8 minute read
Nongqai Vol 13 No 9
SONDES VAN DIE VADERS? SUID-AFRIKA SE ONEFFEKTIEWE GESENTRALISEERDE POLISIE
deur Andreas van Wyk
Advertisement
In die pers is daar tans gereeld berigte oor eise dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens se magte na laer vlakke afgewentel moet word in ‘n poging om die ooglopende oneffektiwiteit van die staat in die stryd teen misdaad teen te werk. Die reaksie van die minister van Polisie Bheki Cele is deurgaans totaal negatief, ‘n houding wat konsekwent deur die ANC ondersteun word.
Suid-Afrika is inderdaad taamlik uniek in die ontwikkelde wêreld deur sy sterk gesentraliseerde polisiemag. Suksesvolle demokrasieë soos Australië, Duitsland, die Verenigde State en selfs die Verenigde Koninkryk hanteer almal die handhawing van wet en orde as ‘n kwessie wat primêr op plaaslike en streeksvlak hanteer moet word. In die geval van Duitsland is dit ook die gevolg van ‘n bitter ervaring van die misbruik van ‘n sentrale polisiemag deur die Nazi-bewind (1933-1945). Ander lande soos Frankryk en Italië, erfgename van ‘n Napoleontiese tradisie, handhaaf die nasionale orde deur ‘n semi-militêre sentrale gendarmerie, terwyl die plaaslike geregtigheid en rus en vrede deur streeks- en munisipale polisie verseker word.
my mening verkeerd geloop het, ook omdat dit in die ideologiese kraal van die ANC gepas het. Ons Grondwet van 1993, soos finaal vasgelê in 1996, word dikwels as ‘n besonder lofwaardige model voorgehou. Vele aspekte daarvan, soos die handves van regte in hoofstuk 2, is inderdaad uitstekend, veral vergeleke met dit wat dit tussen 1910 en 1983 voorafgegaan het. Dit is egter nie ‘n totaal oorspronklike dokument nie (groot dele daarvan is direk gebaseer op die Duitse grondwet van 1949) en perfek is dit ook nie. So bv laat die beskerming van ons land se groot kulturele en taaldiversiteit heelwat te wense oor. Soos die afgelope 25 jaar getoon het, is ook die strukture en die maatreëls om effektiewe en onpartydige staatsadministrasie te verseker baie gebrekkig.
Suid-Afrika is sedert 1994 in werklikheid ‘n federasie, hoewel dit ‘n term is wat weens politieke lang tone van veral die ANC deur al die rolspelers vermy word. Vergeleke met ander federasies soos Australië, Duitsland, Kanada, Nigerië en die VSA is die magte van ons provinsies taamlik beperk, maar hulle is grondwetlik veranker. Die provinsiale regerings speel ook ‘n belangrik rol in die nasionale wetgewer.
In federale state is polisiedienste een van die primêre dienste wat op streeks- en plaaslike vlak gelewer word, juis as deel van die strewe om regering so na as moontlik aan die bevolking te bring. Toe die vier Britse kolonies Suid van die Limpopo in 1910 een staat geword het, het drie van hulle op ‘n unitêre staatsvorm aangedring as ‘n middel om Afrikaner-oorheersing in die nuwe staat te verseker. In die Kaapkolonie, Oranje-Vrystaat en Transvaal was die meerderhede van die kiesers blanke Afrikaners. Slegs die Engelssprekende Natallers wou ‘n federasie hê ten einde hulle minderheidsbelang te beskerm. In 1913 het die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) dus as ‘n nasionale polisiemag met sterk sentrale bestuur uit Pretoria tot stand
gekom. Later het die SAP ook die verantwoordelikheid vir die mandaatgebied Suidwes-Afrika gekry.
Weens ons land se geografiese werklikhede was hierdie sentralisering egter nie totaal nie. Op politieke gebied het die vier provinsiale administrasies met beperkte bevoegdhede behoue gebly. En van vóór 1910 was daar gespesialiseerde polisiemagte vir die strategies so belangrike kushawens en spoorlyne. Ook sommige van die groter stede het plaaslike polisiedienste gehad, soos die Durban Borough Police wat al in 1854 geskep is.
Ná Uniewording het daar in 1916 ‘n nasionale Spoorwegpolisiemag ontstaan, wat in 1934 omvattend geherstruktureer is. Met die wetteloosheid wat ons openbare vervoer deesdae so teister, lees mens dikwels versugtings na die herlewing van hierdie Spoorwegpolisie van ouds.
Juis in hierdie verband is myns insiens in 1986 ‘n sonde gepleeg met die afskaffing van die Spoorwegpolisie en die inlywing van sy lede by die nasionale SAP. Die dryfkrag agter hierdie besluit was die destydse kommissaris van Polisie, generaal Johan Coetzee. Hy was ‘n sentrale rolspeler in die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel wat in die Tagtigerjare bedoel was om die sogenaamde Totale Aanslag op Suid-Afrika af te weer. Onder hierdie vaandel het Coetzee die geleentheid gebruik om sy empaaier allesomvattend te maak. In die voorafgaande besprekings van Coetzee se voorstel was die departement Staatkundige Ontwikkeling en Beplanning die enigste kritiese stem. Op 1 Oktober 1986 het die Wet op die Oorplasing van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisiemag na die Suid-Afrikaanse Polisie 83 van 1986 in werking getree. Ouer pendelaars op die Kaapse Vlakte of aan die Witwatersrand praat soms nou nog met weemoed oor die opvallende teenwoordigheid van die Spoorwegpolisie op hulle treine.
Toevallig is die verdwyning van die Spoorwegpolisie drie maande vroeër voorafgegaan deur die afskaffing van die vier provinsiale rade (wetgewers) ingevolge die
Wet op Provinsiale Regering 69 van 1986, hoewel die provinsiale administrateurs en hulle administrasies behoue gebly het. Die departement van Staatkundige Ontwikkeling en Beplanning se voorstel dat die provinsiale wetgewers in veelrassige liggame omskep moes word, was onaanvaarbaar vir die Spesiale Kabinetskomitee wat grondwetlike hervorming moes inisieer. Veral die Transvaalse leier van die Nasionale Party, minister FW de Klerk, was ‘n uitgesproke teenstander. As troosprys is daar wel toestemming gegee vir die skepping van indirek verkose veelrassige streeksdiensterade op plaaslike bestuursvlak.
Buitelandse deskundiges en waarnemers by die grondwetlike onderhandelinge wat vanaf 1991 tot die nuwe Grondwet van 1993 gelei het, was verbaas dat die twee hoofpartye, die ANC en die Nasionale Party, wat so sterk oor ander sake verskil het, so maklik ooreengekom het dat polisiëring ‘n nasionale funksie sou wees. Vir die ANC was dit ‘n ideologiese uitgangspunt dat die sentrale regering die omvattende transformasie van Suid-Afrika moes lei, wat uiteraard alle veiligheidsdienste moes insluit. Die Nasionale Party se leierskap (FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels) het ook almal gekom uit ‘n sentralistiese denkwêreld, gekenmerk deur die SAP met sy Wachthuis-bevelsentrum in Pretoria se Pretoriusstraat.
Dat daar wel ‘n effense bewussyn van die bedenklikheid van hierdie benadering was, blyk uit artikels 205 en 206 van die Grondwet van 1996. Die vaag bewoorde artikel 205 lê neer dat die nasionale polisiediens gestruktureer moet word om in die nasionale, provinsiale en, waar gepas, die plaaslike regeringsfere te funksioneer. Artikel 206(1) plaas egter die politieke verantwoordelikheid
vir polisiëring op ondubbelsinnige wyse in die hande van ‘n nasionale minister, terwyl artikel 207 die operasionele beheer en struktuur van die Polisiediens in die hande van ‘n nasionale kommissaris van polisie wat deur die president aangestel word, vestig.
‘n Geringe afwatering van hierdie beginsel is wel in die res van artikel 206 te vinde: die minister van polisie moet die provinsiale regerings oor hulle behoeftes raadpleeg wanneer hy die nasionale polisiëringsbeleid bepaal. Daardie beleid kan ook sekere polisiefunksies aan ‘n provinsie toewys (artikel 206(4)). Minister Cele se openbare verontwaardiging wanneer die DA-oorheerste Wes-Kaapse regering oor ‘n moontlike toewysing van meer polisiefunksies aan die Wes-Kaap wil praat, wys egter hoe onwaarskynlik so ‘n stap is solank die magsbehepte ANC aan die bewind bly. Die provinsies is darem geregtig om polisieoptrede op hulle grondgebied te monitor, toesig te hou oor die doeltreffendheid en bevoegdheid van daardie polisiediens en goeie betrekkinge tussen hulle bevolking en die polisie te bevorder. As hulle nie tevrede is nie, is hulle enigste remedie egter blykbaar om met die nasionale minister van polisie oor die probleme te skakel. Die provinsiale regerings kry ook ‘n mate van invloed by die aanstelling van provinsiale polisiekommissarisse deur die nasionale kommissaris: laasgenoemde benodig vir so ‘n aanstelling die instemming van die betrokke provinsiale uitvoerende gesag, met die nasionale minister as “bemiddelaar” in geval van meningsverskil. Praat van wolf skaapwagter maak! Die provinsiale regering het egter geen verdere gesag oor die provinsiale kommissaris nie,
hoewel hy darem ‘n jaarverslag aan die provinsiale wetgewer moet stuur.
Artikel 206(7) van die Grondwet bepaal verder dat nasionale wetgewing ‘n raamwerk vir die instelling, bevoegdhede en funksionering van munisipale polisiedienste moet skep. Hierdie raamwerk is nou te vind in hoofstuk 12 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995, soos gewysig in 1997. Daarvolgens kan ‘n munisipaliteit met die goedkeuring van die betrokke provinsiale uitvoerende raad ‘n polisiediens instel. Die funksies van so ‘n diens is egter volgens artikel 64E baie beperk: verkeer, die toepassing van munisipale voorskrifte en misdaadvoorkoming. Sulke magte is inderdaad in al die Suid-Afrikaanse metropolitaanse gebiede ingestel: Ekurhuleni, Johannesburg, Kaapstad, Nelson Mandela Baai en Tshwane.
As mens terugkyk, is dit ongelukkig so dat die erfenis van 1910 nog soos ‘n lang skadu oor ons grondwetlike bedeling, spesifiek die polisiëringsaspek daarvan, hang. “Federasie” het vir talle Afrikanerleiers soos FW de Klerk tot in die laat 20ste eeu ‘n verbode woord gebly, geassosieer met Natallers en daarna Helen Suzman se Progressiewe Federale Party, ironies genoeg ‘n belangrike voorganger van die huidige Demokratiese Party waarin die meeste Afrikaners hulle politieke toevlug gevind het. Eerder as oor landsbelang gaan die huidige twis ongelukkig grotendeels ook nog oor ‘n erflating uit die verlede.
(Prof Van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch, was van 1984 tot 1987 direkteur-generaal van die Departement Staatkundige Ontwikkeling en Beplanning)