Die Pos 23 Maart 2018

Page 1

Bela-Bela kry ’n biblioteek!

11

Die Pos skitter by toekenningsaand

12

ESKOMSKRUM:

Swart Maandagklagte laat vaar ®

23 Maart 2018

R8.00

2

Inwoners druk terug

Ronél van Jaarsveld “Interdik” was die gonswoord op menige inwoner se lippe nadat hulle hul hoop op regsaksie geplaas het om hul dorpe se krag aan te hou. Bekommerde inwoners van Modimolle, Mookgophong en Vaalwater het op Donderdag 15 Maart vir die Waterbergsakekamer se vergadering oor die dreigende elektrisiteitskrisis opgedaag. Eskom het verlede week kennis gegee dat dorpe in die Modimolle-Mookgophongmunisipaliteit se krag vanaf Saterdag 31 Maart onderbreek sal word weens meer as R244 miljoen agterstallige skuld. Sakelui was bekommerd omdat die derde week se skedule waar die krag daagliks van 06:00 tot 20:00 afgeskakel word, die spyker in menige onderneming se doodskis sal wees en werksverliese kan meebring. Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, het gesê hulle het die fiasko met Rob Tooley, provinsiale LUR vir tesourie, bespreek. Hulle het ook op Maandag 19 Maart regsadvies by die prokureursfirma Cilliers Reynders ingewin. Dié firma het reeds soortgelyke interdikte suksesvol namens ander munisipaliteite en instansies bekom. Hy het gesê hulle werk nou saam met organisasies in Thabazimbi wat Eskom kon dwing om dié dorp se kragtoevoer weer te herstel. “Ons vra sakelui en inwoners om ons te help met fondse. Dié regsaksie sal na verwagting R150 000 kos, wat ons van êrens af moet insamel. ’n Skenking hiervoor is baie goedkoper as die skade wat maande sonder elektrisiteit jul ondernemings sal aanrig,” het hy gesê. Van die inwoners wou weet of daar verdere

aksies teen die munisipale bestuurder, wat hulle vir die krisis blameer omdat hy die Eskom-rekening moes betaal, beoog word. “Dit help nie ons samel nou geld in en die probleem word oor ’n paar maande herhaal nie. Die kern van die kanker is die wanbestuur

in die munisipaliteit,” het een inwoner gesê. “Die geld is ingevorder, maar verkwis.” Hulle wou ook hê dat alle wanbetalers se krag binne sewe dae afgeskakel moet word. Die gedagte van ’n belastingbetalersforum onder die vaandel van die sakekamer is

Inwoners van Modimolle, Vaalwater en Mookgophong is besig om planne te beraam nadat verwoestende kragonderbrekings vir dié dorpe aangekondig is.

ook geopper. Inwoners was bekommerd dat die kragonderbreking tot massa-aksie kan lei. Buiten vir die miljoene rande skuld aan Eskom, is die munisipaliteit ook R13 miljoen aan Magalies Water verskuldig. Michiel Laubscher, wat voorheen ’n raadslid in Modimolle was, het gesê daar word agter die skerms aan ’n aksieplan gewerk. Hy het gesê ’n klas-aksie om die provinsiale tesourie te versoek om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, is een van die opsies. “’n Mosie is op 14 Februarie 2016 deur die raad goedgekeur om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, maar dit is nooit deurgevoer nie. Dié mosie is steeds van krag,” het hy gesê. Administrasie behels dat die munisipale raad ontbind word en die nasionale tesourie die administrasie vir ’n tydperk oorneem tot ’n herstelprogram in werking is. Tydens administrasie word agterstallige skuld en regsaksies gevries. Die hooggeregshof mag ook bevind dat van die agterstallige skuld afgeskryf word, het Laubscher gesê. Inwoners kan ’n bydrae tot die regsaksie in Cilliers Reynders Prokureurs of in die sakekamer se rekeninge inbetaal. Cilliers Reynders Prokureurs se bankbesonderhede is Absa, takkode 333 845 (ACB 632 005), rekeningnommer 405 2500 737 met die verwysing PHEYNS/ MAT32720. Die sakekamer se rekeningbesonderhede is Waterberg Sakekamer, FNB Modimolle, takkode 260 247, tjekrekeningnommer 6236 0638 814, verwysing Eskom-regsaksie. * Hou Die Pos se Facebook-blad dop vir die nuutste verwikkelinge.

8


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Die Pos 23 Maart 2018 by Die Pos koerant/newspaper - Issuu