad het, se tema was ‘Strategiese Oorwegings vir die Ekonomiese Ontwikkeling van Orania’. Meneer du Preez fokus veral op maniere om nuwe inwoners en beleggers te lok. Hy sê ook dat jong kinders wat dit oorweeg om na Europa te gaan, geteiken moet word en mededingende salarisse, opleiding en ander voordele aangebied moet word. Meneer du Preez se afsluitgedagte was veral baie treffend: “Die bereidwilligheid om probleme in geleenthede te omskep en oplossings te vind deur kreatiewe denke sal aan die einde van die dag bepaal of Orania een van die suksesvolle dorpies in ʼn Afrikanervolkstaat gaan wees.” Meneer de Klerk, wat ook ʼn stigterslid van ‘Vriende van CVO’ is, het veral gepraat oor die armoedekwessie van Afrikaners in die algemeen maar ook Orania. ‘Om te belê in dit wat nie ʼn monetêre opbrengs lewer nie’ was dié referaat se tema. Meneer de Klerk sê onder andere dat daar in ʼn selfwerksame gemeenskap plek is vir almal en dat dit nie liefdadigheid is om vir armes om te gee nie, maar ʼn Christelike plig, want almal het die reg om ordentlik te lewe. Hy sê egter ook dat mense se afhanklikheid nie verhoog moet word nie, maar hulle selfstandigheid versterk moet word. Die vraag wat in die tema van dié konferensie gevra word, is beslis nie ʼn maklike vraag nie en ons is trots om te kan sê dat die antwoorde help verskaf is deur hierdie drie, suksesvolle referate wat gelewer is. Estella Boshoff 1
Bloudruk 2008
Waarom gaan dit goed?
Brief van die redakteur
Ons kan begin deur te sê dat dit goed gaan by die skool omdat die kinders hulle kant bring. Ons kan met stelligheid beweer dat die meeste kinders die meeste van die tyd hulle kant bring. ‘n Skool bestaan egter nie net uit kinders nie - daar is ook die onderwysers en veral die skoolhoof. Vir hulle wil ons die hoed lig. Hierdie span mense werk met soveel toewyding en doen so baie vir ons kinders, dat dit net goed móét gaan. Dan is daar ook nog die ouers. Baie van ons ouers sit baie in in terme van tyd, energie en geld. Voeg dan hierby die Opvoedingsraad - mense wat met groot ywer en entoesiasme die sake by die skool bedryf. Ons moet ook nie van die sekretaresse vergeet nie. Sonder haar sou die administrasie by die skool nie glad kon verloop nie. Alles werk mee sodat dit goed kan gaan by die skool. Alles sal egter vergeefse moeite wees as die HERE nie Sy seën gee nie. Die HERE seën en daarom en daarom alleen gaan dit goed by die skool. Ons wil dan aan Hom al die eer gee en dankie sê vir ‘n goeie jaar! Koos Kirsten Voorsitter Opvoedingsraad 2008
Elke Lente is vir die leerlinge van CVO Orania baie spesiaal en almal sien daarna uit, maar die Lente van 2008 was onvergeetlik. CVO-Orania se nuwe koerant se eerste uitgawe het begin bot en nou in die Somer is die BLOUDRUK uiteindelik gedruk. Die koerant is vol opwindende stories en berigte van skoolsake en Orania-dinge. Die koerant is ook sekerlik een van die min skoolkoerante wat aan talle lesers elektronies versprei word. Ons almal moes hard werk, om dit te kon behaal. Met deursettingsvermoë het ons dit reggekry (al was daar ook hartseer tye in ons redaksiespan – lees gerus die Lief en Leed kolom). Op dié noot wil ek graag my redaksiespan bedank vir al hulle harde werk. Ons is bevoorreg met ʼn redaksielid wat die talent het om spotprente te teken. Dankie aan mev. Linda van Antwerpen, wat met soveel van die berigte gehelp het. ʼn GROOT dankie aan oom Andreas du Plessis vir al oom se kosbare inligting en advies. Hopelik is daar iets van oom se wenke te sien in ons koerant. Dit was ʼn voorreg om by so ʼn ervare joernalis leiding te ontvang. ʼn Baie spesiale dankie aan tannie Roelien wat soveel geduld met ons jeug het. Dankie dat Tannie ons vrye teuels gee, maar tog ʼn wakende oog oor ons hou. Dankie aan al die borge wat bereid was om te waag aan hierdie eerste uitgawe. Die laaste dankie aan ouers en onderwysers wat geduldig was tydens die skryf van ons eerste uitgawe. Julle het ons geleer om vas te byt en om die talente wat genadiglik aan ons gegee is, te gebruik. Shaine Viljoen (gr 10) Redakteur 2008
