EikestadNuus 21-09-12

Page 1

Eikestad VRYDAG, 21 September 2012 | Prys: R5.00 | Tel 021 887 2840 | Faks 021 883 9538 | www.eikestadsnuus.co.za

NUUS NET VIR JOU

Lewenslank vir Costa­skuldiges 5

Protes oor huise in Klapmuts 4

Erfenisdag: Kom vier saam 6

2

STELLENBOSCH-PAAIE EIS TWEE

’n Swart week

ELBÉ VAN HEERDEN

T

wee mense is noodlottig beseer in vier ongelukke wat die afgelope week op die Stellenbosse paaie plaasgevind het. ’n Werknemer (42) van Delaire Graff-wynlandgoed het Dinsdagaand op pad werk toe gesterf en drie ander werknemers het ernstige beserings in ’n ongeluk op die Helshoogtepas opgedoen. Volgens supt. Lizelle Stroebel van die Stellenbosch verkeersdepartement se botsingsburo, het die ongeluk kort voor 18:00 gebeur toe ’n rooi Ford gestop het om regs te draai na die landgoed. “’n Ford Ranger-bakkie wat in die rigting van Kylemore gery het, het die voertuig van agter getref. Een van die passasiers, wat links agter gesit het, is op die toneel dood.” Volgens Johann Laubser, uitvoerende hoof van Delaire Graff, is hulle baie ontsteld oor die voorval. “Die vier mans was almal aangestel in ons private sekuriteitsafdeling.” Jacques Carelse het op die toneel gesterf en ’n tweede passasier, Siphiwe Ngqambuza, is in ’n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal opgeneem. Die ander twee, Jacob Arendse en Jilton Maarman, is ook albei in die Tygerberg-hospitaal opgeneem. Maarman is reeds ontslaan en Arendse sou teen die einde van die week ontslaan word ná hy ernstige harsingskudding opgedoen het. “Jacques was regtig ’n goeie werker. Ons gaan egter nie die saak daar laat nie en sal dit so ver moontlik ondersoek,” het Laubser gesê. Nog ’n man is Maandag op die R310 (Spier-pad) oorlede toe hy deur ’n motor getref is. Volgens Stroebel het ’n rooi Mazda Maandag 17 September om 21:50 dig-

by Kompanjiesdrift ’n man in die middel van die pad sien staan. “Volgens die Mazda se bestuurder het die man op die wit lyn in die middel van die pad gestaan. “Die motoris het probeer om na regs uit te swaai, maar dit wil voorkom of die voetganger in dieselfde rigting geswenk het en hy is noodlottig beseer.” Die oorledene se identiteit is nog nie bekend nie en die verkeersdepartement het gevra dat enigeen wat moontlik inligting het, hulle bel by 021 808 8811. Volgens Stroebel is verskeie mense ook Saterdag in twee ongelukke beseer. “Die eerste ongeluk het omstreeks 02:50 Saterdagoggend gebeur. Besonderhede oor dié voorval is steeds vaag, maar na bewering het ’n wit Volkswagen Jetta op die R310 ’n Jeep van die pad gedruk en die Jeep het teen Agrimark se muur gebots. “Die bestuurder van die Jetta het toe ook beheer oor die motor verloor en teen ’n staalhek ’n paar meter verder tot stilstand gekom.” Kort voor 13:00 Saterdag was daar vier voertuie op die R304 (Koelenhof-pad) in ’n botsing betrokke. “’n Wit Volkswagen-bakkie het ’n Corsa-bakkie probeer verbysteek, digby die Elsenburg-afdraai. Die Volkwagen het egter die Corsa-bakkie se regter-agterkant getref en toe met ’n swart Corsa gebots wat regs wou draai na Elsenburg. “Die botsing het veroorsaak dat die swart Corsa in die verkeerde baan tot stilstand kom het en ’n grys Ford Fiesta wat van voor af gekom het, het met dié voertuig gebots.” Die bestuurder van die VW-bakkie is na die Stellenbosch-hospitaal geneem vir waarneming, maar is ook kort daarna vir dronkbestuur getoets. Die saak word ondersoek.

Die ongelukstoneel op die Helshoogtepas waar ’n werknemer van Delaire gesterf het. FOTO’S: VERSKAF

Die bestuurder van ’n VW­bakkie is aangekla van dronkbestuur na ’n ongeluk Saterdagmiddag.

Een persoon is dood in dié ongeluk Dinsdag­ aand op die Helshoogtepad.

Die ongelukstoneel by Agrimark op Adam Tasweg Saterdagoggend.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.