Gasteplaas se leeus spring gifdood vry
2
Bekende haarkaper van Modimolle sterf
3
Puik rugby by Bokkieweek
23 ®
R6.00
21 Julie 2017
Vlakte treur oor James Pringle Keina Swart Die gemeenskap van Bela-Bela en die Springbokvlakte is die afgelope week geruk deur die onverwagse dood van een van die omgewing se bekendste boere, James Pringle (43). Pringle, die pa van twee klein dogtertjies, was een van die Vlakte se geliefde beesen saaiboere. Hy was ’n ywerige jagter en geweersmid en het die afgelope 17 jaar op die plaas Palmietgat, wat aan sy pa behoort, geboer. Hy het sy eie lewe geneem nadat hy in die Denmar psigiatriesehospitaal in Pretoria behandeling ontvang het. Hy word oorleef deur sy vrou Gerda en dogters Chloé (8) en Amy (6). Gerda is die eienaar van die Happy Heartsdagsorsentrum op Bela-Bela. Chloé is in gr. 3 in Laerskool Warmbad en Amy is in gr. 0 in Bosveldspruitjies Kleuterskool op die dorp. James en Gerda was tien jaar getroud. Volgens Gerda het sy en die dogters op Saterdagmiddag, 15 Julie, vir James in Denmar gaan kuier waar hy sowat drie weke voor sy dood behandel is. “Hy het vir die eerste keer in ’n lang tyd só goed gelyk,” het sy gesê. “Hy het vir Amy gekielie en Chloé op haar troetelnaampie genoem. Hy het my hande vasgehou en oor my hare en gesig gevryf,” het sy hartseer gesê. “Ons verstaan dit nie. Ons was skaars weg, toe ons die oproep ontvang dat hy homself in die tuin vergas het.” Gerda het haar man as ’n sagte mens beskryf. “Iemand met innerlike krag, goed belese, hiperintelligent.” Hy was baie lief vir diere en veral vir honde. Raymond Read, een van James se beste vriende, het aan Die Pos gesê sy hart is seer oor sy vriend se dood. “Ek wroeg met onbeantwoorde vrae, maar ek weet hy is daar waar hy wil wees.”
Die Pringle-gesin in gelukkige dae: Chloé, Gerda, Amy en James. Foto: Haeicceity Photography
Hy het gesê hy sal altyd aan James dink as die man wat 17 jaar gelede vol passie en ywer op die Vlakte aangekom het om op die Pringle-familieplaas te begin boer. “Hy was rou uit Johannesburg en het maar min van
boerdery geweet en kon skaars Afrikaans praat. Een van die eerste lesse wat hy gou geleer het, was dat ’n mens hier die ouer garde ‘oom’ en ‘tannie’ noem en nie op hul voorname soos die gebruik in Engels is
nie!” het Read vertel. “James was gretig om te leer en het baie raad gevra by uitnemende bure en dit met sukses toegepas. Hy het ’n ongelooflike tegniese vaardigheid gehad. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Die implemente wat hy gebou het om sy lewe op die plaas te vergemaklik, is wêreldklas, netjies en volmaak.” “James se werksetiek, integriteit nederigheid, fyn humorsin en ongelooflike skerp brein is iets wat my altyd sal bybly. Ek gaan die baie koppies tee mis wat ons altyd gedrink het as hy kom kuier het en hoe hy sy planne oor wat hy in die nuwe seisoen wil toepas, vir my uitgelê het.” Nog ’n vriend van James, Cobus Maritz, het gesê James was ’n opregte vriend. “Sy ongelooflike kennis, passie, liefde en veral sy deeglikheid het bygedra tot ’n onmisbare waardevolle vriendskap. Dan het hy dit ook nog versier met sy goeie humorsin. Sy twee dogtertjies se karakter getuig van sy hart. Ek dank en ek eer hom vir dit wat sy vriendskap vir my op my lewenspad beteken het.” Gerda se ouers, Tiaan en Erica Fourie van Kyalami in Johannesburg, het by haar en die kinders op die plaas ingetrek sedert James siek geword het, waar haar pa haar onder meer gehelp het om die laaste oes van die lande te haal en haar ma met die kinders se versorging help. Volgens Gerda het sy ongelooflike ondersteuning uit die gemeenskap ontvang, waarvoor sy en haar gesin diep dankbaar is. “Ek kan nie in woorde omsit wat dit vir ons beteken nie,” het sy gesê. James word ook oorleef deur sy pa, dr. John Pringle, sy ma, Rowena Harris, en ’n broer Glen — almal van Johannesburg. Die gedenkdiens vind op Vrydag, 28 Julie, om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente op Bela-Bela plaas. * Die noodnommer vir die South African Depression and Anxiety Group (Sadag) is tel. 0800 567 567.
8