Rekord - Nigel & Heidelberg

Page 1

Skep van sentrale fonds word bevraagteken! Die wysiging van die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV), is besig om soos ‘n veldbrand te versprei en wek groot kommer by talle lesers. Kom ons kyk na wat die NVG behels en of dit kan werk of nie. Wat is dit? Die NGV het sy ontstaan in 2007 by die ANC se nasionale leierskonferensie in Polokwane gehad en is dus 'n partypolitieke besluit wat nou deur die regering uitgevoer gaan word. Dit behels die skep van 'n sentrale fonds waarin belastinggeld gebruik sal word om die program te finansier en waaruit daar betalings ten opsigte van gesondheiddienste vir die publiek gemaak sal word. Die staat sal mediese dienste namens die publiek by geakkrediteerde openbare en private mediese geriewe aankoop en hierdie dienste behoort omvattend te wees. Die bedoeling is dat die dienste gratis by die punt van lewering is. Die algemene publiek sal ten eerste tot hierdie fonds moet bydra, voordat persoonlike en/of privaat mediese fondse se premies betaal word en almal sal verplig wees om aan die stelsel te behoort. Die NGV fondse sal uit hoër belastings verkry word, maar dit is nog onseker hoe presies dit belastingbetalers gaan beinvloed. Dit mag byvoorbeeld hoër inkomstebelasting of ‘n verhoging in BTW behels. Die NGV sal sentraal geadministreer word, maar provinsiale gesondheidsdepartemente sal vir die verskaffing van dienste verantwoordelik wees. Dit sal daarbenewens prysbeheer vir toerusting, medisyne en dienste insluit. Hoekom dit nie kán gebeur nie Die NGV is eenvoudig onprakties en onbekostigbaar. Diegene wat dit voorstaan en in werking wil stel, is uiters vaag oor die detail daarvan. Dit gebeur waarskynlik om 'n rede, omdat dit uiteindelik ‘n gratis en ten volle omvattende diens sal moet wees. Huidiglik kan minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, nog nie sê watter dienste uiteindelik gelewer gaan word of hoe die NGV gefinansier gaan word nie.

Hy laat die befondsing oor aan die tesourie, wat ook baie snoep is met inligting ten opsigte van die verkryging van fondse vir hierdie massiewe bestedingsuitleg in Suid-Afrika se lae ekonomiese groeiomgewing. In Suid-Afrika is daar bloot te min mense wat werk en belasting betaal. Hulle kan nie die res van die bevolking “dra” ingevolge die NGV nie. Hulle betaal klaar heelwat aan hul eie mediese fondse se premies om sodoende nie aan die openbare geriewe se swak sorg uitgelewer te wees nie. As geld iewers verhaal moet word, gaan iets anders daaronder lei. Gratis mediese sorg is nie gratis nie; dit het bloot ander verskuilde kostes. Meeste staatshospitale is in ‘n haaglike toestand en dit sal jare en baie geld neem om dit op selfs ‘n redelike funksionele standaard te bring. Die provinsiale gesondheidsdepartemente is in 'n ewe beroerde toestand en deurtrek van wanbestuur en korrupsie met geen vooruitsig op verbetering nie, omdat die regering nie sy beleid van kaderontplooiing en regstellende aksie wil laat vaar nie. Die NVG gaan dus 'n huis wees wat op sand gebou is en uiteindelik meer mense van staatsgeriewe afhanklik gaan maak as wat tans die geval is. Die NVG mag tewens intussen die private sektor en mediese fondse doodwurg en almal aan die uiters beroerde openbare sektor uitlewer. Hoekom die NGV nie móét gebeur nie Dit bring ons vervolgens by die volgende. Die minister en regering is uitgesproke oor hul vyandigheid jeens die private sektor en mediese fondse en teiken dit juis met maatreëls soos hierdie. Hoewel hulle nie die private sektor per dekreet uitwis nie, maak gedwonge bydraes aan die NGV dit vir die middelklas moeilik en later selfs onmoontlik om ook mediesefonds-lidmaatskap te onderhou. Dit kan lei tot die einde van mediese fonse, private hospitale en ook wêreldklasgesondheidsorg. Terwyl Motsoaledi en die regering dink dat meer gegoede mense bloot moet aanvaar dat hulle verder belas word en uiteindelik aan swak mediese dienste sonder keuses uitgelewer gaan word, gaan mense in die

middel- en hoër klasse ander opsies soos emigrasie oorweeg as hulle kan, omdat kwaliteit gesondheidsorg nie onderhandelbaar is nie. Dit laat al minder mense om die stelsel en trouens die hele land se besteding te onderhou. Ditto mediese personeel en praktisyns. Indien hul fooie vasgestel word en hul keuses rondom werk aangetas word, gaan hulle groener weivelde soek. Tesame met die prysvasstelling van medisyne, gaan mediese innovasie geknou en die koste van mediese dienste drasties styg. Die fonds gaan, soos ander groot staatsfondse en -entiteite, waarskynlik ook net nog 'n bodemlose put van korrupsie word wat die land siek en die politici ryk gaan maak. Met die verhore wat in 2019 vanaf Oktober geloots is blyk dit dat groot dorpsgebiede by die proses uitgesluit was, omdat geen openbare verhore daar plaasgevind het nie. Dus is die grootste gedeelte van belastingbetalers in die provinsie van die proses uitgesluit, terwyl dit juis dié mense is van wie daar verwag gaan word om NGV te help befonds. Dit is duidelik dat die plekke wat gekies is vir hierdie openbare verhore om plaas te vind meestal in wyke geleë is waar

die regerende party meer steun geniet. Dit wil voorkom of daar geen bemarking gedoen is om die publiek bewus te maak van hierdie openbare verhore, sodat lesers meer ingelig kon word. Na bewering blyk dit dat die openbare proses om die publiek se insette te kry van die begin af gemanipuleer was om ’n uitkoms te kry wat die implementering van NGV bevorder. Volgens die ANC regering belowe die NGV om al die land se vele gesondheidsprobleme en gebrekkige stelsels en instansies aan te spreek en op te los. Dit maak geen melding van die massiewe gebreke wat hierdie voorgestelde stelsel inhou of die feit dat dit onbekostigbaar is nie.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.