Die Pos 14 November 2014

Page 1

Booswigte slaan toe op munisipaliteit

2

Renoster in kamp teenaan lodge afgemaai

5

Skok ná Mbizi-vrou se skielike dood

3

®

14 November 2014

R6.00

Seun beland in hospitaal ná val met motorfiets Andries van der Heyde “Ek het al ontelbare kere geval. Jy ry en val, staan op, ry, val en staan weer op, maar hierdie keer het ek my as afgeskrik.” Só het Jaco Herbst (13), ’n leerder van Laerskool Warmbad, aan Die Pos gesê nadat hy op Saterdag, 8 November, beheer oor sy motorfiets verloor het toe hy en sy neef op Sampour Ranch buite die dorp gaan rondry het. Jaco het op 8-jarige ouderdom ’n liefde vir tweewielmotorfietse ontwikkel en verkies om motorfiets te ry eerder

as om rugby te speel. Ná sy jongste ongeluk is hy egter vir minstens ’n paar weke buite aksie. Hy en sy neef, Heinrich Myburg, het op dié dag besluit om die motorfietsbaan met hooggeboude heuwels uit te ry. Jaco sê toe hy ’n heuwel van 2 m met sy ysterperd getakel het, het die versneller vasgehaak en het hy beheer oor die motorfiets verloor. “Ek het deur die lug getrek en die motorfiets se voorwiel het die grond getref. Die stuurwiel het my in my middel getref. Ek is afgegooi en het oor die grond geskuur. Toe het alles skielik swart geword.” Die slag het veroorsaak dat Jaco se valhelm van sy kop afgevlieg het. Dit was nie behoorlik vasgemaak nie, maar hy het wel beskermde kleredrag aangehad. Volgens sy ma, Charlotte Herbst, het hy ongeveer 15 m van sy fiets af gelê toe hulle op hom afgekom het. Heinrich was kort op sy hakke

Jaco Herbst (13), ’n leerder van Laerskool Warmbad, vertel aan Die Pos hoe hy beheer oor sy motorfiets verloor het. Langs hom staan die krukke waarmee hy oor die weg moet kom totdat al sy beserings genees het. Foto: Herman Steyn

WEN! WEN! WEN!

Staan ’n kans om gratis boeke te wen in ons sms-kompetisie

16

en het dadelik op hom afgehardloop. Toe hy sien sy neef reageer nie, het hy besluit om Jaco hard op sy bors te slaan om hom “wakker te kry”. Dit het blykbaar gewerk, want Jaco het sy bewussyn herwin. “Nadat Heinrich my oor Jaco gebel het, het die Here my regtig rustig gemaak. Ons het hom na die St. Vincent’s-hospitaal geneem, maar is later vandaar na die Warmbad-hospitaal,” het Charlotte gesê. Jaco het inwendige beserings om sy middel opgedoen en het sy heupspiere verrek. Geen van sy organe is beskadig nie, maar hy het ’n harde hou teen die kop gekry. Hy was vir drie dae in die hospitaal voordat hy kon huis toe gaan. “Toe ek my oë in die hospitaal oopmaak, sien ek die TV-skerm waar mense met motorfietse op ’n baan jaag. Ek is verveeld en gefrustreerd met my beserings,” het Jaco gesê. Laerskool Warmbad se leerders begin aanstaande week eksamen skryf, maar Jaco hoef net skool toe te gaan om sy vraestel af te handel, en kan dan huis toe gaan, het Charlotte gesê. Hy is egter nog nie gesond genoeg om heeltyds terug te gaan skool toe nie. Sy hele familie is gereelde motorfietsryers en dit is Jaco se droom om eendag professioneel motorfiets te ry en deur Kawasaki geborg te word. “Dit was regtig vreemd. Toe ek daar bewusteloos lê, het ek gedroom dat ek weer ’n groot heuwel uitry. As ek nie my toerusting aangehad het nie, kon dit erger gewees het,” het Jaco gesê. Charlotte het gesê dat dit soms erg vir ’n ouer is om te weet hul kind hou van ’n gevaarlike sportsoort. Sy sê egter sy sal dit eerder toelaat as wat haar kinders eendag ongelukkig is en hul ouers verwyt omdat hulle dit nie kon doen nie.

Besoek Die Pos se webwerf: diepos.linmedia.co.za DIE POS NOU OOK OP FACEBOOK EN TWITTER


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.