Twee in hof oor aanval by hotel
5
Geen spoor van Modimolle-kind (13)
5
Spoggerig by nat interhoër
22
®
2 Maart 2018
R8.00
Piet (70) en Magriet (66) Botes van Settlers is dankbaar dat hulle leef nadat drie mans hulle in hul plaashuis vasgebind en beroof het. Die egpaar het intussen besluit om te verhuis. Op die foto hou die egpaar hande vas tydens ’n gesprek met Die Pos.
Bly stil en doen wat hulle sê, sê; moet hulle nie onderskat nie
Die Here se hand was oor ons, sê egpaar ná aanval Andries van der Heyde Piet (70) en Magriet (66) Botes, wat in die Settlers-omgewing boer, is gelukkig om te leef nadat hulle op Woensdagoggend 21 Februarie deur ’n groep rowers in hul plaashuis oorval is. Piet het aan Die Pos gesê hy het die oggend soos gewoonlik reggemaak om die werkers te gaan oplaai. Hy was skaars by die plaashek uit toe drie rowers hom oorval en ’n pistool teen sy kop gedruk het. “Hulle het my na die huis gedwing en gedreig dat as ek nie die deur oopmaak nie,
hulle my sal skiet,” het hy gesê. “Hulle het my vrou in die huis gekry en ons al twee in die sitkamer op die grond met draad en tou vasgebind.” Die rowers het op geld en toegang tot die kluis aangedring. Van hulle het kaste en laaie om- en uitgekeer op soek na waardevolle items. Die egpaar het probeer om aan die rowers te verduidelik dat hul kluis op daardie stadium stukkend was en nie in die huis was nie, het die egpaar gesê. Die rowers het die egpaar rondgegeruk terwyl hulle op goedere aangedring het, het Piet gesê. Magriet is deur een van die mans na die
hoofslaapkamer geneem. Volgens haar wou die rower haar verkrag. “Hy het my op die bed neergegooi en reggemaak om my te verkrag,” het Magriet gesê. “Ek het daar tot die Here gebid en die man het my wonderbaarlik uitgelos.” Die rowers het die bietjie kontant wat in die huis was, geneem. Hulle het ook met die egpaar se bankkaarte, die motors se sleutels, selfone en twee van Piet se vuurwapens gevlug. Piet het gesê dit is onduidelik wat die rowers nog alles gevat het. Nadat die rowers te voet gevlug het, het die egpaar na mekaar gekruip en mekaar
losgemaak. Die rowers het gelukkig nie Piet se jaggeweer in een van die kamers raakgesien nie en die egpaar is met die geweer in die hand na hul bure vir hulp. Talle boere, buurtwaglede, asook lede van die Heritage Protection Group (HPG) was binne oomblikke op die toneel nadat die noodroep uitgestuur is. Die polisie was ook op die toneel. Die rowers se spore is in die rigting van die nabye Katjibane-nedersetting gevolg, het Die Pos verneem. Vier mans is later die dag in hegtenis geneem en ondervra, maar is weer vrygelaat, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag gesê. Die vier wat ondervra is kon nie met die voor-val verbind word nie. “Die verdagtes wat by die voorval betrokke was, is bekend aan die polisie, maar hulle word steeds gesoek,” het Ngoepe teen druktyd gesê. Die egpaar het reeds die Tuinplaaspolisiestasie besoek om verdagtes uit te ken, asook van hul eiendom. Die egpaar het vertel dat hulle voorheen ’n paar keer onder misdaad deurgeloop het — van roof tot diefstal. “Hierdie mense val nie meer snags aan nie. Hulle moes ons vir ’n ruk dopgehou het,” het Piet gesê. “Bly stil, doen wat hulle van jou vra en volstaan daarby as hulle op iets aandring en jy weet jy het dit nie. Moet hulle nie onderskat nie — hulle is lafaards omdat hulle in groepe roof,” is sy raad. Vir Magriet is die manier waarop die voorval geëindig het, ’n bewys dat die Here by hulle was. “Woensdag was ’n bewys daarvan,” het Magriet gesê. “Die skok sal ons nog tref, maar ek sal ander aanraai om meer oplettend te wees. Daar is altyd plekke vanwaar hulle jou kan dophou.” Die egpaar beplan om van die plaas te verhuis waar hulle die afgelope 13 jaar ’n granaatverpakkingsonderneming bedryf en met kleinvee gespekuleer het. Hulle ontvang intussen berading. Die egpaar wil veral die boere, buurtwagte, Barend Pienaar, Pauli Paskin, Hardus, Annemie en Regardt Pretorius, en die Tuinplaas-polisie vir hul ondersteuning ná die voorval bedank. Die saak word verder deur die Tuinplaaspolisie ondersoek.