Drie in sop oor peperduur motor Die Pos gesels met Maimane
Waterberg Agri/ Eiendomme bylae
3 4
Binne ®
R6.00
6 Mei 2016
Sirkusleeus kom ‘huis toe’ Hulle tande hul tande isis uitgeslaan en kloue getrek om te verseker dat hulle hulle ‘gehoorsaam’ “gehoorsaam”is.is.
Een van die leeus word uit die hokke in hul nuwe tuiste vrygelaat. Marlene Vermaak Altesame 33 gewese sirkusleeus het op Sondag, 1 Mei, ná ’n daelange uitputtende reis vanaf Suid-Amerika by die Emoya Big Cat Sanctuary tussen Vaalwater en Lephalale aangekom. Die groep, wat uit 11 wyfies en 22 mannetjies bestaan, kom oorspronklik van Suid-Amerika af. Animal Defenders International (ADI) het die leeus uit haglike omstandighede gered en ook die
Dié blinde leeumannetjie is een van die 33 leeus wat uit sirkusse gered en nou by die Emoya Big Cat Sanctuary gehuisves word.
uitvoerpermitte en vervoer na Suid-Afrika gereël. Die hervestiging van die leeus het wêreldwyd groot mediabelangstelling uitgelok, veral nadat daar berig is dat die diere glo ontsettend getraumatiseerd is. Van die diere is glo stokoud, halfblind, wangevoed en aan uiterste wrede omstandighede onderwerp, soos dat hul tande uitgeslaan en kloue getrek is om te verseker dat hulle “gehoorsaam” is terwyl hulle hul sirkustoertjies uitvoer. “Nege van die leeus kom direk van ’n
sirkus in Colombia af en is nog baie aggressief teenoor mense. Van hierdie leeus was nog nooit in ’n veld nie en Sondag was die eerste keer ooit dat hulle teen ’n boom kon skuur of krap. Dit was ’n baie hartseer én bly oomblik om saam met die res van die span te kon deel,” het Savannah Heuser (19), stigter en eienaar van Emoya Big Cat Sanctuary, aan Die Pos vertel. Die ander 24 leeus is van Peru afkomstig waar lede van ADI hulle ook by sirkuseienaars weggeneem het. Hierdie leeus was die afgelope ses maande in ’n
rehabilitasiesentrum in Peru terwyl die nodige geld en permitte verkry is, het Heuser vertel. “Ons het voorheen ses leeus gehad. Hulle is onderskeidelik van Egipte, Frankryk en plase in Limpopo. Ons hou ook twee tiere aan,” het Heuser gesê. “Dit was nog altyd my droom om met groot katte te werk. Ons het ses jaar gelede begin om by die departement van natuurbewaring aansoek te doen vir die nodige permitte. Daar was ontsettend baie administratiewe werk voordat ons die 33 nuwe leeus kon verwelkom en natuurlik ook ’n groot klomp werk om die plaas se infrastruktuur reg te kry,” het Heuser gesê. Daar is nege fase 1-kampe waarin al 33 leeus afgelaai is. Die leeus sal tussen ses en 12 maande in hul nuwe hokke bly voordat hulle na die aangrensende en heelwat groter fase 2-kampe verskuif word. Die leeus sal dan in groepe gevestig word sodat hulle weer ’n hegte familieband met ander leeus kan vorm. “Die leeuwyfies sal gesteriliseer word omdat die doel van die projek nie teling is nie, maar eerder om ’n soort aftreeoord vir die diere te bied.” Die leeus sal ses dae per week gevoer word en is tans op ’n suiwer wildsvleis-dieet. Die vleis van trofeëjagdiere wat mense nie gaan gebruik nie — olifante, kameelperde, sebras, seekoeie en dies meer — sal die grootste deel van hul dieet uitmaak. “Ons sal enige wildsvleis baie waardeer en professionele jagters moet ons asseblief kontak sodat ons vooraf vir ’n prys per kilo kan onderhandel,” het Heuser gesê. Indien lesers belangstel om by die projek betrokke te raak of selfs net die leeus wil besoek, kan hulle gerus op Emoya Big Cat Sanctuary se Facebook-blad ingaan en ’n boodskap aan die span stuur. Boodskappe word daagliks gelees. Lesers wat graag as vrywilligers by die projek betrokke wil raak, sal help om die hokke skoon te maak, die leeus te voer en ander relevante take verrig. “Ek wil graag almal in die omgewing bedank wat met hul donasies en ondersteuning dit moontlik gemaak het vir die leeus om in Afrika verwelkom te word,” het Heuser gesê.