1 minute read
Appels vir Vrystaat se Jongboer van die Jaar
Appels
vir Vrystaat se jongboer van die jaar
Harde werk, aandag aan besonderhede en ’n sterk geloof is die pilare waarop Vrystaat Landbou se nuwe Jongboer van die Jaar sy boerdery-onderneming bou.
Doug Osler van die plaas Fourieshoek in die Fouriesburg-distrik is as Vrystaat Landbou se 25ste jongboer van die jaar aangewys. Osler, wat die afgelope 16 jaar deel is van ’n familieboerdery, glo dat uitdagings en terugslae as leerkurwe dien en dat dit ook bydra tot die ervaring wat hy as ’n “unieke beroepskeuse” beskryf.
Osler vertel dat hy hoofsaaklik verantwoordelik is vir die appelproduksie en -pakhuis van Lone Tree Farms. Benewens sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as lid van Fouriesburg se landbouvereniging is hy voorsitter van Highveld vrugteproduseerders en dien as direkteur in die produsenteraad van Hortgro Pome. Dié pa van twee glo daarin om ’n werksomgewing te skep waarin almal bereid is om te help, leer en groei. Wedersydse respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir hom belangrik om sy werknemers met probleme by te staan, hetsy werksverwant of persoonlik.
Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die departement van landbou aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, word finaliste beoordeel in onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.
Vandag se geslag jongboere beskik volgens prof Fourie oor leierskap en vindingrykheid en hy is hoopvol oor die toekoms van landbou in die hande van sulke knap jongmense.
Al jare lank in diens van die boer
Vanaf 1978 is Kelpak wetenskaplik bewys om wortelgroei en plantgesondheid te verbeter met uitstekende opbrengsverbeterings asook eindproduk kwaliteite tot gevolg.