Bo-baas as dit kom by redeneer
Op Donderdag, 14 Augustus het Oraniërs Taaldag gevier. Die Orania Koördinerende Onderwysraad het hierdie jaar ‘n redenaarskompitisie gereel. 31 inskrywings het meegeding vir ‘n eerste plek. CVO-leerlinge het puik presteer deur in al die katagorië ‘n eerste plek te verower. Op twee na is al die tweede plekke ook ingepalm. In die afdeling 8-9jaar was al drie die wenners van CVOOrania. Cobus Kirsten, Frans de Klerk en Sharisna Fourie het onderskeidelik eerste, tweede en derde plekke los geredeneer. In die ouderdomsgroep 10-12 jaar het twee CVO-leerlinge, Mart-Marie van Antwerpen en Erik du Preez mekaar opdraende gegee. Dit was ‘n kop-aan-kop stryd en beoordeelaars moes weer terug geroep word na die tafel om ‘n wenner te beslis. Mart-Marie het hier koning gekraai. Charlene Buitendag, van Volkskool, was in die derde plek. In die afdeling 13-16jaar het Danielle Daubney die eerste plek ingepalm met ‘n uitstekende toespraak oor die positiewe eienskappe van die internet. ‘n Baie skaam Wilmie du preez het haar man gestaan en sowaar vir die CVO-skool nog ‘n plek losgepraat. Krischka Smit, van Volkskool was in die derde plek. Die ope afdeling is gewen deur Lourens du Preez wat die noodsaak van ‘n Volkstaat bepleit het. Monja Strydom, ‘n tuisskolier, het oorspronklikheid gewaag deur te redeneer dat die Volkstaat nie kan slaag nie. Daarmee het Monja ‘n tweede plek verwerf. Danie Els was derde in die afdeling. Orania is waarskynlik die enigste Afrikanergemeenskap wat Taaldag gedenk en daarom was dit verblydend om die hoë standaard van die wenners te kon aanhoor.
Redaksie 2008
Hierdie bladsy is geborg deur: Bloudruk
2
Bloudruk 2008
Leerlingraad vir 2009
Rentmeesterskap word gekweek
Die leerlingraad vir 2009 is bekend gemaak tydens die jaarlikse prysuitdeling. Hantie de Villiers, Frans Pretorius en Lourens du Preez is aangewys as die drie leiers van 2009. Lourens du Preez is as Hoofseun verkies. Lourens is ook aangewys as top presteerder in Gr 11, terwyl hy en Frans Pretorius verskeie toekennings vir sport ontvang het.
Dit is meer as net geld insamel. Ons wil graag vir ons kinders van kleins af die begrip van rentmeesterskap leer. Die Senór Chef-projek is deel van die skool se fondsinsameling. Hierdie projek is geheel en al afhanklik van skoolkinders. Dit behels dat elke kind in die skool 2 keer per jaar, in die 1ste en 3de kwartaal, die geleentheid kry om vir die skool fondse in te samel. Aanvanklik is die gr. 0 en gr. 1 kinders uitgesluit, maar hulle het vinnig apèl aangeteken. Die gevolg was ‘n klomp haasbekkies wat deel was van ‘n groot projek. Kinders word die basiese riglyne geleer. Beplanning, bestuur van finansies wat ingevorder word, die verantwoordelikheid om te sorg dat gelewer kan word wat verkoop is en dan die tevrede kliënt as die bestelling suksesvol afgehandel is, is alles deel van rentmeesterskap. Die skool het dit hierdie jaar goed gedink om die leerlinge te beloon vir hulle harde werk. Charné Nel het ‘n Entrepreneur-van-die-jaar wisseltrofee ontvang tesame met ‘n persentasie van die wins wat sy verdien het. ‘n Werkswinkel in entrepreneurskap is ook deel van die eerste prys. Die 2de en 3de plekke het ook elk ‘n persentasie wins ontvang as deel van hul prys. Haar jonger boetie WJ Nel blaas in haar nek met die tweede plek en Johané Ferreira het ‘n derde plek verdien met haar harde werk.
Die nag van 1 November
Die jaarlikse AP-kerk se biefstukete het tot laataand uitgerek nadat ʼn noodkreet uitgeroep is: “Gawie Nel se huis brand, wie kan kom help?!” Soos een man is stoele agteruit gestoot en tientalle mans het gehardloop om te gaan help. Dr. Gawie Nel se buitegeboue het vlam gevat en binne ʼn halfuur was daar ongeveer 50 helpers om die vuur te blus. Die helpers het daarop gefokus om te keer dat die vuur nie na die huise en geboue om die buitegebou versprei nie. Die situasie is vererger deur ʼn paar gasbottels wat ontplof het. Mnr. Chris Verwey is in een van die ontploffings beseer. Sy elmboog is getref. Hy is na Kimberley geneem waar hy ʼn paar dae moes oorbly. Dit gaan goed met mnr Verwey en sy elemboog is aan die herstel. Daar word vermoed dat die brand as gevolg van ʼn kortsluiting ontstaan het. In ʼn onderhoud op Radio Orania, sê dr. Nel dat die skade nie bereken kan word nie, aangesien die woonstel wat afgebrand het ʼn klomp van hulle sentimentele besittings bevat het. Die feit dat daar ʼn groot groep mans in ʼn saal byeen was en dadelik as groep kon optree, was waarskynlik die redding gewees. 2de Brand in bykans een jaar. Oraniërs is nou uiters bewus van brandgevaar. Byna ʼn jaar gelede het die huis van mnr. Piet du Toit tot op die grond afgebrand. Tydens daardie geleentheid het Oraniërs gesien hoe ʼn huis in ʼn kwessie van 30 minute heeltemal afbrand. Dr. Manie Opperman, hoof van die Veiligheidskomitee, sê dat die brandbeheer in die laaste geval meer vlot verloop het. Een van die probleme wat die veiligheidswerkers wel ervaar het, was dat omstanders die taak bemoeilik het. Op ʼn sekere stadium kon die waterkar nie spuit nie omdat ʼn omstander se motor op die pyp gestaan het. In ʼn onlangse nuusbrief word melding gemaak van die Dorpsraad se planne om brandkrane nader aan huise aan te bring. Op die Orania gespreksgroep is gespreksgenote buite Orania ook aan die help met planne om Orania se brandweer op te skerp. Die gespreksgroep (orania-beweging@yahoogroups.com) het aan hierdie onderwerp aandag gegee. ‘n Hele paar voorstelle is ingedien en daar is ook deur een van die gespreksgenote ‘n foto gestuur van ‘n brandweerwa waarmee die chinese brande bestry. Estella Boshoff Gr 8, Lourens du Preez Gr 11
Hierdie bladsy is geborg deur
Die Wynhuis
Die Wynhuis beskik oor 'n kitsbank waar selfoontyd ook gekoop kan word Daagliks oop van 14:00 -18:00, Vrydae tot 19:00 en Saterdae 9:00 -14:00. Tel: 053 207 0095 3
Bloudruk
Bloudruk 2008
Fietsrybaan
(ʼn Berig, geskryf vir al die internetlesers.) Sondae is besonders stil..veral op Orania. Dis dalk hier waar die uitdrukking ‘grafstil’ gebore kon word, was dit nie vir vier jongelinge van die CVO-skool nie. Die vier vriende van die Fietsrybende het hulle tyd goed gekies. Terwyl ouers die tradisionele ‘uiltjie knip’ op Sondagmiddag, het hulle bendebedrywighede bogronds gefloreer. Tommie, Zack, Frans en Willem (onderskeidelik 6 tot 13 jaar oud) het begin om ʼn fietsrybaan oop te skoffel. Hierdie vier het gou die verbeelding van nog ʼn jongman, Patrick, geprikkel. Kort daarna was daar nog een en nog een en nog een en later ook meisies. Vandag is die fietsrybaan ʼn gesogde speelplek vir ʼn tiental kinders. Elke sport het sy beserings en net so het entoesiasme sy skade. Dit is bewys toe een ouerpaar ʼn paar blombakke vermis. Hierdie blombakke (en kruiwa. Koffiebekers en eetgerei) is op die fietsrybaan opgespoor waar dit ʼn funksionele rol as ‘versiering vir die baan’ dien. Ouers het op hierdie noot begin betrokke raak. Die beplanning is om, in oorleg met Orania Dorpsraad, die baan uit te brei met padtekens, bande, vlaggies en ander opvoedkundige padreëls. Benamings wat die kinders vir verskillende dele van die baan gegee het, word gerespekteer. Hierdie benamings sluit ondermeer in, die Amanda-draai, vernoem na die tannie wat hulle bygestaan het met hulle eerste vergadering. Daar is ook ʼn paar ander benamings wat baie beskrywend is aan die inwoners van Orania, maar wat liefs nie in die berig genoem word nie. (Dink maar net aan ʼn paar waarna ʼn opdraande, ʼn skerp draai en ʼn moeilike pad vernoem kan word…) Die voormalige dorpsvoorsitter, dr. Manie Opperman, en sy vrou, Magda, het hulle draaie kortgeknip op die fietsry-baan. Dr. Manie het ʼn handdruk aan elke fietsryertjie gegee en ʼn motiverende toespraak gelewer. Fietsry op Orania is ʼn hupstoot vorentoe, danksy die fietsrybende. As jy Orania ooit weer besoek, kom ry gerus die fietsrybaan, net langs die fietswinkel wat intussen tot stand gekom het.
