5 minute read
Verbouing van gewasse in hidroponiese stelsels
Die verbouing van gewasse in hidroponiese stelsels is nie ‘n nuwe tendens in Suid-Afrika of die res van die wêreld nie. Dit het oorspronklik ontwikkel tydens die antieke wêreld en het deur die jare tot verskeie vorms en stelsels ontwikkel, met een deurlopende kenmerk – die plante binne die stelsel word deur ‘n wateroplossing van voedingselemente gevoed en groei altyd in ‘n medium of daarsonder.
Hidroponiese stelsels kom in alle gevalle onder beskerming voor, hetsy onder skadunette of plastiekstrukture. Die verbouing van groente in hierdie stelsels hou verskeie voordele in omdat elke aspek van die plant se groei, bestuur kan word. Dit maak egter die verbouing uiters arbeidsintensief en goeie deurlopende bestuur word vereis. Groentegewasse wat in hidroponiese stelsels verbou word, is gewoonlik van hoogstaande gehalte en premie-pryse kan beding word.
Omdat die verbouing grootliks beskerm word, kan die omgewing se uitwerking beperk word en is die plante oor die algemeen nie so blootgestel aan stremming nie. Dit kan ook aanleiding gee tot ‘n verlenging van die produksieseisoen. Die insetkoste van beskermde produksie is hoër as by ooplandproduksie en daarom word produksieteikens gestel, wat deurlopend behaal moet word.
Produsente wat hulle gewasse onder beskerming kweek, poog om die opbrengs per oppervlak tot ‘n maksimum te verhoog, eerder as om op groter oppervlaktes te plant. Met die skerp styging in insetkoste kan hierdie praktyke ook in die oopland toegepas word. Indien die produsent op dieselfde oppervlak met dieselfde insetkoste hoër opbrengste kan behaal, maak dit die onderneming winsgewender.
Verskillende strukture en stelsels kan vir verbouing onder beskerming gebruik word en dit is raadsaam om eers deeglike navorsing te doen voordat op ‘n spesifieke stelsels besluit word. Aspekte wat in ag geneem moet word sluit in die soort gewas, die ligging en klimaat van die gebied. Strukture wat in een gebied doeltreffend is, het nie noodwendig dieselfde resultate in ‘n ander gebied nie.
Die ontwerp van ‘n plastiektonnel is byvoorbeeld baie belangrik ten opsigte van ventilasie. Indien ventilasie onvoldoende is kan dit onproduktiewe plante tot gevolg hê, asook ‘n temperatuurverhoging wat tot ver bo die optimale temperatuur van die gewas kan gaan. Balans is baie belangrik, veral indien die produsieseisoen verleng wil word. Produsente wil graag hitte behou, veral in die koeler tye, en gevolglik word minder ventilasie toegepas. Dit kan lei tot verlaagde CO2 vlakke, hoër relatiewe humiditeit en selfs die uitbreek van verskeie siektes, wat groot verliese tot gevolg kan hê. Die soort plastiek of skadunet wat vir die struktuur gebruik gaan word moet die gewas wat geplant gaan word in ag neem. Rissies kan byvoorbeeld in hoër persentasie skadu groei as tamaties. Rissies onder hoër skadu-persentasie neig om groter blare te maak om lig te onderskep, terwyl tamaties geneig is om hulle internodes te rek en dus te vinnig groei, wat meer oplei en arbeid vereis.
Indien die produsent verskeie gewasse onder een struktuur wil verbou, moet ‘n goue middeweg gevind word. Die gebruik van skuifbare nette of skerms raak gewilder en dit kan die uitstraling op baie warm dae verminder en in meer bewolkte dae geskuif word. Die koste-implikasies is wel groot, maar vir die produsent wat sy kosteberekening en potensiële inkomste bereken kan dit die moeite werd wees.
Soos genoem het elke gewas sy eie optimale omstandighede om ‘n maksimum opbrengs te lewer. Die klimaat binne die struktuur moet so goed as moontlik beheer word om die stremming op die gewas tot ‘n minimum te beperk. Met die verbetering van tegnologie kan al hoe meer faktore binne die strukture beheer word. Al hierdie beheermaatreëls kom egter teen ‘n prys – dit is raadsaam om dus eers elke voordelige effek teenoor die koste op te weeg. Indien die gewasse reg bestuur word kan ‘n eenvoudiger nethuisstruktuur winsgewender wees as ‘n plastiektonnel.
Die stelling “gee die plant wat hy nodig het, wanneer hy dit nodig het”, klink dalk eenvoudig, maar dit is hierdie stelling
Basiese nethuisstruktuur.
NA BLADSY 26
Verbouing van gewasse in hidroponiese stelsels
VANAF BLADSY 25
wat ‘n produsent se sukses bepaal. Aanpassings en verstellings moet voortdurend beplan en bestuur word en dit kom gewoonlik met ervaring van die plaaslike omgewing. Daar is soveel van hierdie strukture wat langs die paaie sigbaar is, waar die stukkende plastiek in die wind wapper en die strukture nutteloos staan – ‘n totale verkwisting van goeie geld. Talle kundige mense in die bedryf kan help met die bestuur van plante onder beskerming en meer as genoeg literatuur is beskikbaar om soveel as moontlik van die bestuur en balans van ‘n plant te verstaan.
Omdat gepoog word om die plant optimaal te bestuur, is dit egter ook waar dat baie insekte en siektes onder die ideale omstandighede sal floreer. Deeglike kennis van al die moontlike peste en siektes wat kan ontstaan is van uiterste belang – ook hier is verskeie hulpmiddels wat geraadpleeg kan word. Let ook op vir werksgroepe op sosiale media wat deur produsente geskep is, waar hulle mekaar ondersteun deur te kommunikeer, foto’s te deel, vrae te vra en raad te verskaf – alles ten doel om produksie te optimaliseer. Die gebruik van opgeleide arbeid vir daaglikse waarnemings op moontlike siektes of insekte, is van die uiterste belang en kan keer dat groot skade gely word deur té laat op ‘n potensiële probleem te reageer.
Die soort gewas of produk wat onder beskerming geproduseer word, is oor die algemeen gewasse met hoër waarde, soos gekleurde soetrissies en spesialiteitstamaties. Ander gewasse soos slaai en rankboontjies kan suksesvol onder beskerming verbou word, veral in tye van die jaar wanneer produksie in ooplande beperk is. Sommige gewasse se produksiesiklus is baie vinniger as ander en verskeie oeste kan binne ‘n jaar geproduseer word.
Om vir die produsent ‘n verskeidenheid gewasse te bied om te verbou, is saadmaatskappye voordurend besig om nuwe ontwikkelings vry te stel. Sakata het oor die afgelope jaar verskeie nuwe produkte die lig laat sien, met onder meer spesialiteitstamaties, soetrissies en komkommers. Hierdie reekse is besig om baie gewild te raak en is nie altyd geskik vir ooplandproduskie nie. Dit skep nuwe geleenthede vir produsente om verskeie produkte te bemark. Vir meer inligting oor Sakata se nuwe reeks produkte, skakel gerus die streekverteenwoordiger of besoek die maatskappy se webwerf by www.sakata.co.za vir meer inligting.
VRYWARING: Hierdie inligting is op Sakata se waarnemings en/of inligting vanaf ander bronne gebaseer. Aangesien gewasprestasie bepaal word deur die interaksie tussen die genetiese saadpotensiaal, die fisiologiese eienskappe daarvan en die omgewing, insluitend bestuurspraktyke, gee Sakata geen uitdruklike of geïmpliseerde waarborg vir die prestasie van gewasse in verhouding tot die gegewe inligting. Sakata aanvaar nie aanspreeklikheid vir enige verlies wat mag ontstaan nie, direk of as gevolg daarvan. Lees asseblief eers Sakata Seed Southern Africa (Pty) Ltd se verkoopsvoorwaardes voordat saad bestel word.