Inhoud van verslag ná maande bekend
2
Paasverkeer vloei seepglad
4
Rowers skiet Modi-inwoner in bors
3
®
21 April 2017
R6.00
Die Barnard-gesin van Modimolle se huurhuis is op Dinsdagmiddag, 18 April, in ’n brand verwoes. Sonja Barnard (links) het geskok gestaan en kyk hoe hul huurhuis op Modimolle brand. Die werklose gesin het bykans al hul besittings in die brand verloor. Ronél van Jaarsveld ’n Gesin van Modimolle moes Dinsdagmiddag, 18 April, staan en toekyk hoe al hul besittings deur vlamme vernietig word. Die brand in Johan en Sonja Barnard se huurhuis in Allenstraat het die middag teen ongeveer 15:00 ontstaan. Die egpaar, hul drie kinders en ’n vriend woon daar. Hul dogter, die 12-jarige Belinda Barnard, het buite met die hond gespeel. “Ek het ons mak spreeu hoor skree, maar het nie regtig gedink dat daar fout is nie. As ek net dadelik gehardloop het, kon ek ons voëltjie gered het,” het sy in trane voor hul brandende huis gesê.
Sy was alleen tuis. Die gesin, omring deur bure, het hulpeloos toegekyk hoe die brandweer die vlamme blus. “Die bietjie wat ons het, is ook nou weg,” het Sonja verslae gesê. “Al die babafoto’s en al die spesiale goed wat ons oor die jare gebêre het ...” Die gesin is werkloos. Johan, ’n bouer van beroep, het meer as ’n jaar laas werk gehad. “Ons ry elke tweede dag uit Rhenosterkop-dam toe waar ons visvang om in die township te verkoop. Kyk hoe het ons visstokke ge-brand!” het Sonja huilend gesê. Johan het verslae na die brandende huis gekyk. Hul ooreenkoms met die huiseienaar was dat hulle in ruil vir blyplek die huis sou opknap. “Ons het onlangs die plafonne herstel. Al ons
harde werk is nou tot niet,” het hy gesê. Dertien jaar gelede het ’n tragedie ook afgespeel toe Johan ’n vierjarige kind in ’n huisbrand verloor het. “Daar is net nie einde aan ons moeilikheid nie,” het hy aan Die Pos gesê. Die brandweer het, volgens Sonja, baie vinnig opgedaag en ingespring om die vlamme te blus. Slegs die kombuis en badkamer het nie gebrand nie. Die vermoede is dat die brand deur ’n elektriese fout veroorsaak is, hoewel dit nog nie bevestig kon word nie. Corrie en Linda Rossouw wat gereageer het op die berigte dat ’n huis brand, het die gesin vir die nag gehuisves. Die boodskap van die gesin se nood is
vinnig onder inwoners versprei wat dieselfde aand reeds huisraad en klere aangedra het. ’n Groot kettingwinkel, wat ’n hanetree van die brandende huis af is, het ’n kontantbewys gegee sodat die gesin die nodigste kan koop. * Om die hulp vir die gesin te koördineer het ’n inwoner, Alberta van Jaarsveld, gereël dat geldelike bydraes inbetaal kan word in ’n prokureurstrustrekening. Die rekeningnaam is Anne-Marie Kotzee Prokureurs, Eerste Nasionale Bank, Modimolle, takkode 260247, rekeningnommer 53171042633 en die verwysing is A4315/ Allenstraat. Van Jaarsveld se kontaknommer is tel. 076 812 0282. Skenkings kan ook by Die Pos se kantoor op Modimolle afgelewer word.
12