43 minute read

DEPARTEMENT VAN BUITELANDSE SAKE SE ROL AS LID VAN DIE DESTYDSE RSA INTELLIGENSIE-GEMEENSKAP: Dr

Next Article
Nawoord: HBH

Nawoord: HBH

DEPARTEMENT VAN BUITELANDSE SAKE SE ROL AS LID VAN DIE DESTYDSE RSA INTELLIGENSIE-GEMEENSKAP

Dr WP Steenkamp

Advertisement

Die rol van die destydse Departement van Buitelandse Sake binne die toentertydse SuidAfrikaanse intelligensie-gemeenskap is seker vir meeste Nongqai-lesers die mins bekende van die rolle gespeel deur die vier permanente lede van daardie gemeenskap. Die permanente vier gedurende die tagtigs was die SAP-VT (Veiligheidstak van die SA Polisie), die Afdeling Militêre Inligting van die SA Weermag (AMI), die Nasionale Intelligensiediens (NI) en dan die Departement van Buitelandse Sake (DBS). Voor die konsolidasie van die polisiedienste het die SA Spoorwegpolisie ook ‘n saakmakende rol gespeel, en van tyd-tot-tyd – soos deur relevansie gedikteer – is ander instellings soos die Gevangenisdiens by spesifieke vergaderings van die Koördinerende Intelligensie-komitee (KIK) betrek, bv. in die jaarlikse evaluasie van Nelson Mandela se voortgesette aanhouding. [Soms is

dept. van onderwys en opleiding ook betrek –

skoolstakings en dies meer]

Hierdie artikel het dus as oogmerk om die sluier ietwat te lig oor wat die DBS in daardie kritieke tye bygedra het tot nasionale veiligheidsbesluitneming – wat was sy rol en funksie, en hoe is dit aangepak? As aptytwekker, laat mens hier ter inleiding net maar sê dat die DBS se algemene siening van die bedreiging en oplossings, myns insiens korrek in ‘n resente boek beskryf is as een van “Siamese tweeling” wees met die vertolkings wat NI voorgestaan het, maar meer daaroor later. Soos wat die AMI-manne verbonde aan die SA Leër die bynaam “bruinskoene” gehad het, is die DBS-diplomate die “laventel” -manne genoem. Aan die een kant was dit omrede hulle gewaande pierewaaier-bestaan in die buiteland (gesien deur Jan alleman as synde nie veel meer doen nie as uithang by skemerkelke en diplomatieke funksies). Die ander rede vir dié bynaam was die “kleur” van hulle voorkeur-oplossings, nl. purperlaventel, wat dan sou versinnebeeld “alle opsies anders as die gebruik van geweld”. Die mees impakvolle DG van Buitelandse Sake gedurende daardie krisis-jare, Neil van Heerden, het bv. voor die Waarheids- en Versoeningskommissie soos volg getuig, in antwoord op ‘n vraag oor oorgrens-optrede wat die Veiligheidspolisie die nag van 19/20 Desember 1985 teen ANC-lede in Lesotho geloods het:

“Vraag: ...the Department of Foreign Affairs, you weren't known as the "lavender boys" for nothing.”

NPvH antwoord: “…I found myself in precisely that position many times, where people would threaten and say: ‘With this information in front of us, are you really prepared to still want to come with the 'lavender' proposal?’ And our - it could only have been our position, the answer was always ‘Yes, yes’.”

(Die “lavender proposal” van DBS in hierdie geval was die sluit van die grens met Lesotho en terugstuur van hulle arbeiders, ten einde die Lesotho-regering te beweeg om self van die ANC -lede binne hulle grense ontslae te raak, as alternatief vir ‘n gewapende aanval ter uitwissing van daardie ANC-lede).

Om die rasionaal agter Buitelandse Sake se tipiese “laventel” -insette te begryp, is dit nodig om eers te verstaan wat die DBS se rol en funksie was binne die raamwerk van die intelligensiegemeenskap. Voorts ook nodig om kennis te hê van die basiese werking van ‘n diplomatieke

diens binne die konteks van die internasionale konvensies en gebruike wat die gedragsnorme daarvoor neerlê, soos bv. met betrekking tot immuniteit van diplomate. In hierdie artikel sal ek graag eerstens vir u só ‘n fondasie van essensiële kennis probeer gee, sodat u dan self u eie waardering kan maak van wat ek vervolgens dan met u sal deel oor die DBS se insette en bydraes tot besluitneming in veral daardie kritieke jare van die tagtigs.

Voor ek egter begin om uiteen te sit wat DBS se lynfunksies en inset was – m.a.w., dit wat hom ‘n permanente lid van die Intelligensie-gemeenskap gemaak het, net eers ‘n bietjie persoonlike agtergrond oor my eie “dienlikheid” om ‘n artikel van hierdie aard by te dra.

Eerstens, akademies gesien, was die fokus van my doktorale studie in die Politieke Wetenskap (wat uitgeloop het op die graad D. Litt. et Phil.) die verstaan van die intelligensie-funksie se plek en rol binne die besluitnemingskringloop van enige politieke stelsel. Dus kan ek DBS se rol en funksie interpreteer teen hierdie konsepsuele verwysingsraamwerk.

Tweedens, kom ek uit ‘n familie wat nóú betrokke was by die destydse intelligensie-gemeenskap, en dit vanuit verskillende hoeke – my oorlede vader, genl. Maj. Frans Steenkamp, was hoof van die SAP-VT, en ek self het my nasionale diensplig en Staatsdiens-beursverpligtinge afgewerk by NI, oor sewe jaar heen, waar ek o.a. hoof was van die SWA-vertolkingslessenaar en later (as stafoffisier vir die Hoofdirekteur: Navorsing) direk betrokke was by die redigering van gekoördineerde [nasionaal vertolkte] intelligensie-produkte vir die Staatsveiligheidsraad en kabinet. Na afhandeling van hierdie beurs- en diensplig-verpligtinge, het ek eers gesorg dat ek toelating verkry het as prokureur (my ander akademiese “been” is die regte). Daarna, gegewe die moeilike tye wat die land in die tagtigs beleef het, het ek aangesluit by DBS, waar ek vir meer as ‘n dekade gedien het. As diplomaat was ek o.a. eerste sekretaris in Parys, toe hoof van diplomatieke opleiding gedurende die oorgangsjare na ‘n volledige demokrasie, en uiteindelik die Nuwe Suid-Afrika se eerste ambassadeur in sg. Swart Afrika, met residensie in Libreville (Gaboen) en met verantwoordelikheid ook vir betrekking met vyf ander lande digby die ewenaar in Wes-Afrika, tewete Kameroen, Tsjaad, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Ekwatoriaal-Guinee en Sao Tome & Principe. Dus, soos ons op Engels sê: been there, done it.

Die oorsprong van buitelandse dienste in Suider-Afrika

Maar waar het Suid-Afrika se diplomatieke diens begin? Die DBS self is op 1 Junie 1927 daargestel as die “Department of External Relations”, aan die hand van die besluit geneem tydens die Britse Ryk se 1926 imperiale konferensie van regeringshoofde (soos vervat in die Balfour-verklaring waarvan ons almal op skool geleer het), waarkragtens die internasionale status van die “blanke” kolonies sou verander na “dominiums” (vrygeweste). Hierdie statusverandering is bekragtig met die Statuut van Westminster van 1931, wat die Britse Commonwealth (gemenebes) daargestel en aan Suid-Afrika, Kanada, Newfoundland, die Ierse Vrystaat , Australië en Nieu-Seeland elk gelyke en afsonderlike internasionale statuur gegee het as diè van die Verenigde Koninkryk self – voor 1927, gedurende die koloniale fase, is die Unie van Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge bedryf deur die Britse Foreign Office.

Boererepublieke

Die daarstel van die DBS as staatsdepartement in 1927 was egter nie die begin van eie diplomasie op Suider-Afrikaanse bodem nie. Beide die Vrystaatse en Transvaalse republieke het bv. reeds in 1864 die Geneefse Konvensie oor norme vir oorlogvoering onderteken. Die Transvaal / Suid-Afrikaanse Republiek het na die 1e AngloBoereoorlog formeel ‘n diplomatieke diens daargestel wat onder die Staatsekretaris (die belangrikste amp naas diè van Staatspresident) ressorteer het.

Die eerste diplomaat/staatsekretaris was Dr. Willem Johannes Leyds, wat in 1888 sy amp

aanvaar het maar in 1896 dit moes neerlê weens gesondheidsprobleme wat hom genoodsaak het om na Europa te reis vir behandeling; hy het vervolgens in 1898 die eerste (en enigste) gevolmagtigde ZAR-gesant in die buiteland geword, gebaseer in Brussel, met verantwoordelikheid vir betrekkinge met die Europese moondhede en die VSA –‘n posisie wat hy deur die 2e Anglo-Boereoorlog heen beklee het.

Leyds is in 1898 as ZAR-staatsekretaris opgevolg deur die oud-president van die Vrystaat, F.W. Reitz (wat self vroeër weens gesondheidsredes as OVS-president moes bedank, maar gelukkig genoegsaam herstel het dat hy tot die broederrepubliek se regeringsdiens kon toetree). Reitz en Leyds (tesame met staatsprokureur Jan Smuts) was ‘n kundige, gedugte span i.t.v. die bevorder van die Boererepublieke se saak oorsee.

Beide Smuts en Reitz het in Brittanje studeer gehad en het dus die VK se mag en kwespunte deeglik geken. In Europa en die VSA bv. was die bevolking en media oorweldigend aan die kant van die Boere (veral die Iers-Amerikaners) en word dit bv. aanvaar dat Brittanje sy aansprake op Samoa laat vaar het ten gunste van die VSA, uit vrees vir Boere-vordering met die Amerikaners – só is dit bv. deur Amerikaners gesê: the Boers won us Samoa. (Ongelukkig was die VSAstaatsekretaris van daardie era, John Hay, ‘n geswore Anglofoob en elitistiese snob verblind deur die Britse geldmag, sodat hy alle amptelike toenadering tot die Boere-republieke streng teengestaan het).

Die einde van die 2e Vryheidsoorlog het uiteraard ook die einde van die ZAR se diplomatieke diens beteken, alhoewel Dr. Leyds voortgegaan het om welsynsondersteuning oorsee vir die Boerefamilies te werf en ook die stoflike oorskot van Pres. Paul Kruger in 1904 vergesel het, van Switserland terug na die Transvaal.

DBS en die kantoor van die Eerste Minister

Na sy stigting in 1927, tot en met die premierskap van adv. J.G. Strijdom, het die DBS direk onder die kantoor van die Unie se Eerste Minister geval, met die personeel gesetel in die Uniegebou. Hierdie direkte toegang en gevolglike skyn van spesiale statuur het die destydse diplomate gedurende daardie jare al ‘n beeld-probleem onder mede-staatsamptenare besorg (iets nogal algemeen om die wêreld heen).

‘n Staaltjie wat vertel word en waarvoor ek nie kan instaan vir die letterlike waarheid daarvan nie, alhoewel dit hierdie beeld-probleem goed illustreer, is dat van die toentertydse “laventel” manne glo die gebruik ontwikkel het om soggens op die Uniegebou se trappe te drentel, in afwagting op die aankoms van eerste minister Smuts, om hom dan glo met buig en handewringing te groet met “Goeiemôre eerste minister / Goeiemôre veldmaarskalk”. Dit het glo aangehou totdat Smuts hom op ‘n dag glo so vervies het dat hy hulle sou toegesnou het: “Ja, goeiemôre julle k@kke”.

[Smuts en die oktrooi van die VN – belangrik vir DBS – ons sal later meer hieroor uitbrei]

Die eerste Suid-Afrikaanse Buitelandse Minister was adv. Eric Louw (1955), opgevolg in 1963 deur dr. Hilgaard Mulller, wat gedien het tot en met die aanstelling van mnr. RF (Pik) Botha in 1977.

Pik Botha, wat tot die demokratiese oorgang in 1994 minister was van buitelandse, was op daardie stadium die langs-dienende buitelandse minister in die wêreld. Benewens die era direk onder die eerste ministers, het die “ou” SuidAfrika dus slegs maar drie ministers van buitelandse sake gehad oor ‘n periode van meer as vier dekades, met veral Pik Botha wat ‘n duidelike stempel sou afdruk i.t.v. die vorming van ‘n groep amptenare om hom (die sg. “Washington Mafia”) en die bepaal van prioriteite –waaromtrent meer later.

Die historiese evolusie van diplomatieke dienste in die internasionale arena

Die funksies van formele diplomasie bedryf oor baie eeue uitkristalliseer. Dit het gegroei uit die behoefte van regeerders om gesaghebbend en vertroulik te kan skakel met hulle eweknieë in die

buiteland, sonder dat daar enige twyfel kan wees oor die volmag van die gesant om namens sy regering te praat en boodskappe te ontvang. Daarom is ‘n “buitengewone en gevolmagtigde ambassadeur” (om die amptelike titel soos steeds in gebruik, te siteer) in eie persoon die direkte verteenwoordiger van sy staatshoof, by wyse van ‘n persoonlike aanstelling gemaak deur die staatshoof self. Die ambassadeur word vervolgens geakkrediteer tot die staatshoof van die gasheerland by wyse van ‘n geloofsbrief in naam van en onderteken deur daardie staatshoof. In die vervloë verlede was dit die algemene gebruik van konings om hulle direkte familie as ambassadeurs aan te stel.

‘n Ambassadeur as persoonlike gesant van sy staatshoof (m.a.w., die amp is nie net maar ‘n staatsdiens-rangskaal nie) staan dus i.t.v. protokol baie hoog op die amptelike voorranglys. In die VSA byvoorbeeld, kom ambassadeurs direk na die dienende president en vise-president, speaker, voormalige presidente en visepresidente en hoofregter. Dienende VSAambassadeurs (in hulle lande van akkreditasie) vul dus die 8e kategorie in die VSA se voorranglys, dus bo die Secretary of State (11e) en ander kabinetslede (19e kategorie), en aansienlik bo die hoofde van die verskillende verdegingskomponente en die Chairman of the Joint Chiefs, wat in die 53e kategorie val. Hierdie skema is verteenwoordigend van prakties alle lande se voorrang-protokol.

Wanneer ‘n Suid-Afrikaanse ambassadeur bv. aan boord gaan van ‘n SA Vloot-vaartuig of dit verlaat, moet dit elke keer met volle seremoniële eer geskied: dus die ambassadeur moet aan boord / aan land “gefluit” word met ‘n erewag, en sou die ambassadeur met die vaartuig reis, is dit protokol dat die kaptein sy kajuit aan die ambassadeur afstaan om te oornag (in terme van wedersydse goeie verhoudinge, is dit egter tipies dat die ambassadeur die aanbod van die hand sal wys en die 2e in bevel se kajuit sal aanvaar).

1815: Kongres van Wenen

betrekkinge is die eerste keer gestandaardiseer in 1815 deur die Kongres van Wenen. Dit is in 1928 opgevolg deur die Konvensie van Havana oor diplomatieke personeel, en uiteindelik in sy moderne vorm gekodifiseer deur die Weense Konvensie van 1961, wat reeds deur 192 lande ratifiseer is.

