Paartjie dood in bed aangetref
3
Boewe teiken talle laerskole
4
Topatlete op pad na Bela-Bela
24
®
17 Junie 2016
R6.00
Gee ons krag! Ronél van Jaarsveld Gee ons net krag (én water!), het moedelose inwoners van Modimolle vandeesweek gepleit. Die dorp was, soos in Desember, etlike dae sonder krag en water gestrand. Dit was ook die koudste week tot dusver vanjaar. Die eienaars van sake-ondernemings het met die hande in die hare gesit. Dié krisis het derduisende rande se skade aan die dorp se ekonomie aangerig. Inwoners het luidkeels op sosiale netwerke hul misnoë en wantroue in die Modimollemunisipaliteit se vermoë om die dorp doeltreffend te bestuur, uitgespreek. Baie het gevoel dat swak onderhoud en onvoorbereidheid op krisisse die probleem onnodig verleng. Die krisis het aanvanklik ontstaan nadat kabeldiewe op Donderdagnag, 9 Junie, die Eskom-substasie op die dorp beskadig het in hul soeke na koper. Twee veiligheidswagte by die munisipaliteit se stoorkamer is die volgende nag op ’n ander perseel deur gewapende mans oorval. Die mans is vasgebind en kabels is gesteel. Volgens Wiets Botes, ANC-raadslid, het die diefstal by Eskom se substasie veroorsaak dat kabels uitbrand. Dit het ’n kettingreaksie tot gevolg gehad. “Die lading na die munisipale substasie het verhoog en nóg kabels het uitgebrand. Die minisubstasies het op hul beurt ook skade opgedoen. Groot dele van die dorp se elektriese infrastruktuur is verouderd, wat daartoe bydra dat dit makliker blaas en langer neem om reg te maak,” het hy gesê. Gerugte van sabotasie het op verskeie plekke die ronde gedoen. Die Pos kon dit nêrens bevestig nie. Dit wil wel voorkom asof diegene wat toegeslaan het op Eskom se substasie, deeglike elektriese kennis het en geweet het hoe om te werk te gaan. Die gewapende roof van kabels die volgende
Die Modimollemunisipaliteit se span elektrisiëns het die afgelope week met bitter min slaap oor die weg gekom. Hulle het probeer om die kragkrisis tydens die yskoue nagte te beëndig. Hier is Gawie van Deventer, Dolf Liebenberg, George Hamman en ’n onbekende helper aan die werk om ’n kabel te las. Koos Pretorius van die GPF hou die lig vas. Dit neem sowat twee en ’n half uur per las om reg te maak. Foto: Verskaf nag laat heelwat vrae ontstaan. Die munisipaliteit se span elektrisiëns, sowel as kontrakteurs, het nagte omgewerk. “Hulle is gedaan. Dolf Liebenberg en sy span van die munisipaliteit doen wat hulle kan om die stelsel so gou moontlik weer aan die gang te kry, maar ná ses dae en nagte se werk met baie min slaap, is hulle moeg,” het Koos Pretorius, voorsitter van die dorp se GPF aan Die Pos gesê. Die GPF se lede het die spanne deur die nag ondersteun en kos aangedra. Kabeldiewe het hul kans waargeneem en kabels wat herstel is uit die oop slote gesteel. Dit het volgens Kgaretja Meisie
Lekalakala, die burgemeester, daartoe bygedra dat die probleem nie spoedig opgelos kon word die. Die raad het op Woensdagoggend, 15 Junie, op dag ses van die krisis, ’n noodvergadering gehou. Kol. Izak Maila, polisiehoof op die dorp, was ook teenwoordig sodat maatreëls om kabeldiefstal hok te slaan, bespreek kon word. Teen Dinsdag was Phagameng en die nywerheidsgebied se krag weer herstel. Lekalakala het Woensdag aan Die Pos gesê die lyn waarop dié gebiede is, het minder skade gehad het en kon gouer herstel word.
Die meeste skade was volgens haar op die lyn in Kroepstraat, wat krag aan die ou dorp, sakekern en Boshoffstraat-omgewing verskaf. Daar is Dinsdag angstig gewag op kabellaste wat bestel moes word. Botes het uit sy eie sak twee laste gekoop en van die stad af laat kom sodat die polisiestasie en Residentia-ouetehuis se krag teen Dinsdagaand herstel kon word. Dit het net ná 01:00 die nag gebeur. Die polisie kon ook nie per telefoon bereik word nie. Die munisipaliteit het volgens Sam Bambo, munisipale bestuurder, kabellaste by omliggende munisipaliteite aangevra, maar dit was moeilik bekombaar. Johann Abrie, voornemende DA-kandidaat, het in ’n sterk bewoorde SMS aan Lekalakala, Tlotlanang Mogotlane (burgemeester van die Waterberg-distriksmunisipaliteit) en Charlie Sekoati (LUR van ekonomiese ontwikkeling) gesê dat hy hulle die voorafgaande week gewaarsku het dat só ’n krisis kan kom weens die verouderde elektrisiteitsnetwerk. “Julle het dit afgemaak,” het hy geskryf. Hy het gedreig dat die saak na senior ANCamptenare in Luthuli-huis verwys sal word. Die burgerregte organisasie AfriForum het Dinsdag via die prokureurs Hurter Spies ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarin hulle sê indien die krag nie teen Woensdag sluitingstyd herstel is nie, hulle die hof op ’n dringende grondslag sal nader. Jan Koelewyn, voorsitter van die Waterberg Sakekamer, sê dié donker tye het groot krisisse vir ondernemings veroorsaak. “Baie ondernemings het skade gely. Mense is huiwerig om vleis te koop. Kragopwekkers kos ’n fortuin om aan die gang te hou en van die ondernemings kyk na ’n uitgawe van R4 000 na R5 000 per dag,” het hy gesê. Hy sê dat die sakekamer inligting oor die skade inwin om aan die munisipaliteit voor te lê sodat hulle bewus kan wees van hoe die dorp se ekonomie deur die kragonderbreking geraak is.