Municipality appoints three new managers
2
Inwoners dring aan op bekwame leier
5
Duisende tieners na Bela-Bela ®
6 April 2018
R8.00
7
Gesoek: liefde in die Waterberg
Dit sal nie die eerste keer wees dat ’n Waterbergse boer liefde op dié manier vind nie.
Ronél van Jaarsveld Omring deur natuurskoon en wildlewe ... wat meer wil ’n mens hê? Twee Bosveld-inwoners is dit egter eens: liefde. Boer Toanette van Modimolle en Boer Schalk van Vaalwater is albei finaliste in die jongste reeks van die gewilde Boer Soek ’n Vrou-program wat op Sondag 1 April op kykNET afgeskop het. In dié werklikheidsreeks word tien finaliste wat op soek is na liefde gekies. Kykers wat dink dat hulle ’n pasmaat kan wees, kan inskryf om hulle te ontmoet — alles terwyl die kameras draai. Die aktrise en sangeres Leah is die aanbieder wat die hubare boere aan die land bekendstel. Dit sal nie die eerste keer wees dat ’n Waterbergse boer liefde op dié manier vind nie. Jacobus Wentzel, wat in Alma boer, en Ina Boshoff het mekaar in 2013 op Boer Soek ’n Vrou ontmoet en is in 2014 getroud. Die egpaar se derde baba is op pad.
Heleen Lello, ’n beesboer van Pienaarsrivier, was in 2017 ook een van die program se finaliste. Die 23-jarige Toanette, die enigste hen onder die hane, boer met skaarswild soos goue wildebeeste en ’n verskeidenheid springbokke buite Modimolle. Die plaas bied ook opleiding in bewaring en lodgebestuur aan. In haar bekendstellingsvideo vertel dié aantreklike donkerkop dat sy lief is vir teken, perdry, skiet en watersport. Sy hou daarvan om rustig te wees en beskryf haarself as ’n intro- én ekstrovert wat eerlik en reguit is. Haar droom is om eendag ’n dierehospitaal op die plaas op te rig. “My ideale man is ’n kind van die Here. Ek wil saam met hom kan Bybellees,” sê sy. Die hangoog basset op haar skoot lyk mistroostig oor dié liefdesoekery. Toanette maak dit duidelik dat die man aan haar sy net so lief vir honde moet wees as sy. Die aantreklike boerseun Schalk (26) is ’n plaasbestuurder tussen Vaalwater en Lephalale. Op dié plaas word daar ook met wild en skaarswild geboer. In sy bekendstellingsvideo word Schalk vergesel deur ’n mis-niks Jack Russel wat help uitkyk vir liefde. “Die moeilikste deel van boer is die alleenwees. ’n Mens is nie naby die dorp nie,” het Schalk gesê. Hy het in Pretoria grootgeword, maar het sy hart op die Bosveld verloor tydens sy eerste jaguitstappie op 12-jarige ouderdom. Hy is ’n ywerige hengelaar, maar nie die pap- en mieliebolsoort nie. Hy vang grootbekbaars met kunsaas. Sy
ander stokperdjies sluit fotografie en potloodsketse in. Hy glo sy beste eienskappe is dat hy hardwerkend en netjies is. “Ek wil weet waar my tange is as ek een soek!” Sy verhouding met God en sy familie is vir hom belangrik. Sy droom is om eendag sy eie onderneming te bestuur en hy wil ook ’n helikoptervlieënier word. Hy slaan ’n uitklophou vir die vroueharte: “Ek wil my eie kroos hê en hoop vir ’n dogtertjie. Ek sal graag ’n plaasdogtertjie wil grootmaak.” Toanette en Schalk se vanne en plaasname word weerhou om te keer dat vrypostige vryers op hul plase opdaag. Diegene wat graag saam met een van die twee sou wou boer, het tot Vrydag 20 April om in skryf op kykNET se webwerf. * Die Pos hoop dat Toanette en Schalk mekaar darem êrens op die kykNETstel raakloop. Dit is darem nie nodig om te ver te gaan soek nie!
Boer Schalk van Vaalwater en Boer Toanette van Modimolle is albei op soek na ware liefde in die jongste reeks van die gewilde Boer Soek ’n Vrou-program wat op Sondag 1 April op kykNET begin het.
8