Dalene Grobler Gedenkdiens

Page 1

dalene

Grobler 12 Julie 1949 - 18 desember 2020






My liefste Mamma, ek het nie woorde nie... die skok, pyn en verlies is onbeskryflik. Ek dank die Here vir Mamma, ’n geskenk, ’n voorreg om Mamma, mamma te kon noem. Lien jy was ’n fantastiese ouma – die beste! Ons mis Ma reeds en dis net die begin... Ek vind troos dat Ma nou rus by die Here en ook in ons wedersiens. Luv u tuns - Els Dankie dat ouma die beste ouma vir ons was. Ek is baie lief vir ouma. Ouma het altyd mense gehelp en eerste aan ander mense gedink. Ouma het my leer klavier speel. Dit was so lekker om by ouma oor te slaap. Ek sien uit om ouma in die hemel te sien - Benjemin Liewe Ouma! Ek mis ouma vreeslik baie! Ek kan nie glo ouma is nou in die hemel nie. Dankie dat ouma saam met ons neute opgetel het, geswem het en moerbeie gepluk het. Dankie vir die saam koekies bak, klavierlesse en hulp met my skoolwerk. Ai ouma ek wens ouma hoef nie so vroeg te gegaan het nie. Ek gaan ouma baie mis! - Liefde, Amelia My liefste Moekie, sjoe, jy was ’n fantastiese ma vir my. Hoe bevoorreg is ek dat die Here vir my die beste skoonma gegee het. Jou liefde, nederigheid, geduld, versorging en belangstelling raak my diep. Ek mis jou. Sien jou weer by die Here Jesus - Liefde, Erich


Ai my hart is gebroke en ek het min woorde Mamma. Ek is so dankbaar om ’n engelmoeder soos Ma te kon hê. Ma is, langs pappa, vir ewig en altyd in my hart. Ontsettend lief vir ma. - Jan Liefste Mamma. Mamma het nou tweekeer aan my lewe geskenk. Een keer met my geboorte en nou weer met ’n nuwe nier. Ek is Mamma ewig dankbaar Mamma was die vergestalting van als wat Jesus van ons verlang. Daarmee saam het Mamma ma soms oorwerk en ek is dankbaar dat Mamma nooit weer moeg en oorlaai sal wees nie, maar nou reeds by God ewige rus en volmaakte lewe ervaar. In Psalm 23 staan daar dat Hy Mamma soos ’n eregas sal laat aansit. Ek wens ek kon daar wees! Daars nog so baie om te sê: Ek is dankbaar vir elke teetjie, saam storie kyk, elke rugkrap, die begrip vir wanneer ek minder mooi van binne was, Mam se onvoorwaardelike liefde. Ek gaan Mamma so bitterlik mis, maar weet dis nie vir altyd nie. Ek is lief, lief, lief vir jou Dalenetjie. - Esta, Ns. Dit was ’n voorreg om Mam se gunstelingkind te wees – Mamma het dit dikwels heimlik teenoor my erken... of is dit nou die morfien wat praat?



My liefste sussie, vriendin, buurvrou en mede musikus. Hoe groet ek iemand soos jy? Jy gaan nooit weer vinnig inloer om iets af te lewer of te vra nie, nooit weer saam met my duette speel nie, ons gaan nooit weer probleme oor ons land, kerk, kinders of musiek probeer oplos nie. Jy gaan nooit weer my hare blaas of vir my advies oor iets vra nie. Ons gaan nooit weer vassit omdat jy te veel vir ander ten koste van jouself doen nie en nooit weer saam na konserte toe gaan nie. Jy en jou geliefdes gaan nooit weer saam met my en AndrÊ om ’n vuurtjie sit nie en ons gaan nooit weer een van jou familie-etes bywoon nie (hoe meer hoe beter!) Jy het elkeen wat jou pad gekruis het met die grootste liefde en respek behandel en was altyd bereid om meer te gee as waarvoor mense gevra het. Dankie, vir al die jare se wonderlike samesyn. Ek gaan jou menswees en jou ruim hart vreeslik mis. Jou sussie wat nou al verlang - Bess


My Liefste liefste Lientjie, soos ek jou altyd begin aanspreek het na aanleiding van een van Stef Bosch se liedjies. Ek mis jou in my lewe; jou glimlag, jou lekker lag en geselsies en jou gesig wat straal van vreugde. Dit het vrede in my hart gebring omdat jy in alles vir ons ‘n voorbeeld was; in die uitdeel van liefde en oneindige omgee vir elke mens wat jou pad gekruis het sonder aansiens des persoons. Hoewel ons mekaar lank geken het as vriende, het jy in die kort tyd wat die Here vir ons saam gegee het, my baie stof tot nadenke gegee. My oë het vir baie dinge oopgegaan. Jou optrede het my laat besef hoe Christus as mens in hierdie wêreld rondgegaan het en hoe jy ‘n voorbeeld was van die liggaam van Christus. Ons kort saamwees is ‘n skat wat ek by my sal dra vir die res van my lewe. Ek gun jou nou die rus wat jou toekom. Jy het jou roeping volledig voltooi deur selfs ook onselfsugtig jou liggaam te skenk sodat ander se lewens daardeur verleng kan word. Die hoogtepunt vir ons; die skenking aan jou dogter! Ek groet jou in Liefde. - Corrie, Soli Deo Gloria

Psalm 103:2 “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie”



gedenkdiens Diens vind plaas op 23 Desember 2020 om 11:00 en word gestroom. Prediker: Ds. Wicus van der Vyver Verwelkoming SeÍnbede Samesang: Ps. 146: 1,4,5 Prys die Here, loof en prys Hom Gebed, skriflesing en boodskap. Psalm 103; Openbaring 5: 11 – 14 Samesang: Liedboek 284: 1 tot 3 Laat Heer u vrede deur my vloei Huldeblyk: Corrie Sweers, Erich Schoeman en Jan Grobler Bedankings: Elsie Schoeman Musiekitem: God bly met u waar u ook mag gaan Viool: Luca Keun; klarinet: Mikhe Keun; tjello: Greta Hechter; orrel: Bessie Keun Program: Eben Keun


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.