Swak leierskap knou vooruitgang
2
Spanpoging om boewe te stuit
3
Inwoner ’n eeu oud
12
®
R6.00
15 Julie 2016
Net genoeg water vir twee maande Ronél van Jaarsveld Die Donkerpoortdam het net genoeg water vir sowat twee maande oor. Dis die waarskuwing van die Modimolle-munisipaliteit. Foto’s van die dam wys ’n klipperige bodem met min oorblywende water nadat die afgelope reënseisoen teleurstellend droog was en Modimolle se stygende dors nie geles word nie. Die munisipaliteit rig ’n pleidooi aan inwoners om spaarsaam met water te werk om groter probleme te voorkom. Volgens Patrick Shika, munisipale woordvoerder, het hulle die maksimum vlak van wateronttrekking uit die dam bereik. Die dam se kapasiteit is glo 2 400 megaliter sonder sediment, maar weens slik wat deur die jare opgebou het, is die geskatte kapasiteit nou 1700 megaliter. Volgens Shika is die dam nou minder as 12% vol (oftewel 180 megaliter).
Hy het verduidelik dat die dorp se vraag na water 10-12 megaliter per dag is en daar slegs 8,9 megaliter per dag voorsien word. Magalies Water voorsien 4,2 megaliter per dag, Donkerpoortdam 3,5 megaliter per dag en die dorp se boorgate voorsien 1,2 megaliter per dag. Die Donkerpoort-waterwerke onttrek 4,5 tot 5 megaliter per dag uit die dam. “Die somer se lae reënval het die probleem vererger. Die munisipaliteit stel waterbeperkings en -rantsoenering in alle gebiede in en ons vra die gemeenskap mooi om spaarsaam met die water te werk,” het Shika gesê. “Moet geensins tuine natlei nie.” Die munisipaliteit beplan om nog boorgate op die dorp en by die Donkerpoortdam te boor om die watervoorsiening aan te vul. Raadslid Wiets Botes het by navraag gesê die munisipaliteit is in die beplanningsfase om herstelwerk aan die dam te doen noudat dit leeg is. Daar word verwag dat ’n aantal goeie reënbuie nodig sal wees om die dam se vlak weer te laat styg.
Die Modimolle-munisipaliteit raai inwoners aan om só water te bespaar: • Draai die krane toe terwyl jy gesig was, tandeborsel of skeer. • Neem ’n vinnige vyf minute stort pleks daarvan om te bad. Diegene wat wel bad, moenie die bad vol tap nie. • Gebruik laevloei-stortkoppe, toilette en wasmasjiene wat water bespaar. • Kook slegs voldoende water vir dit wat jy benodig. • Indien die hoeveelheid water wat ’n toilet gebruik om te spoel verminder word, kan huishoudings tot 20% van hul waterverbruik bespaar. Moenie die toilet onnodig spoel nie en gooi sneesdoekies en ander afval eerder in die vullisblik as in die toilet. • ’n Toilet wat lek, kan tot 100 000 liter per jaar vermors. • Moenie swembaddens te vol maak of onnodig terugspoel nie. • Gebruik ’n emmer eerder as ’n tuinslang om motors mee te was.
Donkerpoortdam se klipperige bodem en droë damwal is deesdae al wat te siene is. Foto: Verskaf
13