Modimolle se drinkwater is op
2
AfriForum hof toe oor stortingsterrein
4
Ngobeni neem leisels op Bela-Bela
5
®
26 Augustus 2016
R6.00
3
Nuwe era
vir twee dorpe Euforie oor nuwe munisipaliteit Ronél van Jaarsveld
Marlene van Staden (35), onderwyser van Vaalwater en voormalige verslaggewer van Die Pos op dié dorp, is die saamgestelde Modimolle-Mookgophongmunisipaliteit se nuwe DA-burgemeester.
Hierdie is die begin van ’n nuwe era. Dít was Johann Abrie van die DA, nuutverkose speaker van die Modimolle/ Mookgophong-munisipaliteit, se eerste woorde nadat hy die speakerstoel ingeneem het. Die saamgestelde raad se eerste munisipale raadsvergadering is op Dinsdag, 23 Augustus, gehou en het vir groot opslae gesorg. Dit wil lyk asof die twee dorpe hulself kan regmaak vir ’n verandering noudat opposisiepartye die hef in die hand het. Tydens die dikwels heftige vergadering, waartydens EFF- en DA-ondersteuners op die galery luidkeels hul opwinding of misnoeë te kenne gegee het, is Marlene van Staden van die DA as burgemeester aangewys. Van Staden, ’n onderwyser van Vaalwater en voorheen Die Pos se verslaggewer op die dorp, is relatief nuut tot partypolitiek. Sy was twee jaar lank ’n DA-aktivis. Sy het ’n B.Com-honneursgraad in finansiële bestuur wat handig te pas sal kom met die regruk van die munisipaliteit se geldsake. Die 35jarige Van Staden is deel van ’n groot groep jong, nuwe generasie politici wat op die raad dien. Van Staden is ook ’n jong ma van ’n agt weke oue baba. Die 44-jarige Dingaan Motshwene van die DA is aangewys as hoofsweep. Dié sakeman en timmerman van beroep van Phagameng sê hy is reg vir die uitdaging wat voorlê.
Abrie (43) bring jare se politieke ervaring na die tafel toe. Hy was voorheen die nasionale woordvoerder en lid van die provinsiale wetgewer vir Cope en is ook ’n beesboer. Van Staden en Abrie is Waterbergers in murg en been en het hier grootgeword. Albei het aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Motshwene het op Groblersdal grootgeword. Tydens haar intreetoespraak het Van Staden met ’n sterk stem en reguit kyk gesê alle munisipale beamptes wat hulself probeer bevoordeel het, moet bekommerd wees, want die nuwe administrasie sal dit nie duld nie. Werknemers wat wel hard gewerk het om die gemeenskap te dien en nie hulself nie, word verwelkom. Sy het gesê die DA het ’n 100-dag werksplan waartydens hulle met ’n kritiese oog na basiese dienslewering soos water, elektrisiteit en die toestand van die paaie sal kyk. Hul ander oogmerke is om die agterstand wat deur die vorige administrasie agtergelaat is, in te haal en te begin soek na mense wat die uitsonderlike vaardighede het wat die munisipaliteit benodig. “Ons sal dienste aan álle wyke lewer, selfs al is dit ANC-wyke,” het sy onder groot toejuiging uit die galery, verklaar. Dié sege van die DA is grootliks te danke aan die samewerking van die EFF en die VF+ wat hul stemme vir die DA gegee het. “Die stemming van die mense in die gehoor was uitbundig. Hulle is opgewonde oor wat die toekoms inhou,” het Silas Marema van die EFF gesê.