Die Pos 13 Januarie 2017

Page 1

Prokureur Dawid Derks sterf

2

Trap-trap só deur die Waterberg

32

Hande vol onderskeidings ®

13 Januarie 2017

R6.00

6

Aanvallers

steeds op vrye voet Theuns Duvenhage (links) is op Sondagoggend omstreeks 10:00 in sy mielieland oorval deur drie gewapende mans. Hy is met ’n piksteel (regs) oor die skouers geslaan en vasgebind in sy huis gelos. Die boewe het op die vlug geslaan met wapens en geld. Foto’s: Herman Steyn

Ronél van Jaarsveld ’n Niksvermoedende boer wat in sy mielieland gewerk het, is op Sondagoggend, 8 Januarie, deur drie aanvallers oorval. Hy is met ’n piksteel geslaan en vasgebind, waarna die drie mans kontant en gewere gebuit het voordat hulle op die vlug geslaan het. ’n Grootskeepse soektog het gevolg. Die 55-jarige Theuns Duvenhage was omstreeks 10:00 saam met twee werkers in die land langs sy huis besig. Sy plaas is op die De Nyl Zyn Oog-pad tussen Modimolle en Bela-Bela. “Daar het skielik ’n man hier by my

opgespring en sy wapen oorgehaal. Hy het vir my in Engels geskree: “Sleep! Sleep!” maar toe ek nie dadelik gaan lê nie, het nog ’n man my met ’n piksteel oor die blaaie geslaan,” het Duvenhage aan Die Pos vertel. “Toe ek val, het hulle my hande met ’n stuk draad vasgebind,” het hy gesê. Sy polse is rooi en geswel daarvan. Hy vermoed dat die mans in die heuphoogte mielies weggekruip het terwyl hy gewerk het. Duvenhage se twee werkers, wat sowat 30 m en 100 m weg was, het platgeval en weggekruip. Hulle het later die buurman, Frans Marx, se hulp ontbied. Die twee aanvallers het Duvenhage huis toe gedwing en nóg ’n man het glo van sy

werkers se plek af aangekom. “Ek verstaan nie hoekom hulle my kom haal het nie. Die huis het oopgestaan en die kluis se sleutel was in die deur. Hulle kon alles gevat het sonder dat ons hulle sien,” het hy verslae gesê. In die huis het hulle Duvenhage se voete vasgebind en hom in ’n badkamer laat lê. Hulle het gevlug met twee selfone, kontant, ’n .38-rewolwer en ’n kruitrewolwer. Die haelgeweer en jaggeweer is op die bed gegooi en gelos. Duvenhage, wat aan rumatoïde artritis ly, sê sy swakker been het onder gelê en hy het daarom gesukkel om homself los te wikkel. Sy buurman, Marx, was eerste op die toneel en het die sektor 3 gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) laat weet.

Barend Pienaar, voorsitter van die sektor 3 GPF, het gesê daar het binne ’n kort tyd meer as 60 voertuie opgedaag soos wat mense kom help soek het na die aanvallers. Meer as 80 mense het aan die soektog en blokkering van paaie deelgeneem. Die hulp van ’n helikopter is ook ingespan. Reën en die ruie, bergagtige terrein het volgens Pienaar die soektog belemmer. “Dit wou voorkom asof die aanvallers die gebied geken het, hoewel ons nie dink dat dit plaaslike mense is nie. Ons het ’n probleem met mense wat in die bosse in daardie omgewing bly en moeilikheid by plase in die gebied maak,” het hy gesê. Ao. James Findlay van die Modimollepolisie het bevestig dat die aanvallers nog op vrye voet is. Die ondersoek duur voort.

13


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.