4 minute read
EMILE JOUBERT
HULLE SÊ DIT IS DIE BELANGRIKSTE MAALTYD VAN DIE DAG. KOOLHIDRATE IS NIE MEER ‘KOEL’ NIE EN DIE SUIKER IS DEESDAE OOK NIE GOED VIR MENS NIE. NOU WAT DAN? SOOS GEWOONLIK, HET EMILE JOUBERT ’N PAAR GOEIE VOORSTELLE.
ONTBYT HAPPE Drie vir homo sapiens
Advertisement
Die buitelug is eenvoudig net nie gemaak vir muesli-, Cocoa Popsof jogurt-eters nie. Nee, hier moet jy ordentlik brêkfis om krag te kry vir die dag se stap, hengel of ry wat voorlê. ’n Stewige ontbyt word ook veral benodig as jy en jou trawante tot diep in die nag onder die sterre gesit en uitgebreide gesprekke oor wêreldsake genuttig het. Begin die dag met een van die volgende:
1
VISTERMANSMOOR Ek is tot hierdie een gedwing omdat die visse wat ek deesdae vang so groot is dat selfs ’n stewige groep mense nie al die vorige aand se gebraaide vis kan opeet nie. Bêre dus die gebraaide galjoen, steenbras, geelstert of kabeljou en maak die volgende oggend ‘n visontbyt.
(VIR VIER HOMO SAPIENS HENGELARUS) 4 groot koppies vol koue gebraaide vis, in vlokkies gebreek met die hand 1 groot soetrissie, ontpit en fyngekap 1 groterige ui, afgeskil en fyngekap 2 middelslag vars tamaties, fyngekap 2 eetlepels mayonnaise Paar skeute Tabasco (sterk) Eetlepel kookolie. ½ teelepel sout ½ teelepel swartpeper ½ teelepel suiker
1 Braai ui en soetrissie stadig in groterige pan totdat die ui deurskynend is. Voeg tamatie by en kook totdat tamatie sag is. Kook sous af as dit te lank is. 2 Voeg vis by en roer deur. Prut als vir 10 minute. Laat looi met die mayonnaise, sout, peper en suiker. Roer deur en prut vir minuut of twee om te sorg als is lekker warm. Spuit met Tabasco. Bedien saam met hompe vars gebotterde bruin brood – en vir die res van die dag gaan dit nie net jou lyn wees wat styf is nie. WENK: Maak ryker, dikker en rooier deur ‘n klein blikkie tamatiepasta in te roer net nadat jy die vis bygegooi het. En as jy rêrig mal te kere wil gaan, gooi ‘n paar olywe en kappertjiesade (capers) by.
Emile Joubert is a PR practitioner by profession, but a food and wine enthusiast by desire. Check out his blog: www.winegoggle.co.za
2
CHOLESTEROLTEMMER Hierdie een is veral bedoel vir mense wat beplan om vroegdag baie energie te verbrand deur iets soos bergfietsry, rotsklim of wildstroper-ontduiking aan te pak. Die suiker-inspuiting is turbo-aangedrewe, maar laat jou nie met daardie hollerige 10:00-insinking nie.
(VIR VYF HOMO SAPIENS)
500 ml koekmeel (2 koppies) 20 ml bakpoeier (4 teelepels) 2 ml (½ teelepel) sout 20 ml suiker (4 teelepels) 2 eiers 350 ml melk (1 ¼ koppie) 25 ml kookolie (2 eetlepels) 15 repies spek Esdoringstroop (maple syrup of goue stroop) 1 Sif droë bestanddele saam. Klits eiers. Gooi melk, olie en droë bestanddele by eiers en meng tot dit so ’n romerige, gladde mengsel is – omtrent so dik soos dik room. Maak geoliede klein pannetjie warm oor kole of gasstoof. Nou gaan jy tien pannekoeke maak – elkeen omtrent so groot soos ‘n piering. Gooi mengsel in pan. Draai pannekoeke om met eierspaan sodra hulle bo vol blasies en styf is. Laat aan die anderkant bruin word. Omtrent een minuut per pannekoek. Plaas pannekoeke eenkant en hou warm. 2 Nou braai jy jou spek in dieselfde pan. Terwyl dit gedoen word, sit twee pannekoeke op elke bord. Sodra die spek reg is kom drie repies goed-gebraaide spek op een pannekoek. Sit dan die ander bo-op, soos ‘n toebroodjie. 3 Bedrup die pannekoektoebroodjie lustig met straaltjies stroop. Moenie skaam wees nie – soet en sout is koning. WENK: Omskep bogenoemde in ’n ietwat meer dekadente weergawe deur ’n dik laag Mascarponekaas op jou pannekoek te smeer voordat jy die spek opsit. Nee man, moenie bekommerd wees nie, môre is nog ’n dag.
3
TUISNYWERHEID E M I L E J O U B E R T
COWBOYBONE ‘n Ruk terug het ek en ’n cowboy deur Glacier Park in Montana gestap om grizzly-bere te tel. Elkeen van die vyf oggende het met hierdie gereg begin, wat ons vol en vreesloos vir een van die wêreld se gevaarlikste diere gelaat het.
(VIR TWEE TOT DRIE HOMO SAPIENS) 2 blikkies bone in tamatiesous 4 eetlepels botter 1 teelepel swartpeper 1 pakkie spek, in blokkies gesny of ses gerookte of Weense worsies, ook in mondvol repies gesny (voeg kekerertjies, uie en soetrissie ook by as jy deftig wil wees) 1 Braai spek of worsies in pot of pan oor die kole of op gasstoof. Gebruik ’n bietjie van die botter hiervoor. Braai die vleis lekker bruin. Voeg dan die bone by. Moet nie die geur in hierdie bone onderskat nie, en dis beter om hulle stadig te laat prut vir 12 tot 15 minute as om net sommer warm te maak. 2 Vyf minute voor jy opskep, voeg jy die res van die botter by, wat als ’n eerlike romerige geur gee, asook die swartpeper vir ’n bietjie skop. 3 Eet verkieslik met eetlepels uit blikborde. WENK: Skuif die gereg ’n rat hoër deur Worcestersous en ‘ paar eetlepels van daardie ekstrafyngekapte biltong – die poeierige goed – oor te strooi. Of gebruik kekerertjies (chickpeas) in plaas van boontjies. ’n Garth Brooks-liedjie in die agtergrond help ook.