1 minute read

VOORBLAD EN LOOPBAANOORSIG: MNR JOHAN MOSTERT

Ek beskou die drie jaar (1987 tot 1989) as hoof van die Inligtingsgemeenskap van Suid-Afrika se intelligensieproduksie as die hoogtepunt van my loopbaan. In dié tyd het ek die geleentheid gehad om President PW Botha en die Staatsveiligheidsraad (SVR) bykans elke tweede Maandag van die jaar persoonlik voor te lig. In die hoedanigheid het ek ook vergaderings van die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) bygewoon en later as uitvoerende sekretaris van die KIK gedien tot 1994.

‘n Tweede hoogtepunt was die vier jaar (1990 tot 1994) as hoof van die Veiligheidsekretariaat wat my in staat gestel het om SVR vergaderings eerstehands te beleef. Ek het die verantwoordelikheid vir die agenda en administrering van die Raad oorgeneem by lt. genl. Charles Lloyd.

Advertisement

‘n Derde hoogtepunt was my twee jaar (1990 tot 1991) as hoof van NI se Nasionale Intelligensieakademie (NIA). Dit was ‘n hoogs bevredigende ervaring. Ek het hierdie pos tesame met die Veiligheidsekretariaat en die KIK hanteer.

‘n Vierde hoogtepunt was om as NI se verteenwoordiger in die Sekretariaat van die Sub-raad vir Intelligensie van die Tydelike Oorgangsraad te dien (1993 tot 1994). Die Sub-raad was verantwoordelik vir die ontwerp van die nuwe intelligensiebedeling.

Ek het in 1970 as navorser by die destydse Buro vir Staatsveiligheid (BvS) aangesluit. Hoewel ek ‘n groot deel van my loopbaan in die interdepartementele omgewing deurgebring het, het NI my eerste liefde gebly. Ek het in NI “afgetree” as hoofdirekteur Spesiale Dienste wat die Veiligheidsekretariaat, die KIK en ander dienste ingesluit het.

In 1995 is ek aangestel as hoof van die National Intelligence Estimates Board (NIEB), die ekwivalent van die Tak Nasionale Vertolking(TNV) van die SVR in die vorige bedeling. Nadat ek in 2000 te kenne gegee het dat ek wil aftree, is ek versoek om behulpsaam te wees met die skepping van die South African National Intelligence Academy (SANAI) in Mafikeng waar ek gebly het tot my formele aftrede in 2005. Daarna het ek periodiek as konsultant vir opleiding opgetree.

This article is from: