5 minute read

Nongqai Vol 13 No 9

DIE PRISONIERS GAAN KUIER VIR DIE KROKODILLE

Kol Wynand Schoeman

Advertisement

Ek sit in my kantoor op Katima Mulilo in die Caprivi, dié spesifieke dag in Januarie 1980 en is besig om dossiere na te sien maar moet kort-kort eers ‘n bietjie opstaan om iewers eers ‘n bietjie vars en koel lug te soek. Dit is kort na halftien in die oggend en reeds snikhetend warm. Die Caprivi speel nie met jou nie, as dit warm word dan word dit warm! Dit is so warm dat die kraaie nie eers wil gaap nie. Hulle het eenvoudig nie die energie daarvoor nie! My kantoor is die enigste met ’n dakwaaier maar dit is eerder ‘n bron van frustrasie as ‘n werklike hulpmiddel omdat dit net warm lug in die rondte sirkuleer. Ek sien dat die Administratiewe dametjie na haar asem snak en aan hitte-uitputting begin ly en ek besluit daar en dan om haar eerder huistoe te stuur om te gaan rus totdat dit koeler is.

Dit is hoogsomer maar die hitte en gepaardgaande humiditeit langs die magtige

Zambezirivier dié dag, is nie my grootste probleem nie. My probleem is skoon en bruikbare water. Die dorp het nie water nie! Dit was reeds dag 5 wat die probleem voortduur. Katima Mulilo is langs die Zambezi wat stewig loop omdat dit die reënseisoen is. Die waterpomp het volgens die plaaslike Administrasie opgepak en water kan nie van die rivier na die suiweringsaanleg en van dié aanleg na die opgaardam en dan na die dorp gepomp word nie.

My probleem word vererger omdat ek met 14 prisoniers in die selle sit wat ook water benodig om te kan was en stort. Water word reeds vanaf die rivier in jerriekanne aangery net om die rioolstelsel aan die gang te probeer hou. In die waterpype is daar skaars water om ‘n waslap nat te maak sodat elke prisonier darem net sy gesig kan afvee. In kort, ‘n waterkrisis met geen aanduiding wanneer die toevoer herstel sal wees nie. Die magtige Zambezi is daar met ‘n stroom wat ‘n paar honderd meter breed, verby stroom, maar dit beteken niks. Jy kan nie daarvan drink nie. Al kook jy dit. Dit moet eers deur die suiweringsaanleg gaan. Drink die rivierwater net so en jy loop die gevaar om ‘n blitskursus in gewigsverlies en dehidrasie te deurloop wat nie elke ou se maat is nie. Doen dit en dit is hospitaalsake. In menigte gevalle kan die plaaslike hospitaaltjie jou nie gesond dokter nie en word jy as ‘n noodgeval per vliegtuig na die RSA afgevoer vir opname aldaar. Dit is ook die tyd voor gebottelde water en was dit wel iewers beskikbaar sou die plaaslike supermarkie dit nie aanhou nie want die mense hiér drink nie water nie, hulle drink bier. Behalwe nou vir die vroeë oggend se koppie koffie en tee so nou en dan. Maar jy moet nog steeds kan was. Daarvoor is water nodig.

Nadat ek ‘n rukkie daaroor gedink het, stop ek elke prisonier ’n koekie seep in die hand en vra twee konstabels om hul na die Zambezirivier te neem om te gaan bad. ‘n Mens kan net soveel verduur en niks meer nie! Wat my betref het ons reeds ‘n “noodtoestand”

binnegegaan. Die 14 prisoniers word agter in twee Toyota Landcruisers gelaai en afgesit na Hippo-eiland, ‘n systroom in die Zambezi, waar daar ‘n langwerpige sandbank in die rivier tussen die Caprivi en Zambië aan die anderkant was. By Hippo eiland aangekom is die prisoniers aangesê om te bad, terwyl die twee polisiemanne, elk gewapen met ‘n R1 geweer, op die kant gestaan het en op die uitkyk vir krokodille was. Die twee konstabels het my later meegedeel dat daar op die verste suidelike punt van die sandbank, twee krokodille in die son gelê en bak het en dit nie gelyk het of hul enigsins van die prisoniers bewus was nie. Miskien was die krokodille besig met hul middagslapie oor die etensuur. Ek moet sê die prisoniers het nie op hulle laat wag nie, krokodille of nie.

Ek wonder nog hoe ek die situasie aan die Distrikskommandant sou verduidelik, sou van die prisoniers verdrink het, ontsnap het, of nog erger, deur ‘n krokodil gevang is of selfs deur vyandelike geweervuur uit Zambië neergevel sou gewees het. Dit was die operasionele gebied met absoluut geen goeie verhoudinge met die Zambiërs aan die anderkant nie. Dit was bekend dat sommige Zambiërs maar al te gretig was om met geweervuur reaksie aan die duskant uit te lok. Die Capriviane was nou ook

nie juis daarvoor bekend dat hulle kon swem nie en van die prisoniers kon maklik verdrink het. Ons moes al meermale ‘n liggaam uit die water gaan haal van ‘n Capriviaan wie se swemles nou nie juis baie suksesvol was nie.

Ook die enkelkwartiere en die menasie moes in dié opsig aanpas. Daar is oorgeskakel na papierborde om skottelgoed te verminder en daar is vir ontbyt-, middag- en aandete vleis op ‘n braaivuur gebraai. Saam met dit is slaai en brood bedien wat skottelgoed grootliks uitgeskakel het. Na werk het die manne natuurlik hul droë kele in die tapkantien gaan natmaak, waar die stof behoorlik met Castle Lager afgespoel is. Aan Castle Lager was daar geen tekort nie. Bier was in daardie dae in die operasionele gebied goedkoper as ‘n blikkie gaskoeldrank. Bier het 15c ‘n blikkie gekos en Coke tot soveel as 25c.

Die waterkrisisis is na 7 dae opgelos.

Met nadenke kon ek seker die situasie anders hanteer het, maar op daardie stadium was dit die logiese antwoord op ‘n situasie wat in my oë kritiek was. Ek moet sê die prisoniers het die uitstappie nogal geniet.

This article is from: