Die Pos 2 April 2015

Page 1

BESTE PLAASLIKE KOERANT - LiN Media-toekennings vir 2015 Vermeende boef in woonbuurt raakgeskiet

2

Veiligheidswag red onbekende uit brandende trok

3

5 ®

R6.00

2 April 2015

Nóg krokke op Bospoort gewaar

Egpaar aangeval Marietjie Steenkamp

‘Who wants to be shot first?’ het een van

Die stok en draad waarmee die booswigte die sleutel van die ganghek van die Naudé-egpaar se woning buite Mookgophong bekom het.

David en Ina Naudé se aanvallers geskree toe hy die .38rewolwer, wat hy uit hulle kluis gebuit het, heen en weer voor hul gesigte geswaai het. Dit was ongeveer 23:30 op Donderdagaand, 26 Maart, toe die Naudé’s, wat net buite Mookgophong naby Tobiasstasie op ’n plaas woon, wakker geword het van die honde se geblaf. “Die honde slaap op die toegeboude stoep agter die huis en ek het gedink hulle blaf vir ’n vreemde kat of iets, maar toe een van die aanvallers ons kamerdeur oopmaak en ek sy profiel sien, het ek geweet hier is groot moeilikheid,” het Ina aan Die Pos gesê. Die vyf aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die voordeur en veiligheidshek met ’n koevoet oop te breek. Die traliehek in die gang se sleutel was teen ’n muur en die aanvallers het dit met ’n lang stok en draad afgehaak en die hek daarmee oopgesluit. Die egpaar is daarna vasgebind en met messe teen die keel gedwing om die kluis se sleutels te oorhandig. “Hulle het ’n

driedubbele elektriese kabel om my keel gedraai,” het David gesê. Die egpaar is geskop en geslaan en een het Ina gedreig dat hy en sy makkers haar gaan verkrag. “Ek het aan hom gesê dat die veiligheidsmense elke twee ure hier kom draai en hy het my gelos,” het sy vertel. Die aanvallers het die egpaar in die badkamer toegesluit en die veiligheidshek in die gang gesluit. Die sleutels is later naby die pad in die veld gevind. Ina het haar losgewikkel en met ’n klein skêr die slot se skroefies losgedraai. Daar is ’n linnekas in die badkamer en sy het ’n kussingsloop onder die deur geskuif en toe die sleutel uitgedruk sodat sy dit onder die deur kon deurtrek. “Ons het net gebid dat die sleutel op die sloop moet val, en genadiglik het dit,” het sy gesê. Die veiligheidshek was ook gesluit en Ina het die hek met die byltjie wat die booswigte daar gelos het, uit die muur losgekap. Die Naudé’s het na die polisie op Mookgophong gejaag vir hulp. “Die polisie het ons dadelik gehelp en ons is dankbaar vir hulle flink optrede,” het David gesê. David is nie baie gesond nie en het al ’n groot hartoperasie ondergaan. Die egpaar is ná die gebeurtenis erg getraumatiseerd. Die Naudé’s woon al 17 jaar op Mookgophong. Die booswigte het al die Naudé’s se juwele en ’n groot versameling munte en note, ’n platskerm TV, skootrekenaar en selfone gebuit. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

WEN!

Nuwe intrekkers op Vaalwater oorrompel en beroof Marlene Vermaak In nóg ’n geval is nuwe intrekkers in die Vaalwater-omgewing deur gewapende rowers aangeval en beroof. Die Pos het verlede week berig oor die wrede aanval en verkragting van ’n vrou in die Witfontein-omgewing terwyl die gesin besig was om te verhuis. Sy en haar drie jong kinders was alleen tuis toe sy oorval is. Michael Beukes (63) en sy vrou, Elise, is op Maandagaand, 30 Maart, op ’n plaas op die Hermanusdoring sekondêre pad in die Vaalwateromgewing deur vyf gewapende mans aangeval. Beukes het ongeveer 19:50 sy honde hoor blaf en ondersoek gaan instel. Drie mans het hom oorval en hom die huis ingeboender. Hulle het die egpaar vasgebind en aangedring op vuurwapens en kontant. Nóg twee gewapende mans het by hulle aangesluit. Die egpaar se besittings was steeds in kartondose en die rowers het dit agterop die Beukesse se Opel Corsa-bakkie gelaai. Hulle het gevlug met ’n 9 mm-pistool, ’n windbuks, ’n 306-, 303- en .22gewere, twee selfone, kontant en ’n groot klomp huishoudelike ware wat die televisie insluit. Die egpaar is nie in die voorval beseer nie. Die polisie het die Corsa-bakkie die volgende oggend op die Renosterfontein-grondpad gekry, maar niks van die gesteelde goedere is teruggevind nie.

Staan ’n kans om GRATIS boeke te wen in ons sms-kompetisie

24

Besoek Die Pos se webwerf: diepos.linmedia.co.za DIE POS NOU OOK OP FACEBOOK EN TWITTER


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.