3 minute read

Nongqai_Vol_12_No_12A

Mnr AP Stemmet

Die redakteur van Nongqai moet gelukgewens word dat hy die dokumentasie in verband met die bestuurstelsels saamvat in een volume van Nongqai. Daar bestaan geen ander soortgelyke dokument nie en hierdie een sal in die toekoms die enigste brondokument oor die twee bestuurstelsels wees. Wat dit van historiese waarde gaan maak, is dat dit deur deelnemers en nie navorsers geskryf is - geen ex post facto slim vertolkings, maar die werk van deelnemers. Die dokument i.v.m. die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel is byvoorbeeld op my versoek deur Brigadier Genl. Pierre le Clus saamgestel terwyl die stelsel nog in volle werking was.

Advertisement

Gedurende my loopbaan as Parlementêre Beampte van Justisie het ek baie bewus geword van die gebrek aan koördinasie van die optrede van staatsdepartemente. Dit was ‘n geval van elke haan op sy eie mishoop. Botsings was volop. Die kabinet was eintlik die enigste knooppunt en dan was koördinering dikwels te laat.

Interdepartementele beplanning is lukraak gedoen en die woord strategie was ‘n militêre vloekwoord in die siviele departemente. Op veiligheidsgebied was die aanslag teen die RSA duidelik sigbaar maar die intelligensiegemeenskap se inligting was fragmentaries en botsend tussen die verskillende instansies waar tradisies en persoonlikhede soms sterker as landsbelang geag is. Amptenare van siviele staatsdepartemente het nie besef dat landsveiligheid deel van hul departementele funksies was nie.

Die regering moes ingryp. Die 1972 wet was reeds op die wetboek en in 1979 is begin om die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel te skep. Koördinering van die hoogste vlak af tot heel onder om landsveiligheid te verseker sou dringend gevestig moes word. Dit sou onder die leiding van die Tak Veiligheidsbeplanning van die Departement van die Eerste Minister in noue samewerking net die Takke Staatkundige, Ekonomiese -, en Maatskaplike Beplanning geskied.

Met my aankoms as Tweede -in- bevel by die Tak Veiligheidsbeplanning van die Departement van die Eerste Minister in 1980 het ek die ontwikkelende Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel in sy kinderskoene gevind. My opdrag: maak ‘n deeglike studie van die stelsel, implementeer dit en pas aan waar nodig om die bedreiging teen die RSA te stuit.

Daar was werk. Die struktuur van die Tak is in oorleg en met die kundigheid van die Kommissie van Administrasie geskep om voorsiening te maak vir afdelings wat: ADMINSTRASIE, STRATEGIE, OPLEIDING, STRATEGIESE KOMMUNIKASIE en NASIONALE VERTOLKING VAN INLIGTING ( Intelligensie) sou hanteer. Die permanente personeel sou uit enkele kundiges bestaan. Ander is by wyse van onderhandeling op sekonderingsbasis vir wisselende tydperke van ander staatsdepartemente af verkry.

Met die skepping van die Afdelings is sommige bestaande interdepartementele komitees afgeskaf en sommige is stil-stil deur onbruik toegelaat om te verdwyn.

Nasionale Strategieë sou deur kundiges ontwikkel word, intelligensie sou sentraal vertolk en aan die regering en departemente verskaf word. Die propaganda - aanslag sou sentraal onder aanvoering van Tak Strategiese Kommunikasie bekamp word.

Koördinering van veiligheidsoptrede op streekvlak het toenemend belangrik geword en Gesamentlike Bestuursentra saamgestel uit streekverteenwoordigers van alle departemente op streekvlak het reeds bestaan. 'n Aparte Afdeling om dit te hanteer is geskep: AFDELING GBS’e . Ekself en lede van hierdie Afdeling het gereeld vergaderings van Gesamentlike Bestuursentra besoek en opleiding gegee. Die land is in streke, substreke en in mini-substreke verder tot by die kleinste gehuggie verdeel. Byeenkomste waar aangeleenthede van veiligheidsbelang bespreek is deur amptenare van nasionale en provinsiale en plaaslike bestuursvlak het op gereelde basis plaasgevind.

Probleme is interdepartementeel plaaslik opgelos of na hoer gesag verwys. Die verskil was dat probleme wat veiligheidsimplikasies ingehou het wat gewoonlik moeisaam hul weg na hoofkantore gevind het, nou ook op n vinniger kanaal na die volgende vlak van die bestuurstelsel of na die Tak Veiligheidsbeplanning en vandaar na nodale punte in departemente gevoer is.

'n Opleidingsafdeling is geskep wat opleiding in noue verstandhouding met die Opleidingsafdeling van die Kommissie vir Administrasie binne - en buitelands sou hanteer. Nuwe studierigtings soos Strategie, Strategiese Kommunikasie, Inligting (intelligensie), Toekomsstudies en Onderhandelingsvaardighede is geskep .

Teen April 1982 was die stelsel in volle werking.

This article is from: