Skok ná geliefde speurder se dood
2
Groot planne vir Bela-Bela se lugruim
2
Spar verrys uit die as
3
®
16 Maart 2018
R8.00
Donkerte wag op inwoners Ronél van Jaarsveld Die aankondiging wat inwoners maande lank al vrees is gemaak. Die nuus is verwoestend. Die elektrisiteitstoevoer na dorpe in die Modimolle-Moogkophong-munisipaliteit word binne twee weke gesny. Eskom het in vandag se uitgawe van Die Pos ’n kennisgewing geplaas dat Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en al hul townships se kragtoevoer ingekort gaan word vanaf Saterdag 31 Maart. In ’n poging om die munisipaliteit te dwing om die uitstaande skuld van meer as R230 miljoen te betaal, sal die kragtoevoer die eerste week van 06:00 tot 08:00 en van 17:00 tot 19:30 op weeksdae af wees en van 08:30 tot 11:00 en van 15:00 tot 17:30 oor naweke. In die tweede week word die kraan stywer toegedraai. Op weeksdae sal die krag af wees van 06:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30 en op naweke van 08:30 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00. In die derde week is die krag af van 06:00 soggens tot 20:00 saans op weeksdae én oor naweke. Dié drastiese stappe is deel van Eskom se poging om meer as R13 miljard se uitstaande skuld van munisipaliteite landwyd te verhaal. Verskeie dorpe in die Vrystaat het reeds beurtkrag. Eskom het einde verlede jaar óók vir Modimolle en Mookgophong kennis gegee dat die kragtoevoer gesny sou word. Die munisipaliteit kon die krisis afweer en ’n gunstiger afbetalingsooreenkoms aangaan. Eskom het op Vrydag 8 Desember die opskorting van die munisipaliteit se elektrisiteitstoevoer op
die lange baan geskuif, met die voorwaarde dat daar streng by die ooreenkoms gehou moet word. Die munisipaliteit kry dié keer slegs ’n twee weke kennisgewing omdat die vorige grasietyd in ag geneem word. Die munisipaliteit is R244 miljoen agterstallig op hul Eskom-rekening. Volgens Marlene van Staden, burgemeester, was die laaste oorbetaling wat die administratiewe personeel aan Eskom gemaak het op Donderdag 18 Januarie. Dié bedrag was vir Desember se rekening. Januarie en Februarie se rekeninge is nog nie betaal nie en Maart s’n is binnekort betaalbaar, het sy gesê. Sy sal op Donderdag 15 Maart ’n mediaverklaring uitreik. Hou Die Pos se Facebook-blad dop. Die Waterberg-sakekamer sou op Dinsdag 13 Maart met die provinsiale LUR vir tesourie vergader het, maar die departement het die vergadering op kort kennisgewing gekanselleer, het Wiets Botes, voorsitter, gesê. Hy het met die burgemeester vergader om die probleem en moontlike oplossings te bespreek. “Die sakekamer vergader Donderdagaand 15 Maart om die probleem te bespreek. Ons het die hulp van alle sakelui nodig om die krisis af te weer. Ons het hulp gevra by die Thabazimbisakekamer. Hulle het ’n hofbevel bekom om hul elektrisiteit weer aan te skakel, maar het baie skade gelei,” het hy gesê. Hulle het reeds ’n afspraak met ’n advokaat wat ervare op dié gebied is. “’n Onderbreking in kragtoevoer beïnvloed baie dinge, soos watertoevoer, riool en ondernemings met masjinerie wat nie afgeskakel kan word nie,” het hy gesê. Botes moedig sakelui aan om die vergadering, wat om 18:30 by Koro Creek-klubhuis plaasvind by te woon. Bywoning kan bevestig word by info@waterbergsake.co.za of (014) 007 0572.
8