Twee jaar later is dit opgevolg met die Weense Konvensie oor Konsulêre Betrekkinge (die verskil tussen diplomatieke en konsulêre betrekkinge is dat eg. tussen state is, bedoel om interstaatlike regering-tot-regering skakeling te fasiliteer, terwyl konsulêre betrekkinge gaan om die stuur-land se behoefte en vermoë om praktiese op-die-grond hulp en bystand te verleen aan sy burgers in nood, wat hulle op ‘n gegewe moment in die gasheerland mag bevind; daar kan dus slegs een ambassade in ‘n gasheerland wees, normaalweg in daardie land se hoofstad of hoofstede, met dan ‘n hele aantal konsulate, gewoonlik in die belangrikste handel/hawestede en toerismesentrums).

Hoe werk ‘n ambassade?

Dit is eeue gelede reeds ingesien dat, vir ‘n ambassadeur om sy rol te kan vervul, sy persoon, perseel, voertuie en kommunikasies deur die gasheerland as absoluut onaantasbaar respekteer moet word. Soos gesê, vorm hierdie norme en sg. “immuniteite” die kern van die Weense konvensies oor diplomatieke en konsulêre betrekkinge. Daarom bv. word die perseel en struktuur van die kanselary (die tegniese naam vir die gebou waarin die ambassade gehuisves word) plus die ampswoning of residensie van die ambassadeur, regtens beskou deel te wees van die grondgebied van die land wat die ambassadeur stuur, al val dit binne die grondgebied van die gasheerland (gewoonlik in die hart van hulle hoofstad). Daarom mag polisie- of veiligheidsmagte van die gasheerland slegs die kanselary of ampswoning betree op uitdruklike uitnodiging van die ambassadeur, en mag die diplomatieke sak met amptelike korrespondensie nie deur die gasheerland oopgemaak of mee ingemeng word nie. ‘n Geakkrediteerde diplomaat mag ook nie

strafregtelik in die gasheerland vervolg word nie, sonder dat die ambassadeur namens sy regering daardie diplomaat se immuniteit uitdruklik opgehef het (wat die rede is waarom sommige lande se minder korrekte diplomate parkeer net waar hulle wil).

Dis belangrik om te weet dat alle ander diplomate verbonde aan ‘n diplomatieke missie, ongeag hulle departement van oorsprong, hulle voorregte en statuur ontleen aan die feit dat hulle deel van die ambassadeur se sg. “gevolg” is; daarom is die ambassadeur ook oorhoofs in bevel van elke afdeling verteenwoordig binne die missie, nie net van die buitelandse sake-komponent nie –ingeslote bv. die kantoor van die militêre attaché of die oorgeplaasde personeel van ‘n intelligensiediens. Dit beteken nie dat ‘n ambassadeur gaan inmeng in die dag-tot-dag interne bestuur van sulke komponente nie, maar hy mag te enige tyd ingryp as só ‘n komponent of lede daarvan, bv. dinge sou doen wat die bilaterale verhoudinge met die gasheerland mag skaad. Die kantoor-hoofde van hierdie komponente sal dus ten nouste skakel met hulle ambassadeur om vooraf klaring te kry vir delikate aangeleenthede, en hulle dien ook op die missie se komitee van afdelingshoofde. In dieselfde sin sal die ambassadeur bv. die militêre attaché konsulteer oor en betrek by militêre aangeleenthede wat op sy weg as ambassadeur mag kom, net soos met bv. die landbou-attaché oor aangeleenthede binne dié se kundigheidsveld.

Omrede die ambassadeur die spilpunt is waarom die hele ambassade regtens wentel, word daar vooraf by die gasheerland aansoek gedoen vir “agrément” (formele instemming) vir sy/haar aanstelling. Die gasheerland mag dit weier, as hulle nie die spesifieke persoon as ambassadeur wil hê nie – alhoewel dit in die praktyk slegs by hoë uitsondering gebeur. Die rasionaal agter hierdie gebruik is weer eens dat daar wedersydse vertroue moet wees in die persoon van die gesant wat belangrike vertroulike boodskappe tussen die twee staatshoofde getrou moet oordra. Die ambassadeur se diensaanvaarding in sy amp, geskied tegnies op die datum waarop die gasheer-staatshoof hom/ haar formeel ontvang vir die seremonie van oorhandiging van die ambassadeur se geloofsbrief (letters of credence – sien die voorbeeld hierby ingesluit) waarin die staatshoof wat die ambassadeur gestuur het, sy eweknie van die gasheerland in die fynste diplomatieke taal versoek om asseblief volle geloof en vertroue te hê in alles wat die ambassadeur in naam van die stuur-staatshoof aan hom mag kommunikeer.

Alle ander personeel van ‘n missie word by aankoms in die gasheerland, eerstens formeel deur die ambassade se protokol-afdeling aan daardie land se diplomatieke diens se protokolafdeling “verklaar” (d.w.s., aangemeld). Dit geskied ten einde hulle behoorlik te kan registreer en sodat hulle hul diplomatieke identifikasiekaarte, voertuig-nommerplate ensomeer kan kry. Gebruiklik word oorgeplaasde lede van ‘n stuurland se siviele intelligensie-agentskap nie teenoor die buitewêreld as enigiets anders as “gewone” diplomate identifiseer nie – hulle verskyn dus op die “diplomatieke lys” van die dept. van buitelandse sake asof deel van die DBS se eie diplomatieke kontingent van die ambassade waaraan hulle verbonde is, met normale diplomatieke range soos 3e sekretaris, 1e sekretaris ens. Sulke intelligensie-personeel word egter addisioneel ook in hulle professionele kapasiteit teenoor die gasheerland se intelligensie-instellings verklaar, omrede hulle hoof-taak by die ambassade, skakeling is met daardie gasheer intelligensie-instellings.

Koverte insamelingsoperasies in gasheerland

Dit is ‘n goue reël dat sulke verklaarde intelligensie-personeel verbonde aan ‘n ambassade, nie binne die gasheerland koverte insamelingsoperasies behoort te onderneem nie. ‘n Intelligensie-offisier verbonde aan die ambassade in Parys, sal dus bv. as sy belangrikste taak hê om overt met die Franse intelligensiedienste te skakel, en sekondêr om koverte operasies / agente in bv. Italië te bestuur.

Een van die krities-belangrike funksies wat ‘n departement van buitelandse sake vervul vir die ander lede van die intelligensie-gemeenskap, is

dus om aan hulle die “veilige hawe” infrastruktuur van die ambassades te bied vanwaar hulle hul skakel-taak met hulle buitelandse eweknieë kan uitvoer.

Militêre Attachés

Die militêre kontingent verbonde aan ‘n ambassade word tradisioneel openlik as sodanig identifiseer, met die korresponderende militêr/ diplomatieke titels – ook omrede hulle hooftaak amptelike skakeling is met die gasheerland se militêre instellings en hulle ‘n belangrike openbare seremoniële verteenwoordigingsrol vervul aan die sy van die ambassadeur. Dit is bv. gebruiklik dat, by belangrike funksies soos die vier van die stuurland se nasionale dag, die senior militêre attaché in volle seremoniële uniform by die ingang direk langs die ambassadeurspaar sal staan, om gaste te verwelkom.

SA Polisie en SA Polisiediens

(Hedendaags het die SA Polisiediens ook offisiere wat in sleutel-ambassades geplaas is om daar met die gasheer-polisie te kan skakel en inligting uit te ruil oor bedreigings soos bv. internasionale dwelmhandel).

Wat is konsepsueel die rol van ‘n tradisionele diplomatieke diens, i.t.v. die intelligensiefunksie?

Ambassadeurs en hulle “gevolg” is enersyds die amptelike “tong”, en andersyds die goedgeplaasde “oë en ore” van die stuur-regering in die buiteland. Hulle lynfunksie is dus tweeledig. As gevolmagtigde “tong” dra hulle gesaghebbend die stuur-regering se boodskappe langs amptelike diplomatieke kanale oor aan die regering van die gasheerland. As “oë en ore” ontvang hulle eerstens die gasheerland se amptelike boodskappe en sien toe dat dit veilig en vinnig aan die eie regering oorgedra word.

Tweedens volg die diplomate die openlikwaarneembare algemene gang van sake en manifestasies van openbare mening in die gasheerland, vir rapporteer aan die eie regering. Dit is veral hierdie funksie van die amptelike, overte “oë en ore” wees wat maak dat oor die wêreld heen, lande se departemente van buitelandse sake tradisioneel deel vorm van hulle intelligensie-gemeenskappe. Dit is só omrede die begrip “intelligensie” nie net te make het met inligting wat kovert, dus in die geheim, bekom word nie. Dit slaan op alle inligting, hoe ook al bekom, wat (na dit behoorlik vir betroubaarheid evalueer en kundig vertolk is) vir nasionale besluitnemers kan help om die mees optimale veiligheidsbesluite te neem. In die moderne tyd van media-saturasie en die internet is dit onteenseglik só dat prakties 90% van die inligting wat vir nasionale veiligheidsbesluitneming benodig word, goedkoop en sonder risiko overt ingesamel kan word: die sogenaamde “ope insameling”. As hierdie ope insameling oor buitelandse bedreigings goed en reg gedoen word deur die beroepsdiplomate, beteken dit dat die intelligensiedienste wat op die koverte insameling van geheime inligting gemik is, al hulle aandag en middele kan fokus op die inwin van daar klein maar uiters belangrike persentasie van sleutel-inligting wat vyande probeer geheim hou en wat dus spesiale koverte insamelingsmetodes en tegnologie vereis om dit te bekom.

In die konteks van die tagtigerjare was dit dus die DBS se rol in die intelligensie-gemeenskap van die “ou” Suid-Afrika om die amptelike standpunte van buitelandse regerings, sowel as die overtwaargeneemde tendense in die buiteland (soos relevant vir die veiligheid en voorspoed van die RSA), in die nasionale besluitnemingsdebat in te dra.

VN

Rol van DBS – Hier het ook baie inligting vorendag gekom – ek dink bv. aan die kataklismiese gevolge na Sharpeville.

Boodskappe van oorlog en vrede: Kuba soek ‘n vreedsame skikking in SWA/Angola

‘n Goeie voorbeeld van die belang van sulke sleutel-inligting wat deur die DBS diplomatieke

kanale “uit die perd se bek” as die amptelike standpunte van ander regerings ontvang is, was die Kubaanse uitreik in Februarie 1988 na SuidAfrika om ‘n formele gesprek aan die gang te kry ren einde die konflik in SWA/Angola te probeer beëindig.

Wat gebeur het was dat Fidel Castro van Kuba (wat sy magte eers uit die botsings met die SAW aan die Lomba-rivier gehou gehad het) toe op 15 November 1987 tydens ‘n noodvergadering – ten einde die MPLA-regering te red van ‘n militêre katastrofe – besluit het op ‘n tweeledige, baie aktivistiese militêr/diplomatieke strategie. Dit het enersyds behels die open van ‘n tweede, konvensionele militêre front in die suid-weste van Angola teenoor Ovamboland met die massiewe ontplooiing daar van Kuba se beste militêre eenhede, insluitende die elite 50e divisie, en gelyklopend daarmee, ‘n formele diplomatieke uitreik na Suid-Afrika en die VSA om vredesonderhandelinge aan die gang te kry.

Ter uitvoering van Castro se opdrag om dringend uit te reik na Suid-Afrika, het die Kubaanse missie by die Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York, in Februarie 1988 ‘n DBS-diplomaat verbonde aan SA se VN-missie, dr. John Maré, telefonies genader vir ‘n gesig-tot-gesig ontmoeting.

Dit is insiggewend dat die Kubane van Maré kennis geneem gehad het a.g.v. ‘n toevallige ontmoeting wat hy op ‘n skemerkelk in November 1987 gehad het met ‘n besoekende Kubaanse vise-minister van buitelandse sake. Ambassadeur Leslie Manley, toe hoof van SA se VN-missie, het só ‘n ontmoeting goedgekeur, op voorwaarde dat Maré ‘n kollega, Chris van Melle Kamp, saamneem as getuie.

Die partye het in die Barclay Intercontinental-hotel in New York ontmoet en die Kubane het dit duidelik gemaak dat hulle ‘n kanaal wil skep vir die onderhandel van ‘n vreedsame beslegting van die Angola-oorlog. Van Melle Kamp het in oorleg met amb. Manley en Pretoria die kontak verder uitgebou (Maré se dienstermyn in New York het ondertussen verstryk gehad) en tesame met voelers wat deur die Kubane en die USSR uitgestuur is via die VSA en selfs die premier van die Duitse deelstaat Beiere, het die uiteindelik suksesvolle vredesondergandelinge onder die voorsitterskap van die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake vir Afrika, dr. Chester Crocker, daaruit voortgevloei.

Mens kan jouself met reg afvra: as daar nie soiets was soos ‘n Suid-Afrikaanse diplomatieke missie in New York nie – sou die Kubane hulle bereidwilligheid om realisties vir vrede te onderhandel (na meer as ‘n dekade van gevegte), met dieselfde geloofwaardigheid kon kommunikeer het? As daardie diplomatieke inisiatief nie gelyklopend met die ontplooi van die nuwe militêre front gekommunikeer was nie, wat sou die kanse gewees het dat Suid-Afrika die nuwe front as ‘n ondubbelsinnige aanduiding van die bedoeling om SWA binne te val sou gesien het, en dus voorspring-operasies (soos die beplande Ops Hilti) sou geloods het wat op ‘n volskaalse konvensionele oorlog met uiteindelik selfs kernwapens, kon uitgeloop het?

Benewens amptelike kanale, ook informele kanale beskikbaar vir diplomate as “oë en ore”

Soos pas gemeld, het dr. John Maré se kontak met die Kubane begin a.g.v. ‘n toevallige ontmoeting tydens ‘n skemerkelk-funksie. Diplomate die wêreld oor is gewoonlik van hulle land se knapste, bes-opgeleide amptenare. Daar is dus ‘n professionele begrip vir mekaar se taak, ongeag die feit dat julle “vyande” mag wees.

Wat die nimmereindigende diplomatieke “partytjies” aan diplomate bied (waarvoor mens gou genoeg hartlik sat word – diplomate werk seker van die langste ure van enige staatsamptenare) is die geleentheid om informeel boodskappe oor te dra en tydig ‘n gevoel te kry vir tendense, bedreigings en moontlikhede. Hierdie “sosiale geleenthede” word gewoonlik ook bygewoon deur die plaaslike elite vanuit die media, akademiese en besigheidskringe, en dis merkwaardig hoe graag mense vir ‘n ambassadeur dinge wil vertel wat hulle glo vir hulleself belangrik / ingelig sal laat lyk. Moet dus

nie die skemerkelke en besigheidsetes afskryf as ‘n bron van inligting nie, want al dra dit nie ‘n amptelike seël nie, is dit tog eweseer inligting wat “uit die perd se bek” uit kom. [Dis ook waar beïnvloeding geskied en bronne gekweek kan word.]

Dit is tipies ook die verantwoordelikheid van die diplomatieke diens om ‘n oog te hou oor wat aangaan onder die meningsvormers in die gasheerland. Binne die DBS moes elke missie daagliks bv. ‘n media-verslag saamstel en na Pretoria deurstuur, waarin die inhoud van mediadekking wat die RSA gekry het, saam met die prominensie en volume daarvan, saamgevat en vertolk is t.o.v. tendense (word dit bv. meer krities, minder krities).

Dit was ook die taak van die missies om te skakel met, en te rapporteer oor die invloed wat uitgegaan het van ander plaaslike meningsvormers in “civil society” soos die kerke, vakunies, akademici ensomeer.

Hierdie stroom van amptelik- en informeelgekommunikeerde inligting sowel as die produk van ope insameling, is daagliks van die missies na Pretoria deurgestuur waar dit dan deur die hoofkantoor-lessenaars verwerk is in geëvalueerde intelligensie-verslae. Hierdie verslae is gesirkuleer na die ander lede van die intelligensie-gemeenskap, asook terug na die missies in die buiteland (DBS moes nie net besluitnemers tuis op hoogte hou nie, maar uiteraard ook sy eie missiehoofde oorsee, sodat lg. op die hoogte kon bly van wat in Suid-Afrika en oorsee aangaan – vir enige DBS-ambassadeur was een van die belangrikste momente van sy dag die aanland van die daaglikse intelligensieverslag op sy rekenaar-skerm).

Hierdie konstante stroom van DBS-insette oor amptelike en semi-amptelike standpunte, plus overt-ingesamelde ope inligting, was ‘n uiters belangrike matriks van wat in die buiteland jeens Suid-Afrika aan die kook was, waarteen die ander lede van die intelligensie-gemeenskap se koverte en tegnies-bekomde inligting in perspektief gesien kon word. Die DBS-insette het veral groter tendense kon identifiseer, waarskynlike reaksies antisipeer, en nuanses uitlig. ‘n Praktiese voorbeeld van hoe genuanseerd ‘n gasheerland se buitelandse beleid dikwels kan wees: met die VNwapensanksies teen Suid-Afrika, het Frankryk sigself genoodsaak gevoel om met fanfare te gelas dat die groot Krygkor-kantoor in ‘n blink gebou in een van Parys se westelike voorstede terstond gesluit moes word; terselfdertyd egter, het hulle die ambassade toegelaat om die Krygkor-personeel as diplomate te akkrediteer en binne die kanselary te huisves as die nuutuitgebreide “tegniese afdeling” van die ambassade, sodat Frankryk se lukratiewe wapenhandel met Suid-Afrika buite die openbare oog (en dikwels via die diplomatieke sak) kon voortgaan...

DBS-opleiding

Wat sy diplomatieke personeel betref, was DBS bevoorreg om knap jongmense te kon lok wat meesal oor nagraadse kwalifikasies beskik het. Hierdie “kadette” se opleiding was geskoei op die MBA-model – m.a.w., dit het nie net gegaan om wat jy geweet het nie, maar ook oor wat jy prakties met daardie kennis in die werklike lewe kon doen. Die sillabus wat ek in die vroegnegentigs as hoof van opleiding bestuur het, het vakke soos internasionale reg, ekonomie, kommunikasiekunde en die intelligensiefunksie ingesluit – ja, die kadette is volledig opgelei oor wat hulle rol m.b.t. die intelligensie-funksie is, hoe ope insameling en evaluasie/vertolking geskied (bv. t.o.v. bron- en inligtingsklassifikasie i.t.v. die bekende internasionale sesledige letter/syfer skema, soos dat die bron se betroubaarheid bv. as “B” tipeer word en die inligting as ‘n “3”), asook wat die rol en funksies is van ander lede van die intelligensie-gemeenskap wat aan buitelandse missies toegevoeg word, soos bv. personeel van NI en AMI. Die normale patroon van buitelandse plasings vs. diens op hoofkantoor, was vir DBSdiplomate dat hulle drie of vier jaar aan ‘n missie in die buiteland verbonde sou wees, gevolg deur

ongeveer twee jaar terug op ‘n hoofkantoorlessenaar, voor hulle weer uitgeplaas is.

DBS in gasheerlande

Die diplomate se inskakeling by die plaaslike gemeenskap in die gasheerland, in hulle gefokusde werkshoedanigheid maar ook bloot net vir hulle alledaagse lewensbehoeftes en buurskap, is ook belangrik in die vorming van hulle insig m.b.t. wat in daardie land en sy internasionale dampkring aan’t woel is. Binne die missie se organigram is elke diplomaat sy spesifieke verantwoordelikheidsveld opgedra (bv. die kerke, plaaslike vriendskapsverenigings, ‘n segment van die media, vakunies soos die polisie -bond) waarbinne die diplomaat kontakte moes kultiveer en waarvoor hy bv. van ‘n onthaalbegroting voorsien is.

Pro-SA vriendskapsverenigings was ‘n belangrike vermenigvuldiger van kontak, wat waardevolle insigte opgelewer het om die braaivleisvure aan huis van ons diplomate daar in die vreemde. In hoofsaak was hierdie skakeling met sg. “civil society” invloedsgroepe soos die media, kerke, polisie-verenigings (as synde self lid van ‘n IPAfamilie, was ek bv. in Parys verantwoordelik vir die kontak met die Franse chapter van die IPA –die International Police Association) eerstens gerig daarop om hulle positief te beïnvloed.

Deur die skep van gesonde werksverhoudinge selfs met persone “aan die ander kant” van die ideologiese draad en dikwels werklike vriendskappe wat uit hierdie kontak voortgevloei het, kon Suid-Afrikaanse diplomate egter ook belangrike insigte vorm en relevante inligting bekom oor die “groter prent” waarbinne die Koue Oorlog-stryd om Suider-Afrika sigself afgespeel het. Deur daadwerklik in die gasheerland te woon en werk (soos onderskei van bv. deurreis op vakansie) kon diplomate ‘n goed-gefundeerde gevoel ontwikkel vir die openbare mening daar m.b.t. gebeure in Suider-Afrika, en hoe dit die beleid van die gasheerland se regering sou impakteer. families het sulke insig help bring – dit was bv. vir ons in Parys opvallend dat die Suid-Afrikaanse kinders in die internasionale skole van nature maats gemaak het met die ander kinders van Derde Wêreld “sonskynlande” eerder as met bleek Europese kinders, sodat (amptelike regeringsboikotte ten spyt) hierdie Afrika- en Asiatiese kinders en hulle families huisvriende geword het. Hierdie “expats” was meesal toonaangewende sakelui, en ook dus goeie kontakte.

DBS se intelligensie-insette: wat was die “laventel” -opsies wat voorgestaan is, en waarom?

Wanneer met die wysheid van terug-kyk analiseer word of die destydse DBS die buitelandse reaksies op gebeure in Suider-Afrika reg vertolk en antisipeer het, dan is die antwoord ondubbelsinnig “ja”. Hierin is DBS merendeels deur die Nasionale Intelligensiediens se vertolkings ondersteun – vandaar dat die twee instellings as “Siamese tweeling” beskryf is m.b.t. hulle sienings. Die debatte wat binne die destydse intelligensie-gemeenskap gevoer is, was nie soseer of DBS/NI reg was in hulle vertolkings en waarskuwings nie, maar eerder watter gewig aan die buitelandse dimensie (wat dikwels baie amorf voorgekom het) gegee moes word, soos teenoor die baie konkrete, onmiddellike lewensbedreiging wat die plaaslike gewapende stryd vergestalt het, beide t.o.v. die SWA/Angola grensoorlog en die binnelandse terreur-bedreiging van die tyd.

Die eerste belangrike antisipering wat DBS en die destydse BSV (as voorganger van NI) duidelik reg gekry het, was hulle voorspelling in 1975 tydens die loods van die SAW se Operasie Savannah, die militêre inval in Angola, dat die VSA sou kop-uittrek en die SAW / SA-regering alleen met die gebakte pere sou laat. Dit is harde geskiedenis dat dit die korrekte vertolking van die internasionale werklikheid van die tyd was, en die Suid-Afrikaanse magte was gevolglik genoodsaak om terug te trek – wat die eensmalige “ballon van onoorwinlikheid” wat ons tot op daardie stadium omgeef gehad het, geprik en die vyand se moraal

In wese was DBS en NI die twee lede van die intelligensie-gemeenskap wat die beste geplaas was om die internasionale magsbalans-matriks waarbinne Suid-Afrika hom bevind het, korrek te vertolk, en dus te verstaan wat die hefbome was wat die internasionale gemeenskap teen SuidAfrika sou kon inspan. Kortom, waar ons werklik gestaan het in die magsbalans, as dinge rof sou begin raak. [Wat was die rol van ons militêre attachés – hulle wat met die VSA-weermag in Washington geskakel het – kon hulle nie ook voorsien het dat die VSA sou onttrek nie?]

Tot en met die vroeg-vyftigerjare was die geldende werklikheid in Suid-Afrika, nl. van ‘n blanke minderheid wat bewind gevoer het oor ‘n nie-blanke meerderheid, die internasionale norm. Europese kolonialisme is gesien as die natuurlike orde van dinge. Die Tweede Wêreldoorlog het egter die Europese moondhede van hulle militêre mag en wil om koloniale oorloë te voer gestroop, sodat hulle bloutjies geloop het in die vryheidstryde wat in bv. Algerië en Vietnam uitgebreek het, en in die konflik oor die Suezkanaal.

Voorts het Hitler se brutale rassisme gelei tot ‘n totale renons wat in die Westerse publieke mening gevorm het oor rasse-onderdrukking en bygevolg kolonialisme, want rassisme is beleef as die kern-oorsaak van die matelose lyding wat die oorlog meegebring het. Daar was dus ook nie die openbare wil in die Weste om die koloniale orde te bly regverdig of in stand te probeer hou nie.

Derdens het die oorlog die USSR op die wêreldtoneel laat verrys as militêr die 2e supermoondheid – een met ‘n ideologiese sendelingdrang om sy wêreld-visie op alles en almal af te dwing, en wat dus ideologies en strategies geesdriftig was om sg. oorloë van nasionale bevryding in die kolonies aan te blaas.

Die gevolg was dat die Weste in die laat vyftigs en sestigerjare met alle haas begin de-kolonialiseer het en dat Suid-Afrika eensklaps beweeg het van deel van die norm wees, na ‘n historiese Die val van die Caetano-bewind in Portugal was die laaste Afrika-domino voor die Wit Suide, en alle aandag sou nou toegespits wees op die uitwis van hierdie oorblywende historiese anomalie. Hierdie tendense was miskien nie dadelik so sigbaar, gesien vanaf Suid-Afrikaanse bodem nie (waar die lewe relatief soos voorheen voortgegaan het), maar vir die DBS met sy direkte buitelandse blootstelling was dit voor-die-handliggend. Dit was ook vir DBS en NI duidelik wat Suid-Afrika se werklike posisie was in die relatiewe magsbalans van kragte wat teen die land ingespan sou kon word – veelvuldige kragte oor die ekonomiese, kulturele, sport- en self wetenskapsterreine heen, om nie eens van wapen-sanksies te praat nie, wat Suid-Afrika op die lang duur nie in sy internasionale isolasie sou kon weerstaan nie.

Die dilemma was tweeledig: enersyds het SuidAfrika homself in die konteks van die Koue Oorlog voorgehou as ‘n Westers-demokratiese bastion teen die kommunisme – maar dan wou die SAregering nie die essensie van ‘n Westerse demokrasie, nl. gelyke stemreg vir almal, implementeer nie.

Tweedens is binne DBS besef dat kommunisme nie die enigste bedreiging was nie (en in die laat tagtigs het dit vir DBS/NI al hoe duideliker geword dat die USSR aan’t wankel was); die ander groot politieke bedreiging was die sleutel-rol wat die nie -blanke stem in verkiesings binne die belangrikste van al die lande op die aardbol, die VSA, begin speel het – en die implikasies daarvan vir VSApolitici se beleidsformulering teenoor die Wit anomalie aan die suidpunt van Afrika. Met die verbrokkeling van die Oosblok was daar dus in DBS/NI se opinie, ‘n eenmalige geleentheidsvenster vir die aanspreek van die wortel-oorsaak van die konflik, nl. die ontsegging van volle demokratiese regte, by wyse van selfgedrewe onderhandeling.

Hierdie geleentheidsvenster het saamgeval met die intree van ‘n algemene ontnugtering binne

Suid-Afrika met die opsie van steun op streng binnelandse veiligheidsoptrede en militêre mag om die bestaande orde staande te probeer hou.

Die vlaag van groeiende binnelandse onrus en die onregeerbaar maak van belangrike areas, het die inherente beperkinge van die polisie se vermoë om onbepaald met brute mag orde te bly afdwing, duidelik uitgelig (wat onderstreep is deur die SAP-VT se eie voorleggings al in Maart 1987 aan die regering, dat dringend na onderhandeling beweeg behoort te word omdat die stryd eerstens ‘n politieke een is wat net staatkundig opgelos kan word, en tweedens omdat politici nie die illusie moes hê dat die “dun blou lyn” ewig en altyd staande sou kon bly nie).

Die militêre opsie se beperkinge is uitgelig deur die skaakmat in Angola vroeg in 1988 rondom die Tumpo-driehoek (Cuito Cuanavale) toe die Kubane uiteindelik besluit het om FAPLA se verdedigingslyne te versterk, plus dan die onverwagte ontplooiing deur Fidel Castro van ‘n konvensionele tweede front teenoor Ruacana in die suid-weste van Angola – ongeag die SAW se belegging in kernwapens, missiele en gevorderde artillerie, wat kennelik nie as voldoende afskrikmiddel gedien het nie.

Die derde oorweging wat binnelandse opinie erg begin impakteer het, was die nadelige gevolge wat die ekonomiese en kulturele dwangmaatreëls teen die land reeds toe tot gevolg gehad het gekoppel aan die wete dat dit slegs maar die hefaan was van wat kon voorlê. [Ons was ook nie as ‘n legitieme regerings beskou nie – eerder as ‘n minderheidsregering.]

DBS se sg. laventel-opsies was gebaseer op ‘n goeie insig in hierdie magsrealiteite. Dit was egter allermins ‘n benadering van boedel-oorgee. DBS het bv. baie hard saam geveg in die stryd teen die internasionale sanksies, en al sy talente en infrastruktuur hiervoor gebruik.

Dit is nie algemeen bekend watter sleutel-rol DBS gespeel het in die bedryf van heelparty van die belangrikste sg. sanctions-busting projekte soos “Blue” en “Grail”, wat uiters gesofistikeerde finansieringsoperasies was, opgestel in jurisdiksies soos Lichtenstein en die Kanaaleilande. Dis ook nie algemeen bekend welke suksesse DBS gedurende die isolasie-jare in Afrika behaal het met ekonomiese projekte wat deure help oopmaak het na sleutel-leiers soos pres. Omar Bongo van Gaboen. In lg. se tuisprovinsie is bv. ‘n model-beesplaas bedryf en is ook gehelp met die uitvoer van hulle mangaan). Op Bioko-eiland in Ekwatoriaal-Guinee is nog ‘n model-beesplaas bedryf hoog in die nek tussen twee vulkane, die enigste plaaslike bron van rooivleis in daardie tropiese landjie. Dit het mannemoed gekos om in daardie isolasie-jare in ‘n plek wat na die Spaanse koloniale ontruiming so gehawend gelaat is soos Bioko-eiland, daardie voorposte te gaan beman, midde-in endemiese malaria en sonder plaaslike toegang tot behoorlike mediese sorg, slegs maar met jou radioverbinding met Pretoria en die hoop dat ‘n noodvlug betyds sal opdaag om jou of jou vrou te ontruim, indien nodig.

(Ek onthou goed hoe ek in later jare, toe reeds as ambassadeur van die Nuwe Suid-Afrika, tydens my eerste ampsbesoek aan Bioko onthaal is in hulle staats-gastehuis – wat ons vroeër vir hulle gebou gehad het – op ‘n ontbyt slegs maar van Coca-Cola, kondensmelk en die droë ronde broodjies wat as katkoppe bekend was, synde al voedsel wat in die hoofstad se mark beskikbaar was, na óns die geld gegee gehad het vir een van hulle amptenare om darem íéts te gaan soek om te eet; dáár was bepaald niks van die pierewaaier -bestaan waarvan diplomate in die buiteland altoos verdink is nie).

Ook wanneer dit oorgrens-operasies van die veiligheidsmagte gegeld het, was buitelandse sake se posisie nie simplisties een van moreelgesproke “anti-geweld” wees nie. Bepaald ook was dit nie ‘n geval van “kom ons doen liewers niks nie”. Dit was eerder ‘n kwessie van die werklike aard van die groter stryd verstaan, en dan afweeg wat die voor- en nadele van bepaalde opsies sou wees.

Dit is vanselfsprekend dat die veiligheidsmagte, as gevolg van hulle taak, dit as noodsaaklik

gesien het om ‘n terroris wat op die punt staan om ‘n terreur-daad te pleeg wat onskuldige mense se lewens kon eis, óf te arresteer, óf andersins te elimineer – en sou die terroris hom in ‘n buurland bevind, dan uiteraard was arres nie ‘n opsie nie en moes hy elimineer word, desnoods oorgrens en met geweld.

Wat DBS en NI ingesien het, was dat die groter stryd uit-en-uit ‘n politieke een was, wentelend om die vorming van openbare mening binnelands en in die buiteland. Die beste voorbeeld van die vyand se werklike strategie was Vietnam, waar hulle die magtige VSA gedwing het om te onttrek deur sy eie militêre suksesse teen hom te gebruik in die monstering van binnelandse en buitelandse mening en nie deur die VSA militêr te probeer verslaan nie. Net soos tydens die grensoorlog in SWA/Angola, was die veiligheidsmagte in Vietnam se maatstaf vir hulle sukses, hoeveel van die vyand hulle ge-elimineer het (die sg. kill statistics). Wat nie daar of in SWA geredelik in ag geneem is nie, is dat elke “terroris” wat gedood is, iemand se broer / seun / ouer / vriend was. Die dood van een van jou eie, meegebring deur ‘n vreemde indringer van boonop ‘n ander ras is, het noodwendig verbittering en polarisasie tot gevolg gehad – presies soos deur die vyand beplan.

Gevolglik, vir elke een wat gedood is, het veelvuldig meer vervolgens uitgewyk om by die stryd aan te sluit. Dit het perfek ingespeel in die romantiese prentjie wat die opposisie-media kwistig geskets het van die gewone burger, die klein mannetjie, wat moreel-geregverdigd opstaan teen die magtige onderdrukker; ‘n uitbeelding wat internasionale mening drasties teen die SuidAfrikaanse “rassiste” (en vroeër die Amerikaanse “imperialiste”) begin draai het en wat gevolglik vir politici, wat van skering en inslag die wêreld oor maar weerhane is, genoop het om al groter druk te begin toepas.

Daar is nie tyd en spasie om hier in te gaan op elke geval waar die DBS binne die Koördinerende Inligtingskomitee [KIK] voorspraak gemaak het vir vreedsame opsies eerder as gryp na die wapen nie. Die oorgrens-aanval binne Lesotho kort voor Kersfees 1985 wat reeds genoem is, is egter ‘n goeie voorbeeld van wat in werklikheid op die tafel gesit is. Die opsies wat DBS aan die hand gedoen het, was dat Lesotho deur amptelike kanale gewaarsku moes word dat, as hulle nie self van die ANC-teenwoordigheid binne hulle grense ontslae gaan raak nie, Suid-Afrika genoodsaak sal wees om sy grens met Lesotho te sluit en te gelas dat alle Lesotho-trekarbeiders terstond teruggestuur word.

Enigeen wat bekend is met die realiteite van Lesotho, sal weet dat sulke stappe baie gou tot uiters ernstige onmin binne daardie land sou lei. Dit sou dan na alle waarskynlikheid die regering daar dwing om op te tree, of anders die risiko te loop om uit die kussings gelig te word, met ‘n nuwe regering wat dan sal doen wat Suid-Afrika redelikerwys vra.

In die besondere geval, is hierdie strategie-debat voorgespring deur die feit dat die ie SAP-VT, op eie houtjie die aanval gelas het.

Die voorsprongaanval was veronderstel om “ontoerekeningsvatbaar” uitgevoer te gewees het, deur “onbekende Lesotho-rebelle” dus sonder dat dit aan Suid-Afrika toegedig kon word. Daarvan het natuurlik dadels gekom, en ‘n yslike relletjie het by die VN losgebars, met die voorspelde negatiewe internasionale publisiteit en verdere verskerping van die internasionale druk teen die RSA.

Dit is ‘n historiese feit dat die hardekwas-regering in Maseru iedergeval daarna tot ‘n val gekom het en vervang is deur nuwe leiding wat Suid-Afrika se punt ingesien het en gesorg het dat die ANCteenwoordigheid daar as steen-des-aanstoots verwyder is.

Essensieel dieselfde het gebeur met Mosambiek, waar DBS se voorstaan van onderhandeling uitgeloop het op die sluit van die Nkomati-verdrag wat die ANC-teenwoordigheid daar hokgeslaan het. As mens nou die koste vergelyk vir SuidAfrika (in geld, bloed en aansien) om deur onderhandeling die Mosambiek-probleem op te

gelos het, teenoor eers militêr die SWAPO-inAngola probleem te probeer oplos het, kan mens met reg vra watter strategie die beste Suid-Afrika se belang gedien het – die sg. laventelbenadering of die militêre benadering? Uiteindelik is die SWA/Angola kwessie tog wel ook deur onderhandeling besleg, maar eers na enorme koste en afkyk in die afgrond in van ‘n moontlike volskaalse oorlog –‘n konvensionele uitputtingsoorlog. Een wat ons beperkte logistieke en lugvermoë ons op die lang duur nie sou toegelaat het om te wen nie, gegewe die internasionale knyp-aksies op veral ons lugmag se oorleefbaarheid teen gesofistikeerde opposisie en op ons vermoë om wapentuig op groot skaal tydig te diens en te vervang, vir konvensionele aksies.

Hierdie keuses van strategiese opsies het geensins gesuggereer dat DBS die krygsvaardigheid en moed van die SuidAfrikaanse soldaat enigsins betwyfel het nie – dit kan met reg gesê word dat die Bos-oorlog een was waar ons jong manne die gevegte gewen het, maar waar ons strategies die oorlog verloor het. Bloot omrede dit, vanweë sy essensieel politieke aard, nooit as sodanig op die slagveld besleg is, of ooit werklik sou kon word nie.

Hierdie analise wil ook nie probeer voorgee dat DBS al-wys of altyd reg was in sy vertolkings en in sy prioritisering nie. Dit is ‘n geldige kritiek dat Buitelandse Sake onder Pik Botha en sy “Washington Mafia” groep van amptenare wat hy om hom geskaar het, die strategiese belang van betrekkinge met Afrika nie behoorlik na waarde geskat het nie (hulle was in hoofsaak gefokus op bande met die Westerse alliansie, sonder genoegsame ag daarop dat die Amerikaners en Europeërs se beleidsposisies jeens Suid-Afrika insigself sterk beïnvloed is deur die standpuntinnames deur die Afrikane). As u belang stel om meer hieroor te wete te kom, kan u gerus die volgende artikel lees wat Glenn Babb, die baie knap destydse ADG-Afrika van die DBS, onlangs geskryf het oor min. Pik Botha (en waarmee ek uit eie ervaring grootliks saamstem, behalwe vir soms onnidig skerp taalgebruik): https://www.politicsweb.co.za/opinion/thehollowness-of-pik-botha

Slotsom

Die destydse Departement van Buitelandse Sake se intelligensie-insette oor die laaste twee dekades heen van die “ou” Republiek is, by nabetragting, grootliks as korrek bewys. Dit het akkuraat vertolk dat die groter stryd waaring SuidAfrika gedompel is a.g.v. die na-oorlogse ommeswaai in internasionale publieke mening rondom rassisme en kolonialisme, essensieel ‘n politieke een was, waarin internasionale mening en buitelandse druk ‘n deurslaggewende rol sou speel – meer so as sukses op die slagveld (net soos wat die geval was in Vietnam en die ander “bevrydingstryde” wat in die vyftigs en sestigs gevoer is). DBS se inset binne die intelligensie-gemeenskap oor die tendense in die internasionale milieu, en die buitelandse reaksies wat op SuiderAfrikaanse gebeure / inisiatiewe antisipeer moes word, was dus kernbelangrik om balans en perspektief te gee aan die ander komponente se veiligheidsinsette wat merendeels korttermyn gerig was op die aktiwiteite op die grond hier ter plaatse. Die noodsaaklike langtermyn geheelprent, dit wat besluitnemers moes verstaan ten einde optimale besluite te kon formuleer, kon dus nie sonder die DBS-inset (gerugsteun deur soortgelyke vertolkings komende van NI) korrek interpreteer en aan die SVR / Kabinet oorgedra word nie. Soos ook maar die geval is in meeste ander lande (gedrewe deur ‘n mate van afguns?) kon die DBS-diplomate binne die groter staatsdiensopset nie ontkom aan die beeld-probleem dat hulle elitistiese, leë “laventel-mannetjies” sou wees wat altyd maar die maklike weg sou verkies, eerder as om te veg. Die moderne oorlewingstryd van nasies word egter eerder met die kop as met brute geweld besleg, en daar is nie ruimte vir illusies en bravade nie – soos wat die Nazi’s uitgevind het toe hulle Rusland binnegeval het, die Japanners met hulle aanval op Pearl Harbour, en die VSA met sy militêre avonture in Vietnam en Irak.

In my eie ervaring van verskillende beroepsmilieu binne die destydse intelligensie-gemeenskap, was die DBS diplomate van die mees patriotiese,

trotse Suid-Afrikaners wat jy kon hoop om te kry, wat onder uiters moeilike omstandighede SuidAfrika se saak in ‘n vyandige buitewêreld ten beste gestel het – soms in plekke waar min ander sou waag om te gaan woon en werk. Hulle het ook nie geskroom om die uitdagings van die tyd, soos internasionale sanksies, met slim projekte en professionele bedrewenheid te beveg nie (die toenmalige hoof van DBS se administrasie, die briljante en koelkop Evert Riekert, was een van die grootste bates in die vestiging van ‘n buitelandse infrastruktuur wat al die departemente wat oorsee moes dien, gebaat het). Ongeag die oppervlakkige persepsie dat dit by die diplomate aan fermheid en durf ontbreek het, was hulle intelligensie-insette in die kol en het hulle ook grootliks meegehelp om die ander komponente van die intelligensie-gemeenskap bloot te stel aan die realiteite van die buitewêreld, deur middel van die missies wat DBS oorsee bestuur het.

Neil van Heerden

Die diplomate van die DBS was gelukkig ook gereed om die onderhandelinge wat noodwendig die gewapende konflikte sou moes afsluit, met kundigheid en professionalisme te lei. Dit is bv. bekend dat Neil van Heerden, wat as DBS-DG hoof was van die SA-afvaardiging in die kritiesbelangrike onderhandelinge om ‘n volskaalse oorlog rondom SWA/Angola te voorkom en daardie konflik tot vrede te bring, as beroepsdiplomaat die hoogste agting geniet het –Chester Crocker het bv. van hom gesê:

“He’s a damn good diplomat ... it’s true that he’s cool. He always manages to maintain an equilibrium of presence” en die toentertydse VSA ambassadeur in Suid-Afrika, William Lacy Swing, het Van Heerden beskryf as:

“...one of the finest diplomats I’ve encountered in about thirty years in this business. He’s a diplomat’s diplomat. He has finesse as well as firmness and he’s a master of detail without ever losing sight of the big picture.”).

Diplomasie is die kuns van die beste behaal uit die beperkte opsies wat realisties-gesien in werklikheid beskikbaar is – dus nie om wensdenkery na te jaag nie. Dit bestaan daaruit om die groot prent en langtermyn-tendense te verstaan, geleentheidsvensters korrek te identifiseer, en ‘n werklikheidsgefundeerde begrip te hê nie net van die opposisie se sterk-en swakpunte nie, maar ook van jou eie, gesien binne die kille konteks van die ware magsbalans. Dat Suid-Afrika vreedsaam kon oorgaan daartoe om ‘n volwaardige Westerse-styl demokrasie te wees, gebou op die fondament van ‘n liberale regstaat (en nie as ‘n “peoples’ republic” geëindig het nie) is in geen geringe mate nie te danke aan die intelligensie-insette wat die DBS (en NI) in die tagtigerjare gelewer het. Dit was hierdie deurdagte, feit- en realiteit-gebaseerde insette, plus die voorbeeld van die suksesvolle onderhandeling van die RSA se onttrekking uit SWA/Angola, gekoppel met die geleentheidsvenster geskep deur die val van die USSR, wat die destydse SA-regering se vertroue gewen en die politieke leierskap gehelp het tot nuwe insigte, aanleidend daartoe dat hulle op die regte moment met nuwe beleidsinisiatiewe na vore gekom het, wat uitgeloop het op ons interngedrewe staatkundige onderhandelinge.

As daardie onderhandelinge nie toe aangeknoop is nie – vra gerus uself nou af: waar meen u sou Suid-Afrika dan vandag gestaan het, en wat sou ons onderhandelingsopsies en -hefbome vandag kon wees, in die hedendaagse konteks van ‘n Biden-regering, Black Lives Matter en die steeds groeiende openbare haat-veldtogte teen die hele Europese koloniale erfenis en sg. “white supremacy”?

Kommentaar HBH:

• DBS het ook groot rol by die Tak Nasionale Vertolking gespeel (Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad), ook met opstel van die NIW, in korrekte vertolking van inligting. • DBS het ook op SWA/N - Angola grens diens gedoen by monitor-kommissie, met onttrekking van troepe • Die kiesers kies die regering, en destydse beleid was buitelands en binnelands onder nie-Blankes “onverkoopbaar” – kos mens soos FW de Klerk om na NI en DBS te luister en die nodige aanpassings te doen. [ ]

VIR MEER OOR BUITELANDSE SAKE SE ROL, LEES ONS JULIE SPESIALE UITGAWE: KLIEK HIER

Tot my aangename verbasing het ek gesien dat dr Willem Steenkamp en ek beide leerlinge van die Hoërskool Dirkie Uys op die Bluff in Durban was. (HBH was die eerste polisieman van Dirkie Uys HS; Pers-foto van Lucia & Willem, wen-span van die landswye debatskompetisie vir hoërskole, 1971).

This article is from: