Petersen-drie moet in aanhouding bly
2
Balju lê op 14 Modi-voertuie beslag
3
®
R6.00
10 November 2017
Polisie reageer glo nie
ná plaasaanval
Andries van der Heyde
’n Egpaar van Droogekloof buite Bela-Bela het op Woensdag, 1 November, ’n nagmerrieondervinding gehad nadat inbrekers in die vroeë oggendure hul honde vergiftig en by hul huis probeer inkom het. Die egpaar, wat om veiligheidsredes gevra het om anoniem te bly, het in ’n gesprek met Die Pos gesê dit was vir hulle ’n nare ervaring. Wat die egpaar egter meer ontstel, is die feit dat die polisie nooit op hul hulproep gereageer het nie. Dit het landwye kritiek uitgelok en selfs die voorblad van ’n bekende dagblad gehaal omdat die Bela-Bela-polisie juis in dié tyd glo baie tyd gehad het om Pieter Wagner, ’n bejaarde eiendomsagent op die dorp, te gaan besoek en dokumente voor te berei om hom voor die hof te daag in verband met sy beweerde betrokkenheid by die Swart Maandag-protesbyeenkomste op en buite die dorp. Daar is hoofsaaklik tydens dié byeenkomste gebid. Die Droogekloof-man het vertel hy het ongeveer 03:00 opgestaan om water in die kombuis te gaan drink, waarna hy ’n geluid by die voordeur gehoor het. Hy het gesê toe hy nader aan ’n glasdeur beweeg, het hy die verdagtes se skoene onderdeur die gordyne gesien. Die verdagtes was op daardie stadium besig om een van die huis se vensters oop te breek, het hy gesê. Hy het na sy vrou geroep en hulle het dadelik die buurman om hulp geskakel. Toe die verdagtes agterkom dat hulle gesien is, het hulle spore gemaak. Talle lede van die omliggende gemeenskap, asook buurtwagte, was binne oomblikke by die huis, maar die verdagtes was toe reeds weg. Daar is die volgende dag gevind dat hulle deur die veld na die huis beweeg en op ’n
paar plekke die heining geknip het, het die man gesê. Daar was glo drie verdagtes wat die eiendom betree het. “Ons twee boelterriërs is vergiftig en is dood. Die volgende oggend het ons ’n ander jong boelterriër gekry, maar hy is ook dood toe hy ’n stuk giftige vleis, wat ons nooit vroeër op die erf raakgesien het nie, geëet het,” het die egpaar gesê. “Dit is verskriklik om jou hond te sien ly.”
Die gemeenskap en buurtwaglede het die egpaar vroeg die oggend bygestaan, maar die polisie was nêrens te vinde nie, selfs nadat die voorval by hulle aangemeld is. Nadat hulle kort ná die voorval ’n beampte by die Bela-Bela-polisiestasie se aanklagkantoor in die hande gekry het, is daar glo aan hulle gesê dat daar nie op daardie stadium ’n polisievoertuig beskikbaar is om uit te gaan nie.
Ons kan steeds die inbrekers se vingerafdrukke op die vensters sien waar hulle wou inkom, maar nog geen polisielid het uitgekom om die vingerafdrukke te neem nie.
Foto ter illustrasie
Die egpaar is dieselfde oggend na die BelaBela-polisiestasie om ’n klag te lê, maar ’n beampte het hulle eers op Donderdag, 2 November, by hul huis kom sien. Teen druktyd het hulle nog geen saaknommer ontvang nie, het hulle gesê. “Ons kan steeds die inbrekers se vingerafdrukke op die vensters sien waar hulle wou inkom, maar nog geen polisielid het uitgekom om die vingerafdrukke te neem nie,” het die vrou gesê. “’n Mens skrik groot. Hulle het ons privaatheid betree en moes ons vir lank dopgehou het. Ons voel dit is jammer dat die polisie geen belangstelling of bekwaamheid getoon het toe ons die voorval by hulle aangemeld het nie.” Die egpaar voel ook die verskoning dat daar geen polisievoertuie beskikbaar was nie, is ’n flou verskoning. “As hulle honderde beamptes vir politieke geleenthede kan uitstuur, hoekom kan hulle dit nie vir ons doen nie?” het hulle gevra. “In die tye waarin ons leef, en veral noudat plaasmoorde al hoe meer toeneem, sal almal meer op hul hoede moet wees. Ons wil graag vergeet wat gebeur het, maar dit is nie so eenvoudig nie.” Sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder op die dorp, het by navraag gesê daar is aanvanklik ’n skade aan eiendom-saak geopen, asook ’n saak van poging tot huisbraak. “Mense wat voel dat die polisie nie hul werk doen nie en die gemeenskap afskeep, moet verklarings by die polisiestasie aflê sodat ons kan toesien dat inwoners die korrekte dienslewering van die polisie ontvang,” het sy gesê. “Klagtes teen die polisie word ernstig opgeneem en sodra verklarings afgelê word, sal die beamptes ter sprake ondersoek word. Dit is beter om probleme volgens die regte prosedure aan te pak, want dit dra meer gesag.”