ʼn Eeue-oue tradisie op Orania aan die roer
Vivat, Crescat, Floreat! Met hierdie seën word ons begroet in die Cantus-tradisie. Leef, groei en gedy! ʼn Letterlike vertaling van die Latynse Cantus, sou “om te sing” beteken. In ʼn sekere Afrikaanse agtergrondskets word die Cantus opgesom as “ ’n Avontuur waar eeueoue liederekuns, humor, vriendskap en kwinkslae beleef word op ʼn nuwerwetse, dog elegante en entoesiastiese wyse – met ʼn polsende, aansteeklike kameraderie en geesdrif altyd naby die oppervlak aanwesig.” Die Cantus is geen gewone sangaand nie. Dit word op ʼn besondere tradisie-vaste wyse gestruktureer en gaan met groot agting vir dissipline en huldeblyk aan ons voorouers, ons lewenswyse en ons kultuur gepaard. Die Praeses voer die oppergesag tydens elke Cantus en liedere word alleenlik op sy felle instruksie gesing. So luidrugtig en meelewend moontlik, want anders sal die hoon van die Sedemeester jou te beurt val. Daar word af geskop met ons Volksliedere, insluitend dié van ons stamlande, daarna volg liedere vir gesellige samesang, liedere van ander tale en volke en laastens is daar die liedere van studentepret, liefde, jolyt en heimwee. Natuurlik is al hierdie gesing ʼn sware las op die stembande van die Commilitones (aanspreekvorm vir die deelnemers aan die Cantus), maar die vure in die kele mag alleenlik op bevel van die Praeses geblus word. Bier word as voorkeurvog ingespan met gemmerbier of kruiebier vir diegene wat in geheel wil of moet onthou Die gesing word verder afgewissel met onder andere kunstige items, sowel as humoristiese optredes, waarby die hele Corona (vergadering) betrek word. Die Cantus-tradisie maak ook ruimte vir ons jonger Volksgenote deur die Cantili. Voorskoolse- en laerskoolkinders wat nie so swaar wil sing aan Wilhelmus van Nassouwe nie, kan deur die Cantili hierdie kultuur-ervaring beleef terwyl hulle Wieliewalie sing. Orania is bevoorreg om oor sy eie Cantusgilde en lokaal te beskik. Hennie Conradie is Praeses en die gilde hou een keer per kwartaal Cantus onder die Gemeenskapsaal. Die Kleine Reus is die Gilde-lied. Ebert Terblanche, Quaestor, Orania Cantus Gilde
Fasiliteite by CVO-Orania word opgradeer
Sedert einde November 2007 het die skool se buiteaansig al aansienlik verander. Die opknapping van die skool is onder leiding van menere Willie Nel en Hannes du Preez aangepak. Die skool se opknapping, wat einde November 2007 begin het met die bou van die hoof, mnr. Frans Pretorius, se woonstel, vorder goed en word in vier fases beplan. Die eerste fase was die bou van Mnr. Pretorius se woonstel. Fase twee was om die koshuise, eetsaal en kombuis op te knap sodat daar van volgende jaar 20 meisies en 20 seuns geakkommodeer kan word. Fase drie sal wees om ʼn kleuterskool op die skoolterrein te bou, wat voor Februarie 2009 klaar behoort te wees. Fase vier is die opknapping van die klaskamers en ons beoog om dit voor einde volgende jaar te voltooi. Hierdie opknappings, wat ʼn langtermynprojek is, word tans gefinansier deur die ouers en kapitaal wat deur die skool en ouers gedelg word. Daar word werksessies gehou om ouers en leerlinge by die groot projek te betrek. Vriende van CVO lewer ook ʼn reuse bydrae tot hierdie bouprojek. Die nuwe baadjie van die skool het weereens bewys waartoe ons instaat is as almal saam staan om van die gemeenskapskool ʼn nog groter sukses te maak. Estella Boshoff Gr 8
Die Kuierstoep
Die plek waar Oraniërs die lekkerste kuier! Die Goue Skêr – haarkapper, Seepkruid - wassery en strykwerk, Pondokkie – kafee en wegneemetes, Die Hoekie Koffiewinkel met tuisgebak en ligte etes, Fietswinkel - handelaar en herstelwerk op alle fietse.
Kom kuier saam op die kuierstoep!
Bloudruk
4
Bloudruk 2008
Lentedag in Orania, ‘n blom van ‘n dag: R50 000 word ingesamel
Om 10:00 Saterdagoggend het die eerste aktiwiteit van die dag begin, naamlik die streek se landloopbyeenkoms. Deelnemers van regoor die Noord-Kaap streek het spesiaal vir die landloopbyeenkoms Orania toe gekom. Daar is dae lank gewerk om ʼn geskikte landloopbaan voor te berei. Deelnemers van CVO Orania het stof in die ander deelnemers se oë geskop en harde werk is beloon met die meerderheid medaljes. Die skietbaan het aktiwiteite soos pyl en boog, punt 22, windbuks en kleiduifskiet ingesluit. Teen twee-uur het die boeresport begin. Dit het menigte aktiwiteite ingesluit soos sakspring, eier-wedrenne, stoktrek, haanskop, ballongooi, appel-eet ens. Die deelnemers was in spanne opgedeel en die wenspan was die “Mal hoenders.” Daar was ook ander kompetisies deur die dag, ondermeer die appelskilkompetisie en touspringkompetisie. Die hindernisbaan was ʼn groot treffer onder die jong klomp. Die aand is afgesluit met ʼn veiling en ʼn spitbraai. Met die veiling was daar groot ondersteuning en samewerking. Daar is vir meer as 200 gaste spit gebraai. Sewe Karoo-skape is gebraai vir ʼn feesmaal. Die gaskunstenaar, Piet Rautenbach het vir vermaak gesorg en die bittereinders van die aand het tot pampoentyd toe gekuier en gedans. Die aand sowel as die dag het suksesvol verloop. R50 000 is tydens hierdie dag ingesamel. Die CVO-skool is dankbaar vir entoesiastiese ouers en ʼn ondersteunende Oraniagemeenskap wat met ywer help om van sulke dae ʼn sukses te maak. Deserè Greeff Gr 10
Teoreties en toe prakties en toe kon die klokke vir die CVO-skool lui.
Om ‘n skeppende gees by kinders te kweek is deel van die leerplan by die CVO-skool. Hierdie jaar se graad 4 & 5 leerlinge het in EBW, begin leer wat dit is om ‘n entrepreneur te wees. Anders as by die Senior Cheff –projek, moes hulle hulle eie projekvoorstel voorlê. Met die teorie, wat ‘n hele jaar se werk is, was dit die praktiese deel wat voor gelê het. Gedurende die skool se Lentefees het hulle hul vernuf gewys. Leerlinge is in groepe gedeel om te begin met die groot werk wat ses weke geduur het. Tussen die Koekieput, Boerseuns, Goggavangers en Matrose het hulle gesorg vir ‘n verskeidenheid selfvervaardigde produkte. Modelbootjies, worsbroodjies en sosaties, biltong, vele gebak, toffie-appels en selfs lekkers met gogga’s in, was deel van hierdie oorspronklike groep. Dit was ‘n uitstekende poging! Met die fondse wat hierdie spanne ingesamel het, het die skool ‘n nuwe klok, gekoop. Dit is veral wanneeer die klok vir pouse lui, dat die res van die leerlinge julle diep dankbaar is vir die nuwe klok.
CVO-leerlinge presteer landwyd
Dit is alreeds bewys dat BCVO-leerlinge nie sukkel om hulle man te staan op Universiteit of enige ander plek nie. Dr. Wim van Tonder is een van hierdie oud-leerlinge wat dit weer bewys het. Hy slaag sy matriekjaar met sewe onderskeidings. Hy het die ABSA-prys verwerf met die hoogste gemiddeld (80.5%) tydens sy mediese studies. Tydens sy gradeplegtigheid ontvang hy die prys vir beste voorgraadse student. Marinell de Bruyn was drie jaar gelede hoofdogter van ʼn CVO-skool. Sy studeer tans by die Noordwes Universiteit. Tydens haar eerste en tweede jaar behaal sy ʼn gemiddeld van 80% in haar studies, BSc. Gesondheidswetenskappe. Sy het in haar eerste jaar dertien van haar vyftien vakke met lof geslaag. CVO-Orania het ook sy uitblinkers. Die heel eerste matrikulant in CVO-Orania was San-Marie van Niekerk. In 2003 matrikuleer sy en sy kwalifiseer ook in daardie jaar as baletonderwyseres. Sy studeer daarna kledingontwerp en voltooi die kursus met bogemiddelde uitslae. In 2004 voltooi Johani Steenkamp haar matriekjaar. Sy studeer Hotelbestuur in Bloemfontein. Sy slaag met lof en word aangewys as Sjef van die jaar tydens hul gradeplegtigheid. 2005 het ook sy toppresteerder opgelewer. Johanitha Kirsten slaag met 5 onderskeidings. Sy behaal die hoogste punt vir rekenaartik in die land… nie te sleg vir ʼn skool waar rekenaars nie prominent die grootste rol speel nie. Sy slaag semester vir semester met lof. Sy behaal eerste plek op die PUK-kampus se talentfees in die prosa-afdeling. Sy kry kontrakwerk in taalversorging. Jacobus van Antwerpen is tans besig met sy BSc. (Fisika) by die PUK. Hy het in 2006 gematrikuleer. In 2007 matrikuleer Nicolene Helmand. Haar uitslae skep genoeg vertroue in die BCVO om van haar Orania se eerste onderwysbeursstudent te maak. CVO-skole, met die oorkoepelende BCVO, bied vele geleenthede vir leerlinge. Leerlinge word in hierdie onderwysstelsel geleer en aangemoedig om dié geleenthede aan te gryp en te gebruik. Enige iemand wat gedink het ons swem in die klein poel, word genooi om te kom saam swem..…ons sal help as die stroom te sterk is. Deserè Greeff Gr 10
Ons Vriende van die CVO, is ware vriende
“Vriende van CVO” is gestig om ons eie fondse te genereer en sodoende onafhanklik van die staat te bly. Die stigting het tydens die Lentefees op 30 Augustus 2008 plaasgevind en het tot dusver al groot sukses behaal. ʼn Privaatskool het baie uitgawes en skoolfonds put ouers se bronne uit. Gevolglik is dit nie altyd moontlik vir ouers om nog meer finansiële hulp te verleen vir die uitbreiding van infrastruktuur nie. Ons Vriende van die CVO help ons om projekte wat nie uit die maandelikse skoolfonds betaal kan word nie, te finansier. Mnr. Frans de Klerk het tereg gesê dat ons Orania CVO-skool kan verkoop omdat ons nie net die kinders in ʼn beskermende Afrikaner-skool laat skoolgaan nie, maar ook ʼn skool wat geleë is in ʼn beskermende Afrikaner-omgewing (Orania). Die persone wat inisiatief geneem het om hierdie aksie te loots, is mnr. Frans de Klerk, mev. Yolanda Nel en mnr. Hannes du Preez. Die eerste projek waarvoor die instelling geld ingesamel het, was vir ‘n verkoeler en is geinstalleer op 2 Desember. Die termometer het tot 38, 39 en 40 grade in die klas gestyg. Van volgende jaar af sal ʼn groot deel van ons leerlinge in beter omstandighede onderrig kan word. Estella Boshoff (Gr 8)
o c l i W Hierdie bladsy is geborg deur: r e o v r Ve 5
Bloudruk
Bloudruk 2008
Die wêreld is nie te groot nie
Internet het die wêreld ʼn toeganklike plek gemaak. Ver oor die see is nou naby met die druk van ʼn knoppie. Om te kan korrespondeer met persone oorsee is niks nuut nie. Talle leerlinge klets daagliks oor interessante raakpunte en verskille in kultuur, taal en godsdiens. Een van ons elektroniese intekenaars het voorgestel dat CVO-Orania ʼn uitruilskema moet inisieer. Dit is ʼn opwindende plan en wie weet, dalk is die eerste Orania-uitruilstudent binne ʼn jaar of twee ons ambassadeur in ʼn stamland. Bloudruk het ook sy eie sleutelbordmaatjie gevind. Ons sal met elke uitgawe uittreksels van Lise Hagen se korrespondensie plaas. Lise is binnekort oppad oorsee waar sy verder aan haar studies sal werk. Hallo daar! aan almal met wie ek al so lekker gesels het. Vir diegene wat my nog nie ontmoet het nie: my naam is Lise en ek is ʼn Meestersstudent in Antropologie by UNISA onder leiding van Prof. Mike de Jongh. Antropologie is, baie kortweg, die studie van mense en hulle kulturele, fisiese en sosiale omgewing. My studie fokus op Orania en haar mense. In hierdie studie val die klem op die verskeie landskappe en fisiese ruimtes van Orania, en hoe mense daarmee omgaan en daaroor dink. Ek was van Augustus 2007 af elke maand of twee op die dorp om te kuier, veldwerk te doen en vrae te kom vra. Ek is nou besig om die akademiese leeswerk uit vaktydskrifte en joernale te kombineer met my notas en waarnemings. Dis nogal ʼn ingewikkelde, tydrowende maar baie interessante proses en ek is baie bly om te kan sê dat my inleidende hoofstuk darem al klaar is. Whoo-hoo! Ek hou julle op hoogte. Ek verwelkom enige vrae of voorstelle, want hierdie is per slot van sake nie “my” studie nie, maar die mense van Orania se studie. Kontak my gerus op lisehagen@hotmail.com. Groetnis Lise
Lief en leed
Tydens die skryf, uitleg en druk van hierdie koerant het twee van ons redaksielede ʼn hartseer tyd beleef. Cronje van der Merwe se oupa, Oom TC (wat ook sy voog was) en Karlien Forssman se pa is oorlede. Ons dink aan altwee van julle en ook aan julle families. Ons betreur ook die afsterwe van oom Flippie Schutte en oom Banie Abbot. ʼn Paar van ons inwoners is ernstig siek. Wees verseker dat ons u daagliks in ons gebede opdra aan ons Hemelse Vader. ʼn Klompie nuwe Oraniërtjies is gebore. Baie geluk aan die ouers. Ons is saam met julle trots op hierdie baie kosbare toevoeging in Orania. Stuur gerus jou brokkie Lief en Leed vir BLOUDRUK. Ons sal bly wees as ons internetlesers ook van hulle laat hoor.
In Diepte
Geskende dae of gedenkte dae?
Jannie du Toit sing van die een onding wat die Boerevolk se doodsteek is, nl. “pap en rys en ʼn lekker vet stuk vleis”. Boerekos bly maar een van die dinge waarvoor ons vergifnis vir oordaad vra. Op ʼn ernstiger noot is die Boerevolk se doodsteek dalk eerder die minagting van kulturele dae. Die viering van Afrikanerkultuurdae word nie meer in ons land erken nie! Al die dae wat vir ons volk belangrik is, is by die deur uitgegooi of met ander dae vervang om die klem van die oorspronklike fokus te verskuif. Neem 16 Desember wat vir ons Geloftedag is maar verander is in ʼn dag van Versoening. Deesdae weet kinders baie min van hulle volk se geskiedenis. Aangesien die staatskurrikulum nie dieselfde waarde heg aan ons volk se geskiedenis nie, kry dit nie sy regmatige plek in die klaskamer nie. Hoeveel kinders buite Orania weet hoe die volk ontstaan het? Hoe sal hulle weet, want die dag toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, 6 April, word nie meer herdenk nie. In Orania is alles nog eie aan ons Boerevolk (die vet skaapvleis ingesluit). Elke jaar herdenk ons kultuurdae wat vir ons van belang is. Hierdie dae word herdenk op die regte manier. Op 16 Desember 1838 het die Boere onder leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers die Zoeloes oorwin by Bloedrivier. Hulle het ʼn gelofte afgelê voor die veldslag waarin hulle belowe het om ʼn kerk op te rig en die dag te herdenk as ʼn Sondag as die Here hul vyand in hul hand gee. Ek het al vir baie kinders buite Orania gevra wat hulle doen op Geloftedag. Die grootoog kyke herinner my dan aan my opgestopte nagapie op my bed. Dié dag word nog op enkele plekke in Suid-Afrika gevier, maar dit geniet nie die nodige erkenning nie. Al die mense sien “Versoeningsdag” maar net as nog ʼn dag om by die huis te sit, sonder om die ware betekenis van Geloftedag te besef. Op Orania vier ons nog: • Majubadag – 28 Februarie • Stigtingsdag – 6 April (die dorp se verjaarsdag val ook rondom hierdie tyd.) • Taaldag – 14 Augustus • Heldedag / Krugerdag – 10 Oktober • Geloftedag – 16 Desember Hierdie dae word gewoonlik eerbiedig deur besighede te sluit of deur die nodige erkenning te gee aan ons kulturele erfenis deur ʼn oranje vaandel by die besighede of huise te hang. “Laat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly.” Hantie de Villiers (Gr 10)
Hierdie bladsy is geborg deur: Bloudruk
6
Bloudruk 2008
Om ‘n bord op te rig, is nie ‘n bordspeletjie nie!
Om ‘n naambord van diè kalliber op te rig is nie so eenvoudig nie. Buiten vir diep gate grawe (in gietende reën), pale vassement, waterpas, waterpas en weer waterpas, afskuur, ‘n eerste laag verf, ‘n tweede laag verf, ‘n derde laag verf as dit moet en baie geld…... is dit nie so erg nie. Hierdie grote bord is opgerig sodat die CVO-skool meer sigbaar kan wees. Die CVO-skool is een van Orania se grootste gemeenskapsinstellings, maar ongelukkig is die skool nie baie sigbaar nie. Op Orania se bemarkings-DVD figureer die CVO-skool glad nie en min besoekers sou vanself weet dat daar wel ‘n CVO-skool op die dorp is, aangesien die skool op die soom van die dorp geleë is. Op die ou end is die bord ‘n toevoeging tot die hele gemeenskap van Orania aangesien vakansiedae en dorpsfunksies baie effektief geadverteer kan word. Vele komplimente is van besoekers gekry, ondermeer van mnr Dirk Herman, van Solidariteit, wat met sy vorige besoek dadelik die bord opgemerk het. Mart-Marie van Antwerpen.
‘n Dinamiese instelling het dinamiese personeel
Omdat groei ‘n proses is en nie ‘n gebeurtenis is nie, is CVO-Orania voortdurend besig om sy personeelkorps te vergroot, verbreed en verbeter. Daar het reeds in hierdie jaar ‘n paar nuwe gesigte by die skool aangesluit. Mnr. Frans Pretorius is as die nuwe skoolhoof aangestel en bied ook Aardrykskunde en Afrikaans vir die hoërskool aan. Mnr. Boet Jacobs het hierdie jaar sy veelsydigheid in diens van die skool geplaas deur nie net Afrikaanse klasse te gee nie, maar ook verskeie leerlinge gehelp het met o.a. swem, atletiek en gimnasiumwerk deur sy tegniese kennis van sport en professionele afrigtingsmetodes. Sy vrou, Annatjie, het ook haar bydra gelewer deur Aardrykskunde, Biologie en Kuns aan te bied. Daar is ook drie deeltydse aanstellings gemaak. Mnr. Ebert Terblanche en Me. Retha Forsmann is beide behulpsaam in die gee van Rekeningkunde, terwyl Retha ook Wiskunde gee. Me. Susan Pelser sien om na die Kuns en Kultuur-klasse van verskeie grade, en gee ook Lewensoriëntering, ‘n vak wat in die nuwe kurrikulum verpligtend is tot in matriek. Me Janneke Wiid is ons musiekonderwyser. Musiek is ‘n onder-afdeling van Kuns en Kultuur.
Nuwe onderwysers aangestel vir 2009
‘n Paar aanstellings is gemaak vir 2009. Me. Riëtte Roux sluit haar volgende jaar by die personeel van CVO Orania aan. Sy het ‘n B.Edgraad by die Universiteit van die Vrystaat, en sal die Graad 2-klassie waarneem. CVO Orania beplan ook om in 2009 te begin met tegniese vakke. Mnr. Casper du Preez het ‘n B.Tech-graad aan die Potchefstroomkampus van die NWU verwerf, en is vir hierdie doel aangestel. Hy sal Meganiese Tegnologie en Ingenieursgrafika en –ontwerp gee. Meganiese Tegnologie se sillabus sluit die volgende in: sweiswerk, motorwerktuigkundige en pas-en-draai. Ingenieursgrafika en –ontwerp is die nuwe sillabus se ekwivalent van Tegniese Tekeninge. Dit is egter uitgebrei om drie afdelings te dek: meganies (dieselfde as die ou TT en die grootste gedeelte van die leerplan), siviel (argitekstekeninge) en elektries. Hierdie twee vakke sal volgende jaar op graad 10-vlak aangebied word. Die jaar daarna sal dit vir graad 10 en graad 11 beskikbaar wees, en in 2011 sal hierdie vakke oor die hele VOO-spektrum (graad 10 – graad 12) aangebied word.
