ATKV Mediaveertjies 2013 - Beste plaaslike koerant DLU waarsku inwoners oor krokodille in Nyl Dogter praat oor wrede aanval op Leeupoort
Ysterdiewe loop hul rieme styf
2
5 3 ®
25 April 2014
R6.00
Lodewyk Riekert van Bela-Bela het die afgelope week onder streng polisiebewaking mediese behandeling ontvang nadat hy glo ’n asma-aanval in die hof gekry het, waar hy moes verskyn op aanklag van moord op sy vrou, Mia (inlas). Foto: Herman Steyn
Man aangekeer ná vrou se dood
Andries van der Heyde Lodewyk Riekert, ’n boer van die Noodhulp-hoewes buite Bela-Bela, is op Vrydag, 18 April, in hegtenis geneem nadat sy vrou, Mia (45), dood op hul eiendom aangetref is. Riekert word van moord op sy vrou aangekla. Volgens ’n anonieme bron was Riekert en sy seun, Lodewyk jnr. glo op Donderdagaand, 17 April, by ’n geselligheid buite die dorp op Bospoort. Lodewyk jnr. het glo deur die loop van die aand sy pa terug na die hoewe geneem en het teruggekeer na die geselligheid. Mia was tuis. Na wat verneem word het Riekert omstreeks 02:00 die Vrydagoggend, 18 April, ’n oproep na Bospoort gemaak om te sê dat daar “moeilikheid by die huis is”. Lodewyk jnr. en ’n vriend, Gerhard van Rensburg, het by die hoewe opgedaag en na bewering op Mia (sy stiefma) se liggaam afgekom. Sy het na wat verneem word talle
beserings aan veral haar kop gehad. Die twee het haar glo in Riekert se bakkie gelaai en na die St. Vincent’s-hospitaal op die dorp gejaag. Sy het glo geen pols gehad nie en een van die personeellede aan diens het haar daar dood verklaar. Volgens die Riekerts se buurvrou, Alida Pienaar, het die Riekert-egpaar die afgelope ruk gereeld baklei. Sy het aan Die Pos gesê dat daar gereeld rusies tussen Mia en Lodewyk snr. was en dat Mia met tye ’n ander heenkome gesoek het. Op die aand van die insident het Pienaar glo gehoor hoe die twee weer aan die baklei geraak het by die huis. Riekert het op Dinsdag, 22 April, in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Voor die hofsaak begin het, het hy glo ’n asma-aanval in die aanhoudingselle gekry. Toe hy in die beskuldigdebank moes verskyn, het dit gelyk asof hy sukkel om asem te haal en die polisie het die nooddienste ontbied. Landdros Maggie Montana het hom aangeraai om eerder te sit en
net op sekere tye te staan. Omdat daar geen elektrisiteit by die hof was nie, kon daar geen opnames van die hofsaak gemaak word nie en die hofsaak is uitgestel na Dinsdag, 29 April, vir ’n borgaansoek. LifeMed-ambulansdienste het teen ongeveer 12:30 by die hof opgedaag om Riekert na die Warmbad-hospitaal te neem, waar hy onder polisie-toesig behandel is. Teen saktyd kon die polisie nog nie die presiese oorsaak van haar dood bepaal nie. Sy het onder meer voorheen by Designer Hub op Bela-Bela en Discount Wooden Windows op Modimolle gewerk. Die laaste ruk het sy haar man op die hoewe gehelp. Volgens Pienaar was Mia ’n baie liefdevolle en kreatiewe persoon op die dorp en het haar deur altyd vir mense oopgestaan. ’n Voormalige kollega van haar by Designer Hub het by navraag aan Die Pos gesê Mia was ’n uitstekende werker en het baie goed met haar kollegas by dié onderneming saamgewerk.
Mia se dogter, Annika Müller (20) van Middelburg, het aan Die Pos gesê daar word op Vrydag, 25 April, om 09:00 ’n verassingsdiens vir haar ma in die El Shaddai-kerk op Bela-Bela gehou. Sy het die personeel van Bafa Begrafnisdienste geloof vir die manier hoe hulle uit hul pad gegaan het om die gesin by te staan met die begrafnisreëlings. Mia het nog twee ander kinders uit haar vorige huwelik, Diederik (25) en Christoff (17) Müller. Christoff is ’n gr. 10-leerder aan Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Annika het aan Die Pos gesê haar ma was ’n baie positiewe mens wat ander mense altyd beter oor hulself laat voel het. Sy was kunstig. “Haar huis was ’n stuk kunswerk.” Sy het gesê “oom Lodewyk se kinders” ondersteun hulle baie en dat daar geen kwade gevoelens tussen die kinders is oor wat gebeur het nie. “Hulle het niks verkeerd gedoen nie,” het sy gesê. • Speuradjt.off. Tommie van Blerk is die ondersoekbeampte in die saak.