Die Pos 29 April 2016

Page 1

Groot gemors by stortingsterrein

3

Geen inwoners by vergadering

5

Vrou sterf ná ongeluk in buurland

8

®

29 April 2016

R6.00

Lang pad ná plaasaanval Die Van Druten-gesin ’n jaar ná die aanval op Ian. Voor is Ian en Wiané en agter is Wilma en Annika.

Marlene Vermaak Die Pos het die afgelope week by die Van Druten-gesin gaan kuier — presies ’n jaar ná die traumatiese aanval waarin Ian (45), ’n boer van die Vaalwater-omgewing, baie ernstig beseer is. Ian is op 24 April 2015 twee keer in die gesig geskiet nadat twee aanvallers hom oorval het toe hy vroegoggend na ’n stoor toe geloop het om te gaan kyk of alles reg is. Sy vrou, Wilma, het hom hoor skree en dadelik na die agterdeur gehardloop. Daar het sy gesien hoe hy met twee mans op die gras stoei, het Wilma verlede jaar aan Die

Pos vertel. Die een het ’n handwapen op haar gerig, maar die skoot het die muur net links van haar getref. Daarna het sy die houtdeur toegeslaan en gesluit en na die egpaar se twee dogters, Wiané (15) en Annika (12), gegaan wat in hul kamer geskuil het. Die aanvallers het kort daarna gevlug. Wilma het ná ’n ruk vir Ian hoor roep, waarna sy hom te hulp gesnel en hulp ontbied het. Die dokters het later vasgestel dat een skoot Ian se kakebeen gebreek het. Die tweede skoot het erge skade aan die hoofslagaar in sy nek aangerig. Daar is bepaal dat die skote grootliks skade aan Ian se breinfunksies aangerig het. Heelwat van die skade is ook weens bloedverlies en ’n

suurstoftekort veroorsaak is. Die skote is vermoedelik by sy mond in. Die Pos het ook destyds berig dat Ian se linkerkant van sy lyf verlam is. Ian word uitmuntend deur Wilma en hul tienerdogters ondersteun. Die Van Drutenmeisies het verlede jaar tuisonderrig ondergaan — meer in die hospitaalgange as tuis, maar is reeds sedert die begin van die jaar weer terug by Waterberg Academy op Vaalwater. Die Van Druten-gesin woon tans in Francois van der Merwe se huis op dieselfde plaas waar die aanval plaasgevind het. Van der Merwe is Ian se werkgewer van die afgelope 20 jaar. Die Van Drutens se grond grens aan dié plaas, maar ongelukkig staan hul halfgeboude huis tans soos ’n groot witolifant en uitkyk op die Mogolrivier. Daar is nie geld om die huis te voltooi nie. Die Van Druten-gesin het tans geen inkomste nie. Selfs ná al die werkloosheidversekerings- en ongevallekommissarisdokumentasie ingevul en ingegee is, word geen ongeskiktheidspensioen uitbetaal nie. Die ongevallekommissaris het wel die hospitaal- en doktersrekeninge van die afgelope paar maande afgehandel en betaal, het Wilma aan Die Pos gesê. “Die regering sal glo ná die finale verslag van die neuroloog besluit of hulle wel vir Ian pensioen gaan betaal of nie,” het Wilma gesê. “Dit gaan onder omstandighede goed met Ian, hoewel daar maar heelwat positiewe en negatiewe dae is. Elke keer as Ian vir hospitaalbehandeling of operasies moet gaan, beleef hy ’n terugslag. Dit veroorsaak dat selfs sy uitstekende span terapeute by die Meulmed-hospitaal in Pretoria se rehabilitasiesentrum kan agterkom dat sy gesondheid agteruit gaan en hy meer negatief voel,” het Wilma gesê. Ian se linkerkant is steeds heeltemal verlam, hoewel sy linkeroog goed herstel het en hy weer kan sien. Wilma beskryf die verlamming in sy gesig as soortgelyk aan wat pasiënte by ’n tandarts beleef ná ’n

verdowingsinspuiting. Ongelukkig is sy regteroog steeds blind en die gesin het op Dinsdag, 26 April, ’n spesialis in Pretoria daaroor gaan sien. Ian gaan weekliks na die Meulmedhospitaal se rehabilitasiesentrum vir behandeling waar hulle tans besig is om hom te leer loop met behulp van een of twee krukke. “Ian wil baie graag weer loop en hy werk elke week baie hard saam met die terapeute. Dit maak hom baie moeg en klein mylpale word weekliks vir hierdie doel gestel,” het Wilma gesê. Om te kan lees en skryf is vir die meeste van ons vanselfsprekend, maar Ian moet hierdie vaardighede van vooraf aanleer. “Die terapeute leer hom van vooraf om met sy regterhand te skryf en hy moet ook leer om nie sy linkerkant te vergeet nie. Hy was voorheen linkshandig, so dit is heelwat moeiliker. ’n Mens kan al begin om te lees wat hy skryf, maar dit is alles maar ’n proses wat baie geduld, tyd en oefen in beslag neem.” “Sy lees kom goed reg. Hy moet nog herinner word, maar baie minder as voorheen, om heel links op die bladsy te begin lees en skryf.” “Ek is altyd bang vir sy hart en asemhaling omdat sy hart heeltemal gaan staan het op die dag van die aanval en hy glad nie asemgehaal het toe hy by die Unitashospitaal aangekom het nie,” het Wilma gesê. “Ian sal moontlik later ’n heupvervanging moet kry. Sy heup is beskadig met die lang tyd wat hy onder verdowing was. Sy spraak is ook effe aangetas weens die skade wat die koeël aangerig het.” “Volgens die dokter wat Ian vir sy breinbesering behandel het, neem hierdie soort besering gewoonlik twee jaar om te genees. Ons is dus nou reeds halfpad daar, maar Ian doen baie goed wat hy nie veronderstel is om al te kan bemeester nie, veral as ’n mens in ag neem dat hy net die helfte van sy brein tot sy beskikking het. * Niemand is in verband met die aanval vasgetrek nie, en Die Pos verneem dat daar bitter min leidrade is om op te volg.

12


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.