Klas van 2009
ʼn Swetterjoel gr 0 leerlinge is uiteindelik reg vir ‘graad-een-parra-been’. Groot opgewondenheid heers in juf. Marie van der Westhuizen se klassie oor dié vooruitsig. Elke gr O leerling by die CVO-skool word jaarliks getoets deur ʼn professionele persoon wat opgelei is om skoolgereedheid te toets. Die afgelope toets het bewys dat die basis wat nodig is vir gr1 goed gelê is. Mev. van der Westhuizen werk daagliks aan ʼn goedgekeurde leerplan. Hierdie onderrig verseker dat leerlinge gemaklik kan inskuif in ʼn meer formele skooljaar. Spanwerk tussen ouers, onderwysers en leerlinge is op hierdie ouderdom van kardinale belang. Juffrou Marie se dagtaak bestaan nie net uit kinders leer nie. Smiddae ondersteun sy hulle met buitemuurse aktiwiteite. En, sy probeer om nooit ‘n verjaarsdagpartytjie te mis nie...want sy het altyd ‘n persentjie vir die verjaarsdagmaatjie. Carme de Villier
BO-Karoo VLEISMARK …meer as net ‘n slaghuis
Gerookte kaasworsies, ham, salami, soutvleis, biltong en allerlei verwerkte vleis. Arnold Hugo 072 072 3300
7
Bloudruk
Bloudruk 2008
SPORTBLAD Orania CVO se swemspan is ʼn wenspan!
CVO-skoliere het uitgeblink in die afgelope swemgala wat op die 8ste November te Orania gehou is. Die reëlings is deur die Orania Onafhanklike Koördinerende Onderwysraad (OKO) getref. Van die 42 items waaraan deelgeneem kon word, het die CVO-skool 25 eerste plekke, en 6 tweede plekke verwerf. Hierdie prestasie is nog soveel meer indrukwekkend as daar in ag geneem word dat die leerlinge van die CVO-skool tans nog net op atletiekafrigting gefokus het. Die dogters se aflosspan het vir aanskoulike vermaak gesorg toe hulle met bykans 5 meter gewen het. Mnr. Boet Jacobs, wat swemafrigter van die skool is, het gesê dat daar baie potensiaal onder die swemmers is. Volkskool Orania het 8 eerste plekke verwerf, terwyl die oorblywende 9 eerste plekke deur besoekers gewen is. Die OKO inisieer baie van die interskole aktiwiteite. Die CVO-skool waardeer hierdie inisiatief en werk graag saam om van die sportgeleenthede ʼn sukses te maak. Carmè de Villiers gr 9
Shain Viljoen oppad na sy volgende oorwinning
Trippe-Trappe-Trone, Eldien dans op haar tone
Eldien Kirsten, gr 4 leerling in CVO-Orania, was in die onlangse ballet-eksamen ‘n toppresteerder. Hierdie eksamen was Eldien se agtste eksamen in haar tienjarige leeftyd. Eldien het die eksamen in drie dele afgelê. Sy het vir haar drie eksamens onderskeidelik 87%, bo 90% en ‘n A++ verwerf. Sy het ook ‘n fyn oor vir musiek. Sy bespeel tans vier instumente, nl kitaar, dwarsfluit, blokfluit en klavier. Eldien droom daarvan om ook eendag die harp, viool en panfluit te kan speel.
Harde werk word beloon
Elke dag, 5-dae-‘n-week, word hard geoefen aan sport. Mnr Hannes du Preez sê dat prestasie nie die hoof doel is nie. Leerlinge word geleer om te volhard en ‘n fikse kind is ook ‘n gesonde kind. Die voordele van leerlinge wat sport doen is te sien in die klaskamer. Mnr Boet Jacobs, mnr en mev Hannes en Sandra du Preez is daagliks besig met sportafrigting. Tans fokus mnr Jacobs op naellope en swemafrigting. Die rugbyspelers word weekliks na die gimnasium geneem terwyl die jonger leerlinge tennisafrigting kry by mev du Preez. Mnr du Preez is betrokke by langafstandafrigting en swem- vir die junior groep Tydens die prysuitdeling is verskeie leerlinge beloon met ereklere en balkies vir hulle sportsuksesse van 2008
‘n Boer maak ‘n plan
Mnr Boet Jacobs besig om swemtegniek aan leerlinge oor te dra
By ander skole word van die deftigste apparaat ingespan om kinders fiks en gereed te kry vir sportdeelname. Mnr Boet Jacobs, bekwame sportafrigter, skrik nie vir uitdagings nie. Kortafstand-atlete word met fietsbande gehelp om ‘n goeie wegspring te oefen en instede van peperduur swemplankies, word leë plastiekbottels ingespan. Die sportapparaat skiet ver te kort en “Vriende van CVO“ se hulp word waardeer om hierdie leemte te help vul. Ten speite van die te korte, presteer die leerlinge goed en dra Orania se naam hoog by sportgeleenthede buite Orania Desere Greeff
Afsaal Kafee
Kom kuier by ons!
Bloudruk
Pêrellaan 137, Orania • 053 2070199 www.afsaal-op-rania.co.za
8